
Die van julle wat ook Schnauzers het, sal weet dat hierdie menshondjies oral is waar jy is. Hulle volg jou in so ‘n mate, dat ek dikwels wonder of hulle oorsaak van ‘n gebreekte nek, bene of arms gaan wees. Want hulle bly by jou terwyl jy stap, gaan staan as jy gaan staan en wag reg voor my voete as ek te stadig met die trappe afgaan. So naby, dat ek hulle soms miskyk en dan mooi moet balans hou om nie te val as ene te naby aan my voete gaan staan het nie. Dit is die rede waarom hulle nie in die voorerf mag speel nie, want as hulle nie die verstaan as hulle te naby aan ‘n mens is nie, gaan hulle beslis nie verstaan dat ‘n kar se wiel hulle kan plattrap nie.
Vandat die huishulp gedros het en my daarna by die CCMA gaan verkla het dat ek haar weggejaag het, het ek besluit om nooit weer ‘n huishulp aan te stel nie. Vertroue is iets wat met tyd gebou word en na sulke verraad deur iemand wat soos deel van die gesin gevoel het, maak ek nie my hart of huis weer vir ene oop nie. Die huisskoonmaaktake word eerder deel van my verpligte halfuur oefening per dag – met die voordeel dat ek kan sien hoe die huis skoonbly, die klere gestryk is en die huis betyds skoon is as ek gaste verwag. Want, al sê die hartklopmonitor dat ek goeie oefening ingekry het, is die skaal en klere maar traag om my te laat dink dat dit die moeite werd is om te oefen. Wat ek eintlik wou skryf, is dat my Schauzers net so dankbaar is dat ek huis skoon maak want sy het hulle uitgejaag!
Die eerste paar dae was moeilik met die woefe die hele dag by my in die huis omdat die twee mannetjies besluit het om alles te merk. Nadat ek Becks se neus daarin gevryf het, sy boud ‘n klap gegee het en vir hom gewaarsku het dat dit sy dood kan vervroeg, het hy laasgenoemde opmerking ernstig opgeneem. Shilo leer sommer so uit sy ouboet se foute en het dit ook nie weer gewaag nie. Mens sou sweer ek sal hom regtig vermoor? Maar, nou bly ons vyf in vrede bedags in die huis en volg hulle my oral waar ek gaan. Staan ek op, skud hulle die ore en stap saam. Wat my nog altyd laat wonder waarvoor die ore geklap word, want dit is veral snags ‘n baie, baie irriterende geluid! Sit ek op die bank, kom sit hulle saam op die bank, of lê naby my op die grond waar hulle my kan dophou.

As ek toilet toe gaan, kom sit die vier voor my voete en hou die deur dop.
Maar, as ek badkamer toe gaan en die bad se kraan oopdraai, is dit ‘n heel ander storie. Dit het ek eers nou die aand agtergekom toe manlief van onder vra waar die Schnauzers is terwyl ek bad. Toe ek uitklim, is hulle nie in die aantrekkamer nie en ook nie in die kamer nie en ook nie by die deur na die slaapkamer toe nie, maar veilig ver van my by die draai van die trap, met BB, die oudste ene, heel voor en reeds halfpad af. Ek moet darem eers die ander drie vang voordat sy in die spervuur kom om gebad te word! Vanoggend toets ek dit toe gou weer. Almal soos stertjies agter my aan badkamer toe. Toe draai ek die kraan oop en sien hoe hulle stadig wegsluip, deur die aantrekkamer, deur die kamer en by die deur uit in die gang in op pad om die trappe af te gaan as dit moet! Maar, toe verkies hulle om verby die trappe te loop en eerder ‘n beter wegkruipplek te vind.
Moet saamstem, die een die beter! Ek kan onmoontlik soos hulle voor om die lessenaar loop en teen die tyd wat ek agterom geloop het, kon een reeds gereed wees om die trappe af te hol om ‘n bad vry te spring.

Shilo was nie so seker of dit ‘n slim plan is nie, toe staan hy maar gereed by die trappe. Maar, toe ek om die draai kom, is hy, soos op die vorige foto gesien kan word, ook in die den!

Nie dat dit gaan help nie, ek het reeds planne bewimpel om almal in die kamer te kry. Vandaar is dit maklik om een-een te bad, op die stoep neer te sit om droog te word en as al vier gebad is, oop te maak sodat hulle hulself in die son kan gaan droogmaak! Nie dat ek dit altyd doen nie, want drie van die vier geniet dit vreeslik baie om drooggeblaas te word. Ding is, my arms is lam nadat ek vier gebad het, dan sien ek nie altyd daarvoor kans om hulle droog te blaas nie.
Dié liefde vir die droogmaakdeel leer hulle aan terwyl hulle by Groom to Perfection (Featherbrooke winkelsentrum) bederf word!

Manlief het ook nou gewoond geraak aan die woewe wat ook saans by ons sit terwyl ons ons sepies kyk. Gisteraand, toe hy die deur vir hulle oopmaak uit te gaan dat ons kan gaan slaap, hooer ek hoe hy vir hulle sê: ‘Lekker slapies!’. Ek was nie seker of ek hom daaroor moes spot nie, toe dee ek maar net ‘n drukkie!
Jy praat so na my hart.Ek het drie Schnausies en dis presies hoe hulle is.Twee reuns en een tefie.Die reuns is iets ysliks,pen my altyd vas met pote op my bors.Natuurlik val ons ook heeltyd oor hulle.Dis lieflike diertjies.
LikeLike