Ek het hierdie blog op 15 Augustus begin. En vandag eers klaar gemaak. Nadat Toortsie gesê het dat ek haar tot ‘n inskrywing oor blogland geïnspireer het. Voordat ek hare lees. Om te kyk hoe ons twee en ander blogmaats oor blog voel.
Ek het nog altyd gedink dat blogging ‘n eensame ervaring is. Tog het ek so nou en dan my hand daaraan geslaan.
Jy dink aan iets wat jy graag wil deel, gaan sit voor jou rekenaar en begin tik. Tot jy klaar is. Lees weer en weer deur. Maak tikfoute reg. Dan publiseer jy dit. En kry sowaar foute as jy die een op die web lees. Dan gaan jy gou terug, maak reg, hoop niemand het al gelees nie.
Want jy wil dit so na as moontlik aan perfek hê. Om eendag as ek oud is weer te lees. Om te onthou.
Ek het aan die begin nie eens gekyk of iemand kommentaar lewer nie. Dit is mos nie my Facebookmuur waar mense op my woorde reageer nie?
Vir my was dit ‘n uitlaatklep. ‘n Plek waar ek my stories kan vertel. Manlief luister nie daarna nie, die kinders is ver en met hulle eie lewens besig. As hulle bel, wil ek hoor hoe dit by hulle gaan.
Hierdie is my wêreld waarin ek, soos dominee Kobus nou die dag oor sy brein skryf, my karakters laat optree. Soms baie persoonlik, ander kere meer objektief. ‘n Alleen wêreld.
Solidatory (wo)man. Wie sing dit nou weer? Eric Clapton wil na vore druk, ek sal moet gaan soek.
Maar hoe verkeerd was ek nie.
Ek noem ‘n paar dinge wat blogging soveel anders as enige ander sosiale media maak.
- Ek het al verskeie vingerfoute gemaak, soms eers dae later raakgesien. Weet nie hoe dit gebeur nie, maar selfs in my doktorale proefskrif het ek en my prof, die dag toe ons dit oopblaai toe dit van die drukkers af kom, sowaar ‘n tikfout gesien. Nadat dit hoeveel keer geproeflees is. Dit gebeur net. Nog nie een keer het enige iemand my daaroor aangevat nie. Beledig nie.
- Ander bloggers lees jou werk. In diepte. Lewer goeie kommentaar. Kommentaar wat wys dat hulle gelees het. En beslis verstaan. As my foon piep, geniet ek dit om te sien dat iemand van die plasing hou. Het nogal ‘n goeie deel van die oggend daaraan spandeer. Maar, hemel mens, as dit wys dat daar kommentaar gelewer is, vergeet ek van die stap, van vinnig stap, van die winkels, van manlief se kos. Dan moet ek gaan lees, ek kan nie wag om te sien wie vir my ‘n woordjie of tien gelaat het nie.
- Die bloggers maak vriende. Nie soos Facebook-vriende nie, ook nie soos Twitter volgers nie, ook nie soos Pinterest delers nie. Hulle word vriende en vriendinne. Mense wat ek nog nooit ontmoet het nie. Die soort vriende en vriendinne saam met wie ek elke liewe dag wil kuier.
- Ek het al een of twee ander platforms probeer, maar ek geniet WordPress die meeste. Daarom gebruik ek dit vir my blogging. Maklik, eenvoudig, vinnig en werk alte lekker op die selfoon as die rekenaar nie naby is nie. Wat ‘n oulike toep vir selfone!
- Ek volg ander bloggers, kan nie wag as my foon piep en klik dat hulle iets geplaas het nie. En ek dink ek is besig om verslaaf te raak aan hulle stories, dit is beslis beter as storieboeke. Ek kan direk met die skrywers praat. En hulle met my.
- Die belangrikste rede. Die towerinne. Hemel tog, is ek dankbaar dat ek die uitnodiging om deel van hierdie groep te word aanvaar het? Ek het nog altyd gewonder waarom ‘n groep vriendinne saam sal wil vakansie hou. Nou weet ek. Hierdie gemeensaamheid het ek nog nie in groepe in die weklike lewe ervaar nie. Nie dat blogland nie werklike lewe is nie, ons het nov nie in persoon ontmoet nie.
- Die bloguitdagings. Ek, wat nie opstelle kon skryf nie, kry dit elke keer reg om ‘n storie te kan skryf. Op grond van die bloggers se uitdagings. Wie sou dit kon raai? Die towerinne s’n is selfs groter, daar moet dit deel van ‘n groter geheel vorm. En wankel die tor in my brein goed op sy doppie. Voordat ek waag om die knoppie te druk dat dit die wye wêreld ingestuur word.
Daar is nog so baie redes waarom ek dink dat die bloggemeenskap van ander gebruikers van sosiale media verskil. Die hoofrede is die betrokkenheid van lesers by die stories. Dit maak dit lekkerder as enige ander sosiale media.
Op Facebook hou mense van goed wat gedeel word, maar bly hulle stil. Daar word amper nooit kommentaar gelewer nie. Behalwe as ek ‘n blog deel. Dan gesels mense saam. Partykeer.
Op Pinterest kry ek kennisgewings dat iemand van my bord hou. Ek sou van kommentaar ook gehou het.
Op Twitter praat hulle ook nie saam nie, deel hulle jou woorde maklik. Al tel ek elke woord omdat daar ‘n beperking is, tel ek dit ook om nie iets te skryf wat teen my gehou kan word nie. Tog skrik ek elke keer my water en ligte weg as ek sien iets is gedeel. Gryp ek angstig my foon. Maak ek seker daar is niks wat ek liewer nie moes geskryf het nie. Want Twitter is maklik die gevaarlikste platform op aarde.
Daaroor sal ek in ‘n blog op sy eie skryf.
Hier weet mens ook nie altyd wie jou blogs lees nie. Daar is baie mense wat my lees maar nie kommentaar lewer nie.
Dan skrik ek half as hulle my raakloop of ‘n boodskap op Facebook lees dat hulle my blogs geniet.
Dit is seker hoe boekskrywers voel. Mens vergeet waaroor jy geskryf het. Nadat die ink uit die pen gevloei het. En droog geword het. As iemand dan uit die bloute sê dat hulle dit lees, wonder ek dadelik. Watter een?
Ek deel my blogs op Facebook. En baie mense lees dit deur daardie skakel, sien ek in die statistieke wat WordPress gee.
Want my blog is anders as ander mense s’n. Anders as die norm wat aanraai dat mens by een tema moet bly.
Hier deel ek my CV, want dit is makliker om dit so op datum te hou.
Hier deel ek selfrefleksies, wat persoonlik van aard is.
Hier neem ek aan bloguitdagings deel wat my brein uitdaag om uit die gemaksone te beweeg. Al moet ek stories vertel. En dan word dit ‘n riller, ek wat sommer vies raak as manlief ‘n bangmaakstorie op TV wil kyk, maak my medeskrywers bang met wat ek skryf …
Hier ontmoet ek regte egte mense. Wat ek nooit die voorreg sou gehad het om te ontmoet nie.
Hier raak ek weg in stories wat regte mense vertel.
Hier deel ek my reisjoernaal. Selfsugtig. Om eendag te lees as ek oud is. Om my aan hierdie mal besluit te herinner. Om tussen Qazaqs en Russe te kom woon. Wat my nie verstaan nie. Of liewe, wat my met moeite verstaan.
Hier kan ek die juffrou-kleed afgooi, hare losmaak en dink dat ek ook oulik is. Soms in elk geval.
As jy dadelik wil weet as ‘n nuwe een uitkom, kan jy die volg knoppie druk. Dit behoort self op te kom as jy nog nie volg nie. Of die vorm voltooi om per e-pos verwittig te word. Op foon moet jy afblaai om dit te kry. Op rekenaarskerms is dit aan die regterkant van die blog.
Lewer gerus kommentaar. Ek geniet hierdie in die lug gesprekke, deur tegnologie aangevuur, wat my hit isolasie bring. Om in Afrikaans te gesels.
Sjoe! Is dit dan die punt van hierdie inskrywing? Dat ek in Afrikaans kan gesels? In hierdie land waarin enkele mense Engels verstaan?
Moet wees. Want dit is presies wat ek mis. Afrikaans. Om in Afrikaans te kan gesels …
Foto: My dogter deel dit die week met my. Mens kan sover stap. Ons is darem nader, kan in Johannesburg of Pretoria begin. En in Qazaqstan eindig. Nou wel so hoog dat mens amper in Rusland is. Maar dit is net 10 000 km. Hoe lank sal mens daaraan stap?
Die lewe is een lang stap. Afstand tel nie, dis die stap wat saakmaak.
Toortsie was my blog-inspirasie en steeds die liggie voor in die pad. Veral as die lewe beurtnag word. En ek ken meer mense op WP as op enige ander plek. Mens sien baie egte mense hier al is die name 90% fiksie. Die harte bly eg.
LikeLike
WordPress is regtig ‘n aangename omgewing. Die “happiness engineers” (het hulle nie ‘n wonderlike term vir “administrateurs” gekies nie?) doen moeite om ‘n positiewe atmosfeer te handhaaf en hulle beklemtoon ook dat kommentaar die gom is wat die bloggers saamsnoer. Vir my is dit net so lekker om kommentaar te kry, dis amper so goed soos saam teedrink 🙂
LikeLike
Jy vat dit vas, tannie Frannie. Amper so goed soos om saam tee te drink.
LikeLiked by 2 people
Blogging is net lekker. Ek het ook destyds begin blog toe my kinders almal uit die huis is en ek alleen gevoel het. Dit was só lekker om met ander intelligente mense te gesels. My blog is ook ‘n mengelmoeskardoes, dis wat so lekker is, elke dag iets anders.
Ons geniet jou blogs sommer baie.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie Toortsie, ek geniet julle s’n net so baie.
LikeLike
❤️
LikeLike
Die saamgesels is ook die rede waarom ek blogs verkies bo ander sosiale media. Die kommentaar maak my dag.
LikeLiked by 1 person
Oe Hester, myne ook. Kan nie wag nie.
LikeLiked by 1 person
Dankie dat jy deel is van blogland en die Towerinne 🤗 Ons is nie net vriendinne nie, ons is ook familie. 🥰
LikeLike
Dankie Sonell, ons is beslis familie
LikeLiked by 1 person
In die begin het blogging my uitgefreak. Ek het so nou ene dan internet gehad en gereeld goete geplees wat later sou oplaai, wanneer internetkonneksies meer stabiel sou wees. Mens ontmoet ander van oor die hele wêreld. Maar die lekkerste is die gesels in mens se eie taal. En snaaks genoeg – die bloggers wat meestal jou denkrigting het, is dié wat oor en oor terug gesels.
Lekker blog in die verte!
LikeLike
Dankie Daniël, dit is waar, Afrikaans bind ons saam.
LikeLike
Dis heerlik om so saam te kuier. Jy is reg mens kan verslaaf raak. Ek geniet jou skrywes, dis lekker met jou in ons wereld
LikeLike
Dankie Bondels, ek is geëerd om deel van julle te wees
LikeLike
Dis amper soos ‘n dagboek, hierdie blogging ding, waar jy kan neerskryf wat in jou brein aangaan. Met rekenaar en selfoon altyd byderhand, is dit net makliker. Ek het ook so begin, net vir myself geskryf, omdat dit moes uit en ewe skielik begin mense kommentaar lewer, op goed wat eintlik privaat is. Dan is ek nuuskierig om uit te vind wie die mense is en gou-gou maak mens vriende met mense wat dieselfde as jy dink, party dink anders en jy vind uit dat dit ook ok is. Lekkerste gemeenskap ooit.
LikeLike
Jy vat dit so mooi saam! Dankie
LikeLiked by 1 person
Ek het begin blog nadat ek n’ blog gelees het wat Una oor ‘n gmeenskaplike vriendin gekryf het en dit nogal op Facebook. Sy het my aangespoor en my eerste blog was van “mog het treffe” . Ek het nooit gedink dat ek so betrokke sou raak nie, soveel fantasitese mense sal ontmoet nie (wel, nog nie almal nie!) maar ek wil nie eers meer Facebook oopmaak nie. Hierdie blog wêreld is my “go-to” plek, my happy place.
LikeLike
Ek stem volkome saam. Regte mense woon hier
LikeLike
❤️
LikeLike