Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal

Ape is so na aan mense

Ek weet dat gorillas die diere is wat die naaste aan die mens is, maar ape is vir my ook na aan die mens. Kyk gerus weer na my hooffoto.

Ek het in Julie 2018 saam met my man gegaan toe hy twee weke in Zimbabwe op die myn moes gaan werk. Die myn het sy eie gastehuis en ek het saam met manlief in sy kamer geslaap.

Die gastehuis was aan die kant van die klompie huisies vir werkers, soort van op sy eie in die bos daaromheen. Met lekker ooptes waar ek kon gaan stap.

Soggens het die ape op die sinkdak van die huis kom speel. Aan die agterkant van ons kamer was daar ‘n muur, ongeveer menshoogte. Nie te ver van die badkamer se venstertjie af nie.

Daardie venstertjie was altyd toe nadat ek een oggend daardeur foto’s van die ape probeer neem het. En die een mamma vir my gekyk het en toe gemik het om by die venster in te klim. Ek het geen twyfel gehad dat sy dit wel sou doen nie, want ‘n aap het een keer ‘n venster van ons woonstel by Sun City oopgemaak.

Ek het op die stoep gestap om by die woonstel in te gaan. Die voordeur was so entjie van die venster af. Op die tweede vloer. Toe ek die deur oopsluit en ingaan, maak die aap die venster oop, kyk vir my, maak dit groter oop en kom ook in.

Ek het my besimpeld geskrik, in die kamer ingevlieg, die deur gesluit – moenie lag nie, as hy ‘n venster kan oopmaak, kan hy seker ‘n deur ook oopmaak – en deur die kamervenster vir manlief geroep om die aap te kom verwilder.

Hulle het gelukkig aan daardie kant van die woonstelblok gebraai.

Anders het ek maar daar gebly tot iemand opdaag.

Die aap het verwoesting in die kombuis gesaai. Vrugte gehap en gelos. En dit was ‘n groot skoonmaak nadat hy in is. Daarna was die kombuisvenster altyd toe, die aap was nie bang vir mense nie.

Hierdie ape was minder mak, maar ook nie bang vir mense nie.

Die ape het na die oggend kuier om die huis in die bosse verdwyn, om saans terug te kom. Ek het dus in die middae gaan stap om hulle mis te loop.

Die een middag toe ek by die gastehuis kom, staan hierdie aap by die kraan, besig om water te drink.

En wie kan met my stry? Dit is hoe ‘n mens ook daar sal water drink., is dit nie? Ons sal die pyp net ontkoppel om die water met bakhande uit die kraan te drink. Maar, as ek dors genoeg is, sal ek waarskynlik ook so drink.

Alhoewel ape na aan die mens is, dink ek hulle kan heel gevaarlik wees. Hulle het massiewe slagtande, waarmee hulle beslis seer sal kan byt as hulle bedreigd voel.

Daarom het ek my in Desember 2020 besimpeld geskrik. Toe ek in die kombuis van die gastehuis wat ons by die see gehuur het om ‘n week vakansie saam met ons kinders en kleinkinders te hou, instap was ‘n aap besig om homself aan my kos en neute te help..

Toe hy my sien, het hy sy voorkop so op en af laat gaan, nes ‘n mens, en vir my met sy kop gemik-mik. So asof hy wou sê: “So, wat gaan jy hieromtrent doen?”

Ek het hom een kyk gegee, omgevlieg en uitgehardloop, terwyl hy by die voordeur uit is.

Op pad uit, het hy eers kleinkind se kersgeskenk en ‘n piesang van die rak in die sitkamer afgegryp, die ratel in die pakkie al klingende saam met hom. Manlief het hom op die stoep skrikgemaak en hy het laat los, maar die piesang gehou.

***

Vandag is ek dan dankbaar oor ape, wilde diere waaraan ek my verwonder omdat hulle so na aan die mens is dat dit voel of hulle net woorde nodig het om ook te kan praat. Maar ook dat ek in al drie gevalle naby kontak gehad het sonder dat dit in ‘n geveg ontwikkel het. God se skepping is wonderbaarlik mooi. Daaraan wil ek vanjaar meer aandag gee.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “Ape is so na aan mense

  1. Soos ek al geskryf het, moet mense versigtig wees met ape en nie vir hulle kos gee nie. Hierdie ape waaroor jy skryf is aan mense gewoond; hulle weet waar mense is kan hulle seker kos vind. Ape in die bosse is wonderlik om te sien; ape in die huis is ‘n ander storie!

    Liked by 2 people

  2. Ek hou nie van ape nie! In Eshowe was hulle so volop, moes altyd die venster toehou sodat hulle nie kon inkom nie. By die skool moes ons die kinders se skooltasse in die klasse hou, want die ape het geleer om dit oop te maak en hulle kosblikke te steel. Hulle het selfs in die klaskamers probeer inkom. 🐒

    Liked by 2 people

  3. Ons ken nie juis ape aan hierdie kant van die wereld nie (Weskus), maar het nou, op ons “road trip”, so baie ape gesien by Sodwana en Umkomaas … en dan het ook gedink: “Jinne, maar hulle is baie soos mense”. Ek is maar effe lugtig vir hulle en het deure en vensters toegehou waar ons gebly het.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.