Loutere plesier as ek en statistiek mekaar vind

Wiskunde was my gunsteling vak op skool. En ek sien op my laerskool rapporte wat so met die groot trek uit ons huis raakgepak is dat ek bykans altyd 100% daarvoor gekry het.

En toe los ek dit in graad 9 om saam met my beste vriendin in die klas te wees. Skaam ekke wat nie alleen in ‘n nuwe klas vol maats wou wees nie.

Kwaad ekke wat by China, ons graad 9-wiskunde onderwyser voor die klas met die gradeboog pak op my hande gekry het omdat my antwoord verkeerd was. En dit weer op die bord moes doen met hande wat pyn. Om daar voor die klas vir hom te wys dat my antwoord reg was. En dat ek verniet geslaan is.

Wiskunde wou die kwaad-ekke nie by Wiel hê nie. Die man met die glasoog. Wat blykbaar baie goed was. Manlief sweer daarby. Hulle is deur Wiskunde gefoeter. As mens in sy klas moes sit omdat jou meneer of juffrou afwesig was, is die kinders so voor ons oë geslaan as hulle net stadig opstaan om te antwoord.

China se onregverdige pak was nog te vars in my geheue. Standerd 8 was ek wiskundeloos.

Dié pak by China het my jare later rooi laat sien. Toe my dogtertjie, wat as begaafd geïdentifiseer is, by haar juffrou pak in die klas gekry het.

In ‘n tyd toe amper niemand sou waag om leerders pak te gee nie. Omdat sy vir die begaafdes drie ekstra woorde gegee het. En my dogter volpunte vir die speltoets gekry het. Maar daughter se a en u omgeruil het. Wat wou. Sy is mos kastig begaafd. Begaafdes maak nie foute nie.

Ek het haar rooi handjies gesien toe ek haar oplaai na skool. En my bloed het gekook. Teruggery na Riebeeckstad laerskool toe. Die hoof gaan sien. Gevra wat sy beleid oor lyfstraf was. Gehoor sy is sy beste onderwyser. Wat wil ek hê moes hy doen?

Niks? Gevra vir oorplasingspapiere. Ek wou nie hê hy moes enige iets doen nie. As dit sy beste was, wou ek nie sy slegste sien nie. En van die sleg het ek reeds gesien.

My dogter se wiskunde punte het reeds na 35% geval. Van bykans 100% af. In die nuwe skool, waar sy halfpad deur die jaar moes inval omdat ons weer verplaas is.

Toe ek daai juffrou gaan vra het wat ek kan doen om te help, was ek bekommerd omdat my kind nuut in die skool was. Het in die middel van die jaar oorgekom, dalk is sy net agter. Toe hoor ek dat dit is wat my kind werd is, sy kan nie beter nie.

Laat toets ek haar by juffrou in ander skool. Om te hoor dat my kind haar werk ken. Maar dat die juffrou se beleid is dat antwoorde oopgelaat moet word. As jy nie doodseker is nie. Daai een kon ek tuis regmaak.

Jy antwoord. Mens mag foute maak. So leer jy. Hoe dan anders? Maar slaan omdat jy begaafd is en reg moet kan spel, daai houding in ‘n juffrou kan nie reggemaak word nie. En nou moes ek hoor dat sy die beste is?

Ek wat by Vista Universiteit onderwysers opgelei het, kon dit nie aanvaar nie. Dus is ons met die oorplasingsertifikaat oor na Koppie Alleen Laerskool toe. Waar my kind met ope arms ontvang is.

Dit was eksamen. Die juffrouens het vir haar boeke afgerol. Smiddae by my huis afgelewer. Saans het ek help leer. Haar punte het effens gewankel en weer opgeskiet.

En my dogter het matriek met onderskeidings in 5 van haar ses vakke (toe 6) behaal. Met Wiskunde en Wetenskap en Rek as haar gunstelingvakke. En die twee tale was ook onderskeidings. Biologie is net-net gemis. Sy is universiteit toe en het ‘n honeurs in aktuariële wetenskap. Dié dogtertjie wie se wiskunde punt van 35% volgens ‘n laerskooljuffrou volgens haar potensiaal was.

Ek het die taaljuffrou wel by haar beheerraad aangekla. En is daarna op straat bykans onderste bo geloop. Omdat sy ‘n finale waarskuwing gekry het. Het my verras. Mens kry dit slegs as daar reeds klagtes was.

En ek was dankbaar dat die hoof so onoordeelkundig opgetree het toe ek gaan kla het. Anders was my kind verwoes. Deur sy beste onderwysers.

Ek het nou afgedwaal. Dit het my altyd gepla omdat ek wiskunde gelos het. Op Tuks was ons groep die laaste groep wat toegelaat was om Geografie te neem, sonder dat ons wiskunde aangebied het.

Op Unisa moes ek mooi praat om toegelaat te word om opvoedkundige statistiek te neem. Oo honneursvlak. Omdat ek nie wiskunde gehad het nie. Maar ek het dit gekop en met onderskeiding geslaag. Ek en syfers verstaan mekaar.

En toe kies ek ‘n statistiese navorsingsmetode vir my PhD. Sosiale Netwerk Analise. En speel steeds daarmee. Soos vir my nuutste artikel.

Gisteraand wil die data in die spreivel nie in die ontledingsprogram inlees nie. Ek het dit iewers verkeerd ingelees. Ek soek, kry nie die fout. En begin oorweeg om weer vir Steve Borgatti, ‘n oorsese ghoeroe te vra om te help.

Terwyl ek sy e-posadres soek, besluit ek om ‘n laaste keer deur die data te gaan. En fokus my oog skielik op die fout! Sommer so vanself.

Hemels, as mens self die fout kan kry. Ek is gek daaroor as ek en statistiek mekaar vind. Rasend as ek sukkel. Loutere plesier as ons mekaar vind.

Vanoggend maak ek met ongeduld in die hart huis skoon. Ek het die data ingelees en die eerste sosiogram gevisualiseer. Voor my oë kom teorie en praktyk by mekaar. Die sosiogram bevestig my teorie oor leer!

Ek wil net ontleed, vergeet dat ek ‘n huis ook aan die kant moet hou! En dat manlief se klere wag om gestryk te word.

Die hoofstuk vir die boek onder die leierskap van een van my gunsteling navorsers (Prof Paul Prinsloo van Unisa) kan geskryf word! Ek is in my element.

Fotokrediet: geneem uit vorige artikel.

20 comments

  1. Hoe kry ek nou lekker saam met jou!
    Oor die onnodige pak slae is ek nou ook boos. Ek wil net eers sê dat ek dink ek my seuns te veel pak gegee het.
    In st 3 of 4 het die reël oor hoe jy ‘n adres bo-aan ‘n brief skryf, ‘n paar keer verander. Eers was dit skuins geskryf met kommas en punte. Toe nog ‘n keer verander. Die laaste was onder mekaar sonder kommas en punte. Iewers, kort na die verandering, druk ek per ongeluk die punt ná die dorp se naam. In ink. Rottanghoue op my hande.
    Nou ja. That’s life. Snaaks dat hierdie voorval nou die dag in ‘n TPM sessie met myself uitkom. Want ek was verneder. Want die punt was per ongeluk. Want ‘n reël word in my siel uitgekerf en as dit skielik verander, verwar dit my.
    Ag, ek het die onnie vergewe, hy is in elk geval al lankal dood.
    😊

    Liked by 1 person

    1. Hi Toortsie, ek het die onnies ook nie daarna kwalik geneem nie, tog kon my liefde vir wiskunde nie hulle pak oorskadu nie.

      My kinders het ook te veel pak gekry, as ek oor kon doen, sou ek minder pak gegee het? Ek weet nie, ek is so trots op die mense wat hulle uitgedraai het. Ek kyk so na mense wat hulle kinders sielkundig grootmaak, en ek dink tog ‘n pak op sy tyd is soos brood en konfyt.

      Liked by 1 person

      1. Ja, ek is ook trots op die kinders wat hulle uitgedraai het. Meisiekind was 7 jaar later en ek was baie meer ontspanne met haar. Ek het haar ook streng grootgemaak, maar sy het min pakgekry. Een keer het ek haar pakgegee en het kort daarná besef ek was verkeerd. Ek gaan vra dadelik om verskoning en verduidelik hoe ek gedink het die situasie was. So tussen die snikke deur snik sy: ‘okay’. Sies tog. Ons kom steeds baie goed reg.

        Like

      2. Ek dink steeds die dogters was benadeel om met die rottang op die hande pak te kry. Dit was baie seerder as die seuns wat op hulle boude pak kry.

        Like

      3. En jy sien die hou aankom en jy kan nie wegruk nie, want dan kry jy ekstra houe en dit vang jou vingers.
        Toemaar, ons het heel gebly. 😊

        Like

  2. Dink ek ook nou terug aan skool, onderwysers…en berekende kanse wat ek gevat het…maar ek dink ook terug aan die dae wat ek begin skoolhou het. Tye en ñ mens verander…dankie vir die lekker leesstof.

    Like

  3. Dit moet lekker wees om so ‘n lekker ding te doen na huis opruim! Ek bewonder jou vele talente!
    Wat foute betref: ons mense het ‘n vreemde manier om met foute om te gaan: ons slaan, ons kritiseer, ons beledig, ons kry lekker daaroor in die werkplekke???
    Ware wetenskaplikes bestudeer foute, kry oplossings. So het ons vandag vliegtuie en ander wonderlike tegnologie…

    Like

  4. Klink so bekend! Hierdie tipe optrede van onderwysers het my so ‘n renons in wiskunde gegee, dat ek vandag nog dink ek is onnosel en dat ek niks van wiskunde wil weet nie! Pragtige skrywe, Christa.

    Like

  5. Ek wil iets oor wiskunde met julle almal deel. My jongste kry in gr. 7 die prys vir wiskunde. Maar sy het geen belangstelling daarin nie. Vanaf gr. 8 het sy dit afgeskryf as “boring”. Haar belangstelling was letterkunde. Sy kry met min moeite ‘n C vir wisk. in gr. 12 Sy het wel ‘n honns in B.com rek. Ons kon egter nooit ‘n liefde of belangstelling in Wisk. by haar kweek nie…

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.