Ons het ‘n plekkie langs die Vaal, en as mens tans in Suid-Afrika op ‘n geïsoleerde plek bly, moet jy weet hoe om jouself te beskerm teen aanvalle. As jy nie statistiek wil word nie.
Ek is nie onbekend met gewere nie. My pa het ‘n .22 gehad en ons het saans as daar vreemde geluide om ons huis was wanneer hulle nog by die slaghuis was, ‘n skoot deur die venster na die pan se kant toe geskiet. Om wie ook al buite was, te vertel dat ons kan skiet.
‘n Rewolwer wil ek egter glad nie hê nie. Ek het lank gelede, toe ek skaars getroud was, ‘n rewolwer gekry en manlief wou my leer skiet. Op my pa se plaas. Ons was alleen in die veld, hy het ‘n blikkie ver van my af gesit en ek moes mik en raakskiet.
Toe die rewolwer volgens hom leeg was, het hy na die blikkie gestap. Om te kyk of ek dit ooit raakgeskiet het. Maar nie reguit nie, ek kon die blikkie steeds sien. Ek het die leë rewolwer gelig, gemik en die sneller getrek. En my siek geskrik toe die stof spat waar die koeël die grond getref het. Langs die blikkie. Naby my man. Ek kon hom per ongeluk doodgeskiet het.
En wie sou my glo?
Daarna het ek geweier om weer aan ‘n skietding te raak. Dit was ‘n gevaarlike wapen. Veral rewolwers, ek speel nie Russiese roelet nie. Mens weet nooit of dit wel die laaste patgroon was nie.
Maar, soos ek gesê het, ‘n mens moet jouself in Suid-Afrika kan beskerm. Dus het ek gevra dat manlief vir my ‘n verfbalrewolwer koop sodat ek kan oefen om te skiet. Met gasballetjies, ek wil net in die grond vasskiet sodat die pepergas die aanvaller kan weghou en laat weghardloop.
Doodskiet wil ek nie, vir daardie drama sien ek nie kans nie. Hier het aanvallers meer beskerming as diegene wat aangeval word. Selfverdediging is nie altyd ‘n verskoning wat mense – wat hulself teen inbrekers en aanvallers wil beskerm – uit die tronk te hou nie.
Ons het die verfbalgeweer gekoop toe ons in Januarie 2020 Kuruman toe getrek het. Volgens die mense is dit ‘n gevaarlike dorp en wou ek darem iets hê om myself te beskerm as iemand in my huis inkom. Manlief is lank voor sonop werk toe en het lank na sononder tuis gekom.
Ek het egter nooit by oefen uitgekom nie.
Die naweek is die rewolwer saam. En toe ek weer sien, sit manlief die teiken op. So 20 meter van my af. Laai die skietding met rubberkoeël en gee die opdrag.
Ek moet mik en skiet.
My eerste vier skote was ver bokant die teiken verby, het die takke van die boom getref. Ek het die voorste mik geneem om my te lei. Nie geweet van die agterste een nie. En dat die mik reg in die middel van die twee agterstes moet wees nie.
En toe kry ek 10 beurte om te skiet.
Volgens manlief het ek goed gedoen, 80% raakgeskiet.
Vier van my trefslae was om die mannetjie op die bord. Naby hom, maar mis volgens my. Ek het egter die bord raakgeskiet.
Vier was raak.
- een hoog op die voorkop
- een net bokant die regteroog
- een in die arm, net bo die elmboog
- een in die arm, net onderkant die elmboog
Myne is die rooi kolletjies, en die een swart een bokant die oog. Daar was net ses rooi plakkers, ek gaan sommer baie koop vir volgende keer.
Indien iemand twintig meter van my af staan, is die kans egter baie groot dat ek die persoon agt keer sou tref. Want ‘n mens is baie groter as die teiken waarheen ek moes skiet.
Die vraag is: Sal ek skiet as ek in gevaar is?
En die antwoord is ja, ek sal.
Die rubber koeëls gaan nie doodmaak nie, ook nie die pepergas nie, maar dit gaan ‘n aanvaller beslis stuit. Veral as ek keer op keer raakskiet. En dit is al wat ek wil hê. ‘n Kans om weg te kom van die aanvallers af.
Ek gaan nou gereeld oefen, want ek wil al agt gate in die figuur plaas. En nie vier om hom nie, al weet ek dat dit raak gaan wees as dit wel iemand was.
Manlief het sowaar die naweek weer gesê die magasyn is leeg.
En weereens was dit nie leeg nie.
Toe ek mik en die sneller druk, kon ek nog twee gate in die bord skiet, waarvan een bokant die oog was.
Hy het darem langs my gesit, ek sou nie mik as hy na die bord toe gestap het nie. Daarvoor het ek as jong vrou heeltemal te groot geskrik.
Staaltjie: manlief het die teikenbord na die oefensessie aan sy kant van die bed teen die muur staangemaak. Tot volgende keer as ons rivier toe gaan. Toe ek in die kamer instap, kyk die gesig vir my, met die skietding op my gerig. Ek het die bord gaan omdraai, dit is nie lekker om in ‘n skietding vas te kyk as ek in my kamer inloop nie. Al weet ek dit is ‘n prentjie …
Dankie Christa! Hier gee jy my nou ‘n uitstekende idee! Waar koop jy so ‘n geweer en ammunisie? Dis baie beter as ‘n rewolwer wat in ‘n kluis toegesluit moet bly en waarvoor ék die skuldige gaan weesas ek iemand raakskiet.
LikeLiked by 2 people
Toortsie, mens koop dit by ammunisiewinkels of sportwinkels. Ek sal gou kyk wat sy naam is, dan kan jy soek. Ek vermoed mens sal dit kan bestel. Enige plek wat paintball goed verkoop, sal dit beskikbaar hê. En ek stem saam met die probleme rondom ‘n skietding met lewendige ammunisie, en skietgoed wat kleinkinders in die hande kan kry en dink hulle speel.
LikeLiked by 2 people
Sy naam is HDR 50 (Home Defense Revolver 50). Daar staan ook T4E (Training for engagement) op die boks. Ek neem aan mens het die detail nodig om die regte een te koop. Dit is volgens die verkoper eeen van die bestes, mens kry kleineres ook. Hy is swaarderig, maar nie te swaar vir my nie. Die gewig help my eerder om hom gemaklik vas te hou. Natuurlik is dit ook goed om hom in die kar te hê.
LikeLiked by 1 person
Is sy ammunisie duur om mee te oefen?
LikeLiked by 1 person
Toortsie, my man dink nie so nie. Mens het gassilinder nodig en die koeëls, wat van rubber is. Die koeëls self is soliede rubber, of dit het gas of verf in.
LikeLiked by 1 person
Hier is ‘n skakel na die webwerf van ‘n plek in SA wat dit adverteer. Jy behoort dit goedkoper te kry. https://www.pepperpistolssa.co.za/products/t4e-hdr-50-home-defense-revolver/
LikeLiked by 1 person
Hierdie prys klink goed, dit sluit ammunisie in https://www.outdoorandvelocity.co.za/shop/umarex-hdr-50-t4e-home-defence-revolver/
LikeLiked by 1 person
Baie dankie. Hulle is beslis goedkoper as Takealot.
LikeLiked by 1 person
Ek het so gedink, en dan kan jy dit laat aflewer by jou huis. Jy is mos ook ‘n Courier Guy fan. Terloops, ek kan vir jou pos, ek skuld jou.
LikeLiked by 1 person
Jy skuld my nie. 😁❤️ Courier Guy se boetie, Pudo is ‘n baie goeie maatjie.
LikeLiked by 1 person
Dit is so, en ek dink dit pas mens selfs beter omdat jy nie by die huis hoef te wees om te ontvang nie.
LikeLiked by 1 person
Hierdie winkel verkoop hulle, maar hy is in Krugersdorp. Sy prys was beter as die prys wat ons by ‘n paintball winkel betaal het https://cradlestonemall.co.za/store/safari-outdoor/60288
LikeLike
Kan ‘n mens by hulle die peperballetjies koop?
LikeLiked by 1 person
Alles wat jy nodig het.
LikeLiked by 1 person
Dankie
LikeLiked by 1 person
Bel hulle gerus, die nommer is op die skakel wat ek gestuur het. Ek kan vir jou koop en pos. Hulle kan ook pos.
LikeLiked by 1 person
Kyk op Takealot vir HDR 50 accessories, ek sien alles behalwe pepergasballetjies.
LikeLiked by 1 person
Ek sal vir jou foto stuur per SMS
LikeLiked by 1 person
Ek sien Umarex is sy naam, mens kan meer oplees by https://umarex.com
LikeLike
Dit klink na n goeie opsie. Ek weier al die jare dat daar enige geweer of revolwer in my huis of op my erf kom. Ek het skoolgehou vir fisies gestremde kinders en skietongelukke is een van die grootste oorsake . Julle was baie gelukkig dat jy jou man nie getref het nie.
LikeLiked by 2 people
Seegogga, die Here het daar beskerm, want ek kon hom doodgeskiet of vermink het. Ek stem, ek weier ook al die jare. Hierdie een is veiliger keuse vir my gemoedsrus, maar word ook weggesteek dat kleinkinders nie daaraan kan peuter nie.
LikeLiked by 1 person
Dit is die realiteit, ne … iets om onsself mee te verdedig. Sjoe, jou storie van jou eerste ondervinding met ‘n rewolwer is nogal skrikwekkend!
My man het my jare gelede na ‘n skietbaan geneem om my te leer skiet. Dit het nie te sleg gegaan nie, maar genugtig, ek wip elke keer so hoog van die skrik van al daardie harde geluide 😲 … en die idee dat ek iemand kan dood skiet, is nie ‘n mooi gedagte nie. Daarom dink ek jou skietding klink na ‘n goeie opsie – sterkte met die oefenry!
LikeLiked by 2 people
Dit het my al die jare gejag (haunt) dat ek my eie man per ongeluk dood kon skiet met ‘n rewolwer wat veronderstel is om leeg te wees. Vir my is die idee om dood te skiet ook skrikwekkend, daarom verkies ek die skrikmaker bo die regte skietding. Ek is steeds versigtig vir die ding, maar ek moet weet hoe hy werk as my lewe of die van my naastes in gevaar is.
LikeLiked by 1 person
Ek en my geliefde het ook so n winkel besoek . Die wapen lyk soos n regte geweer en skiet ook balletjies . En ja, ek sal skiet om myself te verdedig
LikeLiked by 1 person
Appeltjie, dit is soos dit is. Wanneer ek bedreig word, tree selfbehoud in.
LikeLike