Gepubliseer in Joernaal

Internasionale moedertaaldag – 21 Februarie ‘21

Ek moes dit net doen … die datum. Lyk dit nie interessant nie?

Dit was vandag internasionale moedertaaldag en ek wonder hoeveel mense het dit gevier. Daarvan geweet.

Hier in die Noord-Kaap besef ek hoe gelukkig ons is om Afrikaans te hoor. In die winkels, in die kafees, ons word bykans oral in Afrikaans bedien … my taal, my moedertaal.

Ek het dit verskriklik baie gemis in Kazakhstan. Om mense te kan verstaan. Daar het ons op handgebare en minimum woorde staatgemaak om met mense te kommunikeer. Ons kon darem tot by tien sê hoeveel ons van iets wou koop. En spasiba om dankie te sê. Ons kon darem ook groet en totsiens sê. Maar die taal was te moeilik om te leer. Ek kan lees in die siriliese alfabet. Maar ek het geen idee wat ek lees nie. Wou nog leer, maar was lekkerder om huis toe te kom en weer Afrikaans te praat.

In Kazakhstan het ons sommer Afrikaans gepraat. Want hulle het ons nie verstaan nie. Ook nie as ons Engels praat nie. Hulle praat Kazakh en Russies, begin Engels nou inbring dat die Kazakhs internasionaal kan meeding. Ek sou graag vir hulle wou sê dat hulle baie meer moeite moet doen dat die Kazakhs Kazakh praat. Hulle moedertaal. Want die jonger mense verstaan nie Kazakh nie, al is hulle Kazakhs.

Dit is juis die mense in die Noord-Kaap wat my laat besef dat ek my taal heeltemal te veel meng. Dat ek maklik in Engels vra wat ek wil koop, omdat ek sedert 2006 in die stad geleer het om maar Engels te praat. As ek nie wil kwaad word omdat die verkoopsman of -vrou my nie verstaan nie.

As ek oor ‘n produk gebel word, dring ek egter wel op Afrikaans aan. As die persoon iets aan my wil verkwansel, moet dit in my taal gebeur. Dit is nou maar net soos dit is.

Ek is werklik trots op my moedertaal. Trots daarop om te help om die taal as akademiese taal uit te brei. Trots daarop om ‘n nuwe webblad te begin vir begaafdekindonderwys – omdat daar sowaar nie so iets beskikbaar is nie. Die begaafde kind drink mos tans aan die agterspeen in ‘n inklussiewe onderwysstelsel.

My blog is ook in Afrikaans. Ek besef ek kan ‘n wyer teikenmark tref as ek in Engels skryf, maar dit is nie die doel van my blog nie. Die doel is om in my moedertaal te skryf – omdat dit vir my een van die mooiste tale op aarde is.

So was ek onlangs in ‘n groot verleentheid. In Kazakhstan kon ek en manlief in ‘n winkel praat oor ongeskikte mense wat indruk, sonder dat iemand ons verstaan. Dan het ons afgekoel, want dit is onaangenaam as mense bo-oor jou druk om gehelp te word. En … hulle word wel gehelp, wat my uit plekke laat stap het sonder om iets te koop.

Ewenwel, so staan ek in die bedompige winkeltjie by Augrabies. Die ry is nie regtig ‘n ry nie, dit loop teen ‘n pilaar vas. Gevolglik kom mense in die gang regs van die pilaar af en druk so voor my in die ry in. Waar ek by die gang links staan, voor die pilaar, maar hulle sien my nie.

Of nee, hulle sien my, maar maak of hulle my nie sien nie.

En ek begin borrel, want manlief staan by die deur en kan nie inkom nie, die een by die kassier moet eers gaan voordat hy kan inkom. Toe hy uiteindelik in is, is ek nie meer vriendelik nie. En lug ek my mening ook sommer kliphard in Afrikaans toe hy by my kom:

“Weet nie wanneer ek gehelp gaan word nie, hulle druk mos voor my in.”

Die mense wat voor my ingedruk het, draai toe om, vra om verskoning en sê ek kan maar voor hulle staan. En daar staan ek met ‘n mond vol tande.

Want ek vergeet te gou – hier in die Noord-Kaap word Afrikaans nie alleen gepraat nie, dit word suiwer gepraat. Engels is hier ‘n vreemde taal!

Ek het so verleë gevoel. Manlief het gesê toemaar, dankie, ons wil nog ‘n paar goed koop en so is ek uit die ry waarin ek gestaan en kook het.

Nie alleen van die drukkende hitte in die winkel sonder vensters – met ‘n masker op wat vinnig sopnat gesweet was nie, maar ook omdat mense voor my indruk as ek voel ek gaan omkap van die hitte – en versmoor.

Sal my leer om nie sommer net in Afrikaans te praat soos in Kazakhstan nie.

Hier verstaan mense my moedertaal. Praat hulle hom suiwerder as wat ek doen. Voel ek skoon sleg as ek my taal meng. Ek dink my taal gaan hier baie suiwerder word. Want Engels is hier ‘n vreemde taal!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

16 gedagtes oor “Internasionale moedertaaldag – 21 Februarie ‘21

  1. Wel, ek het nie geweet v moeedertaaldag nie, maar ek en n vriendin het gister gejuig omdat Afrikaans so geëer wod in Australië dat daar Afrikaanse kerke, Afrikaanse kerssangdienste rn Afrikaanse klasse in skole is. Regtig deesdae n wêreldtaal, al is hy klein.

    Liked by 1 person

  2. Oe,ek kan my net jou verleentheid voorstel!
    Dit het ons bure ook oorgekom.Hulle het met mekaar in hulle Fries-dialek in ‘n winkel gepraat, toe reageer die assistent – óók in Fries!

    Liked by 1 person

  3. ‘n Mens besef eers hóé Afrikaans die Noord-Kaap is, as jy ‘n redelike tyd daar deurbring. Ek het kursusse vir ‘n maatskappy in al die groot dorpe aangebied. Een van die eerste vrae wat gevra is voordat ons begin, was altyd: Gaan dit in Afrikaans wees, meneer? Dis ‘n reuse onreg om mense te verplig om enige naskoolse opleiding net in Engels te doen
    Ek gooi vroegoggend petrol in in Springbok. Die joggie gee my strokie en ek kry trane in my oë toe hy sê: Meneer, vat die dag vir jou en loop mooi met hom.

    Liked by 3 people

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.