Ek het mos die WRG se 21 dae van dankbaarheid uitdaging gedoen. Vir 21 dae lank moes ek elke dag iets geskryf het oor iets waaroor ek dankbaar is, gebaseer op hulle riglyne. Dit was interessant.
Sondag besluit ons om die Nederduitsch Hervormde Kerk nader aan ons nuwe huis te besoek. Om te besluit of ons gaan bly waar ons is, of ‘n nuwe gemeente gaan besoek.
Die gemeente is in ‘n ouer gedeelte van Centurion geleë, oorkant ‘n polisiestasie. Maar dit voel so effens onveilig om die kerk te besoek. Mooi ou kerk, laat my aan Ermelo se ou gemeente dink, die een waar ek en manlief aangeneem en voorgestel is. Sonder dat ons mekaar geken het, hy twee jaar voor my.
‘n Interessante waarneming was dat die banke met rooi en wit plastiese bande afgesper is. Daardie soort wat polisie gebruik om misdaadtonele af te sper, is dit? Of padmense? Ons kon net in elke tweede bank sit. Daar was afkondigings wat die hele tyd gewys is, maskers op, was jou hande. Waarom sou dit nodig wees om die banke met sulke lelike bande af te sper? Almal het hulle hande gewas, maskers gedra. Ek is seker hulle sou ook elke tweede bank oopgelos het. Daar is ook ‘n beperking van 250 wat die hele tyd afgekondig is. Ook onnodig, want daar was maar min mense in die kerk, seker nie meer as 50 nie. En ek wonder al meer of die afgelope twee jaar daartoe gaan bydra dat kerke leeg loop?
Iedergeval, alhoewel die kerk drie predikante het, het ‘n instaan predikant gepreek. Haar van is toevallig ook Fourie, soos my familie s’n. ‘n Mooie vrou, met baie lang asblonde hare waarmee sy soms speel terwyl sy preek of wag. Sy het ook ‘n video’tjie geneem terwyl mense sing, seker om haar te herinner aan die mooi liedere wat sy gekies het. Op ‘n afstand het ek haar bloedjonk geskat, van nader was sy effens ouer.
Waaroor ek eintlik wil vertel, is haar preek.
Die tema was sowaar weereens:
Dankbaarheid.
Om die jaar met dankbaarheid te begin, maar deur die jaar daarmee vol te hou. Dus ‘n uitdaging om die hele jaar lank van dankbaarheid te getuig.
Want daar is elke dag iets waaroor ons dankbaar kan wees, ten spyte van die sleg om ons. Ten spyte van werk wat verloor word, verliese, en baie meer, is daar vir elkeen van ons iets om voor dankbaar te wees.
Elke liewe dag.
Ons moet net bewustelik daarna soek.
Volgens haar is dankbaarheid ‘n warm gevoel in jou hart. ‘n Gevoel wat mens die beste kan beskryf as jy die woord vir ‘n 6-jarige probeer verduidelik. En verduidelik dat hulle dankie moet sê.
So eenvoudig. En tog so kragvol was haar preek vir my.
Om daarin te slaag, moet ons elke aand op ons bed sit (en nie lê nie want dan raak ons aan die slaap volgens haar) en dink oor die dag.
En een enkele ding neerskryf waarvoor ons dankbaar is.
Daarom gaan ek probeer om elke dag van 2022 oor iets te skryf – positief of negatief. Sodat ek die skrywe kan afsluit met iets waarvoor ek dankbaar is.
Hier is die lysie van die eerste paar dae se dankbaarheid.
***
Sondag 2 Januarie was ek dankbaar dat ek na die preek gaan luister het, ons kon by die huis gebly het om goed reg te kry vir die nuwe jaar nadat ons so lank weg was. Ek gaan beslis haar raad volg en probeer om elke dag een iets uit te lig waaroor ek dankbaar is.
Maandag 3 Januarie het ek geskryf oor my eerste skietervaring en dat ek dankbaar is dat ek nie tydens daardie les met ‘n regte rewolwer my eie man per ongeluk doodgeskiet of vermink het nie. Dit was net die Here se genade dat ek hom nie raakgeskiet het nie, ek sou nie daarmee kon saamlewe nie.
Dinsdag 4 Januarie was ek dankbaar oor die reën wat so oorvloedig val. Ons het dit nodig, die land het dit nodig. As vrou wat op ‘n plaas grootgeword het, sal ek altyd dankbaar vir reën wees, selfs al kan dit my verontrief.
Woensdag 5 Januarie is ek dankbaar dat die Vaaldam word weereens goed bestuur word, die water het so 2 m gestyg, ons plek is buite gevaar. Dit gee vir ons veral ‘n gevoel van oneindige dankbaarheid, want ek sien sowaar nie regtig kans om binne die volgende weke drie keer te trek nie.
Uit my rivierhuis, in my rivierhuis en na ons nuwe huisie toe nie. Alles in Januarie 2022 – sal bietjie rof wees vir een maand.
As ek moet, sal ek, sonder om te murmureer, want ons plek kan in groot gevaar wees as die wal van die Vaaldam meegee omdat die sluise nie oopgemaak word nie. Dus gaan ek nie kla nie, eerder dankbaar wees dat daar wel sluise oopgemaak word. Tans is twee oop, en dit lyk of dit voldoende is om almal langs die Vaal veilig te hou.
Hooffoto: Geneem die naweek by die Vaal. Ek kon beide punte van die reënboog sien, maar ek kon dit nie op een foto inkry nie omdat daar bos agter my is. Daarin sou ek nie gaan om die foto te kan neem nie, daar is slange …
En is dit nie ook ‘n rede vir dankbaarheid nie? Die reënboog? Die Here se belofte dat die aarde nie weer deur water oorstroom sal word nie …
Jy het daardie reenboog so goed vasgevang!
LikeLiked by 2 people
Baie dankie, hy is pragtig gewees. En mens moet gou spring, as jy weer sien is daar niks waar dit was nie.
LikeLiked by 1 person
Gister oor die nuus gehoor die Augrabies is toegemaak vir toeriste omdat die watervlakke te hoog is. My vriende by Vioolsdrift moet hul gasteverblyfplekke van die wal af verskuif . Ondertoe gaan die Oranje weer soos voorheen sy walle oorstroom en die veld gaan weer groen wees . Strome van seën.
LikeLiked by 2 people
Dit is sulke wonderlike nuus, ons land kort oorvloed. Dankie vir die saamgesels.
LikeLike
‘n Reënboog is ‘n goeie simbool van hoop en dankbaarheid. Vir jare al dink ek aan vyf dinge waarvoor ek dankbaar is voor ek gaan slaap. Dit maak nie saak hoe klein of groot hulle is nie. Partykeer moet ek hard dink, soms is daar baie meer as vyf. In elk geval ek dink dit help my om beter te slaap en elke oggend begin die dag soos ‘n skoon blad vir my.
LikeLiked by 2 people
Anne, ek dink ek moet sommer ook wegspring met meer as een. Dit sal mens van die slegte laat vergeet. Want jy moet op die goeie fokus. Goeie raad, baie dankie.
LikeLiked by 2 people
Pragtige foto Christa! So baie om voor dankbaar te wees. Selfs o. Elke dag net wakker te word. 💕
LikeLiked by 2 people
Inderdaad Una, elke dag is geleen by God.
LikeLiked by 1 person
Mooi skrywe, Christa.
LikeLiked by 2 people
Dankie vriendin. Ek moet jou kontak …
LikeLike
Ons is terug by die huis, jy kan enige tyd bel.
LikeLiked by 1 person
Ek maak so.
LikeLike
Hmm, dis ‘n baie goeie idee … dalk moet ek ook my blou joernaaltjie nader trek en begin om ‘n woord of twee neer te skryf elke aand. Ek sal net moet gou maak, want die eerste 4 dae van die jaar is verby en ek vergeet tog so gou 😉!
Ek hou van ‘n reenboog – joune is so mooi – vir my is daar altyd ‘n belofte daarin wanneer ek dit sien.
LikeLiked by 2 people
Dankie vir die saamgesels. Altyd die belofte dat God in beheer is.
LikeLiked by 2 people
Beslis ja 🌸.
LikeLiked by 2 people
Ek is dankbaar dat ek jou raakgelees het.
LikeLiked by 1 person
ag dankie, dit is ‘n baie mooi boodskap.
LikeLike