Taxi skok in Almaty

Almal hier gebruik Yandex taxi. Tot verlede week kon ons twee nie, Yandex is nie in ons App Store beskikbaar nie. En diegene met Yandex kry dit ook nie meer in hulle App Stores nie.

Dus het ons op Aparu staatgemaak. Aparu het oral vir ons gewerk.

Behalwe in Nur-Sultan, daar moes ons op geradbraakte Russies en Yandex Translate en Google Translate en genade staatmaak om te kom waar ons wou wees. Ek sal nog daarvan vertel.

Hier vertel ek eers van ons taxi skok vandag. Met die Yandex toep. Want na ses maande hier toets ek iets anders. Gaan uit my AppleID, skep nuwe een met Qazaqstan as my land, laai Yandex op my foon, gaan uit die Qaz AppleID, gaan terug in my ou AppleID en voila, Yandex is reg om te gebruik.

Want sien, ons gaan ons nie weer deur taxi drywers laat indoen nie. My AppleID wil nie dat manlief dit op sy foon laai nie, dus word my foon die dedicated toep. Vir taxi hierdie naweek in Almaty.

Vanoggend staan manlief buite die woonstel om die taxi te bestel. Ons het nou al agtergekom dit is die beste, as jy bestel terwyl jy nog in die woonstel is, het die arme ou geen idee waar om vir jou te wag nie.

Ons maak reg om lank te wag, en dan ‘n Russiese oproep te kry wat ons nie verstaan nie. Gelukkig staan ons woonsteldame by ons. Sy sal kan antwoord.

Ons het skaars bestel, toe staan ‘n mooie Prado daar, die toep het gesê 1 minuut. En dit was.

Die man laai ons en trek met ‘n vaart weg. Ek sit sommer wydsbeen om te keer dat ek omval. Ek sê vir manlief dat die ou wild ry. En hy verstaan nie, maar hy ry beter.

Want kyk, dit is een ding van Aparu se bestuurders, mens is soms lus om die jy weet wat, soos my pa altyd vertel het, so bietjie grof te skuur en terpentyn te smeer. Soms is mens haastig.

Die ou verras ons by die lughawe, ons wil meer betaal, hy sê nee en los ook die paar tenges wat dit oor ‘n ronde bedrag was. Ons twee is lekker opgewonde, Yandex is oulik.

Toe ons in Almaty land, het die hotel nie ‘n drywer gestuur nie. Altans, niemand wag ons in nie.

Maar dit is mos geen probleem nie, ons het Yandex. En Yandex is goed!

Ons staan voor die gebou en bestel, of liewer manlief bestel op my foon. En hy is baie langer as ek, dus loer ek net toe hy die hotel kies.

Plaza Hotel, Almaty. Die oomblik toe die kaart wys, sê ek vir manlief dit lyk baie ver. Hy sê ja, lughawe is ver uit stad uit. Ek vra dat hy seker maak, hy maak seker hy het die hotel gekies en bestel.

En nou gaan ek soos een van Dowwe Dolla se stories klink. Ek tik op my foon aan ‘n bloginskrywing oor ons vorige besoeke aan Almaty. En ons ry en ons ry en ons ry. En ek tik en ons ry en ons ry en ons ry.

Ek vra vir manlief of dit nie vir hom ook anders lyk nie. Hy sê hy sal nie weet nie, ken nie Almaty nie. Ek ook nie, maar ek sien niks van die bakens wat ek al op die hoofpad van die lughawe af gesien het nie.

Dus los ek die tikkery, maak Yandex oop en kry die skok van my lewe! En wys vir manlief hoe lank ons nog gaan ry …

Ons was goed op pad Turkeye toe. Sou deur Osbekistan, deur Iran en Irak en ‘n deel van Turkye gery het om daar te kom.

In ‘n karretjie waarvan die bestuurder se lugsak al, volgens my seun, die gees gegee het.

Met die dingetjie dink ek nie dat ons die pad sou kon vat nie. So uit vliegtuie het ek ‘n onhergbergsame aarde vol berge gesien.

Die toep was egter baie tevrede, sy lei ons mooi.

Sonder die nodige visums en permitte en goed wat ons sou nodig hê om sover te reis. En ons hotel in Almaty het gewag. En aandete saam met vriende hier.

Dit was duidelik dat hy ook nie die nodige goed het nie. Ek skat die man het nooit besef watse trippie hy aanvaar het toe hy ons versoek aanvaar het nie.

Manlief wou nie glo nie, het ons Qazaqstan navigeertoep, 2Gis oopgemaak en die hotel gesoek. En gesien dat ons lankal daar verby is. So 10 km gelede.

Ek wou die ou se aandag met die stem trek, maar hy hoor niks. Toe doen ek maar wat ek nie mag nie, die nood is groot en ek vat aan sy arm.

Vra Plaza hotel? Sy gesig sê, nee?

Manlief is dadelik by en verduidelik in Engels en met sy 2GIS kaart oop dat ons lankal verby is. Wys met die hande dat ons moet omdraai.

Die verkeer is druk, die man volg ‘n ruk die aanwysings op 2GIS wat my man vir hom hou. Hulle verstaan mekaar soms ref en soms verkeerd en ons ry by afdraaie verby en kom weer reg.

Was ek dankbaar toe ons voor die hotel stop! Manlief ook.

Wat het ons geleer? Om maar mooi seker te maak waarheen ‘n toep ons wil vat.

10 comments

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.