Hoofstuk 9. ‘n Geheime tonnel

Hierdie inskrywing is anders as die wat ek gewoonlik skryf. Dit vorm deel van ‘n bloguitdaging wat ‘n groep dames, bekend as die towerinne van Rebusfontein, uitdaag om ‘n storie saam vertel.

Aangesien elkeen van ons ‘n karakter in die storie vertolk, moes ek kophou om te verstaan waar om aan te gaan. Jy moet eintlik die vorige agt hoofstukke (dit is nie so lank nie) lees om myne te verstaan. Kliek HIER kliek om die verhaal van die begin af te lees. Ek het elkeen baie geniet.

***

Wat vooraf gebeur het in ‘n neutedop om jou nuuskierig te maak.

Ek was heel opgewonde toe ek lees dat die towerinne ‘n biblioteek op Rebusfontein ontdek het. En vra wie wil help om dit skoon te maak. Natuurlik sou ek help, al is seer sinusse my voorland. Ek was tog onderhoofbiblioteekprefek op my dag.

Maar, soos mens van die towerinne kan verwag, het dit nie by die skoonmaak van die biblioteek gebly nie. En is ons genooi om aan ‘n storie verder te vertel.

Gou is briewe in dagboeke gekry, onsigbare boodskappe in resepteboeke ontdek, ‘n pratende spieël en ‘n geraamte met ‘n hangertjie om die nek in die kelder. Dit is juis dié geraamte wat veroorsaak het dat Broodina en die polisie op pad na die ou herehuis is.

Die geraamte het my hoendervleis gegee, veral omdat daar ‘n gebreekte nek betrokke was. Buitendien, ek het al ‘n paar spookstories gekyk waar die einste gebeenderes besluit het om op te staan. En dans hulle nie ook iewers in een van ons Afrikaanse liedjies in die begraafplaas nie? Wilhelmina Katerina draai in my kop, maar die res haak iewers vas.

En soos die storie gevorder het, het ek besef dat ek baie voor op die wa was om te dink ek kan saam met die groep towerinne aan ‘n storie vertel. En ek het laat weet, nee gits, hier is ek buite my vaarwater, ek gaan liewer onttrek.

Want ek het soos die verteller in tant Nelie se Veerpluime gevoel, ek is nie goed met woorde nie. Ek kan stories plein en simpel vertel. Met woorde kan ek nie toor nie. En die verbeelding skiet ook myle te kort.

Te bang om my hand aan papier te slaan, is ek gereed om nee te sê toe Toortsie laat weet dat dit my beurt is. Ek wyfel, maar sy moedig aan, laat selfs in haar hoofstuk ‘n paar gedagtes oor waar ek kan begin. En gee raad. Una help ook met raad, bied aan om iemand anders te nomineer as ek nie wil nie. Met die twee se ondersteuning onthou ek ek is ‘n Fourie, ‘n boerin ene. En almal weet, ‘n boer kan ‘n plan maak.

****

Maak dus die sitplekgordels vas, die roller coaster is op sy baan …

Ons het vies gekyk hoe Broodina, die joernalis, heel voor aangekruie kom, stadiger as ‘n skilpad in haar vuil Uno. Die polisiemanne moes maar geduldig in ‘n streep volg, sy het geweier om die pin te deel sodat hulle kon weet waarheen om te gaan en haar verbysteek.

“Kom julle, ons het baie tyd. Sy dink mos ons kan nêrens heen gaan nie!” sê Positief. Laat ons aan die werk spring om die waardevolle goed weg te steek.

Toortsie, Trommeltjies, VirgoC en Seegogga kies weer die kombuis, hulle het ‘n oog vir die plek ontwikkel. Elke nou en dan gil enetjie: “Kyk wat het ek gekry!” en dan word wegsteekplek gesoek.

Seegogga help maar min, sy sien prentjies in die spinnerakke wat alte veel soos pensketse lyk. Sy haal haar foon uit en neem foto’s van die spinnerakke om later te bekyk as sy alleen is. Nou het hulle werk.

“Lyk dit nie vir julle soos ‘n kaart nie?” vra sy, maar niemand hoor nie, almal jaag om klaar te kry.

Una, Bondelsgedagtes en Vuurvliegie het die biblioteek weer beter geken, dus skud hulle elke boek vinnig om te kyk of nog leidrade uitval. Ons moes nog weet wie se geraamte in die kelder was. Una staan met die water gereed om nat te gooi.

Hester, Frannie, Positief en Kameel het al vinniger gelees om deur die boeke te kom wat die ander aangee. Sommer hardop gekla dat ouderdom in ag geneem moet word, hulle kan nie so vinnig lees nie. Net-nou mis hulle ‘n belangrike ding!

Scrapy het gehoor dat Seegogga iets oor ‘n kaart mompel en soek of daar nie dalk ‘n kaart iewers versteek is nie. Dan lag sy en sê: “Nee man, hoekom sou ons nou ‘n kaart moes kry?”

Ek moes my Russiese vriende gebruik om leidrade te probeer kry. Eendag moet ek nog aan my vriende verduidelik dat die Russe nie is soos wat hulle in flieks aan ons voorgestel word nie. Hulle is eintlik regtig gawe mense, soek nie moeilikheid nie en druk nie hulle neuse in sake waar dit nie hoort nie.

Lekkervurig en Perdebytjie is na die kelder toe. Daardie hangertjie om die geraamte se nek was waardevol, hulle moes dit ook gaan haal en wegsteek.

Woordnoot het die optog dopgehou en ons aangemoedig om vinniger te werk. Goeie plan om bietjie te rus, wat het die manne dit in die weermag genoem? Jippiguts of so iets, maar die towerinne het die aanmoediging nodig gehad. Om klaar te kry.

Ek moes mos hoor of die Russe kan help. Ruslan en Sergei en Marrat het my geterg met: “Julle is mos nou besig met ‘n verbeeldingsvlug. Is daar nie ‘n kinderstorie wat jou daarmee kan help nie?”

Ek het my bloedig vererg, daar is nie tyd vir grappies nie. Iewers het ek en die Russe lost-in-translation geraak, hulle het nie verstaan dat dit ‘n saak van lewe en dood is nie. Broodina en die polisie is op pad, daar is nie tyd om te probeer verduidelik nie, maar iets het tog vasgesteek.

Kinderstories!

Ek het, soos gewoonlik, probeer dink aan plekke waar mens goed kan wegsteek. En ek is goed met sulke plekke kry, ek soek gereeld na goed wat ek weggesteek het.

Maar ek kon aan niks dink nie. Toe draf ek die trappies af na onder in die kelder om die spieël te gaan haal wat gebruik is om mevrou Marks se resepteboek se leë kolle mee te lees. Dit moet ook weggesteek word!

Dit is mos die einste spieël waarin Scrapy vir Charlotte en Isabella sien praat het.

Kinderstories? Spieël? Die twee vrouens het die huis geken. Sou weet waar om goed weg te steek. Hmmmm, as ek die vraag nou anders vra, kan die spieēl dalk net weer aan die praat kom.

Dus gryp ek die spieël en vra: “Spieëltjie, spieëltjie is my hand, wys my ‘n geheime plek?”

Ek dink nog daaraan dat dit baie dom is. Het Srapy haar nie verbeel dat hulle praat nie? Sy hou juis so baie van stories skryf. Het weer op die plaas gaan kuier.

Maar die spieël is dof en ek hoor ‘n geritsel by die geraamte. Ek besef dat ek stoksielalleen is.

Waar is Lekkervurig en Perdebytjie wat hier sou kom werk?

Elke beenhaar staan in die lug, anders as Una s’n, voel dit of hulle ingegroei het, ek voel kriewelings oraloor. Ek draai my kop om die liggie op die geraamte te gooi, laat ek maar liewer self kyk wat aangaan as om van agter oorval te word.

Die oopgemaakte hartjiehangertjie is steeds om die nek, maar blink vreemd in die skerp lig van my kopliggie, ‘n liggie flikker stadig aan en af.

“Goeie genade, is dit nou ‘n bêreplek?” wil ek ongeduldig weet. Mens kan dwarsdeur die geraamte sien, niks kan daar gebêre word nie?

Die hangertjie trek my steeds soos ‘n magneet. My Juffrou-brein wil nie daaraan vat nie, ek het mos met almal geraas: “Moet aan niks vat nie!”

Ek wil nie, maar ek steek my hand na die hangertjie uit en dit haak aan die een gebreekte nekwerwel vas. ‘n Vreemde kraakgeluid laat al die adrenalien na my bene vloei, heeltemal te vinnig. My bene weet nie herwaarts of derwaarts nie.

Agter die geraamte probeer spinnekoppe met rûe so groot soos golfballe om hulle spinnedrade bymekaar te hou.

Want ‘n deur in die muur skuif stadig en krakend oop. Ek staar na die werkende spinnekoppe, vreesbevange omdat Woordnoot se Doom nog bo is.

Wetend dat meer as een blik nodig is om bierdie spinnekoppe weg te maak.

As hulle ‘n deur kan toespin, is ek ‘n vinnige werkie. Tjoef-tjaf en ek lê soos skoonma my arme babas toegedraai wou hê. Niks sal kan beweeg nie.

Ek draai om om te vlug, toe verskyn twee vrouens in die spieël wat steeds in my bewende hande is, soos ‘n swaard voor my gehou. En hulle praat.

Almal dink jy is onskuldig, jy wat jou eie kinders weggegooi het. Ek het jou kinders grootgemaak soos my eie, maar jy het hulle teen my opgestook. My Josef ook …

Toe bly sy stil. Staar na iets agter my. Die ander vrou bly ook stil, staar ook oor my skouer. En toe is die spieël weer swart.

Ek wil nie, maar my bene draai terug. Die deur is oop en ‘n tonnel strek daaragter ver in die grond in, maar dit vurk. Meer as een keer. Daar gaan ek nie in nie.

‘n Doolhof? Die muwwe reuk wil my oorweldig, dit is stikdonker en dan blink twee paar oë in my liggie se straal. Mense s’n.

Ek wil gil, maar my keel is droog. Bly net so oop. Klankloos.

Spoke? Daardie wit-wit mense in een van die storieboeke wat ek vir my skoolkinders gelees. So melkwit omdat hulle nog nooit die son gesien het nie. Ek wou mos taaljuffrou wees. My verbeelding hol met my weg. As dit so is, is daar geen einde aan die tonnel nie.

Ek voel hoe my bene onder my padgee toe die figure lewe kry. Na my roep. Ek kan steeds nie praat nie. Staan soos Lot se vrou.

Lekkervurig gee een vurige gil en ek staan op aandag. Sy beveel my om die hangertjie in my hand te hou en nie te laat val nie, dit is die sleutel vir die deur. Hulle het dit gelos toe die deur oopgaan en toe is hulle in die donker aan die ander kant vasgevang.

Ek is so bly om hulle te sien, sou nie so op my gemak in daardie donkerte wees nie. Hulle lyk opvewonde!

Perdebytjie neem foto’s van die spinnekoppe. Wat probeer om die deur toe te kry en toe te spin. Moenie bang wees nie, daai is goeie spinnekoppe.

Ja hoor, dink ek. Die enigste goeie spinnekop is ‘n dooie ene. Maar hierdie army gaan ek nie aanpak nie. Geloof, hoop, liefde. Spinnekop en ekke. Oe nee!

“Gou, gaan roep die ander gou. Ons moet hierdie tonnel verken, sonder die polisie en nuuskierige agies”.

Ek gebruik my seunshokkieafrigterstem en die ander kom met die trappe afgehol om te hoor wat aangaan.

Toortsie doen koeiroucall soos op die plaas, terwyl ons een vir een gillend verby die spinnekoppe in die tonnel verdwyn. Woornoot protesteer. Sy gaan nie verby ‘n spinnekop nie! Maar die polisie het reeds gestop en Positief trek haar in.

Toe die laaste een in die tonnel is, trek ek weer aan die kettinkie en die gaan die deur vinnig toe.

Net toe die polisie se stewels bokant ons gehoor kan word.

Veilige ekke wil die deur eers toets. Druk en trek aan die kettinkie om dit weer oop te maak. Maar dit haak vas, weier om weer oop te maak.

Ons kap en skop aan die deur, vergeet van die polisie, hier wil ons uit. Maar dit maak sagte geluidjies, dit is so dik niemand gaan iets aan die ander kant kan hoor nie. Die sleutel is nou hierdie kant!

“Ons gaan nooit hier uitkom nie, mens het ‘n kaart vir hierdie soort doolhowe nodig.” Dit kry mens nou van laf wees om almal in die tonnel in te roep!

Seegogga se oë blink soos fosforliggies toe sy snap, dit is wat sy afgeneem het. Dit was toe ‘n kaart …

Ek speel Geografiejuffrou en bestudeer die kaart …

“Kyk julle” roep een van die towerinne uit. “Christa, staan stil. Hou jou kop weer so dat die liggie teen die muur skyn.”

En toe sien ons dit. Sketse in die muur uitgekrap. Almal is daar. Charlotte en Josef, Sophia en Leonard, Klara, Thomas, Isabella. Die butler en die kok …

Ons is nie meer bang nie. Iemand het hierdie tonnel gegrawe en gebruik. Sal ons uitkom? Seegogga stuur vir almal die foto’s. As jou battery doodgaan …

Vrae wat nou pla:

  • Sou die kaart hulle help om die geheim op te los?
  • Waarheen sou die tonnel lei?
  • Is die manse so uit die huis uit?
  • Het Charlotte so in die huis gekom?
  • Wat het Sophia bedoel?
  • Is dit waarom die butler so kwaai gelyk het? Hy moes elke dag na sy kleinkinders kyk en weet dat hy nooit oupa sal hoor nie?

Positief, sal jy die geheim vir ons verder ontrafel?

Vir my ander lesers: Kliek hier om die verhaal van die begin af te lees

64 comments

  1. Christa, kyk nou net. Al wat ek sê oor jou ‘ek weet nie of ek kan’ oomblik nie, is vanwaar Gehasie? Jy is volkome Towerin met hierdie storiekinkel. Ek het my so ingeleef dat ek vir myself geskrik het! Puik Dr. Towerin van Staden nee Fourie. Ons Fourietjies deel mooi woordryg- en storievertelgene.

    Liked by 1 person

  2. ‘n Tonnel! En ek is kloustrofobies in die hoogste graad. Positief beter ‘n opening vind uit hier tonnel of julle gaan met Histeriese Hester kennis maak. En het iemand darem toebroodjies ingepak? Dis nou sommer ‘n lekker twist in the tale, Christa.

    Like

  3. Hier sit ek nou, die ene koue rillongs en al. Uitstekend geskryf, Christa! Ons en tonnels het al ń pad gestap, so jy gaan heerlike reaksie kry.😂 Kameel…🙈🙉🙊

    Liked by 1 person

      1. Jy het goed gedoen Christa. Maar ek verstaan – wanneer mens klaar is kan jy asemhaal en net lees wat die ander skryf, en die kommentare geniet.

        Like

  4. Ek sit sowaar hier met ‘n holkol op my maag. Spinnekoppe… en ‘n donker tonnel waar ons ingedruk…. of is dit nou ingetrek word. Ek kannie dink almal van ons is vrywillig daar in nie. En soos altyd vind ek iets om oor te lag…. Vuurvliegie en Perdebytjie wat agter daardie deur vasgevang is 😂😂😂 Welgedaan Christa!!!

    Liked by 1 person

      1. Ag en net as ek dink nou het ek die draad van die storie is daar weer ‘n twist. Ek was so seker Sophia het van niks geweet nie. Sy het net hierdie groot liefde vir Leonard gehad.

        Like

      2. Daardie spieël het al gewys Charlotte en Isabella was prostitute, en hulle was nie. So hopenlik was hy ook verkeerd oor Sophia. Daar moet farem een goeie karakter in die storie wees. 😭

        Like

      3. Hoekom sou sy jaloers wees Toorts. Haar groot liefde was Leonard. In haar brief wou sy wegkom van Eden af… tot sonder die kinders. Van die brief kan mens ook aflei dat hulle ‘n liefdesverhouding gehad het. Haar en Joseph se huwelik was net in naam… en vir die show. 🤔

        Liked by 1 person

  5. Jy los my met ‘n allergrootse taak!! Weet jy hoe benoud ek word in tonnels en nou moet ek die een wees wat kophou en ons hier uitkry. Ek is baie beter om almal in die moeilikheid te kry, hoor.

    Baie goed geskryf

    Liked by 3 people

  6. Het regtig nie tyd om hier te lees nie, maar na een sin moes ek ook die volgende sin lees! ‘n Riller soos min, Christa. (Daar is darem ‘n paar van Toortsie se broodjies in my sakke…)

    Like

  7. SJoe Christa…ek lees nou eers jou opvolg en welgedaan!!!! Jy het dit so goed geskryf, mens sou dink jy is al baaaiiieee lank saam met die Towerinne ….baie goed! En weereens ‘n hele nuwe wending!

    Like

      1. Dis maar die beste manier maar jou skryftrant was tipies Towerin styl….snaaks hoe vinnig dit afvryf op mens!!😘

        Like

  8. Sjoe, ek lees nou eers en is skoon kort asem van benoundheid. Jy het jou uitstekend van jou taak gekwyt. Ek weet nou nie of dit die tonnel of my beurt wat nader kruip wat my so benoud maak nie.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.