As leerders weet dat juffrou kan brei

Dit is interessant hoe die lewe werk.

As jy ‘n juffrou was.

Die meeste leerders maak nooit weer kontak met jou nie, selfs al het jy hoeveel vakansies opgeoffer om hulle na atletiekbyeenkomste en hokkietoere aan te ry. Behalwe as hulle jou op straat raakloop, dan gesels hulle eers gou …

Selfs al was jou huis hulle huis.

Jy was net ‘n middel tot ‘n doel. En dit is seker reg so? As hoërskool juffrou is die doel om hulle na volwassenheid te lei. Los van jou rokspante, staan op jou eie voete, jy kan, juffrou het jou mooi geleer.

Maar dit is nie heeltemal so eenvoudig nie. Tot groot frustrasie van my dollatjie het ek van hulle as my kinders gepraat. Dan moes ek hoor hulle is nie, ek het twee kinders. Ek twyfel egter of ek die enigste juffrou is wat van haar leerders as haar kinders praat. Dit daar gelaat.

Tog onthou sommige leerders jou as hulle met iets sukkel, soek jou op sosiale media op, maak kontak en vra hulp of raad.

Soms kan jy help, ander kere nie.

So kontak een van my Welkom High leerders my op ‘n slag. Vir haar kan ek so goed onthou, sy het die onderwys ‘n plesier gemaak. Kan juffrou onthou in watter storie het dit en dat gebeur? Sy wou vir haar man van die storie vertel en ek moes help.

Ons het in die tweede taal klasse baie kort verhale gelees en die kort verhale was nogal moeilik. Om vir ‘n tweede of derde taal klas te verduidelik.

Soos byvoorbeeld Tant Nelie se Veerpluime, as juffrou self nie mooi geweet het wat ‘n veerpluim is nie, eers moes gaan opsoek voor ek dit vir die klas verduidelik en dit beslis nie kan bak nie. In ‘n tyd wat kinders lankal nie meer voor ‘n stoof sal staan en bak nie, haar ma waarskynlik ook nie. My ma het …

Maar hulle kon hulle in die verhaal inleef, want kompetisie is mos universeel. En. ydigheid ook. Die ding wat maak dat mens nie die son oor iemand anders wil sien opkom nie.

Vir haar kon ek nie help nie, want die deel van die storie waarvan sy vertel, was nie in een van die verhale wat ons gelees het nie. Dus moes dit in een van die verhale wees wat ek in die klas gelees het as hulle werk klaar is. Uit die Keur, wat weekliks verskyn het. Of die Sarie of Rooi Rose of Huisgenoot.

‘n Ander keer word daar met ‘n oud-leerder oor die spelling van ‘n woord gestry. En dan moet ek help, al is daar woordeboeke. En al het ek hulle verplig om woordeboeke te gebruik.

Want sien, ek het my weinig aan nuwe onderwysbeleid gesteur. Ek het vir hulle die spelreëls geleer. En as jy dit ken, kan jy maar enige woord kry, jy sal dit reg kan spel. Want hulle moes ook die uitsonderings leer. Of moet ek sê kon. Want vandag word vêr sowaar met ‘n kappie ook aanvaar. As daar hoegenaamd geen rede vir die kappie is nie.

Onlangs kry ek deur Facebook messenger ‘n ander soort versoek. Kan ek asseblief met ‘n breipatroon help. Sy het ‘n patroon gevolg en nou is sy nie seker wat om verder te doen nie. Want dit is nie duidelik in die patroon nie. Sy het tot vir die tannie gaan vra wat die wol aan haar verkoop het. Die tannie verstaan ook nie die patroon nie.

Nou moet ek eers iets oor myself verduidelik. Ek is nie ‘n huishoudkunde juffrou nie, maar ek kan brei, hekel, klere maak en is handig met my naaimasjien.

Ek het byvoorbeeld vir my dogter se troue drie strooimeiseirokke, drie blommemeisierokke, drie klein onderbaadjies met dasse vir drie hofknapies en drie groot onderbaadjies vir strooijonkers met dasse gemaak. Al die rokke het kralewerk op die borsgedeelte gehad. Dit was so baie werk dat ek pouses in my klas gesit en borduur het.

Ek was pê daarna. Vir seun se troue het ek al die servettte gemaak en lopers vir die tafels. En my rok. Dit was darem iets soos ses jaar later.

Het so pas vir my en manlief maskers van denim gemaak, wat ‘n strook agterin het waarin ‘n ekstra laag beskerming gesit kan word.

Ek brei nie van patrone af nie. Ek het, tot ek verstaan het hoe ek kan aanpas. Ek dink my kreatiewe kant oorheers die rigiedheid van ‘n patroon.

Toe begin ek om ‘n basiese patroon vir ‘n trui te ontwikkel. Sodat ek enige patroontjie, soos byvoorbeeld kabels, kan vat en in die basiese patroon inbou. Dan is ek altyd tervrede met die eindproduk.

Die patroon wil nie oopmaak nie en ek vra dat sy dit vir my e-pos. Kyk daarna en verduidelik wat sy wou weet. Hoe lekker was dit nie om met so iets te help nie.

So sit ek en wonder hoe die kinders weet dat juffrou kan brei.

Facebook. Hmmm, kan wees dat sy op FB gesien het, ek het foto’s van my serpe en mussies gedeel, en gespog dat ek dit self gebrei het.

Van skooldae af? Dit kan ook die rede wees.

Eksamentyd het ek altyd begin om ‘n trui te brei en klaar te maak. Pouses het ek dan gesit en brei om die tyd om te kry, want ek moes ontspan tussen twee sessies. Het bykans altyd twee sessies toesig gehou. En dan kon ek nie konsentreer en merk nie. Smiddae kon ek merk. My siel het kos gekry terwyl ek gebrei het.

Veral by die skool waar sy in my klas was. Die hoof was ‘n sarkastiese man. En as hy eers sarkasties met personeel geraak het, het ek ophou luister wat hy praat en die patroon se steke getel. Regs, 1, 2, 3, 4 Aweregs 1, 2 regs 1, 2, 3, 4 en so voorts. as mens tel, kan jy nie luister nie.

Daar was egter ‘n tweede lekker aan brei by die skool. Ek kon deur vele vervelige vergaderings sit wat niks met my te doen het nie, maar waar ek moes sit en luister na bespreking van sake wat my nie aangaan nie. As my vingers besig is en ek ‘n ry moet klaarmaak voor ek kan opstaan, dan kan hulle maar praat en praat en praat en praat.

Vir ander brei ek nie sommer nie. Hulle het geen idee hoeveel ingesit is om die produk te lewer nie.

Vir myself koop ek maklik die wol, die naalde en as ek weer sien het ek ‘n voorraad naalde want elke wol het sy eie dikte nodig.

Ek is ook gek oor hekel. Hier is breinaalde en hekelnaalde werklik onbekostigbaar duur. So koop ek toe in SA vir my die oulikste stelletjie, met ‘n hekelnaald vir elke soort gare en wol. En vele ander goedjies wat mens nodig het as jy hekel.

Ek het met dun gare vir my ma ‘n ronde tafeldoek gehekel. Vir ‘n massiewe ronde tafel wat twaalf mense sitplek bied.

Toe ek nog baie, baie jonk was. Met die dun gare het dit gevoel of dit nooit gaan klaarkom nie.

Op ‘n stadium het ek langer as een dag geneem om een ry om te hekel, dit onder in die kas gesmyt en nie weer daaraan gewerk nie.

Toe kom my ma met die klaagliedere, sal sy dit dalk kan kry voor sy dood is?

Ek het dit gaan uithaal, gehekel, dag en nag vir ‘n ruk lank en toe dit klaar is, wou ek blou druiwetrossies van glas hê om al om die rand te werk om dit gewig te gee om te hang. Sy wou nog van plastiek praat, maar nee dankie, as ek al daardie trossies per hand aanwerk, sal dit glas wees. Om te hou. Vir altyd.

Ek het ook vir my sus se baba se doop ‘n rokkie en kopband en skoentjies gehekel. So uit die kop en aangepas op my eie babapop. Die hooffoto wys die stelletjie, met blommetjies geboprduur en met lint en al. Selfs ‘n onderrokkie gemaak. Sonder dat ek naby die baba was. My pop moes die pasmaat wees …

Terug by die patroon.

Sy stuur vir my ook foto van haar breiwerk. Wat nie lyk soos die patroon beduie nie. Toe trek sy die gedeelte maar weer los.

Moet ek vir haar laat weet dat sy eintlik reg was, Die laaste deel van die patroon was net moeilik om te verstaan. Die manier waarop die kappie werk.

Sy moes met sirkelnaald die laaste kappie brei. En dit het toe nie omgevou soos hier nie, want sy moes die breiwerk dubbeld vou en die twee kante dan van die naalde af vaswerk. Vreemde konsep, mens sou dit maklik kon doen deur af te eindig en dan dubbeld te vou en aanmekaar te werk, maar sy het dit op die ou einde reg gekry.

Nadat ek verduidelik het dat sy elke helfte na die punt van ‘n naald moes skuif en dus die draad van die naald by die halfpadmerk deurtrek om die reg te kry. Self het ek nog nie so iets gedoen nie, maar as mens al lank brei, kan jy meer verstaan as wat patrone verduidelik.

So kry ek die @ boodskap op Instagram wat aandui dat ek iewers genoem is. En toe ek oopmaak, is die foto hierbo met my gedeel. Met die boodskap by:

Is dit nie oulik nie. Sy noem my steeds juffrou. My ander leerders ook.

So sukkel ek in die laat 90’s met leerders met lelike maniere by Welkom High. Hulle praat mos in Engels van You, wat ordentlik ook kan wees, maar ek is geen kind se jy nie. In Afrikaans.

Vererg ek my en vertel vir die kinders dat hulle my juffrou, mevrou of tannie, maar ek is nie hulle jy nie. My klasse het swart leerders gehad, en die tannie het dadelik aanklank gevind. Kan hulle my tannie?

Wel, dit het vir pret in die dorp gesorg as hulle aan die een kant van die pad loop, hulle juffrou aan die ander kant van die pad sien en my dan luidrugtig groet het:

“Middag tannie!”

Die meeste leerders groet mens egter na skool nie op straat nie. Al ken hulle jou steeds, want ons verander mos nie so baie soos hulle nie. Hulle word grootmense, kry kinders en verander vir my baie meer as wat ek verander.

Ek moet egter ‘n staaltjie vertel.

Een van my oud-leerders kom kuier net voor matriekafskeid by ons huis saam met haar pa wat met manlief moes gesels. Ook Welkom High.

Sy was voorbeeldige meisiekind. Rokkies se soom tot oor haar knie as die ander meisies se rompies se some al hoe verder bo die knie geskuif het.

‘n Tannie maak haar rok, vertel sy.

O, vra ek, vertel meer? Dit word van krale gemaak, vertel sy. Ek neem aan die materiaal gaan vol krale wees en antwoord, o, dit gaan mooi wees. Sy verduidelik lyne en strepe en ek verstaan dat die krale in lyne en strepe geborduur gaan wees.

Toe nie, geen wonder sy het so gesukkel dat ek verstaan waarvan die rok gemaak is.

Dit was die waaghalstigste rok wat ek in my hele loopbaan as juffrou, vrou van die voorsitter van ‘n rugbyklub, ma van ‘n ballerina gesien het.

Sommige onderwysers het aangedring dat sy ander klere gaan aantrek, wat nie gebeur het nie, want haar pa was op die beheerraad en ook by die matriekafskeid.

Die volgende dag word ek kantoor toe geroep, ek is diep in die moeilikheid. Sy het blykbaar vir my vertel hoe haar rok lyk en ek moes dit nie toegelaat het nie. Nog nooit daarvoor of daarna het ‘n rok so gelyk nie, hoe moes ek dit gevisualiseer het? Die meisies in die klas wou die rok met my bespreek, maar ek het my uit die gesprek gewurm. Hierdie meisiekind was een van die oulikste kinders waarvoor ek ooit skool gehou het.

Haar juffrou het presies sulke skoene aangehad. Nooit weer het ek ‘n rok voor die tyd met ‘n kind bespreek nie, nie eens met die meisie wat my seun na har matriekafskeid genooi het nie. Ook nie die een wat saam met hom matriekafskied toe was nie. Eenvoudige antwoord aangeleer: Verras my!

Ek sal altyd in my hart ‘n juffrou wees.

 

 

10 gedagtes oor “As leerders weet dat juffrou kan brei

  1. Dit was nou n lekker juffrou vertelling! ‘n Juffrou met vele talente! Aanvanklik skok die matriekafskeidsrok, maar as n mens mooi kyk, is hy heel kuis, anders as party rokke wat ek al gesien het met baie lae halslyne.

    Like

  2. Na twee onderbrekings in die lees van jou juffrou stuk het ek uiteindelik kans om iets te skryf. Daar is darem maar mooi staaltjies wat n mens kan vertel as jy n juffrou is. Die swart kinders in die privaat skool waar ek laaste 4 jaar was het my ook tannie genoem. Dis nou die ouer kinders. Die kleintjies in my jaar 1-3 klas het my teacher of mrs Kruger genoem. Ek het gisteraand toe ek begin lees het al gedink ek gaan ook n stukkie skryf oor kinders nadat hul op skool by my was. Toe ek vanoggend gaan sit om weer jou stuk te lees kom kuier my seun onverwags by my in my bubble. Ons het n heerlike uurtjie gekuier. Nou is dit al namiddag en ek gaan nou sit en skryf. My album met skoolfotos lê langs my. Duime vas dat ek dit gaan doen en klaarmaak nou! Dankie vir die idee.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.