Gepubliseer in Reisjoernaal

My eerste haarsny in Kazakhstan

Ek wou nog nie my hare in Kazakhstan sny nie. Hoe gaan ek vir die vrou vertel wat ek wil hê? Hoe gaan ek beduie hoe lank dit waar moet wees? Ek het al vertel dat ek selfde uit ‘n haarsalon stap en met my hare tevrede is. Dit lyk wel mooi as ek uitstap, maar wanneer ek dit self moet hanteer, is dit ‘n perd van ‘n ander kleur.

In Suid-Afrika, waar ek my taal kan gebruik om te beduie hoe dit gesny moet word.

In die week vra ek manlief of hy vir ‘n haarsny sal betaal. Sommer net om sy reaksie te sien, want ek kry mos ‘n toelaag. En hy is dadelik reg met ‘n ja, mits dit nie te kort is nie. Ek het amper op my rug geval. Nie oor die ja nie, oor die mits. Want my man vertel vir almal wat (wil) luister dat ek jonger met kort hare lyk.

Ons het Vrydag middagete by Coffee Room gaan eet. ‘n Lekker manier om die uur etenstyd te verwyl. En op pad terug vra ek vir hom of ek nie sommer moet kyk of die haarsalon oop is nie.

Ek wou net kyk. Die haarsalon is oop, en ek wil stap, maar manlief het intussen gewys dat ek wil knip en sy beduie met haar vingers soos ‘n skêr toe sy vir ons kyk.

Ons sê ja.

Sy vra ek of hy en hy wys na my, haal sy hoed af en sê daar is niks om te knip nie. Sy da-da-da, sy verstaan, daar is niks. Ek het sy hare die oggend gesny.

Die ontvangsdame roep ‘n mooi meisie nader toe ons vashaak en vra Angleski? Sy haal haar foon uit en tik met die vertaaltoep, watter styl wil ek hê.

Ek het intussen deur ‘n dun boek geblaai waarop menu staan – menu vir hare. Enkele style, maar daar is sowaar een met ‘n Sjinese bob. Baie lank voor, ek wys ek soek dit, nie so lank voor nie. Dit het ‘n woeste reguit kuif, ek wys ek wil dit ook nie hê nie.

Ek wil nog vra wanneer ek kan kom, maar manlief beduie nou en sy sê da-da-da. Nou is goed. Hy is terug woonstel toe om te werk, los my in die salon met die noot in my hand.

Ons stap eers na haar stasie toe, sy beduie in die spieël hoeveel sy gaan knip, ek ja, dit is nie groot skade as sy soveel knip nie. Dit word koud, en ek het hare in my nek nodig. En as ek ongelukkig is, kan ek in Suid-Afrika verder laat knip. Of laat groei, soos gewoonlik.

Ons stap na die wasbak, ek effens benoud, maar ek weet my hare groei vinnig. Ek is sowaar lus vir die ervaring, waarvoor ek die hele tyd in Ust’-Kamenogorsk nie kans gesien het nie.

Mia het een keer prentjie gewys en die vrou wou met haarkleur en permanente karteling en alles inspring om haar presies soos op die foto te maak.

Die vrou het genadiglik verstaan dat ek glad nie platinum hare wil hê nie, net die sny.

Na ‘n heerlike massering van my kopvel is ek amper aan die slaap. Verpes die masker wat op moet bly, die salon is redelik warm.

Terug by die stasie haal sy ietsuit die laai wat soos maskeerband lyk. Skeur ‘n stook af en plak die wit, sagte band om my nek. Net onder my masker, dit lyk of ek een aanmekaar masker aan het.

Tow ord die mantel met vrouens in outydse rokke om my skouers gegooi. Die wit band word toe om die nekdeel gevou om sag teen my nek te lê. Hoe bedagsaam is dit nie? Die bokant van die mantels krap gewoonlik my nek. Ek dog sy wil die band gebuik om te meet waar my hare moet lê.

Toe begin die knip.

Lagie vir lagie.

En dit word die hele tyd gemeet.

Ek was baie lank daar, want my hare is daarna lagie vir lagie vir lagie drooggeblaas. Sy sukkel met my kuif, probeer verskillende truuks, niks werk nie. Ek kan haar nie waarsku dat my hare fyn is nie. O jitte, mag ek die woord gebruik? Is daar ‘n sinoniem vir fyn hare? Ek neem aan my lesers weet dat daar ‘n verskil is tussen fyn hare (probleemhare) en 👍 hare?

Ek giggel onder my masker terwyl ek kyk hoe sy aan my fyn hare (👎🏻) bly peuter. My oë glinster in die spieël. Sy het te veel met hierdie fyn hare gepeuter, hulle gaan plat lê, steeks soos ‘n donkie. En niks gaan hulle dan laat oplig nie. Sal weer moet was om iets met hulle reg te kry.

Sy gee moed op en vra met oë en stem of ek tevrede is en ek sê da-da-da, baie dankie, ek hou van die hare. Die punt is bietjie te min, maar die geheel prentjie is heel goed. Ek weet mos eers hoe goed as ek dit self moet was en droogmaak.

Want sien, die kans is groot dat ek gaan sukkel. Sy het iets gedoen waarvan ek nie hou nie. Geknip-knip terwyl sy droogmaak. Lagie vir lagie aan geknip.

Ek sal dus eers kan sien as ek self sukkel of die lyn wel reguit is na al die geknippery.

Sy het een interessante ding gedoen. My hare elke keer deurmekaar gekrap terwyl sy die behoefte aan ‘n verdere knip oorweeg het.

Ewenwel, ek is lekker bederf.

En ‘n haarsny kos ‘n skrale 5000 tenge, wat na so R197 oorskakel, was, masseer en droogblaas ingesluit. Selfs ‘n roompie in die vingers om die hare te laat blink.

My fyn hare het nie baie van die gevroetel daarmee gehou nie, lē baie plat teen my kop. Maar ek dink dit gaan goed werk. Kan steeds klein ponie maak vir die dae wanneer dit nie wil werk nie.

My haarkapster is op die laaste foto. Ek was lekker moeg en geïrriteerd toe ek die selfie geneem het om te kyk hoe my hare lyk. Ek het, op pad uit die gebou, my windbreker, wat ek besig was om aan te trek aan die deur laat vashaak, weet nie hoe ek dit reggekry het nie. En toe knip die deur in slot en kan ek dit nie van buite oopmaak nie, met my baadjie wat in die deur vasgeknyp is.

Moes manlief bel om te kom red, toe neem ek maar die selfie terwyl ek wag. Met ‘n man wat my so aangaap soos ek ander aangaap as hulle alewig selfies neem. Toe moet ek om die gebou loop na die voorkant om weer deur te stap om die deur van binne oop te maak. Toe ek daar kom, is baadjie en manlief weg. Die sekuriteitswag het hom kom help. Hy het darem op die stoep gestaan en wag.

Die sny is min genoeg dat Mia nie agtergekom het nie, baie genoeg dat my hare nie in die ritssluiter van my windbreker inrits nie. Pluspunt vir die laaste week in Kazakhstan. Want, gisteraand kry ek weer een van daardie “deiin katkak” boodskappe van die selfoondiensverskaffer af. Ek was die eerste keer nogal geskok, dog hulle vloek my. En die vertaaltoep wou nie vertaal nie.

Nou doen dit wel. Dit waarsku teen koue weer of sterk winde. Hier kan die wind mos spoed optel oor die aarde omdat daar geen berge in die binneland is om die spoed te breek nie. Dié keer is die waarskuwing dat ryp gaan voorkom tussen 27 en 29 September, met temperature van tussen -1 en -3 grade Celsius.

Gisteraand herinner Facebook my aan ‘n boodskap op dié dag een jaar gelede. Kan jy dit oorvertel? Die deiin katkak boodskap was dat dit toe -8 grade Celsius in Ust’-Kamenogorsk geword het. Ek het al vergeet dat dit einde September reeds lank in die subzero’s in Ust’ was. Maar, dit moes wees, die sneeu het op 12 November begin en nie voor Mei 2020 opgehou nie.

En ek leef in absolute dankbaarheid. Wanneer dit by dubbelsyfer sub-zero kom, is ek al in Suid-Afrika. Hoe hemels is dit nie?

Dit is vrekkoud buite. Anders as Suid-Afrikaanse winter. Die son is reeds te ver op sy pad na wintersonstilstand toe om die aarde bedags warmer te kan maak. Dit is heel dag koud. Ek het gister my dik rooi baadjie aangehad. En nie te warm gekry nie.

Vanoggend maklik met my hare reggekom, kan dalk al skryf ek is tevrede …

Hooffoto: Vinnige selfie vanoggend. Dit is koud, ek is vinnig in my dikker rooi baadjie in. Bly oor die aankopie in Ust’-Kamenogorsk.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “My eerste haarsny in Kazakhstan

  1. Ek hou van jou styl en kan net indink hoe die kommunikasie afgeloop het sodat sy (hulle) jul kon verstaan – omgekeerd ook. Dis sulke tye dat jy later terugdink en die tye geniet wat bietjie ‘anders’ as die normale gesprekke is.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.