Gepubliseer in Joernaal

Regte, egte rooibostee in Ust-Kamenogorsk

Was ek nie verras toe ek in Maart saam met vriende in ‘n restaurant naby ons woonstel sit en ek rooibos chai (tee) op die spyskaart raaklees nie. Nou wel in Russies gespel, maar as mens dit uitspreek kom jy by rooibostee uit. En dit moes ek dadelik bestel.

Rooibostee in hierdie vreede land kan verlange bring, want dit is ‘n eg Suid-Afrikaanse produk. Hulle weet nie eens waarvan ek praat as ek antwoord dat ek van Suid-Afrika is nie. Wil nie glo dat ek uit Afrika is nie. En hier is ‘n Suid-Afrikaanse produk beskikbaar.

Die tee was egter ‘n baie groot teleurstelling, en dit laat my wonder wie Uilspieël hier gespeel het. Want dit was nie rooibostee nie, het nie eens die kenmerkende kleur nie. Ek neem aan iemand hier het sommer enige bossie in teeblare verander. En verkoop dit hier as tee.

Intussen het ek nog rooibostee ontdek. Verskillende make, maar dit was nie rooibostee nie.

Rooibostee het iets anders aan hom. Laat ek dan eers verduidelik.

Ek was ‘n koffiedrinker, groot ene. So agt koppies koffie per dag. Maar tydens my swangerskappe het ek na tee oorgeskakel. Aangesien ek nie vat aan gewone tee kon kry nie en ook nie wou toets tot ek iets kry wat werk nie, het ek op rooibos besluit.

Rooibos proe romerig op die lippe, sag. Dus kan ek die smaak nie verdra as daar melk in is nie. Wat nou ‘n goeie ding is, want die liewe ek se liewe lyf het twee jaar gelede besluit genoeg is genoeg. Geen laktose verder vir haar nie. En sy het my in ‘n ystergreep beet.

Lag ek nou elkker vir die ystergreep in ‘n voormalige land wat agter die ystergordyn versteek was. As ek nie luister nie, weet sy hoe om my te maak luister. Gastro in ‘n land waar mens nie toilette kry nie is geen grap.

Sodra die babas gebore was, het ek weer na koffie oorgeskakel, met swart rooibostee in die kinders se bottels. Mens kan ook net soveel rooibos in ‘n leeftyd verduur, hetek gereken. Maar, soos ek vertel het, het my lyf besluit om te rebelleer. Aangesien swart koffie nie lekker is nie, het ek maar weer na rooibostee oorgeskakel.

Ek het al vertel dat Qazaqstan die land van tee genoem kan word. En my verskeidenheid van tees groei by die week. Ek het tans so 33 soorte in die kas, veral omdat tee hier spotgoedkoop is.

Ek betaal gewoonlik minder as 500 tenges vir ‘n pakkie, dus minder as R16 per boksie met 20 sakkies. Selfs as die sakkies van die fynste gaas gemaak is, daardie soort wat teesakkies in Suid-Afrika ‘n luukse maak.

Ek kon egter nog nie tee opspoor waarop rooibos staan en wat regtig rooibos is nie. Wat my weer by Uilspieël en die koning uitbring.

Want sien, so paar jaar gelede het ek probeer om ‘n goeie dieetpilletjie uit China te bestel. Omdat dit van die Suid-Afrikaanse mark onttrek is. Van die bestanddele het egter van boksie tot boksie verskil.

Die verkoper aan die ander kant van my e-pos het nie so lekker verstaan wat my probleem is nie. Ek wou weet watter een die ware Jakob is.

Toe skryf hy: You tell me what you want to be written on the box, and I change that for you. Nodeloos om te skryf dat ek net daar en dan van die idee ontslae geraak het. Gaan dit nie oor die bestanddele nie? En hoe moes ek glo wat regtig in die pilletjies was?

Wat my aan ‘n probleem met ‘n standerd 9 leerder lank gelede laat dink.

Thandi het gesukkel, al haar punte was te laag om na matriek oorgesit te word. Toe druip sy. En as registerjuffrou was dit my taak om haar rapport se kommentaarblokkie in te vul. Daardie hoof het net een van twee kommentare op die laaste rapport van die jaar verwag: Jy word na matriek oorgeplaas, geluk. En Jy word nie na matriek oorgeplaas nie. Kwaai man wat hy was, sou ek niks anders skryf nie.

So word ek die eerste dag van die volgende jaar in die kantoor geroep. Met sy vrou, wat my graadvoog was, wat ook daar staan. Om my kommentaar te verduidelik: You are welcomed to matric! En die vraag: Het jy hierdie rapport geteken?

Dit was my handtekening. Maar nie my kommentaar nie. Die hoof wou weet hoe ek dit dan verduidelik. Ek het eers na die kommentaar gekyk en gesien dat dit nie my handskrif was nie.

Toe kyk ek na die punte sonder rooi kringetjies. Want ek het Thandie se hartseer gesiggie onthou toe sy al die rooi kringetjies gesien het. Dat sy my vak, Afrikaans, deurgekom het, het nie gehelp nie. Die rooi was soos bloedrivier. En daai rooi is nie op hierdie rapport nie.

So kon ons die ander hoof, by wie se skool sy gaan aanklop het om matriek daar te doen, oortuig dat dit ‘n vervalste rapport was.

Besonder goed gedoen. As die vervalser net nie te onnosel was om te verstaan dat hy die punte ook moes verbeter nie.

Die druippunte het steeds soos ‘n seer oog uitgestaan. En dit het die ander hoof lont laat ruik. Om ons te vra om die rapport te verduidelik. Ons het Thandi nooit reggehelp nie, net gewys dat dit nie my handskrif was nie.

Ek neem aan die volgende keer sou daar meer moeite gedoen word met die handskrif, maar die punte sou steeds soos seer ogies uitstaan op ‘n vervalsste rapport.

Ek dwaal weer af.

Maandag laat Mia my weet dat sy rooibostee in Metro ontdek het. Stuur ‘n foto, daar staan Suid-Afrikaanse rooibostee. Ek het gewonder of dit ook Uilspieel tee sou wees, maar nuuskierigheid het die oorhand gekry. En toe vra ek dat sy vir my koop.

Dinsdag kry ek die boksie en vanoggend besluit ek dit is sulke tyd. Ek gaan my mond aan die Suid-Afrikaanse tee in die stokkiesakkie met die gaatjies in waag.

Die oomblik toe die tee deur die gaatjies begin sypel (sien foto), het ek geweet, dit moet eg wees.

Mooi rooi kleur. En dit is. Sag op die lippe, sag op die reuksintuie en sag op die hart.

Dankie vir die bederf Mia, ek waardeer dit verskriklik baie! Vriendin duisend jy!

Nota: Ai tog, die boksie gee my ongeduld met boksies oopmaak weg!

Ek kan nie geskenke of boksies mooi oopmaak nie, te haastig om die inhoud te siene te kry. Die geperformeerde lyntjie wys wat ek moes gesoek het. Hier het teeboksies sulke lyntjies. Op die boksies mooi oop te maak sodat dit in rakke kan staan. En die inhoud deur die gat uit te haal. Ter verdediging, ek dink nie die stokkies sal ongedeerd deur so ‘n klein openinkie gehaal word nie …

Nota: Kry mens hierdie maak in Suid-Afrika? Ek sien daar is Hollands en Duits op die pakkie …

Ek het oopgesny om die stokkieagtige blare te sien.

Dit is egter fyngemaal. Seker daarom dat ek drie keer kon maak. Van een srokkie. Rooi is dit gewis.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

2 gedagtes oor “Regte, egte rooibostee in Ust-Kamenogorsk

    1. Dit is nogal baie interessant. Ek het jare gelede soortgelykes in Parys by ‘n koffiewinkel op ‘n hoek gekoop. Daarna nie weer gesien nie. Ek kon drie glase tee met een maak! Wat ‘n bargain! Elkeen van die volgende glase was mooi rooi.

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.