As mens na die lugruim kyk, is dit moeilik om te glo dat die lug in Öskemen baie droog is. So droog dat ek lakens kan was, kleiner kan vou om op ‘n staanreëling in die een kamer te pas en teen die aand kan opvou en bêre.
So droog dat ek al twee keer met ‘n keel wakker geword het wat so droog is dat ek sukkel om te sluk. En eers na meer as een glas water voel dat my keel nie van skuurpapier gemaak is nie. So droog dat biltong binne twee dae afgehaal moet word, anders is dit horingdroog!
Dit is moeilik om te glo omdat ek sedert ons vroeg Maart 2019 hier geland het, selde ‘n blou lugruim te siene gekry het. Die boonste luglae is altyd vol vog!
In hierdie vertelling deel ek ‘n paar foto’s wat met verloop van tyd geneem is om sommer terselfdertyd bietjie meer oor ons lewe hier te vertel.
Hierdie foto is geneem toe ons op die 5de Maart 2019 ingekom het om op Öskemen se piepklein lughawe te land.

Die aarde onder ons was nog gevries. Die ene sneeu waar mens kyk en die skemeraandlug was vol wolke.
Hierdie foto is geneem toe een van manlief se span ons op ‘n oggenduitstappie deur die stad geneem het. Om te gaan beleef hoe tweedehandse motors in Öskemen op ‘n straatmark verkoop word. Die manne het karre gekyk, ek het so nou en dan gewaag om ‘n hand uit my jas se sak te haal om ‘n foto te neem.

Hierdie foto is ook vroeg Maart 2019 geneem toe ‘n vriendin saam met my langs die walle van die Irtyshrivier gaan stap het. Aan die stad se kant is die walle geplavei en stap mens vir lank in ‘n liefdeslaan, met bankies waar mens kan gaan sit. Die lugruim wys hoe koud dit was, geen blou lug in sig nie.

Die lug was vriesend koud, dit demp sommer mens se lus om te ver te gaan stap. Die oorkantste walle was nog vol sneeu. Om die waarheid te vertel, die water na aan die kant van die oorkanste walle het gevries!
Die volgende foto wys darem ‘n blouer lug, maar dit was steeds ysig buite. Jy weet, daardie koud soos wanneer mens in ‘n slaghuis se yskas instap om vleis af te haak?

Ek is so spyt dat ek geen foto van hierdie sirkel geneem het toe ons in Januarie kom kyk het nie. Hierdie vrouebeelde het toe in ‘n spierwit sprokieslandskap gedans!
Die lug op die volgende foto is wel blou, maar dit was steeds ysig. Dit wys waar die Irtysh en die Ulba riviere ontmoet.

Die water van beide riviere gaan teen ‘n stink spoed verby. Ek dink mens kan aan die water sien hoe vinnig die water verbygaan.
Die oggend toe hierdie foto geneem is, het ek en manlief besluit dit is somer en nie warm baadjies aangetrek nie. Die lug verander egter baie vinnig en sodra die son weggesteek word, besef mens eers hoe koud dit is.

Ons is toe maar die winkels in om eers warm baadjies te koop voordat ons verder gaan verken het.
Die volgende foto is teen die begin van April geneem, bewolk met belofte dat daar wel blou lug in hierdie afgesonderde deel van die aarde te siene sal wees.

My plaasmeisiesiel het die eerste twee maande gesukkel toe die geboue langs ons my uitsig versper het. My man het, soos ek al vertel het, hierdie woonstelblok na die konsentrasiekamp herdoop omdat dit ver van alles was.
Nadat ons stad toe getrek het, kan ek oor ander geboue kyk en voel ek tuis, al is dit op die 8ste verdieping van ‘n woonstelblok. Ek neem gereeld foto’s van die Kazakstan koppie. Op die onderstaande foto kan gesien word hoeveel vog in die lug is.

Tog is dit in die huise besonder droog en maak baie mense op bevogtigermasjiene staat om vog in die lug te sit. Ek het aanvanklik gedink dat die sentrale verhitting die probleem is, maar dit is onlangs afgeskakel. En die lug is steeds baie, baie droog in die huis.
Die onderstaande foto is geneem toe ons sneeu in die lente gekry het. Die berge om ons was binne een oggend terug in hulle winterprag. En ek was opgewonde dat ek nie vir die winter sou moes wag om so ‘n foto te neem nie.

Hierdie foto het, volgens my, nogal mooi uitgekom vir ‘n bewolkte dag. Geen son kan deur hierdie wolke kom nie, maar die son probeer darem hard.

Die volgende foto wys nog ‘n swaar bewolkte dag in Öskemen.

Ek het in my studente dae op my rug langs Madelief gelê en foto’s van wolke geneem. Wolke fassineer my en ek kon altyd iets in die wolke raaksien. ‘n Diertjie, ‘n mens se gesig, arms, en so meer. Later het ek die liefde vir wolke verloor, of liewer, het ek veel minder aandag aan wolke gegee.
Hier neem ek weer gereeld foto’s van die wolke. Ek neem aan dat die foto ook wys dat dit ‘n koelerige dag was.
Die onderstaande foto is een van die mooistes wat ek hier geneem het. Wattebolletjies wolke wat in ‘n blou hemelruim ronddryf. Hierdie foto is na die stad se kant toe oor die rivier geneem, dus kan mens die baie lang geplaveide wandellaan aan die oorkant van die rivier sien.

Die lugruim verander binne ‘n paar minute van wolkloos na bewolk. Anders as by ons huis in Ruimsig is daar geen swaar weer nie, die reën of sneeu val sommer net sonder om hulself aan te kondig.
Ek het gister vir die eerste keer ‘n ligte rammeling gehoor, maar daar was geen weerligstrale nie. En toe ek weer sien, reën ek waternat op pad terug huis toe. Ek het dit darem verwag en ‘n reënbaadjie aangetrek. Tog was dit verrassend om te sien hoe maklik die reën hier neerplons aarde toe.
Ek kan nie sê dat ek Ruimsig se koppies se swaar weerlig mis nie. Ek het daar meer as een keer gevrees dat die weerligstraal in ons erf was. En dat mens morsdood geslaan kan word. Daardie vrees is nie ongegrond nie.
Ek het vroeg in die 2000’s by Welkom High skoolgehou, maar in Virginia gebly. Een middag was die lug so grou kleur toe ons verby Bronville terugry huis toe. Daar was geen swaar wolke nie, die wolke was net grou.
‘n Lang swart man het van vooraf gestap gekom, sy lang swart jas wapperend in die wind. So wapperend dat dit my aandag getrek het.
Skielik was daar een geweldige slag, die slag en die straal het gelyk op die aarde aangekom. My Aardrykskundebrein het gesien hoe Aardrykskunde waar word. As die slag en die straal terselfdertyd is, is dit by jou! Ek het gevrees dat my kar raakgeslaan is. Die vrees is ook nie ongegrond nie.
My man se ontvangsdame se motor is die vorige jaar op die N1 raakgeslaan. En al die drade van die motortjie het uitgebrand om haar gestrand op die hoofweg te laat. Maar ons is nie raakgeslaan nie.
Voor my oë het die lang man stadig swaaiend na die aarde geval. Sy jas steeds wapperend. Raakgeslaan. Dood?
Ek het gestop, die voetgangers het rondom die persoon saamgedrom. Verstommend as mens in ag neem dat dit voor hulle oë gebeur het. En dat hulle nie eerder weghardloop nie.
Dit het egter ‘n heilige vrees vir die weerlig ingeboesem. ‘n Vrees wat hier so bietjie bedaar. Omdat die reëndruppels hier nie hulself nie met verblindende weersligstrale en oorverdowende donderslae aankondig nie.
My kinders was angsbevange en het aangedring dat ons ry. Ek kon nie, maar ek kon hulle ook nie in gevaar stel deur uit te klim nie. Ek het verder van die skare af afgetrek, die polisie en die ambulans gebel en eers gery toe ek hulle ligte sien aankom het.
Die laaste foto wys ‘n perserige bewolkte dag. Wondermooi!

Baie interessant. Ek het nou eers vir my dogter voorgelees uit jou blog. Hier sukkel ons geweldig met die hoë voggehalte van die lug. Vroegoggend se wasgoed hang vannag nog oor die trapreëling om droog te word. Jou fotos is pragtig.
LikeLike
Dankie Hester, ek moet dankbaar wees. En ek is. Maar die lug is rof op mens se vel.
LikeLiked by 1 person
Dis so mooi…ek dink ook die feit dat dit nog redelik ongerep is en nog nie so toegebou is soos ander stede nie, maak dit so pragtig!
LikeLike
Ek stem so saam met jou. Dit is wel baie digbevolk na die lughawe se kant toe.
LikeLike
Ek en Ma dink jou foto’s is pragtig en ons is net so mal oor wolke ook. Ons kyk ook altyd of daar prentjies in die wolke is. Partykeer lyk hulle nes ek. 😀
Ma sê die lug klink net so droog soos daar in Kimberley waar ons gebly het. En daar is dit net so koud soos dit warm is.
Die pragtige berge. Ek ken nog nie berge nie want hier is niks maar Ma sê sy sal my eendag gaan wys as ons weer Harties toe gaan.
Die foto waar die son so deur die wolke probeer kom is regtig baie mooi.
Ma is mal oor die weerlig en kan vir ure daarna kyk. Ek is gelukkig ook nie bang vir dit nie maar ma sê mens gaan nie naby water as daar weerlig is nie en ek dink dit moet vreeslik wees om te sien hoe iemand doodgeslaan word deur dit. Nee wat, ek sal maar liewers in die huis bly.
Geniet jou daggie en dankie vir die deel van hierdie pragtige foto’s. Die laaste een is wondermooi soos jy dit gestel het. 😀
LikeLike
Ai Rambo! Ek stem saam. Weerlig is pragtig. As dit ver is. Naby maak dit my bang. Nie vir my sussie se kind nie. Toe sy klein was het sy gesê Liewe Jesus het ‘n foto van haar geneem! Dit is so mooi gestel. Het haar aan die flash van die kamera laat dink. Jy moet die see geniet. Ek gaan een dag weer in die see wil swem.
LikeLiked by 1 person
Ja, dit is, maar nie as dit seermaak nie.
Ag moeder, dit is so dierbaar van haar. Dit is baie mooi gestel. 😀
Ek sal hoor. Ek en ma swem nie in die see nie, net pa. Ma is bang ek verdrink en ek is bang sy verdrink, al kan sy baie goed swem, maar ons dit maar en kyk hoe ander swem, veilig op die strand. 😂
Wanneer hul daai teleporter bou, kan jy sommer oorkom vir ‘n daggie en lekker kom swem en kuier. Ons sal dit geniet. 😀
LikeLiked by 1 person
Ek sal ook. Stuur maar intussen foto’s van jou mooi plek.
LikeLiked by 1 person
Ek sal ma bietjie aanjaag. 😊
LikeLike
Jy moet! 🏖
LikeLiked by 1 person
Hoe jaag mens iemand aan wat nie lus is om iets te doen nie? 😅😂
LikeLike
Ek skat jy weet die beste? BB en Shilo het my altyd aangejaag.
LikeLiked by 1 person
Hahaha! Ja, dit kan ek ook doen, veral as ek my njammies wil hê, maar ons het gaan goggas jag in die tuin, nou is my ma darem wakker. 😀
LikeLike
Weereens ‘n besondere vertelling en foto’s, Christa!
LikeLike
Dankie perdebytjie
LikeLiked by 1 person