Om ‘n huishulp te hê, of nie …

Ek het in ‘n huis grootgeword waarin my ma alles gedoen het. Sy het gekook, klere gemaak, gewas en gestryk en huis skoongemaak.

En vir ‘n lang tydperk in haar lewe het sy dit gedoen terwyl sy ook lang ure saam met my pa in die slaghuis gewerk het. Ten spyte daarvan het ons susters enkele werkies gehad.

Soos om beurte te maak om skottelgoed te was. Of brood te knie. Of botter te maak. Selde om te help kos maak.

Huisskoonmaak bykans glad nie, behalwe om ons eie beddens op te maak. En ons kaste netjies te hou.

Ek, aan die ander kant, het bykans my lewe deur op ‘n hulp staatgemaak. Tot die laaste een my in 2018 vir die ride van my lewe gevat het.

Sy was soos ‘n vriendin. Het so sewe jaar vir my gewerk. Was na aan afrede, maar ek sou haar nooit wou vervang nie. Ons het oor politiek en alles gesels. En toe doen sy dit.

Ons was vir twee weke in Zimbabwe by die myn en sy het elke oggend teen volle betaling ingegaan en my honde gevoer. Toe ons terugkom, kom sy dikmond werk.

Vertel vir my dat die tuinjong haar wil doodmaak. Dat sy bang is. Sy het die foon wat ons vir haar gegee het, vir hom geleen toe ons weg was.

Hy wou dit nie terug gee nie. Sy het met hom in die kamer gaan baklei. Die foon gekry. Vroeg huis toe gegaan.

En toe daag sy nie weer by die werk op nie.

Ek was skoon vreesbevange toe ek die hek die volgende Woensdag vir die tuinwerker moes oopmaak. Het aanvaar dat hy iets aan haar gedoen het.

Toe hy vir my vra waar sy is, het elke haar in my lyf regop gestaan. Ek het haar bly bel, maar geen antwoord gekry nie.

Later die middag het ek vir hom gesê sy antwoord nie. Hy het nie vir my skuldig gelyk nie, maar ek was bang.

Hy het vir my vertel dat hy haar by haar huis gesien het. Hulle bly in dieselfde plakkerskamp.

En dat sy voor haar huis gesit en drink het. Ek wou hom nie glo nie. Sy het nooit gedrink nie, ons drank was die hele sewe jaar veilig. Volgens ons.

Ek het die hele week gebel. Geen antwoord. Ons moes die Vrydag op ‘n vliegtuig Dubai toe klim. En sy het my hek se afstandbeheer gehad.

Ons het al die afstandbeheerders ten duurste vervang. Met die bure gereël om na my kinders te kyk. Want hulle mag nie slegte maniere in kennels aanleer nie. Buitendien, hulle sou mos treur as ons en hulle huis weg is.

In Dubai het ek die hele week oor haar gekommer, my verjaarsdagpersent van my man bederf.

Terug in Suid-Afrika het ek weer begin bel en ‘n Engelssprekende vriendin van haar het geantwoord.

Gesê dat sy mal geword het. Ek was rasend, wou haar nie glo nie, wou met haar praat, maar sy het gesê sy kan nie praat nie, sy is in die hospitaal.

Ons hulp was Afrikaans, het geen woord Engels verstaan nie.

Een van die dinge wat ek geniet het, was om haar op haar verjaarsdag te bederf om ‘n Afrikaanse fliek by Cradlestone Mall te gaan kyk. Toe daar nie een is nie, en ek haar met Engelse een wil bederf, het sy gevra: Wat moet ek doen? Prentjies kyk? Hoe sou haar vriendin Engels wees?

Ek het bly bel, tot sy met my gepraat het. Haar klere was nog in haar kamer, ek moes weet dat sy veilig is.

Intussen het die tuinman my een keer per week op hoogte gehou. Sy is weg. En ek het hom van vreeslike goed verdink. Wou hom laat gaan. Sy is terug en sit voor haar huis en drink. Haar familie was daar, hulle het die vrede kom bewaar omdat sy met almal baklei. Ek wou niks daarvan glo nie.

Intussen was dit tyd om haar te betaal. Die vriendin het gebel, wou weet wanneer ons betaal. Ons het daarna net betaal vir die dae wat sy gewerk het, sy is per dag betaal. Ons moes haar uitrook as die tuinman nie jok nie.

En toe bel sy my. Na drie weke van bekommernis oor ‘n skelm. Sy het ongeskik gevra waar haar geld is?

Ek het verduidelik dat ons gedink het dat sy dood is. En nie die mense wou glo wat beweer het dat sy mal is nie. Geglo dat hulle haar vermoor het en dat hulle haar bankkaart het. En dat ons so nog vir die moord ook betaal. Sy het verstaan.

Ek het gevra wat aangaan en sy het gesê sy is baie siek. Sy het gevra of ek al iemand anders het want sy was drie weke missien. Ek het nee gesê, gevra dat sy my kom sien en ‘n siekteverlofbrief bring dat ons haar siekteverlof kan uitbetaal.

Sy het gekom, die siekteverlofbriefie gebring en manlief het die inbetaling gemaak terwyl sy by my gesit het.

My hare het in die lug gestaan. Daarvolgens het sy ernstige sielkundige probleme, hallusineer sy en glo sy dat sy agtervolg word. ‘n Gevaarlike kombinasie van probleme.

Sy het haar klere gevat en gesê dat ek die tas vir die tuinman moet gee, dit is te swaar vir haar. Sy het ook gesê dat sy nie meer vir my kan werk nie, sy is te siek.

Ek het vir haar gesê dat ek nie weer iemand gaan aanstel nie, sy moet gesond word, die werk sal steeds hare wees as sy weer kom werk. Ek was so hartseer oor haar!

Intussen het ek die drie weke my eie huis skoongemaak.

‘n Week later is ons op Kaapstad lughawe, ek moet by ‘n kongres gaan praat. En toe kry ek die skok van my lewe. Sy het my by die CCMA gaan aankla, ek het haar weggejaag!

Aangesien haar kontrak met my man was, het hy die saak hanteer. Sy het gedros, ons het haar nie weggejaag nie.

Volgens my sou sy weer kom werk sodra haar sielkundige probleme opgelos is. Die CCMA -man het op my man se gevoelens gespeel, dat sy ‘n ou vrou is, dat sy sieklik is, dat sy nie weet wat sy doen nie. Hy het haar verlofdae ook uitbetaal.

En ek is geknou. Geen persoon sal weer toegelaat word om so in my persoonlike spasie in te kom onder die wanindruk dat sy my met my huis kom help nie.

As ek nie vandag tyd het om die vloere te was nie, doen ek dit môre.

Ek het agtergekom dat stryk eintlik lekker is, as jy net kwaad genoeg is om jouself te oortuig dat dit lekker is.

Intussen het ek ontdek dat bure besonderse mense is. Ons maak nooit met die bure vriende nie, weet nie waarom nie, maar ons doen nie. Dalk is dit net te na aan ons persoonlike spasie? Moet byvoeg, die probeer kan mos van die bure se kant af ook kom?

Ons buurseun is die oulikste mannetjie, speel met my honde en gee vir hulle kos as ek nie daar is nie. Hy het sakgeld vir al sy sport nodig gehad, ek het iemand betroubaars nodig gehad om na my hondekinders te kyk.

Tans betaal ek sy sakgeld om seker te maak dat daar vir die tuinman oop- en toegesluit word.

Toe ek begin om self huis skoon te maak, ontdek ek leë bottels van likeur en ander drank wat nie gereeld gedrink word nie in my kombuiskaste.

Die tuinman het daaroor ook nie gejok nie.

Ons was so dankbaar dat ons hom die voordeel van die twyfel gegee het, hy is steeds in ons diens en sorg elke week dat die tuin in ‘n goeie toestand is. Al is ons ver van daar om seker te maak dat hy sy werk doen.

Die onaangename ervaring het my gereed gemaak om hier in Qazaqstan my eie werk te doen. Dus kan ek seker nie kla nie.

Anders was ek dalk soos baie ander expats in vreemde lande ongelukkig omdat ek alles moet doen.

Manlief lees vir my so week of twee gelede dat 34 000 huishulpe in Suid-Afrika hulle werk verloor het. Regtig?

Ek weet van ten minste een wat gedros het en toe gemaak het asof sy weggejaag is.

Om ‘n paar Rand te maak. As sy bedank of gedros het, kon sy nie werkloosheidversekering eis nie. Toe maak sy asof ek haar weggejaag het.

Dit, terwyl ek self my werk gedoen het tot sy weer gesond is. In weerwil van almal se kommer dat haar siektetoestand gevaarlik is.

Dit is egter wel moontlik dat die nuwe beleid oor minimum lone dit vir mense onbekostigbaar maak om ‘n hulp aan te stel.

Want sien, dit is nou een ding van ons vrouens: Ons hande is nie rond nie.

Tans doen ek my werk self, teen my eie pas. En raak ek lelik bederf met die vrede en stilte om my as die daaglikse take afgehandel is.

Toe die Departement van Arbeid my bel om te hoor wanneer ek die volgende inbetaling maak, het ek verduidelik dat sy al die vorms het. En sal gaan eis.

Nie vertel dat sy gedros het nie. Want die geld is, volgens my, tog betaal om haar te help as sy nie werk nie.

Maar, ek het ook gevra dat my profiel geskrap word omdat ek nooit weer iemand sal aanstel nie.

Daarvan het ek genoeg gehad. Ek voel verraai.

Foto: Die Baiterek toring in Nur-Sultan. 17 Aug 2019

13 comments

  1. Ek doen vir die laaste dertig jaar of so my eie werk in die huis. Dit is wonderlik om nie meer die onkoste van skoolboeke, klere, kos, begrafnisse ens. te betaal nie. Ons lewe in vrede.

    Like

  2. Ons laaste huishulp is in 2013 al weg en my huis is dalk nie perfek skoon nie, maar ek het tevredenheid in my gemoed. En ek spaar ‘n klomp geld elke maand. Ek voel jammer vir diegene wat regtig hulle werk verloor het as gevolg van minimum lone en ander probleme, maar vir myself was dit die beste besluit.

    Like

    1. Hester, my hart was stukkend. Ons het soveel vir haar gedoen, ek sou haar Desember verras met ‘n vliegkaartjie om vir haar te wys hoe die see lyk. Maar ja, sy het besluit vir my geneem. En ek het lank gevat om daaroor te kom. Nou geniet ek die vrede in my huis. Die stilte. En die wete dat my deure altyd toe is.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.