Ons is vandag na ‘n groter dorp toe, nadat die Agri naby ons nie die filters in voorraad het wat ons nodig het om die boorgat se water te filtreer nie.
Aangesien dit ongeveer ‘n uur daarheen is, was ons al goed honger toe ons die filters by die regte winkel gekoop het. Ek gaan nie vertel watter een nie, ook nie watter dorp nie, maar wel dat dit een van die aangenaamste inkopie-ervarings die afgelope twee jaar was. Onthou, Suid-Afrikanes dra die afgelope twee jaar die hele tyd maskers, geen aftye nie. Juis daarom gaan ek nie vertel watter winkel nie.
Dit het soos die outyd gevoel. Die personeel het nie maskers gedra nie en ons het belaglik gelyk met ons s’n aan.
Aangesien ek lankal besluit het om my grootmensskoene aan te trek, het ek my masker ook afgehaal om soos ‘n mens in die winkel te voel.
‘n Regte, egte mens.
Nie een wat gemuilband is nie, maar een wat kan gesels en glimlag en koop. Sonder dat die personeel ons aankyk asof ons melaats, siek of vuil is. Inteendeel, hulle het ons geselskap net so baie geniet soos ons hulle s’n.
Dit was hemels en ons gaan beslis ons besigheid na die plek skuif.
Ons is van daar af na Checkers toe om broodjies en so aan te koop. En toe ons uitstap, besef ons dat ons nie koeldrank vir die lang pad huis toe gekoop het nie.
Ons besluit toe om by ‘n nuwerige soort kitskosrestaurant te stop om koeldrank te koop.
Pedros.
Ken jy dit? Is dit nuut in Suid-Afrika? Ek kan nie onthou dat ek al een raakgekyk het nie.
En ja, jy kan my maar glo. Ek lees die afgelope jaar alles om my. Naamborde, straatname, advertensies op groot plakkate. Want die 18 maande in Kazakhstan kon ek “lees” wat oral staan omdat ek die Siriliese alfabet ken, maar het ek geen snars verstaan nie.
Ek lees oral soos ons ry. Sag natuurlik, maar dit gee so ‘n sagte gevoel van dankbaarheid in my hart. Ek verstaan wat ek lees, want dit is hier waar ek leer lees en skryf het.
Ek kan nie onthou dat ek dit al gesien het nie, dus was dit ‘n nuwe ervaring. Iets soos Nando’s op die oog af, maar mens kan mocktails (cocktails sonder drank) ook daar koop. En dit lyk vreeslik lekker. Ek het nie, gaskoeldrank maak my siek. Ons het besluit om sommer kos ook te koop, dit was reeds bykans twee-uur.
Op pad terug huis toe eet ons die slapskyfies en ek my hoender. Manlief besluit sy burger gaan mors en hou dit vir tuis.
Toe ek die servet uithaal, kon ek nie help om hardop te lag nie. En toe manlief saam lag, lag ons alte lekker. Ek het toe ook harder gelag.
Juis omdat ek in die week geskryf het dat ek selde meer hardop lag. Dit was skreeusnaaks, maar ook sinies.
Sou jy ook gelag het?
Ek lees vreeslike spot daarin net soos wat Nando’s ook gereeld in hulle advertensies spot. Wonder of hulle verwant is.
Kan mens hulle kwalik neem?
Ek dink nie so nie.
Reg oor die wêreld word vir volwassenes vertel dat hulle hulle handjies moet was, hulle maskertjies moet dra. Die nuuslesers dink sowaar dat ons babas is.
Dit is dus nie verrassend dat ‘n maatskappy dink dat hulle vir mense moet vertel dat dit ‘n servet is … en nie toiletpapier nie.
Lag ek weer alte lekker vir die servet.
Daar is soveel redes om dankbaar te wees as ek net om my kyk. Soos om iemand aan my sy te hê om saam met my te lag. Ek gaan dit vanjaar meer doen, dit is lewensnoodsaaklik om positief te raak.
Dis beslis n prettige servet. Rn ek is/was gaande oor Nando’s se spitsvondige advertensies.
LikeLiked by 2 people
Dankie, Adri. Ek ook, dit was so dubbelsinnig dat mens nie kon help om hardop te lag nie. Hou van spitsvondig, hoe kon ek die mooi woord vergeet?
LikeLiked by 1 person
Laat jy my ook lekker lag, baie slim gedoen
LikeLiked by 1 person
Interessante ene daardie ene
LikeLike
Dit is baie snaaks en het nou ook lekker gelag!
LikeLiked by 1 person
Ek is bly jy het dit ook geniet.
LikeLike
😊
LikeLiked by 1 person
Ek’s mal daaroor as ‘n maatskappy so oorspronklik is met hulle segoed … partykeer so half tong in die kies 😁. Het nog nie van Pedros gehoor nie, maar 10 uit 10 vir hulle vindingrykheid!
LikeLiked by 1 person
Ek ook, maak mens lus om te lees.
LikeLiked by 1 person
Pedros klink onbekend maar die logo wil wil n klokkie lui…..mal oor draadstekery en veral deur n maatskappy wat durf het om dit te doen en aan te hou daarmee.
LikeLiked by 1 person
Ek ook, en jy gebruik ook ‘n mooi woord – draadstekery. Ek geniet dit.
LikeLike
Dis eintlik draakstekery maar die vingers was weer dom en te vinnig😂😂
LikeLiked by 1 person
O my word, toe tik ek ook verkeerd. Dit is baie, baie snaaks. Ek moet konsentreer as ek tik, nie twee goed gelyk doen nie.
LikeLike
Ek het dit eerste verkeerd gehad…o flippit..nou skeur ek my milt…😂😂
LikeLiked by 1 person
Dit is so snaaks, ek sal my ‘n papie lag vir sulke lawwighede.
LikeLike