Die sirkus is (of was) in Ust

Verlede week sien ek die pamflette en advertensies teen die bushalte se muur. Die Tsirk (Sirkus) is in Ust. En ek wou nog gaan, veral nadat ek die groot wit tent Sondag op ‘n oop stuk grond gesien het. Maar die week gaan mos net so vinnig verby.

‘n Russiese sirkus! Ek moet gaan kyk. Gister toe die towerinne planne maak om een sirkus toe te stuur, weet ek net dat ek nog moet gaan. Vra manlief of ons vanaand kan gaan. Hy stel Maandag voor, ons gaan die naweek weg. Ek stem in, mits dit nog hier is. Vanoggend is ek af, rok en hoër hak skoene, om foto van die plakkaat by die bushalte te neem. Maar dit is weg.

En ek neem aan die sirkus is ook weg. Hartseer stap ek verder, oor die pad na die rivier toe, om krag vir hierdie dag te kry. En so bietjie Vitamin D, ek is lusteloos die afgelope twee dae. Dink ek weet waarom, ‘n verjaarsdag sonder ‘n ete saam met my kinders is op pad. Was ‘n maand gelede saam met hulle, dit tel nie. Volgende keer is eers oor vyf maande, dit tel ook nie. Dus vermoed ek dit is die rede vir die lood in my hart.

Toe ek by die pad kom, gaan staan ek en wag. Ek het mos al vertel dat mens net kan stap as jy by die voetoorgang kom? Ek doen dit nie. Stop. Kyk of hulle gaan stop voor ek stap. My lyf is sagter as ‘n kar. En die teerpad. En ek gaan nie soos Pink Panther teen ‘n kar afgly en weer opstaan nie, dit gaan seer wees. Dus stop ek.

Die Qazaq wat aangejaag gekom het, stop. Wys geïrriteerd met sy hande oor die dashboard dat ek kan stap. Ek sou. As hy nie tot by my gejaag het nie. Ruk my op, vergeet my pa se ‘n toe bek is ‘n heel bek en stap met ‘n houding oor die straat. En twee arms wat voor my wys dat ek hulle nie verstaan nie. Waarskynlik ook nooit gaan verstaan nie …

Net om op die oorkantste sypaadjie in my spore te rem. Voor my, in die lengte van die sypaadjie, is iets wat afgeneem moet word.

Iets wat al te veel soos ‘n baie groot dier se mis lyk. Snaakse woord daai een, mis, want hulle mis selde die grond. Inteendeel, dit word goed versprei. Ek stap nader, bekyk dit asof ek ‘n kenner is, en besluit, gemeet aan die vorm (eerste foto), dat dit dalk nie deur ‘n dier agtergelaat is nie.

Buitendien, as dit ‘n dier is, hoef ek seker nie bekommerd te wees nie, daai iets eet gras! Ek vertel vir myself dat ons wel aan die kant van die stad bly. Maar dat dit nie moontlik is dat so groot dier hier rondstap nie. Al is dit langs die rivier, in die oggend.

Tog is ek op my hoede, daai mis lyk vars. Dit is darem in ‘n ander rigting versprei as wat ek gaan. Ek gaan rivier langs, die misstreep mik na die brug. Hoop ek, want ek is nie ‘n kenner nie. Dalk is dit in die teenoorgestelde rigting? Maar nee, ek dink ek is reg, dit grootste homp is die naaste aan my. Wat dit ookal agtergelaat het, is hopenlik reeds oor die brug.

Ek stap verder, draai eers regs om foto’s vir die towerinne te neem van die amfieteater vir ons sirkus en vergeet van die mis. En die dier of nie. Draai dan links om rivier af te stap.

Steeds op my hoede. Ek is vrou alleen langs die rivier. Met manne wat op skaatse ry. Of fietse. Of besig is om hulle armspiere te bult. Nie heeltemal te sleg vir die oog nie. Maar ek is vrou alleen.

En dan sien ek dit. ‘n Wolwerige ouerige hond, sy muilband hang om sy nek, dit is nie meer om sy mond nie. ‘n Paar treë van my af. Snuiwend in die gras. Met geen baas in sig nie.

Dit was gelukkig by die trappies na die restaurant. Ongelukkig te vroeg vir hulle om oop te wees. Gelukkig hoër as die hond, wat my nie eens gesien het nie. En ek verdwyn so sag soos ek kan boontoe, bang dat die hond kan ruik dat ek bang is.

Daai ene irriteer my vreeslik. Natuurlik is ek bang, en ek is nie ‘n muishond wat ‘n reuk gaan afgee nie. Wens op die oomblik dat ek wel was. Vir ingeval hy in my begin belangstel. Maar hy is soekend na iets in die gras. En ek dink weer aan die mis wat ek op die sypaadjie gesien het. Dus besluit ek om huis toe te stap, die lus vir stap langs die rivier is geblus.

Skaars oor die pad, op pad terug huis toe, sien ek dat hulle gras, of liewer bossies, sny. En neem ek aan dat dit waarskynlik met ‘n grassnyer gedoen is. Wat onwaarskynlik is, want hulle sny met wead eaters.

Ek lag vir myself oor die skrik vir die groen hompe op die oorkantste sypaadjie. Hier is ook. Net kleiner. Ek het oor dit geloop toe ek rivier toe is, toe het dit nie aan my hart gaan staan en ruk nie. Dit is minder.

Terug by die huis maak ek die advertensie vir die towerinne klaar en dan onthou ek.

Sirkus.

Hier is of was een in Ust.

Dit is aan die anderkant van die brug.

Is dit moontlik? Dat hulle die diere vir ‘n uitstappie geneem het. Padlangs. En dat daardie hompe wel mis is wat deur ‘n dier agtergelaat is? En nie deur ‘n grassnyer nie?

Wie ken dieremis? Die soort wat diere wat in sirkusse gebruik word sal agterlaat?

Want as dit dieremis is, is die sirkus dalkies nog in die stad.

13 comments

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.