Gepubliseer in Joernaal

As kosblik vir manlief moeite word …

Toe ons nog vreeslik jonk was, het manlief skofte gewerk. En ek het skoolgehou. Dus kon ons mekaar soms maar min sien. As die een wakker was, het die ander een geslaap of vir werk reggemaak.

In daardie tyd het manlief so trommeltjie gehad waarin hy sy kos werk toe gevat het. En dit is juis hierdie trommeltjie wat probleme veroorsaak het.

Manlief is vreeslik fitterig oor wat op sy brood mag wees en nie. Dus was ek baie ontevrede toe hy menige kere ondergrond uitgekom het, gaan sit het om sy kos te eet en ontdek het dat iemand anders dit reeds opgeëet het. Net die krummels vir hom gelos.

Daardie iemand anders was hulle hoofde wat voor hulle ondergrond uitgetrek is.

Mans wie se vrouens nie vir hulle kos gepak het nie? Vrouens wat dalk al te moeg was om vir fitterige mans kospakkies uit te dink? Ongepoetste mans? Diewe?

Maggies, was ek kwaad. Ek maak nie vir diewe kos nie. En my manlief het honger soos wolf by die huis gekom. Terwyl hulle vertel dat sy kospakkies die lekkerste was.

My pa het nooit vir ‘n baas gewerk nie, dus het ek nie grootgeword met idees oor die belangrikheid van ‘n baas nie. Nog minder dat ek hulle moet please nie. My pa sou nooit sy werkers se kos gaan opeet nie.

Soos ek gesê het, my Fouriebloed het gekook. En juffrouens leer mos so in die praktyk om probleme eenvoudig en doeltreffend op te los.

Dus het ek vir manlief gewaarsku om die volgende dag se broodjie nie te eet nie. Daardie een sou ‘n lokval wees.

En het ek die broodjie nie alte mooi gesmeer nie. Botter mooi netjies tot by al die punte.

O ja, dit doen ek beslis nooit nie. Daar is ‘n storie daaragter, iemand wat vir my probeer vertel het hoe ek manlief se broodjies nou eintlik moet smeer. Asof sy sou weet?

Lelik vererg en die botter word steeds nie van kant tot kant gesmeer nie. Maar ek dwaal af, die een was mooi gesmeer, dit moes die dief lok.

Toe gaan sny ek ‘n stuk dik bruin sweetpakmateriaal in die regte grootte, een vir elke toebroodjie. En sit dit tussen die twee snytjies brood in, netjies gebotter om nie verdag te lyk nie.

Nodeloos om te vertel, was die dag se broodjies nie op nie, inteendeel, dit en die lappe was so deurmekaar in die kosblik teruggesit. Ek sou graag wou sien hoe die ou gelyk het toe die lap nie wou afbyt nie.

Sou die man my nie op ‘n dag vra of ek vir manlief kwaad was dat ek lap op sy broodjie gesit het nie! Ek het net gesê dit was nie vir hom nie. En ‘n beterweterige kyk gegee.

So vertel ek dit onlangs vir ‘n vriendin.

En sy vertel vir my dat haar wraak nie op ‘n dief was nie, maar op haar manlief. Ook toe sy nog lekker jonk was.

Hy was nie mooi met haar nie, toe sit sy vir hom twee snytjies brood in. Met absoluut niks tussenin nie.

Aangesien daar by die werk ‘n kantien was, het sy ook al sy geld uit sy beursie gehaal, sodat hy nie kon koop nie. Die kantien plekkie was streng kontant.

Hy was blykbaar kwaad, nou lag hulle daaroor. Ek dink manlief sou ook beslis kwaad gewees het.

Ek was een keer mooi kwaad vir manlief. Teen 25 Februarie was my juffrou bank leeg. Tog het ek my laaste geldjies uitgetrek, ‘n koek gaan koop en by sy werk gaan aflewer. Hom na deur laat roep om die koek te gee en toe weier hy om dit te vat.

En daar staan ek soos fool met die koek in die hand. Terugloop kar toe sou ek nie. Dus het ek mooi vir die wag by die hek geglimlag en die koek vir hom gegee. Gesê hulle kan dit eet toe hy verbaas vir my kyk. En weggestap met manlief wat net so verbaas gekyk het hoe sy koek na ‘n ander kantoor gaan.

Manlief het op ‘n stadium nie meer kosblikke gekry nie. Omdat ek een middag deur die venster gesien het hoe my hond nie kon wag vir die baas wat sy netjiesgesmeerde broodjies vir hom gee nie.

Ek is lief vir my honde. Almal weet dit. Maar ek het nog nooit gaan staan en brood smeer vir hulle nie!

Hy het probeer verduidelik dit was die eerste keer. My hond het nie verbaas gelyk nie. Hy het geweet waarvoor hy gestaan en wag het. Buitendien, manlief deel nooit sy kos nie. Nie eens met my nie.

Daarna moes hy maar wag vir aandete as hy wil eet. Het ons vroeër aandete geëet. Want teen daardie tyd was hy so honger soos ‘n spook!

Jare later, seker so teen 2011, het hy weer ‘n kosblik gekry. Tans is hy elke middag tuis vir middagete. Dit maak kosmaak soveel makliker. Ek hoef nie te dink oor goed wat op brood of vetkoek of rolletjie gesit kan word nie.

Ek weet, baie ander goed kan ingesit word. Nie vir my manlief nie. Daai gevegte is geveg. En verloor.

Vertel gerus as daar so kosblikgrappie in jou spens is …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “As kosblik vir manlief moeite word …

  1. Sjoe….dis nou behoorlik voedsel vir die siel…en het behoorlik my lagspiere geprikkel…
    Ek’t nèt begin skoolhou…ons was 10 mans…en het in ñ kring gesit in die personeelkamer..met 1 wat op terreindiens was. Somtyds gaan dit goed by die huis. Ons praat nou nie van finansieel nie.. san word daar verskriklik moeite gedoen met die kosblik…dis ñ slaaiblaar en n kaaswiggie…en ñ servet. Dan is daar die kere wat dit minder goed gegaan het… jy kon sien die brood is behoorlik in die blik gedruk..of gegooi… my kollegas het presies geweet wat in ons huis aangaan, sonder dat ñ woord daaroor gerep is. Aan sulkes kou mens maar langtand… en dink aan jou sondes..en probeer maar “opmaak” om tog net iets ekstra behalwe droè brood te kry…soms moes ek maar my eie kosblik pak. Ai, dit was goeie dae.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.