Gepubliseer in Joernaal

As ouma kleinkinders oppas …

Ek was die afgelope tien dae baie stil. Want manlief het vir eers alleen na ‘n dorp ver van hier gegaan. Om daar op die myn te werk. En vir ons blyplek te kry. Ek moes eers alleen agterbly.

Die eerste drie dae het ek alleen by die huis gebly, met my honde. En byna niks geslaap nie. Hulle maak my gereeld in die nag wakker. Dan staan ek op, stap die trappe af en maak ook dat hulle kan piepie. As Bekka nie wil nie, staan hy in die huis. Geen niks kan hom beweeg nie. Net om my later wakker te maak – want dan het hy ‘n nood.

Ek was doodmoeg.

Toe ry ek na seun se huis toe. On vyf nagte daar te kuier. En met ons jongste kleinkind te speel. Dit was verskriklik lekker om die mannetjie so te leer ken. Met sy ouma die hele dag reg om saam op die mat te lê, by die deur te sit en met die honde deur die gaas te speel. En natuurlik te dra, te koester, te voer en ook aan die slaap te maak. En te kyk hoe liefie bad. Sal seker beter as swem kan beskryf. Want hy lê op sy maag en speel en skop en baljaar.

Ons twee gesels met geluide.

Hy kyk my so reg in die oë, dan blaas hy sy neusie. En dan moet ek ook. Of hy blaas met sy lippies op mekaar. En dan moet ek ook. En dan lag hy vir my. Hy het ook ontdek dat sy koppie van kant tot kant kan draai. En dit geniet hy baie en doen hy baie wanneer hy na It must be love luister.

Ek het ook so per ongeluk ontdek waar hy kielierig is. Wel, hy wriemel so as mens per ongeluk in sy nekkie kielie dat ek dit min doen. Hy sal sowaar uit my arms wriemel. Hy kruip – of sal mens dit leopard crawl noem – ook agter my aan. Dit is te oulik vir woorde.

Ek het my moeg gespeel met die ou babalyfietjie van ons. Sowaar al agt maande oud. Hy is mos aan die begin van grendeltyd gebore. Seun en skoondogter het my so met kos bederf dat ek so bietjie vergeet het dat ek eintlik ‘n bikini lyf vir die vakansie nodig het. Wat na die tien dae begin …

Toe kom ek na dollatjie en skoonseun en my drie kleinseuns by hulle. Om drie nagte hier te kuier. Die eerste aand moes ek kinders aan die slaap maak, wat ‘n hele ritueel is.

Eers word kleinboet aan die slaap gemaak, met ouma wat by hom moet lê, sy handjie in myne. Tot die asempie rustig word. Dan kom middelboet in dieselfde kamer slaap. En lê ouma by hom tot hy slapies. Intussen lees ouboet boeke, die man lees ‘n boek maklik in een dag op. Sy volgende een is, raai wat, Goue Vroue?

Alice in Wonderland.

Daarna gaan ek hom ons Alice laat lees om kommentaar te kry.

Iedergeval, toe almal slaap, kon ek gaan slaap.

Gister het hulle mekaar soort van besig gehou na skool, maar vandag was ‘n perd van ‘n ander kleur. Ouma moet saam speel.

Dit het eers so begin.

Jongste (4) het borsel gaan haal – ronde ene – om ouma se hare te kam. En ouma het stil gesit. Selfs toe die borsel in my hare gekoek word, want hoe moet hy nou weet hoe werk ‘n ronde borsel? Dit moes ek so sonder oë agter in my kop uit my hare woel. Toe gaan haal hy ‘n ander borsel. En kam tot my hare volgens hom skyn. Ek verduidelik toe dat hy blink bedoel. Ek het wel gekeer voor hy gel in my hare kon sit. Dit was te erg om aan te dink … Lng gejelde hare?

Die kind is net vier jaar oud, maar het ‘n woordeskat wat skrik vir niks. Woorde soos braaf, bangbroek en vele meer rol van sy tong. En elke nou en dan kry ek drukkie en sê hy hy is lief vir my.

Ons het touches, vroteier en wegkruipertjie gespeel.

Julle – dit is vreemd hoor as pappa staan en luister as ouma tel. Dan tel sy maar voort, maar dit is vreemd verby. En dan moet ek soek. En seuntjies klim boom – ek moet in bome ook soek.

Dollatjie en skoonseun het vanaand gaan uiteet. Toe moet ek weer kinders in die bed kry. Maar eers het ons gespeel. Wegkruipertjie.

Toe dit weer my beurt is om te tel, hoor ek ‘n Babelse lawaai op die voorste stoep, wat mos eintlik by die agterdeur is. Wat aan die straat se kant is. Ek dog middelste boet en kleinboet veg oor dieselfde wegkruipplek. Kleinboet se gille gaan op in Nee, Nee, Nee!

Toe ek om die draai kom, kry ek ‘n prentjie wat ek seker nie gou sal vergeet nie.

Die stoep is heelwat hoër as die omliggende plaveisel, wat beteken dat kleinboet so ooghoogte sit toe ek om die draai kom. Swart Schnauzer se koppie in sy hand. En ‘n duif tussen Schnauzer se voorpote.

Die duif sit so ewe onnosel vir my en kyk. Snoesig tussen fluffy pote.

Geen idee dat die woef hom vir aandete beplan het nie. Dink sowaar hy is veilig.

En kleinboet skreehuil – Nee, Coco, kalmeer. Kalmeer. Nee, Coco, kalmeer.

Nou moet ek eers vertel.

As kind het ons ‘n boerboel en ‘n rifrug gehad. En die twee honde het mekaar gereeld aangevat. Dat die bloed waai. Ek is in die huis in en onder die bed om nie te hoor nie. Daai tyd was die katels nog ver bokant die grond. My sus jonger as ek het waterbekers en die tuinslang en ek weet nie wat alles gegryp om die honde uit mekaar te kry. Ek het verstar.

En nou moes ouma help.

Om ‘n onnosel duif te red.

Kleinboet het die Schnauzer met mening vasgehou. Maar Millie en Katryn, die twee ander woewe het self kos gesien in plaas van ‘n duif. En kos het nie gedink hy is in gevaar nie.

Saam kon ons twee die duif bevry, wat simpel net afgevlieg het en gesukkel het om by die tralies van die garage in te gaan. Ons het net betyds gesien hoe sy stert deur is voor die woewe by die stoep af is.

Eers toe die woewe nie eers ruik waar hy in is nie, maar reguit swembad se kant toe is, besef ek dat die garage daar oop is.

Kleinboet is agterna, om betyds te keer waar duif agter twee fietse wegkruip.

Toe moet hy maar sy broers gaan soek en roep om te kom help om die duif te red.

Terwyl ouma dreigend by die honde staan, plakkie in die hand.

Ons twee kan nie drie honde keer en duif red nie. Hy is weg en ek het met plakkie in die hand gestaan. Al drie woewe het die dreigende houding verstaan.

Toe middelste boet daar is, wil hy duif optel dat ons hom uit erf kan sit. Maar hy mag nie en ek wil ook nie dat hy aan die duif vat nie.

Ek het die grillerigste ding met ‘n duif ondervind toe ek duiwe nog wou red as ek hulle sien. Toe ek hom optel, het ‘n gogga wat op hom was, teen my palm gehardloop, so op die duif se rug. En dit het gevoel of hy in my vel ingehardloop het.

Ek weet dit is onmoontlik, ek het ‘n gat gesoek waar hy onder my vel kon inkom. Daar was niks, maar daarna het ek nie weer aan ‘n duif op die grond gevat nie. So eenvoudig soos dit.

Ek het handdoek gaan haal, middelste kind het die handdoek gebruik om die duif op te tel terwyl ek fietse vashou en so is ons na die voorste heining toe. Sodat ouma hom deur die heining kan sit, om buite bereik van die die honde te wees.

Dom duif het ‘n entjie voor die heining gevlieg. En die honde mal gemaak. Toe gaan sit hy onder bos en gaap ons aan. So asof hy kos wou wees. Wat ‘n dom duif?

Daarna kon ons in vrede wegkruipertjie speel.

Voordat ouma seuntjies bad – of seker maak dat hulle wel bad – isdaar nog rituele.

Ek help afdroog, gee Milo ontbyt pap. Regtig, dit is hulle happie vir die nag en dan moet ek in die bed sit, so een na die ander. Hulle raak so halfuur na mekaar aan die slaap.

Vanaand moes ek eers by oudste se bid vir hom en jongste bid. Vir ‘n ouma wat haar bidbeurt elke keer op vriendin afgeskuif het, was dit ‘n interessante ervaring. Hulle was in elk geval tevrede …

Die oorslapeby dollatjie het so gekom.

Jongste en sy maatjie, Minke, het toe die twee gesinne saamgekuier het, bewluit dat hy daar gaan oorslaap. Maar Minke se ma is kwaai as sy in die nag wakker gemaak word. En jongste maak mens nie wakker nie. Hy staan by jou bed tot jy besef daar is ‘n asem langs jou. In Suid-Afrika skrik mens jou alie af. Dus kan hy nie gaan oorslaap nie.

Toe onderhandel syma met hom. Ouma sal sleepover. Goed, is die rakker se reaksie, maar sy moet twee aande slaap. Dus het ouma sommer drie aande geslaap.

Een aand by haar eie huis.

En vanoggend vieruur het ons dollatjie rn twee van die seuns opgelaai. Ons gaan see toe!

Oudste is reeds gisteraand na seun toe. Om sam met hulle van Pretoria af te ry.

Ons afspraak was om by Harrismith te ontmoet. Afhangende van baba se slaap en nie slaap nie.

Ek vertel môre van die road trippie …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

4 gedagtes oor “As ouma kleinkinders oppas …

  1. Ag hierdie ouma het jou ouma ervaring geniet. Net een ding: die duif was nie dom nie, maar ernstig beseer. ‘n Gesonde duif sou eenvoudig opstyg en wegvlieg. Duidelik kon hierdie duif nie eintlik vlieg nie en het dus onder n bossie probeer wegkuip van gevaar af..

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.