Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal,Reisjoernaal

Sneeubedekte hange by Shumbulak, Almaty

Vandag herinner my iPad my aan hierdie foto wat ek in die eerste week van Maart 2020 geneem het toe ons weer ‘n keer na Shumbulak ski-oord in Almaty gegaan het om die wonderlike sneeulandskap te beleef.

En skielik voel dit ‘n ewigheid gelede.

Die land het in die volgende week soos die res van die wêreld in ‘n grendelstaat ingegaan. Die vliegtuie is op die aarde neergesit. En ons was dus net betyds terug in Ust’-Kamenogorsk (Öskemen) waar ons sedert 3 Maart 2019 gewoon het.

Daarna was ons tot 3 Oktober 2020 in die land vasgevang. Ons het in die tyd (Julie 2020) na Almaty verhuis, waarvandaan ons teruggekom het huis toe. Vir goed. Ons het gouer teruggekom huis toe as wat ons aanvanklik sou, daarom was daar sedertdien ‘n heimwee in my.

Asof ek ongedane sake agtergelaat het. En dit is te verstane, ons wou nog na die Kaspiese see se kus gaan, ons wou na die woestyn gaan kyk. Maar daardie heimwee het verlede week soos mis voor die son verdwyn.

En dit is sommer ook my rede vir dankbaarheid vandag.

Indien ons in Kazakhstan agtergebly het, sou ons die afgelope week weereens in ‘n grendelstaat verkeer het. Maar die keer soveel anders as toe ons daar was. Die president het die kabinet afgedank, ‘n instaan een aangestel en verhoed dat mense in die land WhatsApp, Signal of Telegram gebruik om met ander te kommunikeer.

Dit het in ons tyd in Kaz gebeur dat die internet vir ‘n dag of middag nie toeganklik was nie indien die staat vermoed dat mense betogings wil beplan. Enkele kere.

Hierdie keer het die. betogings wel plaasgevind. So anders as wat ek die Kazakhs leer ken het, het hulle verlede week teen stygende brandstofpryse betoog. En dit kan ek verstaan, want die mense verdien nie goeie salarisse nie. Kazakhstan is ‘n armerige, baie groot land. As die brandstofpryse opgaan, beïnvloed dit kospryse want dit moet oor groot afstande na die boere vervoer word. En van die boere na die stad.

Verder is dit tans winter in Kaz, hierdie tyd van die jaar is die temperature steeds so -30 grade subzero. Indien dit sneeu is die paaie gesluit om te verhoed dat mense vassneeu.

Ek was geskok toe ek lees dat ‘n aantal van die betogers deur die polisie doodgeskiet is. Vandag se nuus is dat so 170 mense reeds gesterf het en duisende gearresteer is.

Vir my is dit amper ondenkbaar.

Tydens die grendelstaat was dit erg genoeg om nie huis toe te kon kom om my kleinkind te ontmoet nie. Hierdie grendelstaat is veel erger, die internet was vir ‘n week ontoeganklik.

Ek kan steeds nie my Kazakh en Russiese vriende in die hande kry nie, maar my vriendin kon my vandag kontak. Hulle is in Almaty vasgevang, was daar vir week vakansie toe die land weer in ‘n grendelstaat ingaan weens politieke onrus in die land.

Ek kan bykans vir seker skryf dat ek sou sukkel om dit te hanteer as ons nie met die kinders kon kontak maak nie. En ook nie geweet het wanneer ons sou kon nie.

Ek is ook dankbaar dat ek die ander sy van die Kazakhs leer ken het. Vriende vir altyd.

Hooffoto: Skihange van die Shymbulak ski-oord in Kazakhstan. As ek iemand kon aanraai, sou ek hulle juis na hierdie pragtige oord stuur. Dit is heelwat goedkoper as Europa en Kanada en beslis die moeite werd om te besoek. Miskien sal die wêreld eendag weer na normaal terugkeer?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “Sneeubedekte hange by Shumbulak, Almaty

  1. Ek was so geskok toe ek lees van dit…..want al wat ek voor my gesien het was die prag fotos van die mooi geboue en veilig voel daar…..dieselfde gebeur in Ukraine, waar almal tussen die ouderdom van 16 en 45 net voor Kersfees opgeroep is vir militêre diensplig omdar Rusland op hul grens lê en hulle wil inval…mans en vrouens. Dit voel so onwerklik.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.