Gepubliseer in Reisjoernaal

Twee skroewe om ons na Nur-Sultan te neem?

Manlief hou daarvan om my vir my verjaarsdag te bederf. Gewoonlik is dit ‘n uitete saam met my kinders en juweliersware. Grootste bederf waarvoor ek kan vra, die manier waarop hy my bederf.

Vanjaar sit ons 10 000 km weg van die kinders, en my hart is seer. Ons kan nie gou gaan saameet nie. Dus vra ek manlief of ons na die hoofstad van Qazaqstan kan gaan, iets anders as onse Ust.

Nur-Sultan, die hoofstad van Qazaqstan, was tot twee maande gelede bekend as Astana en is so ongeveer 1 000 km wes van ons.

Kouer as Öskemen, of Ust-Kamenogorsk, waar die kwikmeter reeds tot minus 40 grade Celsius in die winter kan daal. Dus wil ek nie in die winter in Nur-Sultan wees nie.

Maar dit is nog somer hier. Eintlik begin die herfs, ons kry nie meer so baie warm nie. Die kwik is nou so by die twintigs en nie meer in die dertigs en naby veertig nie. By Nur-Sultan ook.

Dus sit ons Vrydagmiddag net na vier rustig op Öskemenlughawe en wag vir ons vliegtuig om in te kom. En sy is laat. Maar dit is nie ‘n nuwe ervaring hier in Ust nie, ons wag gereeld vir ons vliegtuie.

Laat ek net eers verduidelik hoe dit op ons piepklein internasionale lughawetjie werk.

Mens sit in die vertreksaal en kyk op die plek waar die vliegtuie reg voor jou kom staan kry.

Nie met hulle neuse na jou toe nie, maar in die dwarsste uitgestal. Dat die trappies na die vertreksaal se kant wys.

Dan kyk jy hoe die vorige vlug se mense uitklim. Hulle stap sommer na die aankomssaal toe, so naby aan ons stop die vliegtuie. En daar is net een band waarop bagasie in die aankomssaal inkom.

Mens sit sommer so en kyk hoe die vliegtuig gou skoongemaak word, brandstof kry indien nodig, bagasie af- en opgelaai word en dan is dit tyd vir jou om te vertrek.

‘n Baie vinnige proses. Gewoonlik staan daar net een vliegtuig.

So sit ons en wag dat ons vliegtuig kom land. Daar was nog niks.

Ons het die retoervlug na Nur-Sultan deur die nasionale lugredery, Air Astana, bespreek. En was verras toe die e-pos aandui dat ons nie met Astana vlieg nie, maar met twee van die goedkoper lugrederye in Qazaqstan, naamlik Qazaq soontoe en Scat terug.

Ons is nie snobs nie, ons lief Kulula in Suid-Afrika. Maar, dit is verkeerd as jy dink jy het met SAL bespreking gemaak en Mango of Kulula staan gereed om jou te vat. Teen die prys van die duurder Air Astana. Omdat die vliegtuie baie ouer is.

Dus was ons opgewonde toe die Astana kom land: mooi, groot, nuwe vliegtuig. Ons gaan tog na die hoofstad toe?

Qazaq werk seker saam met Astana om die vliegtuie vol te maak. En dit is tyd vir ons vlug, nee, die vliegtuig is eintlik laat. Ons moes al opgeklim het.

Maar die hoop vervaag toe ‘n Qazaqie kort op haar hakke ook inkom. Van ver af lyk sy piepklein. En, soos sy nader kom, sak my hart in my skoene.

Ek het al met ‘n kleiner vliegtuig gevlieg. Regtig. Vanaf London na Edinborough. Skotland. Een ry sitplekke aan die een kant, twee aan die ander kant. Skaars meer as twintig mense.

Toe wou ek nie inklim nie. Hoe kon daai bussie in die lug bly? Maar ek was verniet bekommerd.

As mens eers in die lug is, vergeet jy van die grootte van die vliegtuigie.

En daardie vliegtuig het soos ‘n vliegtuig gelyk, enjins onder die vlerke, vlerke onder die venstertjies waardeur ek die aarde onder my bekyk en afneem. As ek nie op die vlerk sit nie.

Wat ek die beste onthou, is die suiglekkertjies wat ons gekry het om die ore te beskerm. Oulik toegedraai is Skotse lap. Dit was egter lank gelede. Dit was September of Oktober 2002.

Dié jaar toe my man vir ons gesin kaartjies gekoop het om die Bokke op Twickenham te gaan ondersteun. Voordat ons die span gesien het. ‘n Fout wat ons nie weer daarna gemaak het nie.

Dié jaar wat manlief Janus (kan nie sy van onthou nie) na Anus herdoop het. Omdat hy minute in die wedstryd in drooggemaak het en ‘n rooi kaart gekry het. Dié jaar toe die Bokke 3-53 op Twickenham verloor het.

Daardie soort pak wat mens liewer gou wil vergeet, maar nie kan nie. Ons was daar toe die Engelse die oorhand gehad het.

Soos ek sê, dit was lank gelede. En mens vergeet van klein vliegtuigies as jy intussen net met grotes gevlieg het. En hierdie vliegtuigie was klein.

Soos sy nader gekom het, het sy teen die Astana wat in haar rigting kyk, verdwerg.

Ek kyk so na die mense om my in die vertreksaal en ek twyfel ernstig of ons almal gaan inpas. Maar daar is geen twyfel in my hart dat sy ons s’n is nie.

En sy wil ons meer as 1000 km verder neem? So ver soos Kaapstad en Johannesburg van mekaar af is. Die woord Qazaq staan groot op haar lyfie geskryf.

Ek kyk verstom na die twee groot skroewe wat haar aandryf. Een aan elke kant van die lyfie. Sy kom anders in, maak nie eers ‘n draai om die staanplek nie, draai sommer dadelik regs en weer dadelik links om haar staanplek te kry.

Agter die Astana, kyk in die teenoorgestelde rigting, haar neus by sy stert!

Sy is baie laer as die Astana sien ek, mens kyk vir haar onderdeur die Astana. En manlief spot dat ons op die grond gaan skuur as ons land, so laag is sy.

Asof ek lus vir ‘n gespottery het. Ek wil nog sien hoe die hoofstad lyk! Ek sien hoe die skroewe stadiger draai en dan gaan staan.

Tot my verbasing kom ‘n bus aangery om die passasiers by die Qazaqie te gaan haal.

‘n Bus? Ek het nie geweet ons baba lughawetjie het ‘n bus nie! Nogal deftig ook. En ek sit en dink dat ek weet waarom daar ‘n bus is.

Seker om passasiers soos ek te keer om hond se gedagtes te kry? Die Astana lyk baie veiliger.

Sy het skaars gestop, toe het die bus die passasiers by die aankomssaal afgelaai en staan hy gereed om ons op te laai. Die outydse trok met tasse is reeds op pad om nuwe vrag te laai.

Toe ons by haar kom, sien ek dat haar wiele onder die vlerk sit! Aan die kante van haar lyfie, nie daaronder nie.

Sy staan so wydsbeen soos ‘n baba met ‘n vuil doek. Die nat deel van die doek hang tussen die beentjies. En daar moet ons almal inpas.

Genade nee, dit was amper te veel vir my, maar ek was op die bus en ek moes af. Wil nog talm, maar manlief is reeds uit en op pad om in te klim. Roep my nader dat ek voor hom kan inklim.

Die Qazaqie is so klein dat sy nie die trappe van die lughawe nodig het nie. Sy gooi hare sommer self vir ons af!

Baie nou trappies as mens met jou handbagasie en ‘n lang wit romp wil opklim. En net een mens kan op ‘n slag opklim. Ek dink nie daar was meer as vyf trappies tot bo nie.

En toe is ons binne. Ry 14A en B, amper heel agter, daar is net 18 rye. Darem twee sitplekke aan elke kant.

Maar ek kan sommer by altwee kante se vensters foto’s neem. Die anderkantse venstersitplek is so ver van my af soos die eerste een na die paadjie op groter vliegtuie.

Ek sit by die wiele. Onder die vlerk. Aangesien die son nie op my venster skyn nie, sal ek mooi foto’s kan neem. Wat ‘n voorreg as Geografie my gunsteling vak was.

Ek kyk na die twee bande en skrik. My pa moet dit tog net nie sien nie, die een naaste aan my is byna glad. En ek bid dat dit asseblief tog net vasvatplek het om ander kant te stop. Betyds.

Ek wil nie kyk nie, maar toe sy spoed kry op die aanloopbaan kyk ek tog by die venster uit om te sien hoe die bande die pad vat.

En sien hoe die hidrauliese stelsel of vere of wat ookal werk om te keer dat die bande op die aanloopbaan hop. Interessant.

En dan lig ons en kyk ek verbaas hoe die wiele na agter vou om in die deel onder die vlerk ingetrek te word. Ek dog al daai ruimte is vir die enjins? Hoe groot is die enjins?

Toe ek weer sien, is ons hoog in die lug. En ek is verbaas oor hoe die klein lyfie die lug in is: sag en maklik. Ek vermoed net laer as groter vliegtuie, want ek kon die hele tyd mooi foto’s neem.

Wat ‘n bumpy ride.

Nie goed vir ‘n blaas wat ‘n botteltjie water moes opdrink omdat dit aan die een kant gekoop is maar nie na die ander kant mag gaan nie. Dus kry ek ‘n nood.

Mens hou mos maar eers uit, maar wanneer jy vorentoe gaan, is die nood groot. Ek het opgestaan en vorentoe gestap na die enkele toilet wat reg by die stuurkajuit is.

Die lugwaardin het, terwyl ek vorentoe stap, oor die interkom gepraat. Wat? weet ek nie. Ek verstaan mos nie Russies of Qazaq nie. En sy het altwee gebruik, dink ek, sy het lank gepraat.

Dus het ek al swewende verder gestap, elke tweede tree was die vloer laer as toe my voet dit verlaat het. En so in die sweef kan ek nie mooi uitwerk watter deur die toilet s’n is nie.

Die vliegtuig het vreeslik geskud. Toe gaan sit ek maar op die voorste sitplek, omdat dit oop was. Om te wag dat die skud bedaar en om uit te werk watter deur die toilet s’n is.

Intussen wonder ek oor die oop sitplekke voor in die vliegtuigie. Daar was so vier oop rye aan die voorkant. Toe ek omkyk, sien ek piepklein gordyntjies wat sitplekhoogte hang so vier rye na agter. Sowaar? Besigheidsklas! G’n wonder my sitplek was so effens gemakliker nie.

Wat die deure betref, het ek geweet dat die een links die buitedeur is. Daai een moet ek los! Al is die hefboom mooi in die lug. Reg om af te trek.

Reguit aan was die stuurkajuit se deur. Hom moes ek ook los. Mens pla nie die loods van so ‘n klein vliegtuigie met jou nood nie.

Aan die linkerkant was twee deure. Een naby my met so ‘n snaakse handsvatsel, ek kon nie lees wat daarop staan nie, maar dit was waarskynlik nie die toiletdeur nie.

Verder aan, reg by die loods se deur, was die ander deur en die bordjie toilet het daarheen gewys.

Die nood was groot, dus het ek opgestaan en die knop gedraai. Dit wou nie oop nie. Ek het weer probeer, maar niks.

Omgekyk en gesien hoe al die passasiers vir my kyk. Gehoor die lugwaardin praat, maar ek verstaan mos nie. En weer gedraai om die deur oop te maak!

Ek het moedeloos gaan sit, sou maar wag dat die lugwaardin my kom help. En toe is sy by my.

Praat met my, maar ek verstaan nie. Dog sy bedoel dit is besigheidsklas en gebruik my beste Russies om Tooilêt? te vra.

Tot my verstomming skud sy haar kop. Njet (nee). Geen toilet, daardie liggie is aan en ek moet wag tot dit af is voor ek my nood kan gaan verlig. Dit is nie goed genoeg nie, ek moet weet hoe lank ek nog moet knyp. Sy sê so tien minute.

Ek verduidelik die nood is groot, sy verduidelik dit is gevaarlik om die toilet te gebruik. Vir wie? wonder ek.

Weet sy hoe gevaarlik dit is as mens se nood nie meer gehou kan word nie? En ek is net so dankbaar dat dit nie gastro is nie, want dit tref my gereeld as ek per ongeluk melk inkry.

Ek het egter mooi seker gemaak dat dit my nie tref nie. Maar nood is nood!

Goed, ek weet. Sy kan nie presies sê nie. Maar dit is absoluut verre gaande.

Wat maak mens as jy nou nie meer kan knyp nie? Ek dink daaraan dat daar so vier rye stoele tussen my en die res is. Dalk moet ek maar net laat gaan? As almal uit is, kan ek mos gou nuwe romp aantrek? Ai tog, dit kan ‘n grootmens mos nie doen nie.

Dan onthou ek van die advertensie vir grootmensdoeke wat soos broekies is. In Suid-Afrika.

Ek sit en beplan hoe ek sulkes gaan koop. En in my tas gaan sit, vir vlugte soos die een wat te skommelrig is dat hulle wil toelaat dat mens die toilet gebruik.

Dan dink ek aan my jongste kleinseun. As die nood groot was, was daai doeke nie dik genoeg nie. Dit sal ook nie deug nie.

Na ‘n halfuur gaan ek terug na my sitplek toe. Ons is amper by Nur-Sultan. As ons eers daal mag ek ook nie gaan nie. Dus sal ek maar net bid dat ek kan uithou tot ons in die lughawe se gebou is.

Terwyl ek terugstap sien ek ‘n Qazaq oupa en dogtertjie by die lugwaardin. En ek het skaars gesit, toe is die liggie af en kan ek die toilet gebruik.

Ek het opgevlieg en vorentoe gestap. Die deur wou steeds nie oopmaak nie. Toe is die oupa en die dogtertjie by my. En toe die lugwaardin. Sy moes die deur met ‘n pennetjie oopmaak, die ding werk nie!

Seker daarom dat die liggies aangebly het, selfs al was die geskommel ‘n ruk stil?

Sy maak die deur oop en ek gee haar ‘n dankbare kyk. Sy wys ek het net 5 minute.

Ek kyk haar aan asof sy mal is. Ek wil nie deel van die mile high klub word nie, my soort nood het ‘n paar sekondes nodig, maksimum een minuut om alles gedoen te kry wat gedoen moet word. Toe is die arme dogtertjie in.

Daarna is ek terug na my sitplek, betyds om te kyk hoe die wieletjies uitgestoot word sodat ons kan land. Veilig in Nur-Sultan.

Het my verstom aan die wieletjies wat so hang tot dit die grond raak.

Voor ek vergeet, die Russe is baie oulik met hulle kaptein, klap elke keer hande om hom vir ‘n veilige vlug te bedank. Wat ‘n mooi gebaar. Ek kon hande klap vir die kort vergunning om die toilet te gebruik ..

WordPress se media is duur, daarom deel ek nie my foto’s hier nie. Ek gaan ‘n hele paar op Instagram laai, my gebruikersnaam is cvanstaden. Volg my gerus daar om die foto’s te sien.

Foto: Ek het my lam geskrik toe ek die foto neem en my iPhone die skroef se lemme so goed vasvang dat dit lyk of die skroef stilstaan – hoog in die lug! Dus het ek min soortgelyke foto’s geneem! Kyk hoe smal is die lemme van die skroef!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

19 gedagtes oor “Twee skroewe om ons na Nur-Sultan te neem?

  1. Ek kan glad nie knyp nie…..salk moet ek vroegtydig van daai doeke koop sou my skotland trip gebeur…hahaha! Hoop jy het lekker verjaar!

    Like

  2. Oulike beskrywing, wat my al my ervarings op klein vliegtuie, sonder toilette, laat herleef! Mens is naderhand so flou geknyp, dat jou blaas in ‘n spasma gaan en daar niks meer wil gebeur nie….trurat se moses!

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.