Hoe het ek ‘n towerin geword?

Ek gaan nou eers moet bieg, op een of ander manier het ek hierdie uitdaging misgelees, misgekyk. Om te vertel hoe ek een geword het. Gelukkig lees ek my maats se blogs en het ek dit wel raak gelees. Ter verdediging mag ek dalk noem dat ons pak. En dit laat my kop oral probeer vastrapplek kry. Hier kom my verhaal.

***

Die towerinne is ‘n groep vrouens wat blog, waarvan almal in Rebusfontein gaan woon as die lewe druk. Ook as dit nie doen nie, om so bietjie te ontvlug. Ek verstaan daar is 18 huisies, 14 word meer gereeld as die ander bewoon. Myne is nommer 17, hy word goed bewoon.

Ons almal gebruik WordPress om ons stories vertel em dit is juis deur WordPress wat ons mekaar raakgelees het. Ek het eers iewers in 2019 lid van hierdie groep vroulike skrywers geword.

Maar voordat ek van my trek na Rebusfontein se Towerinstraat 17 kan vertel, moet ek eers meer oor my eie wankelrige blog begin vertel.

***

Ek het aanvanklik in Afrikaans oor tegnologie geskryf, ek lief om te kyk hoe tegnologie gebruik kan word om onderrig en leer te bevorder. In Afrikaans omdat dit my taal is, maar ook omdat ek ‘n groep vir Afrikaanssprekende onderwysers op Facebook begin het. Iewers in 2015. Waar ons in ons taal by mekaar kan leer.

Nadat ek ‘n navoringsopdrag voltooi her, het ek iewers in 2016/17 begin om artikels op my blog te skryf en in RSA Onderwysers op FB gedeel. Om onderwysers aan die praat te kry oor tegnologie in hulle klaskamers. Alhoewel dit goed gelees is, het ek nooit kommentaar gekry nie. En mense wat sulke goed skryf, sal weet jy dan al minder skryf. Dat die lus opdroog om te deel ook. Al was daar baie klieke, skryf mens tog dikwels juis omdat jy graag wil weet of ander daarby baat.

Ek het tussenin gunsteling resepte vir my Thermomix gedeel. Dat ek so na my eie webwerf kan gaan om die resep vinnig te kry as ek wil bak. Ek het nie altyd ‘n boek naby nie. Dan wil ek nie sukkel as ek wil bak nie.

Ek het ‘n paar artikels van persoonlike aard geskryf oor uitstappies en so aan. Die laaste een was ‘n grappige vertelling oor my ervaring tydens ‘n uitmergelende bergfietswedren. En toe ek op. Vir ‘n klein bietjie minder as ‘n jaar om enige iets te skryf. Op my blog.

In November 2018 het die lus my weer beetgepak. Terwyl manlief vir elke week drie dae in ander land gewerk het. Ek het teen daardie tyd verskeie WordPress blogs begin, elkeen het my fortuin per jaar gekos om sy eie webadres te hê. So het ek die troostelose aande omgekry. Elkeen se naam het gepas by sy inhoud: Afrikaans Taal, resepte, tegnologie.

Ek het egter een dag besluit om al my artikels op ‘n enkele WordPress blog te doen. En op een dat 19 plasings van ander webwerwe oorgedra na hierdie webwerf. Dit het natuurlik verskeie aspekte gedek, maar onder die naam https://christavanstaden.com kon ek plasings oor werkwoorde, telwoorde, Trojaanse vingers (oeps, my vieswees oor mense wat by restaurante aan tafel op hulle fone is) en natuurlik Thermomix resepte groepeer. Ek sien die afgelope ruk dat die twee plasings oor werkwoorde en telwoorde daagliks besoek word.

Dit was lekker omdat ek niemand gehad het om mee te gesels nie. Ek het daardie tyd erg met my maag gesukkel. Skielik gastro gekry en het selfs nie meer bestuur nie omdat ek nooit geweet het wanneer die “siekte” my weer sou tref nie. In ‘n stad is daar nie altyd plek om te gaan stop nie. My blog het my vriendin geword soos toe ek op skool was. Buitendien, ek het so gewoond geraak daaraan dat niemand kommentaar lewer nie dat die artikels soos privaat gevoel het. Al het ek dit aanlyn gepubliseer. Niemand lees mos my blog nie? So voel dit as niemand reageer nie.

Toe skryf ek ‘n artikel oor my onvermoë om nee te sê as ek voel dat ek misbruik word. Dit was baie, baie persoonlik van aard. Want sien, soms, net soms, skryf ek ook oor die dinge wat my regtig ontstel. Om my hart op papier te sit eerder as om die persoon direk te konfronteer. En dit kry geen kommentaar op WordPress nie, maar my foto wat ek daarby gebruik het om die artikel te illustreer, het ‘n ongekende storm in my lewe veroorsaak. Een wat weke lank sou duur. Die artikel is nie gelees nie, ek is op grond van die hooffoto wat ek dadelik verwyder het, beoordeel en veroordeel. ‘n Ervaring wat my nou nog twee keer laat dink voor ek ‘n foto kies.

Die een of twee artikels wat daarna geplaas is, het ek geskryf voor die storm. En toe droog my lus op. Ek het my eensaamheid eerder verdryf deur tyd saam met my honde te spandeer as om op WordPress te skryf. En ek het eerder akademiese artikels geskryf. As om weer my hart op papier te sit. Die besondere artikel het egter steeds geen houvans of kommentaar gekry nie.

Ek sien towerinne soos Una, Toortsie en Sonell het van die artikels gehou, maar ek vermoed dit het eers gebeur nadat hulle my begin volg het. Toe het die artikels net daar gestaan, niemand het daarvan gehou nie en ek het gevoel asof ek vir myself oor myself skryf. Die keer wou ek nie kommentaar hê nie.

Toe trek ons Qazaqstan toe.

En ek is skielik alleen.

Stoksielalleen bedags in ‘n koue wêreld waar ek kort rukkies buite kon stap. Dan vries jy. Ver van my kinders en kleinkinders.

Bedags bykans alleen in ‘n massiewe woonstelkompleks wat uit verskeie aparte geboue bestaan. In ‘n land waar ek geen mens verstaan nie. En waar ek net per taxi in die dorp kon kom. Maar dit nie wou waag nie omdat ek die taal nie kan praat nie, die stad nie ken nie en nie sou weet as die man my êrens anders heen vat nie. Wat nooit, ooit in Qazaqstan gebeur nie, maar hoe moes ek dit toe geweet het?

En toe gebruik ek my FB om oor die ervaringe hier te vertel. En moedig my ou skoolmaats my aan om te bly skryf. Hulle geniet my vertellings. Ek was verby verras. Ons was nie op skool na aan mekaar nie, ons was wel klasmaats. En ons het na skool by reünies maats geword. En dit was die heerlikste gevoel. Om deur jou ou klasmaats aangemoedig te word om te skryf.

Een sê toe dat ek ‘n reisjoernaal moet skryf. Maar regtig, wie stel daarin belang, het ek gedink. Maar die woord joernaal het my aan my virtuele joernaal se blad laat herinner.

En so het ek my stories eerder op my eie blog as op FB gaan vertel. ‘n Skakel daarheen op FB geplaas, waarop my klasmaats en die wat belangstel kon gaan kliek om dit te lees. En skielik het ek e-pos van WordPress gekry dat mense van my werk hou.

Dit was vreemd, want die keer het ek die stories oor my eie lewe vertel. Wat vir ander dalk erg vervelig kon wees? Maar om my eendag te herinner aan ‘n tyd wat mens maklik deur die newels van tyd kan begin vergeet. Om wanneer ek op die ouetehuis se stoep sit te lees terwyk ek die dae hier in Qazaqstan herleef. Ons het werklik pret gehad terwyl ons hier moes inpas en aanpas om te oorleef.

En toe raak die towerinne by my werk betrokke. Sonell, Vuurvliegie, Woordnoot en Una het van my eerste plasing oor ons bilongmakery in Qazaqstan gehou. Maar ek het steeds nie kommentaar gekry nie.

En toe kom die e-posse dat mense saamgesels. Om die eerlike waarheid te sê, het ek oorweeg om nie te gaan lees nie, ek was gewoond aan katterig, foutsoekend. En ek het gewonder wat ek geskryf het wat dit kon uitlok? Toe kom ek agter dat WordPress se gemeenskap nie soos die van ander sosiale media is nie. Hulle is meelewend en aanmoedigend. En so het ek deel van ‘n gemeenskap van Afrikaanssprekende skryfsters geword.

Sal ek liewer bloggers skryf? Dit sal so effens voorbarig wees om myself as ‘n skryfster voor te stel. En nee, ek speel nie op die verteller van Tant Nelie se Veerpluime in nie. Hy het mos te vertelle gehad dat hy nue eintlik ‘n man van woorde is nie. Toe vertel hy ‘n pragtige storie.

Towerin Perdebytjie het in Mei 2019 oulike kommentaar op my inskrywing oor my Schnausers geskryf, een wat in die tyd voor Qazaqstan geskryf is. En so het ek ontdek dat my nuwe vriendinne ook my ouer werke lees.

En toe wil ek weet wie die mense is wat kommentaar lewer, kliek ek op hulle blogs, volg ek hulle en lewer ek ook kommentaar op hulle artikels. Almal in Afrikaans. Maar ek volg ‘n paar Engelse skrywers ook. Die wat my artikels gelees het en begin saamgesels het. Hulle het my lewe heerlik gemaak. Ek het soggens eers op die Reader ingegaan en gekyk wat daar is om te lees. En ook kommentaar om my vriende se artikels gelewer. Mense wat steeds elke keer as ek iets noemenswaardig skryf, daarvan hou en kommentaar lewer. En stilbly as ek droog maak, my nie in die openbaar verneder nie. Hoe wonderlik is dit nie?

***

En toe trek die towerinne my in hulle droomwêreld in. Toe ek skryf dat ek graag op hulle kamma-kastige dorpie wil gaan kuier. Toe stop Vuurvliegie my die sleutel vir huisie nommer 17 in Towerinstraat in Rebusfontein in die hand.

En moet ek my eerste skryfstuk skryf. Oor my vinnige trek na Rebusfontein op 29 Junie 2019. Om my aan die ander inwoners bekend te stel. Ek was veronderstel om ‘n alterego te hê, maar het so bietjie daarvan vergeet, Dus is ek in my gewone self deel van die dorpie se gemeenskap. Kan dit skaars glo? Ek is nou al presies ‘n jaar deel van die toweringemeenskap. En deel van ‘n virtuele leefwêreld waarin ons in mekaar se lief en leed deel.

Mekaar se werke lees en saamgesels. En ek selfs voorbarig geword het om te vra: Wat is ‘n towerin? Want sien, die “verkeerde” Afrikaans het ek, as taaljuffrou, nie eens agtergekom nie. Want die regte woord is mos eintlik towenares. En toe hoor ek hoe die woord ontstaan het. Vuurvliegie het my reggehlp, sy het die woord geskep. Spesiaal vir die toweropstal op Rebusfontein.

Nou is ek deel van ‘n wonderlike groep dames wat, wanneer die lus ons pak, hoofstukke aan vervolgverhale skryf. Ons word uitgedaag om deel te neem. En elke keer bewe my broek, maar ek geniet die proses te veel om Bang Jan te speel. En mens, ek geniet dit baie. Dalkies te veel.

Ek moet bieg, ek het nie die moed gehad om saam te skryf nie. Die saamskryf in die gemeenskap het my baie uitgedaag. Soms om my eie deeltjie te skryf oor ons kammakastige dorpie in die middel van Suid-Afrika, en dus naby aan Pofadder.

Ander kere skryf ons saam aan hoofstukke vir ‘n vervolgverhaal waarin ons die hoofkarakters is. Ek het eers by die sirkus begin saamskryf.

Ek het eers by die vervalle biblioteek ernstig gesukkel. Ek moes kophou soos ‘n weeluis om by te bly. Hoofstuk 9 en 18 hieronder was deel daarvan. Ons het te veel pret vir ‘n enkele rondte gehad.

Hoofstuk 8 is my aandeel aan ‘n ander vervolgverhaal, een waarin cononamouna nie ‘n virus is nie, maar balletjies wat spinnekoppe spin. En ons moes die spinnekoppe verjaag om weer vrede op ons dorpie te hê.

By elkeen van die gesmentlike skryfstukke is ‘n skakel waarop gekliek kan word om die hoofstukke voor en na myne te lees. Dit word aanbeveel, anders sal die hoofstukke nie so pretiig wees nie, mens moet verstaan waaroor dit gaan.

Elke keer wanneer ek die hoofstukke lees van die vrouens voor my sak my moed in my skoene, ek is nie so goed soos hulle nie. Ek weet dat my verbeelding en skryfvermoë nie op hulle vlak is nie. En dit het aanvanklik goed vrees ingeboesem. Ek het die verhaal oor die biblioteek met soveel aandag gelees dat ek notas van elkeen gemaak het. Want sien, ons is self die hoofkarakters in ons verhale. Ek moes die eerste hoofstukke met aandag gaan lees om seker te maak dat ek nie lekker twak praat wanneer ek verder skryf nie. Ek het notas soos op universiteit gemaak.

Daardie eerste hoofstuk is oor en oor en oor gelees, weer en weer en weer verander. En toe het ek, soos Vuurvliegie vertel oor haar eerste met haar eerste artikel op haar blog die knoppie bewerig gedruk om te publiseer. Nee wag, ek het eers verskeie kere daarna nog gehuiwer. Rondgestap in die huis. Maar mens meot dan waag, daar is ‘n volgende persoon wat vir jou deel waag. Ek het gedreig om uit te val, maar is aangemoedig. Druk net die knoppie, hulle sal lees …

Het selfs laat weet dat ek nie kans sien nie. Maar, toe word ek aangemoedig om te kliek, hulle sal besluit.

En is ek nie bly dat ek het nie? Die saamgesels aan die einde van elke hoofstuk is amper lekkerder as om deel van ‘n vervolgverhaal te wees. Ek het deel van ‘n FB-groep geword waar daar selde saamgesels is. En toe ontstaan ‘n WA groep, waar ons in mekaar se lief en leed deel.

En ek soms wakker word met 100 boodskappe om te lees. Dan sit ek my oorfone in my ore, gaan stap my 30 minute stap. En luister na hulle stemboodskappe, iets wat die gesprekke soveel meer waarde gee. Soms is die 30 minute nie genoeg om op te vang nie, dan gaan sit ek met my oorfone in in ‘n teekafeetjie. En wonder ek soms of mense wonder waaroor ie vrou so sit en lag …

***

My raad aan almal daar buite, soms moes mens net waag en spring. Jou vermoëns tot hulle uiterstes beproef om dit verder te ontwikkel. Op WordPress is daar mense soos jy. Wat jou werk geniet en saamgesels.

Wie sou nou dink dat hierdie ouma sal begin om verhale te skryf wat in ‘n droomwêreld afspeel? Selfs vir die waarheid kon vertel dat ‘n spinnekop so groot soos ‘n huis is. En haar maatjies daarmee kon bang maak? (Hoofstuk 8 van die laaste vervolgverhaal bo genoem).

***

My eie man en kinders lees nie my artikels nie, dus weet hulle nie van hierdie droomwêreld waarin ek lewe nie. Manlief dink ek hou my met onbenullighede besig. Sal ek die verassing op sy gesig wil sien. Die kinders is te besig om te lees. 

Eendag, as ek nie meer daar is nie, gaan hulle dit waarskynlik vind en lees. Dan sal ek graag ‘n vlieg teen die muur wou wees. Om hulle verbasing oor hulle vrou, ma en ouma se ander lewe te sien.

Slegte vorm om in terug te keer aarde toe, hulle sal vinnig moet lees. Alles in een dag as ek reg onthou leef vlieë nie veel langer as ‘n dag of tien nie. En hier is dae se leeswerk opgesluit. Hierdie skermskoot wys maar enkele van die hoofstukke van die vervolgverhaal oor die vervalle biblioteek.

Mens kliek op elkeen daarvan om die hele vervolgverhaal te lees. Dit is opwindend lekker pret.

Jy kan die ander towerinne ontmoet deur hier te kliek om verder te lees.

19 gedagtes oor “Hoe het ek ‘n towerin geword?

  1. Ek is so bly ons het jou ontdek en jy vir ons! Daardie vrees as ‘n nuwe storie aangekondig word en ek moet ‘n hoofstuk skryf, ken ek. Gelukkig is die Towerinne verdraagsaam met my. Jy skryf uitstekend.

    Like

  2. Daardie eerste druk van die knoppie het ons almal laat bewe… maar die lekkerte daarna kan net iemand wat deel is van die groep begryp.
    Sterkte met die trekkery!!!

    Like

  3. Lekker man, so bly jy het die knoppie gedruk. Ek is self ook n ou wat beplan en uitwerk en dae nodig het om tot n punt te om. Jy is beslis n aanwins vir ons klomp. Kan nog onthou dat jy so in die verbygaan by ons aangesluit het. Skryf kan jy beslis. Ons “like”jou baie.

    Liked by 1 person

  4. Ek onthou daardie gevoel toe die eerste mense op my blogs kommentaar gelewer het. Dit was so lekker en is nog steeds. Ek is bly jy het by ons aangesluit. Jou interessante stories daar ver, gee vir ons ‘n kykie in ‘n ander wêreld. Jy skryf ook uitstekend!

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.