Vandag is ek en manlief 38 jaar getroud. Hierdie foto is ‘n hele paar jaar gelede geneem, ek skat 7-8 jaar gelede. Want ons oudste kleinseun was toe ons enigste kleinseun. Agt en dertig jaar gelede het ons in die Hervormde moedergemeente, Ermelo, beloof om vir altyd vir mekaar daar te wees, of dit nou goed of sleg gaan.
Ds Smit, wat beide van ons aangeneem en voorgestel het, het ons ook in die huwelik bevestig. Alhoewel ons in dieselfde klein kerk en in dieselfde groot skool, Hoërskool Ermelo, was, het ons nie van mekaar se bestaan geweet nie.
Nou is ons meer as dubbeld so lank getroud as wat ek ‘n kind in my ouers se huis was toe ek op 18 universiteit toe is.
Ek het hom in my tweede jaar ontmoet, dus was ek 19 jaar oud. Hy was my derde kêrel. Nou is ek en hy al dubbeld soveel jaar getroud.
Ek het hom tydens jool van my tweede jaar ontmoet. En daarna was ons nie weer geskei nie. Daar is paartjies wat vas uitgaan, uitmaak en weer by mekaar uitkom. Ons twee is beide van die soort mense wat nie ‘n tweede keer sou probeer nie.
Gisteraand kom hy huis toe en vra dat ons gou na die nuwe mall toe stap. Hy wil vir my ‘n persentjie koop. Dit is beslis nie lekker om daardie tyd van die aand te stap nie, dit was so -12 grade Celsius. Die mall het nog nie baie winkels nie, maar ek het op die ingewing van die oomblik besluit om te vra dat ons ietsie by Pandora koop.
Kan jy glo? ons stad het ‘n Pandora tak.
Ken jy Pandora? Ek dink ek moet eers meer oor die konsep vertel. Mens koop ‘n armbandjie wat jy mettertyd met krale vul. Myne is jare laas gedra, maar ek het dit saamgebring. Toe gaan haal ek dit gou om saam te vat dat ons seker maak dat die nuwe kraletjie wel pas. Ek het aangeneem dit sou, Pandora in Qazaqstan moet seker soortgelyk aan Pandora in Suid-Afrika wees?
Toe ek die bandjie in die winkel met sy blinknuwe nuwe maatjies vergelyk, het ek skoon skaam gekry. Myne het verwaarloos teen hulle nuwe maatjies vergelyk. En voor ek kon keer, het die Qazaq verkoopsman gevra “Pandora?” En met sy lyftaal gevra of hy kan kyk.
Alhoewel ek nie baie trots op my verwaarloosde stringetjie gevoel het nie, het ek tog aangegee en “Suid-Afrika” gesê.
Hy het daarna gekyk, met sy hand gevra of hy mag en die gereedskappie gevat om een van my kraletjies af te haal. ‘n Potjie skoonmaakgoed agter gaan haal en gesê: “Two minutes” en my kraletjie daarin gedompel.
Stadig, soos wat mens vir iemand verduidelik hoe om iets te doen. Stadig omdat hy weet dat ons mekaar se tale nie verstaan nie, maar handgebare oorwin die probleem. Ek behoort te verstaan waarom hy dit in die potjie dompel.
Ek het warm gekry, wou my jas net afkry, die mus en handskoene was reeds af. Hy het tyd geneem, hierdie juweel van my moet gekoester word. Pandora’s mag nie so verwaarloos word nie …
Intussen kyk ons na die rakke vol krale, want die een wat ons kies, moet ‘n storie vertel. ‘n Storie van oorlewing in die koue en hitte van Qazaqstan. Dit is vanoggend -24 grade Celsius! Gaan vanaand nog kouer wees as ons gaan uiteet.
Terwyl ek die Pandora-bandjie met sy ou krale vanoggend skoonmaak om die oues nie teen die nuwes te laat afsteek nie, besef ek dat die bandjie en sy krale eintlik simbolies van my huwelik is. Daarom gaan ek die kraletjies en die bandjie gebruik om die storie te vertel, soveel anders te vertel as wat ek dit gister wou vertel het.
Pandora voel gepas om die huwelik mee te vergelyk. Want jy weet nie wat gaan uitkom wanneer jy die Pandora boksie oopmaak nie. Hier is my bandjie terwyl dit drooggeword het.

Die silwer bandjie simboliseer vir my ons huwelik want dit heg met ‘n knippie wat met moeite losgemaak kan word. Om ‘n gedeelde eenheid van ons twee lewenspaaie voor te stel.
Die kettinkie met die twee krale wat toeknip, verteenwoordig ons twee wat saam ‘n reddingsboei moet vashou om ons huwelik te red as dit sleg gaan. Die wete dat ek en hy bereid is om die ekstra myle te loop om te keer as ons bandjie dreig om los te haak. Want as ons nie keer nie, val die steentjies een vir een uit terwyl ons geluk uitrafel.
Die krale op die bandjie verteenwoordig die goeie en slegte tye in ‘n huwelik. In hierdie 38 jaar het ons al soveel wonderlike dinge saam beleef, ek gaan net ‘n paar noem wat uitstaan.
Die krale met al die hoekies en draadjies verteenwoordig die slegte tye wat ons al beleef het.

Ons was al vir mekaar baie kwaad. Die meeste van die tyd onnodig. Maar ons het nog altyd dit reg gekry om daaroor te kom. Nie noodwendig uitgepraat nie, maar beslis besluit dat daardie kwaad nie ‘n huwelik se einde werd is nie. Mens kom uit verskillende agtergronde en dit is net logies dat ons aan mekaar moet skaaf. As ek so na die vlindertjie op foto’tjie kyk, is dit juis daardie vlinders wat maak dat ons nog steeds by mekaar is.
Wat ek deur die jare geleer het, is om nie die storie te glo dat mens nie kwaad moet gaan slaap nie. Ek wou uitpraat voor ek kan slaap, manlief wil nie praat nie. Behalwe as hy sy se wil sê. Dan is dit ‘n vinnige onderonsie. As ek oor die kwaadwordding geslaap het, kyk ek met ander oë na die probleem. Soms moet mens eers praat as jy rustug is. My jongste sus se seun was nog ‘n ou klein dingetjie toe hy vir my gesê het: “Tannie, ek kan nie nou met jou praat nie, ek is te kwaad.” Baie wyser woorde as die raad wat by my troue uitgedeel is.
Die twee hoeksteenkrale stel my twee kinders voor.

Hulle word op die las in die kettinkie gesit om te keer dat die ander krale oor die hele armband beweeg. Ons twee kinders is ons trots, ons het hulle liewer as vir onsself.
Die geboorte van die twee was vir ons twee die grootste hoogtepunte in ons lewens. Hoe geseënd is dit nie om twee welgeskape kinders te kry om groot te maak nie. Hulle lewens saam met hulle te leef. Hulle beter te ken as wat hulle hulself ken. Omdat ons daar was van voordat hulle as pap babatjies in ons wêreld en harte kom vastrapplek kry het.

Die geboorte van ons drie kleinseuns (dollatjie s’n) en die koms van ons vierdie kleinseun (eerste aan seun se kant) is ons ander grootste hoogtepunte.

Ek gaan hierdie middelste een aan hulle toeskryf want ons hoop daar gaan sommer nog baie kleinkinders wees. Daardie sirkel kan plek maak vir meer. Ek het die middelste een vir vandag gekry, ‘n regte Qazaqstan aanvulling.

Hulle leer ons om die lewe deur die oë van ‘n kind te bestudeer. En hou ons op ons tone want hulle is intelligente kinders wat alles om hulle raaksien. Niks gaan by hulle verby nie. En dan moet ouma en oupa antwoorde hê vir vrae.
Die hartjies regs simboliseer my en manlief se liefde vir mekaar.

Ek het die een regs ook vir vandag gekry. Gelukkige ekke, my bandjie het volgens manlief nog leeg gelyk … Ons het wel verander deur die jare, maar ons liefde het sterker geword.
Die hartjie links simboliseer my kinders se vind van pasmaats. En hoe dankbaar was ons nie toe ons kosbaarste besittings pasmaats kry wat hulle dalkies selfs liewer het as wat ons hulle het nie. Dalkies, want ek dink ouerliefde is die toppunt van liefde. Ons twee is baiee lief vir ons twee aangetroude kinders, wat lankal ons eie kinders geword het.
Vir ons is studies belangrik, daarom is gradeplegtighede vir my en manlief lekker. Hierdie enetjie simboliseer die voltooiing van studies.

My en manlief s’n by Tukkies en later myne by Unisa en UJ, dollatjie s’n by Pukke en seun s’n ook by UJ. Aangesien ons almal mekaar tydens ons studiejare ontmoet het, was ons bevoorreg om ook in die lief en leed van die studentejare van ons geliefdes te deel.
Ek en manlief is werkoliste, dus het ons werk ons soms maar min tyd vir mekaar gegee. Hierdie een simboliseer ook moeilike jare waarin ons twee moes groei en probleme uitstryk om tyd vir mekaar te maak.

Alhoewel ek soggens na hom skool toe is en die meeste van die tyd saans voor hom tuis was, moes ek na ure merk en voorberei. Dit is iets waaraan ander mense nie gewoond is nie, hulle is klaar gewerk tot die volgende dag wanneer hulle van die werk af huis toe gaan. Ons moet selfs vakansies werk.
Ons het soms daaroor vasgesit, maar dit is hoe ‘n onderwyser se lewe is. Jy moet elke dag voorberei want nuwe werk word die volgende dag behandel. Eksamentye is ook nie rustyd nie. By die skool hou jy toesig, by die huis moet die merkwerk gedoen word. En taalonderwysers het ‘n oorvloed daarvan. Onderwysers wat vir seniors skoolhou se lewe bestaan uit merk.
Buitemuurse bedrywighede hou mens soms weg van mekaar omdat ek vakansies met atlete en hokkiespelers weg moes gaan. Hy het weer na-uurs rugby geoefen, naweke gespeel en later het rugby ons naweke oorgeneem toe hy afrigter en bestuurder van klubs geword het. Oor beide hiervan is ons twee vandag spyt as ons terugdink. Ons het baie gesinstyd opgeoffer vir kinders en spelers om hulle passies uit te leef. Mense wat selde later jare kontak maak. Was dit die moeite werd?
Ons het baie rondgetrek soos manlief bevorder word, of beter werksaanbiedinge kry. Hierdie ene simboliseer ons vermoë om elke keer wortels te lig en in ‘n nuwe stad of dorp te gaan wortels skiet.

Dit het veroorsaak dat dollatjie is elf skole was. Tien laerskole, een hoërskool. Sy het haar nommer vier voetjies in standerd ses neergesit. Haar laaste skool asseblief? Seun was in minder laerskole, ook net in een hoërskool. Beide was in Welkom Gimnasium. Dus was ek tien jaar lank ‘n ouer van die skool, die laaste vier daarvan juffrou ook.
Die rondtrekkery is maar deel van myners se lewens. Ons het die beste daarvan gemaak. So paar jaar gelede op ons spoor in Welkom gaan terugstap. Om te gaan kyk hoe ons huise in Welkom en Virginia nou lyk. Mens moenie. Die stad het agteruitgegaan. Sommige huise lyk nie meer soos dit gelyk het toe ons daar gewoon het nie.
Ons laaste skof voor aftrede is juis aan ‘n nuwe werksaanbod te danke. En hierdie ene, wat ek ook gister gekry het, simboliseer ons lewe hier in Qazaqstan.

Voel jy die koue hier? Dit is vandag -24 gradee Celsius. Die Qazaqs hou van goud en om goed met krulletjies en kantjies te versier. En wat ‘n verrykende ervaring is dit nie. Om in ‘n ander land te kom leef en werk.
Manlief werk so vier blokke van die huis af, kan in die somer huis toe stap vir middagete. Dit kon ons nog nooit doen nie en ek koester dit met my hele hart. Hy gaan soggens sewe-uur werk toe en is saans net na vyf terug. ‘n Drywer moet hom kom haal en terugbring. Dit het ons ook nog nooit gehad nie. ‘n Bederf in hierdie bevrore land op die oomblik. As hy in die kar klim, is dit al lekker warm.
Ons leef anders as in Suid-Afrika. Daar het ons groot vierslaapkamer in die buitewyke van die stad. Hier woon ons op die agste vloer van ‘n woonstelblok in die middestad van Öskemen. In die somer wens ek soms dat ons ‘n huis gehad het, dat mens sommer net in die tuin kan gaan sit. En werk. In die winter weet ek dat ek die woonstel verkies.
Hierdie een simboliseer elke liewe verjaarsdag as vrou van hierdie man van my. Ek is ‘n leeu.

Ek word elke jaar bederf wanneer ek verjaar. Toe ek nog skool gehou het, is ‘n massiewe bos blomme by die skool afgelewer. Almal het dié dag geweet dat juffrou Van Staden verjaar.
Ek en manlief hou van die see, en wanneer ons kans kry, is ons langs die kus. Daarom verteenwoordig hierdie ene al ons vakansies by die see.

Eers as verliefdes saam met my ouers, later as pasgetroudes, nog later saam met kinders en nou weer alleen soos voor ons kinders gehad het. Dit laat my veral aan Mosambiek en Seychelles vakansies dink. Die kleur van hierdie enetjie. Verrassend was dit dus toe ek ontdek dat dit ook Qazaqstan se kleur is toe ons hierheen kom.
En vanaand vier ons ons huweliksherdenking alleen. As die kinders naby is, eet ons gewoonlik saam uit. Nou gaan ek en manlief vanaand so op die oewer van die Ulbarivier eet. Two Rivers restaurant. Mooi nuwe een wat laas jaar oopgemaak het.
Laas jaar het ons die dag ook hier in Öskemen gevier. Toe ons kom kyk het of ons hier sal kan woon. Toe het ons gedink dit gaan gedoen kan word. Die winter het my nogal onkant gevang.
Dit is baie anders om hier te kom kuier as gas as om hier te woon. Maar ons geniet die andersheid, stories om eendag oor te vertel as ons op die ouetehuis se stoep sit en gesels.
Die laaste enetjie dra ek aan ons twee families op.

Skoonouers en een twee swaers het ons reeds vooruitgegaan. My ouers en susters en sy broer is ons nog gespaar. Dit is wonderlik om te weet dat ons al soveel jare in mekaar se leens vervleg is. Geseënd inderdaad. Almal van hulle het ‘n invloed op ons huwelik, party veel meer as ander.
Ek is dankbaar dat ek die man van my 38 jaar lank as my man aan my sy kan hê. Dat die Here hom daardie dag so toevallig op my pad gaan neersit het. Saam is ons ‘n gedugte span wat vir baie uitdagings kans sien.

Ons is nie regtig engele nie, daardie foto’s is verlede jaar op die strand van ‘n meer naby Almaty geneem. Moes dit net doen, voel so oneindig groot daarmee. Ons beskerm mekaar se rug. Maar ons is ook lief vir mekaar. Wens mekaar die beste toe. Ons band is gebou op geloof, hoop en liefde. Is dit nie maar al wat nodig is nie?
Pragtige getuienis van jare se saamwees.
LikeLike
Dankie Kameel, dit het sommer net so gevloei, ek hoop dit maak sin aan die einde.
LikeLiked by 1 person
Dit het julle lewe saam mooi uiteengesit. Jy is ‘n geseënde vrou wat kan terugkyk op ‘n liefdevolle huwelik.
LikeLike
Dankie Kameel, ek dink ook so. Soms raak mens moedeloos vies vir mekaar, maar as mens terugkyk is dit liefdevolle jare saam met my beste vriend.
LikeLiked by 1 person
Baie mooi geskryf – en beskryf!
LikeLike
Dankie Anne, was sommer in vreemde bui vandag
LikeLike
Pragtig geskryf, Christa
LikeLike
Baie dankie Hester.
LikeLiked by 1 person
Hierdie is so mooi geskryf Christa. Baie geluk met jyl huweliksmylpaal. Mag die meetsnoere vir jul mooi val.
Ek het ook ‘n pandora bandjie en my krale is ook so vol simboliek. Dit is baie spesiaal.
LikeLike
Dankie Sonell, sal lekker wees om te lees hoe jou bandjie se simboliek uiteengesit word. Ek kom gister eers regtig agter hoe duur die bandjie word soos wat die krale meer word. Vind jy dit ook so?
LikeLiked by 1 person
Jy het my nogal geinspireer om dit ook so te vertel. Sodra ek uit die hospitaal by die huis is maak ek so.
Jip, dit is verseker ‘n duur stokperdjie. 😄
LikeLike
Jy siek? Ek het nie geweet nie. Pas jou asb mooi op.
LikeLiked by 1 person
Dankie*
Griep wat bronchitis geword het. 🙈
LikeLike
In die somer? Dit het my gereeld getref, maar ek was darem nie in die hospitaal nie. Jy moet jouself mooi oppas
LikeLiked by 1 person
Blykbaar is daar heelwat sulke griep gevalle al by ons. Seker maar die seisoen verandering.
Dankie*
LikeLike
Mens moet maar mooi na jouself kyk, met die Sjina griep ook nog in die omtrek.
LikeLiked by 1 person
Mooi ingeweef soos ‘n kosbare tapyt met baie kleure
LikeLike
Dankie, Bondels, dit is soos dit is. Mens moet ook teen verwaarloos waak, ek wou daai skryf, het toe uitgewaai!
LikeLike
Dit is n pragtige getuigskrif van hoe n huwelik deur storm en drang en vrede en geluk versterk. Die armband se simboliek is n goeie verduideliking vir jou nageslag. Dankie vir die deel. Kanagterkom dat jou behoefte groot was om dit te skryf.
LikeLike
Was nogal, het so lank gevat om te skryf. Maar ek is soort van gelukkig met die eindresultaat
LikeLike
Dis lekker as mens so n stuk geskryf het en jy lees dit weer en jy kan voel dis die regte ding. Ek het my laerskool deel soort van klaar geskryf. Nou moet ek nog weer deurgaan en dit op “patch”met spesiale kkwinkslae. Het reeds heelwat reeds bygevoeg. Dit voel lekker om so te vorder. Ek begin Maandag weer werk en dan is daar nie veel rustigheid nie.
LikeLike
Ek verstaan daardie rush hours as die skole eers weer begin het. Sien uit om dit te lees.
LikeLiked by 1 person
Gaan hopelik Maandag n stuk uit my Memoirs opsit sodat ek kan toets wat julle daarvan dink.
LikeLike
Kan nie wag nie, geniet die voorbereiding sommer baie
LikeLiked by 1 person
Dis ‘n verhaal wat baie hoop bring….baie geluk!
LikeLike
Baie dankie Woordnoot, waardeer die terugvoer.
LikeLike
Baie, baie geluk! Mag daar nog baie jare saam wees.
Groete
San Dreyer
LikeLike
Baie dankie, ons probeer.
LikeLike
Baie geluk!!! Julle, is baie bevoorreg.
LikeLike
Baie dankie
LikeLike