Gepubliseer in Joernaal

Bergfietsry is nie vir sissies nie …

Ons het so twee jaar lank aan bergfietswedrenne deelgeneem – 2009 tot iewers in 2010. Ons dogter en haar man het dit begin en ons genooi om ook fietse te koop. Ek het laas as skoolkind fiets gery, ek was doodbenoud, maar het besluit om dié bul tog by die horings te pak en ‘n Merida aangeskaf.

Dié aankoop is opgevolg met die nodige stywe broek, verskeie hemde, helmet, handskoene en die inkliekskoene. Dié wou ek nie gehad het nie, my voete moet vinnig op die aarde kon kom as ek dit nodig sou vind.

En so het ek en manlief begin spinklasse bywoon. Ons het so onderlangs by die kinders uitgevind oor hulle tye, ons fietse rivier toe gevat en daar gery en tot die gevolgtrekking gekom dat hulle maar stadig is en dat ons maklik sou kon byhou. Ons het natuurlik nie geweet dat ‘n adrenalienjunkies die roetes uitlê nie … en dat dit nie naastenby so plat en breed soos ‘n grondpad in die Vrystaat sou wees nie …

Die Magaliesmonster

Ons eerste wedren was die Magaliesmonster naby Buffelspoort en Mooinooi. Dié naam moes iets vir my vertel het, maar dit het nie … Dus het manlief die langer roete gedoen en ek die 20 km ene. Dollatjie het ons gewaarsku om albei die 20km te doen, maar ons was baie slim …

Skaars ‘n paar meter van die beginpunt af, is ons deur dik sand, wat my amper aarde toegebring het. Ek wou mos na ander luister en die inkliekskoene aantrek. ‘n Ent verder is ons oor die smal damwal met geen reëlings nie. Aan my linkerkant was die boomtoppe en – ek wou nie kyk nie want dit moes ‘n verskriklike afgrond wees. Aan my regterkant was die afgrond diep genoeg dat ek nie na een van die twee kant wou afval nie. Ek het gemaak soos ek geleer is toe ek leer motor bestuur het. My oë op die eindpunt gehou en gebid dat ek asseblief nie daardie dag ‘n sosatievleisie vir ‘n klomp honger voëls aan een van die takke van die bome word nie. Anderkant gekom het ek my voete uit die pedale gesukkel.

Ek weet nie hoe die mense so maklik uit die goed kom nie, ek moes amper my heupe uit hulle potjies ruk. Daarna het ek my skroewedraaier uitgehaal en die klieks van my skoene afgehaal. Natuurlik nie die beste plan nie, want die hardesoolskoene het oor elke klip van die pedale afgegly en ‘n paar blou kolle veroorsaak. Maar ek kon af as ek wou af. En dit was elke blou kol op my bene werd.

Naby die einde haal die voorste jaers van die langer roetes ons in. Op ‘n baie nou paadjie met kranse aan die linkerkant en ‘n massiewe afgrond aan die regterkant. En dié mense skree vir my om pad te maak. Regtig? In die rots in of teen die afgrond af? En ek skree terug dat hulle maar kan kies aan watter kant hulle wil verbygaan – hulle is baie beter as ek met dié ding. Watter simpel mens lê ‘n roete in elk geval so uit dat die vinnige voorstes van een wedren die agterstes van ‘n ander een inhaal?

My tyd was nie te sleg nie, ek het voor baie jong mense klaargemaak. As jy die einde begin sien, moet jy eers deur ‘n sloot met water in! Die kinders was lank voor ons klaar en ons twee was lank voor die einde van die monster opgery.

Die roete naby die Boswell en Wilkie sirkusplek

Een van ons volgende byeenkomste het by die Boswell en Wilkie sirkusplek naby Walkerville begin. Dit was kastig ‘n plat roete!

Ons het ons dogter dié oggend vroeg opgelaai en die pad gevat. Op pad daarheen sê sy dat sy nogal bekommerd is – die roete was 45km en nie 30km nie. Ek lees nooit die fynskrif in e-posse nadat ek ingeskryf het nie, dus het ek dit nié geweet nie. Dit was bykans die helfte van die afstand langer as waarvoor ek ingeskryf het! Toe nie, dit was bykans 54km! Dan kan hulle ook nie eens die 5 en die 4 in die regte volgorde plaas nie!

Ek en ‘n kind was heel laaste. Stoksielalleen op vreemde grondpaaie en het al meer as 45km ver gery met geen sirkustent in sig nie. En ‘n vrou en kind het agter ons kom ry – met hulle oorverdowende vierwielfietse. Wat ‘n verleentheid volgens my skoonseun as dié fietse saam met jou inkom om oorverdowend aan te kondig dat jy heel laaste is … Ek het gestop en vir hulle gevra om terug te val, want die oorverdowende geluid maak my mal.

Op 50km het ek woedend op die grond gaan sit, my man gebel en vir hom gesê dat hy vir die organiseerders moes sê dat ek weier om verder te ry en dat hulle my daar moes kom haal. Met my medalje. Dit was reeds baie verder as die 30km waarvoor ek ingeskryf het. En in hierdie geval was meer nie beter waarde vir my geld nie.

Hy het getroos dat dit net 2km verder was. Toe nie! Toe ek die tent in sig kry, is die pad nie reguit tent toe nie, maar daar is sulke s’e in die veld gemaak sodat mens op en af moet ry tot jy daar aankom. Ek was rasend kwaad, verskriklik moeg en die twee op die quads het my verby perke gedryf. Dus het ek gestop, hulle geroep en hulle baie mooi laat verstaan dat ek die simpel tent kan sien, maar soos ‘n mier wat gif in het op en af moet ry om daar te kom. Hulle is toe maar vooruit en ek het elkeen doodgekyk wat wou waag om geluk te sê dat ek klaargemaak het.

‘n Sopnat Van Dalen kaasplaas

Die kersie op die koek was ‘n sopnat Van Dalen kaasplaas met ‘n adrenalien junkie wat die roete heen en weer oor die rivierloop uitgelê het. Ek jaag nie, daar is geen manier waarop ek my nek vir ‘n tweede keer gaan breek om ‘n punt te bewys nie, dus ry my gesin vir my weg.

Ek moes gereeld stop en die modder van my wiele afkrap. Ons is in diep water onder deur ‘n pad en kon dikwels die geluide hoor dat ons naby die einde is. Maar dan het dit weer sag geword as die roete ons weer deur die loop geneem en aan die ander kant uitgespoeg het.

Baie van die mense, my man inkluis, het nie weer deur die rivier gegaan nie, maar aan die een kant gebly en van die verkeerde kant af die wenpaal bereik. Ek het dit nie geweet nie en die roete gevolg.

Op een plek was die afgrond erg (foto). Ek het bo gestaan en planne beraam om onder te kom. Op sou ek nog probeer, maar af sou ek nie op ‘n fiets doen nie. Ek kon my fiets afgooi en hurkend afgaan, met my boude so na as moontlik aan die grond. Ek kon bel en sê hulle moes my kom haal – maar hoe sou mens verduidelik waar jy in die simpel bos is? Ek kon my fiets net daar los. Maar toe bied ‘n barmhartige Samaritaan aan om sy fiets eers oor te neem en dan myne. En so het ons saam-saam klaargemaak, met nog baie mense agter ons.

Ek het die roete sowaar weer ‘n tweede keer aangepak. ‘n Dameswedren is daar aangebied en ek was seker dat dié roete beter sou wees. Dit was, maar dit was ook een van my laaste wedrenne.

Ons dolla het ma geword, haar fiets opgepak en ek en manlief het nog so een of twee wedrenne alleen aangepak. Nou hang die fietse in stilte en wag vir ‘n volgende roete wat deur ‘n adrenalienjunkie uitgelê is. Ek nie, hulle raak maller met elke volgende roete.

Die bergfietsjuffrou

Voordat ons begin bergfietsry het, was ek die bergfietsjuffrou by die skool. Die ouers het alles gedoen, ek moes net die verteenwoordiger wees. Ek het soms uitgery na Klipriviersberg waar hulle deelgeneem het. En dan het ek en die ouers gesit en kyk hoe hulle 5km rondtes herhaal tot hulle klaar is. Terwyl ek die Magaliesmonster gedoen het, was my kop net op een plek. Genade tog, as ek geweet het waaraan ek die kinders blootgestel het, sou ek nooit dié posisie aanvaar het nie! Bergfiets is nie vir sissies nie.

Bykans ‘n dekade later

Nou is die stywe broeke en hemde netjies weggepak omdat hulle my so beskuldigend aankyk. Die gadgets is netjies in ‘n fietsrysak weggepak. Lus vir opklim het ek egter nie meer nie, daarvoor onthou ek die roetes te goed.

My vriendinne was verstom elke keer as ek foto’s op Facebook gedeel het. Hulle het ook gesukkel om te glo dat ek dit doen omdat hierdie oud-onderwyseres langs die atletiekbaan en hokkieveld in hoëhakskoene afgerig het. Met stywe, lang rompe. Dit het my ook verras dat ek met die skamele kleertjies rondgeparadeer het. Maar, mens maak mos maar in Rome soos die Romeine …

As ek so na die foto’s kyk, kan ek ook nie glo dat ek so mal was nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

5 gedagtes oor “Bergfietsry is nie vir sissies nie …

  1. Haha. Ek het nou so lekker gelees aan hierdie. Ek kon nie eers glo jul het aan meer as een van hierdie deegeneem nie. Avontuursport word ‘n verslawing. Die dat elkeen maller is as die vorige een. Die 54 km klink na iets wat my op ‘n hopie sal laat sit en huil.

    Like

  2. Oooo ek ken dit…. dis al wat ek omtrent hoor wanneer daar gepraat word. Nee, ek ry nie self nie maar my skoonseun en sy twee tienerseuns…. en my skoondogter doen. Ry tot Kaap toe om aan wedrenne deel te neem. Het nou lekker saam jou bergfiets gery, dankie!!!

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.