Gepubliseer in Joernaal

My handsak het klein geword

Tot so twee jaar gelede moes my handsak, soos Vlindersag hare beskryf, groot wees. En kon mens enige iets daarin kry. Wat in baie noodgevalle gered het.

Toe vra my dogter dat ek baba dra. En die mannetjie het ‘n gewig gehad. Sy raas toe oor my swaar handsak, wat swaarder as die baba was. Want sy het aangebied om handsak te dra terwyl ouma die kleinkind dra.

Ek het toe eers besef watter gewig ek die hele tyd saamgedra het. Groot leerhandsak het reeds gewig op sy eie gehad. Met sambreel wat onderin versteek is. Vir reën wat my nooit oorval het nie. Buitendien, plaasmeisies geniet dit om so nou en dan nat te reën.

Ek het die aand die sak op my bed uitgegooi. En kon nie glo wat alles daarin was nie. Laat ek eers die handsak beskryf.

Twee kantritsluiters met sakkies waar ek sleutels en lipstiffie gebêre het. Noodsaaklikhede wat vinnig gekry moes kon word.

Drie sakke in die binnekant, waarvan middelste een kon toerits om goedjies weg te steek wat nie vir ander se oë bedoel is nie. Of wat maklik kan verloor as die handsak omval. Of pille wat dalk nodig kan raak.

Die ander twee is vir selfoon en beursie gebruik. Tissues. Lekkers. Die sakke was so groot dat ek inkopies daarin kon bêre. My iPad kon saamdra. In een groot, swaar handsak.

Aan beide kante van die handsak was ‘n ritsluiter met nog sakkies waarin ek juweliersware en my ID-boekie kon bêre.

Ek gaan maar nie alles noem wat in daardie handsak kon pas nie. En sommer gebly het tot ek dit volgende keer nodig het.

Toe skimp ek by manlief dat ek handsak nodig het vir my verjaarsdag en koop hy vir my ‘n donkerbruin Alberto P by die reistasplek in Cradlestone Mall, Krugersdorp.

Klein. Kompak. Het ook drie sakkies in die middel. Ook een met rits in die middel. Ek hou daarvan dat die binnekant op ‘n manier georganiseerd voel.

Ook aan een kant van die binnekant ‘n rits waar my paspoort nou is. Want dit moet daagliks by my wees. En een rits aan die voorkant.

Met een massiewe verskil. Dié handsak rits van die een kant onder na die anderkant onder oop. En dit maak van haar ‘n vrou in ‘n een van daai toeryggedoentes waarmee ons voormoeders hulle lyfies in toom gehou het.

Dus kan sy nie, soos my vorige handsakke, uit haar nate bars nie.

My beursie moes met dunner een vervang word. Net een selfoon en een brilkassie pas in. Net een klein pakkie tissues. Geen botteltjies met Rescue in nie. Daai is darem nie meer nodig nie, maar moes in my handsak wees om ‘n dag by my laaste skool te oorleef sonder om my waardigheid te verloor!

Lipstiffie en sleutels pas in die voorste sakkie, toiletsitplekpapier in die binneste sakkie.

Die oomblik wat ek meer goed wil insit, protesteer sy, rits kan nie toe nie. En ek kla nie, want my skouer word nie meer so seer as ek gaan inkopies doen nie.

In haar is een materiaalsakkie wat ek in Duitsland gekoop het in 2013. En inkopies word daarin gesit. Want madam weier om haar lyfie op te offer. Ter wille van my behoefte om alles wat nodig mag wees iewers in my lewe saam te dra.

Daar is wel blaadjies met pilletjies in. Dié wat gastro keer moet daar wees. Te alle tye. En ‘n hoofpynpilletjie wat ek nooit drink nie, dit is vir ander wat altyd vra.

In die middelste rits is ‘n kabel en tweepuntprop om my foon te laai, iPhones hou mos net nie as mens dit gebruik nie. Veral as mens dit vir taxi of kaart gebruik nie. En dit is soms ook nodig. ‘n Sleutelhouer met sleutels vir my tasse se slotjies. Ek hou nie van soek nie, so weet ek waar dit is. Lipice wat ek nooit gebruik nie, tog is dit noodsaaklik wanneer die winter kom.

Oor die algemeen is my handsak goed georganiseerd. Vandat sy gewig afgegooi het.

Tog het ek haar al, soos Vlindersag beskryf. by die kar neergesit, haar heeltemal oopgerits en gesoek na my kar se sleutels. Want sy is so dun dat mens nie net kan voel nie.

Omdat ek die sleutel ingedagte in die binneste deel gesit het. En nie soos gebruiklik in die voorste ritsie nie.

Dié probleem is opgelos toe manlief vir my ‘n Tiguan gekoop het. Haar sleutel bly sommer in my handsak, as ek by die kar kom, sluit sy haarself oop as ek aan die handvatsel vat. Want ek is mos langs haar. Met haar sleutel.

Wat is nie meer daarin nie?

Die fliekkaartjies, tremkaartjies, kwitansies van kos wat nooit omgeruil gaan word nie, kwitansies van lekkers wat gekoop is (oeps, vir myself) en vele ander papiertjies wat uitgedeel word. Of advertensies van goed wat ek nie gaan koop het nie.

Ek is nou so gewoond aan my gekorsette handsak dat ek nie maklik weer na ‘n ingebonde een sal kan oorskakel nie. Tog kan ek mense help met wat in haar is.

‘n Tissue vir ‘n vriendin se neus wat wil loop, ‘n hoofpynpil, ‘n draad om ‘n iPhone te laai. ‘n Geldjie om vir die trem te betaal en vir ‘n vinnige tee. En ‘n klein pakkie handwaslappies.

Meer het ek nie nodig nie. Ek leef al meer soos iemand wat weet dat ek kaal in die lewe ingekom het. En kaal uit sal gaan. Dus hoef ek slegs die noodsaaklikste goedjies saam te dra. So dink ek …

Terloops, ek is nie snobisties oor handelsname nie. Manlief glo om een keer goed te koop. Daarom moet ek meer oor my handsak vertel.

Aan die begin van die jaar het haar rits gepla. Soms net oopgegaan.

Toe ek haar na die plek terugvat waar sy gekoop is, het ek mos nie meer soveel papiere in my handsak gehad nie.

En het ek nie geweet waar haar waarborg is nie.

Ek wou betaal, hulle moet net asseblief laat regmaak.

Toe sê hulle nee, dit is op die huis. Sy is hulle eie produk. Kon haar nie iewers anders gekoop het nie. Een week later was sy weer oor my skouer. My daaglikse metgesel. Wat soms ietsie in het vir ander ook.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

15 gedagtes oor “My handsak het klein geword

  1. Dis ‘n teer sakie…..veral as ek twee BONDELS sleutels, die Oom se beursie en sy ekstra selfoon ook nog in my handsak moet sit!!!! Dan weeg daai ding maklik 10 kg!

    Like

  2. Ek hou van rugsak-hansakke, want dan voel mens nie die gewig so erg nie. Toe myne 2 maande terug gesteel is, het ek eers besef presies hoeveel goed ek rond-gepieker het. ek kon volledige make-up uit haar doen, so toe’s dit alles weg. Nou het ek nog steeds ‘n rugsak, maar helfte die grote en sy is amper dolleeg, lekker

    Like

      1. Haha, een van my leergoetertjies op die zip het afgeval en ek was nie links nie en het dit sommer met so ysterclamp aan die ander een vasgemaak, daai diewe gaan sukkel hoor

        Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.