Sneeu in Ust-Kamenogorsk

Ek was vreeslik opgewonde om die eerste sneeu in Ust’-Kamenogorsk te sien. Die sneeu kom op twee maniere hier aan.

Óf soos ‘n bleekwit aaneenlopende wolk. Wat hoog bo die stad kom hang.

Sodat mens die stad en sy liggies mooi teen ‘n nagblou hemel kan sien. Dan sak die wasigheid af en af en as jy weer sien, is die sneeuvlokkies oral, sommiges groot, ander klein.

Óf dit kom van die Kazakhstan-berg af aangeskuif.

Soos ‘n gordyn, wat al nader en nader skuif en dan is ons in die vallende sneeuvlokkies. Volgens ‘n Instagramvriend lyk die foto soos versiersuiker op die berg. Goeie vergelyking wat beeld betref. Erg misleidend as jy daaraan sou wou vat.

Die landskap waar sneeu val en nie deur die mens of dier of voël aangeraak word nie, lyk soos daardie versiering wat mens op troukoeke sit.

Spierwit en op die oog af perfek glad. Daaraan wil ek egter nie kou nie. En ek is ook dankbaar dat ons stoepie se dak nie soos die dakkies vol ys lê nie.

Die vlokkies is oral, val saggies drywend om alles hieronder wit te maak.

Dakke van huise, op karre, takke van bome, elektriese drade. Alles!

Ek het die foto gister uit die veiligheid van ons kar geneem. Kyk hoe erg het dit al in die dorpie naby die Nur Tau ski-oord opgehoop.

Gaan nog veel erger word. Hulle skraap oop waar mens en kar moet gaan.

Die foto gister in Öskemen, ala Ust’-Kamenogorsk geneem. Kar en masjien is saam op die pad.

Ek wou van kant ook afneem, maar dit was maar ‘n powere poging.

En die een in die klein dorpie net voor Nur Tau. Kar en masjien saan op die pad.

In Öskemen word die hope sneeu wat weggeskraap word, met trokke opgelaai. Anders sal daar naderhand geen sypaadjies of parkering oop wees nie.

Die res van die sneeu word net daar gelaat om een massiewe vrieskas te word.

Wat ‘n vreemde verskynsel. Werkskepping deur God se genade? Want net mooi alles word bedek. Amper soos God se genade, geen diskriminasie nie.

Selfs jou jas en hoed en mussie en serp word gou wit as jy buite stap.

Op mussies en jasse se krae is dit ‘n snaakse gevoel. Dit word amper dadelik yswater wat in die pels van jou jas wegkruip, maar jou nie natmaak nie. Behalwe natuurlik as jou nek oop is. Dan val die yswater sommer daar in. Gelukkig so koud dat jy vinnig keer en nie per ongeluk van binne vries nie.

Die sneeu is amper soos die reën in die stad, maak nie ‘n lawaai as dit aankom nie, kom so stil aan dat dit mens onverhoeds kan betrap.

Wanneer dit sneeu, is dit stil om jou. Jy hoor geen geluide nie, ook nie motors wat agter jou ry nie.

Daarom moet mens maar versigtig wees as jy in ‘n straat stap. Die Qazaqs het egter oral sypaadjies, dus stap ons net in ‘n straat as ons die drie blokke na Dusty se garage stap.

Die twee Qazaqs wat saam met ons Suid-Afrika toe was, so drie weke gelede, was verstom omdat Suid-Afrika nie sypaadjies het nie.

Help nie om hulle te verduidelik dat Suid-Afrikaners oral heen ry nie, hulle het voetgangers gesien. En vir daardie voetgangers moet daar sypaadjies wees.

As dit sneeu is dit warmer, so 0 – 3 grade Celsius. Daarom gaan ons en die Qazaqs makliker uit in die sneeu om inkopies te doen.

Ons, lees ek, om twee redes: 1) dit is warmer en 2) mens stap dan makliker op die sypaadjies.

Makliker stap is noodsaaklik.

Tussen die sneeudae deur vries die sneeu op die sypaadjies en paaie soos wat mense en karre dit vastrap.

Die paaie en strate is aanvanklik wit.

Dit word vuil en hobbelrig, amper soos ‘n grondpad.

Wanneer karre daaroorheen gaan. Die trems maak die minste vuil.

Hulle gly op hulle spore oor die sneeu, so tussen karre heen. Mens en masjien in harmonie.

En dan moet jy jou stap ken om nie te gly en val nie.

As dit sneeu, vorm die sneeu ‘n korrelrige bolaag, waarop mens nie sommer gly nie. Hierdie bolaag skuif egter rond soos wat mense daaroor stap en dan kan jy, soos ons vandag, gly as jy bevrore dele wat oopgetrap is, raaktrap. Ons het darem nie geval nie.

Ek was vandag nogal trots op my en manlief. Hy het drie keer gegly en nie geval nie. Ek twee keer.

Die tweede keer was baie vreemd. Die een oomblik het ek my knie gebuig, amper soos ‘n glybeweging, soos ek die val probeer keer en toe is ek weer regop. Sonder om te val.

Moet ek vertel hoe vinnig mens dan weer na die skuifelstap oorskakel?

Dit is nou die een waarin mens klein treetjies gee. Sodat jy ‘n val kan keer. Dit werk nogal.

Ek is nogal skrikkerig vir die dele wat skuins is, maar dit gaan sover ook goed op die dele.

As dit sneeu in die stad, is daar ander soorte werk vir mense. Daar is mense wat sypaadjies met sulke groot skopgrawe skoonmaak.

Dit is juis toe ek die foto geneem het dat ek my vingers met ligte frostbite gestraf het.

So dom sal ek nie weer wees nie, foto’s word nou uit die kar geneem. As ek ‘n goeie foto mis, so be it. Sonder vingers gaan ek sukkel om my werk te doen, hulle moet opgepas word.

Ek wonder nogal waarheen die weggeryde sneeu geneem word Ek sien nie mynagtige hope sneeu nie.

Seker maar na die rivier toe? Ons riviere ys naby ons nie toe nie. Die Irtish vloei te vinnig omdat water oor ‘n damwal val om hidro-elektriese krag te maak. Die water aan ons kant van die damwal kom dan met een hengse spoed verby, geen tyd om vas te vries nie. Dink ekke? Dalk is die rivier net te diep?

By Shemonaika, so twee ure hiervandaan waar die myn is, is die rivier reeds toegevries. Die rivier se uitlopers is ook in die stad ‘n bevrore landskap.

Nadat die sneeu oor is, word dit koud. Sommer vinnig word dit -20 en selfs -32 grade Celsius.

Dit was juis so koud toe ek buite foto’s gaan neem het. En nou is ek al in week 4 van seer vingerpunte. Hulle kla as ek tik. Dan tik ek maar minder op my rekenaar en meer op my foon. Die foon vashou pla die twee arme duime. Ai tog, dan luister ek maar liewer na boeke as om te werk. Dit help sommer ook met die stres oor die vervlakste sensitiewe vingers.

Ek kyk die vrouens hier die afgelope tyd so en kan nie verstaan waarom hulle nie so koud soos ek kry nie. Ek dra sykouse, ‘n lang onderbroek en ‘n langbroek en kry koud. Toe ontdek ek die oulikse leggings in die markagtige winkeltjies.

Dit sit soos die leggings wat ons ken, lyk ook so van buite af. Maar binne het dit ‘n laag wollerigheid. Wat snoesig om mens se bene sit.

Mens kry ook sykouse wat sulke wollerigheid het, maar ek vind hulle heeltemal te dun. Die koue lag vir hulle, kruip in my bene en kniekoppe en alles in wat nie deur die jas of stewels toegemaak word nie.

Stewels is ook vreemd. Dit is met skaapwol, pels en ander goed uitgevoer om voete warm te maak.

Volgens die mense hier moet mens leer koop, maar ek vind dat leer koud word en koud bly en my tone in my skoene laat vries. Wolkouse en al.

Nou het ek ‘n paar gekry wat van materiaal gemaak is. Word ook goed koud buite, maar word weer vinnig warm as ek in ‘n gebou instap.

Ek kry my arme tone jammer, want ek kan ook nie te warm aantrek dat my voete in my skoene sweet nie. Dit skep ‘n ander probleem, daardie sweet vries teen my tone en voete vas as dit subzero word.

Ek het juis vandag gevoel hoe dit voel as jy die verkeerde vest aantrek en dan in die oorverhitte winkels sweet.

As jy buite kom, word daardie sweet ysige koue teen die lyf. So onder ‘n jas.

Wen kan mens nie wen as jy verkeerd aantrek nie.

Die ding is, dit is verskriklik warm in sommige van die geboue. Ek en manlief het vandag sommer naar gevoel met die warm klere aan in ‘n gebou wat so warm soos sonnige Suid-Afrika is. Met vest en bloes en warm jas aan, ook serp en mussie en handskoene. Probeet dit in 23 grade Celsius tuis. Mens sal van hitte-uitputting omkap.

Ek vind dat ek gou afkoel as ek die mussie eerste afhaal as ek in ‘n gebou instap.

Die nag nadat dit gesneeu het en die dae wat dit sneeu, is dit blouwit buite. In die nag. Dan kan ek by die venster staan en foto’s neem.

Blykbaar omdat die sneeu weerkaats. Die aarde word dan so van bo en onder verlig.

Sprokiesagtig mooi. Sneeuwitjie en Rosekransie en al daardie sprokies mooi. Geniet, maar onthou, daar is ‘n nare heks wat nie van gelukkige mense hou nie.

Wat vingers en tone en alles wat uitsteek so gou as moontlik bevrore wil maak. Ons leef immers in ‘n wêreld soortgelyk aan Frozen.

Geniet, maar wees op jou hoede. Om hier te bly is anders as om ‘n toeris te wees. Jy spring nie gou in ‘n taxi na pret toe nie. Jy stap in ‘n wêreld wat die Qazaqs mak gemaak het.

‘n Wêreld wat die Qazaqs ook getem het. Hulle loop handskoenloos as my vingers sissie speel. Dadelik koud word. In handskoene!

Hoe lank moet mens hier bly om so mak te wees? Is dit die rede waarom hulle hande, die mans s’n, so wasig lyk? Snaaks wit. Getem deur winterkoue?

Foto: 17 Desember 2019. Ons sirkel by die rivier met die dansende vrouens.

5 gedagtes oor “Sneeu in Ust-Kamenogorsk

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.