Ons het ‘n plasie langs die Vaal. Piepklein, net-net groot genoeg om wel ‘n plaas genoem te word. Daar wil ons eendag gaan aftree.
So tien jaar gelede het ons besluit dat daar lewe moet wees. Die gedagte was nog nie koud, toe deel manlief dit met sy vriend Piet Bezuidenhout van Welkom.
En sy pa, oom Jan, gee vir ons ‘n wit boerbok en ‘n paar ooitjies. Ek kan nou nie onthou hoeveel nie.
Wat ek wel kan onthou, is dat net die ram ‘n naam gehad het. Ek wil nou nie geheimsinnig klink nie, maar ek is amper seker die ooie was naamloos.
Manlief het die ram se naam gekies, Steve. Vernoem na Steve Hofmeyr, my gunsteling sanger. In die hoop dat hy, soos Steve, baie kinders sou kry. Wel, ek kan dankbaar getuig dat Steve aan manlief se verwagtinge voldoen het.
Hy het sy naam gestand gedoen. En soos Steve in daai liedjie oor Bliksem, dok Craven se hond sing, het Steve sy gene goed verdeel.
Die ooitjies was gedienstig, daar was gereeld nuwe lammertjies op ons plasies en soms was daar selfs tweelinge. Ons dink gereeld met waardering aan hierdie bok van ons terug. Hy het karakter gehad.
Vanoggend het ek ‘n hele paar staaltjies oor Steve opgeroep terwyl ek Posititief se inskrywing oor haar Billy bok gelees het. Hier is ‘n paar oor onse Steve.
Steve was ‘n spierwit bok, het amper soos die een op hierdie foto gelyk, wat impliseer dat hy pryse op skoue sou kon wen. Hy het mooi gevormde horings gehad en sy bokbaard het welig gegroei. Om te wys dat hy die baas van die plaas was.
Steve was ‘n terroris, hy het amok gesaai waar hy gaan. Aangesien ons drade nie bokbestand was nie, het ons gedurig klagtes van die bure gekry. Bure wat soos ons naweke en vakansies by hulle plekke is. Om te rus en van die stad se probleme te vergeet.
Wel, Steve het die probleme plaas toe gebring. Regtig, hy is ‘n stadsbok, die plaas waar hy vandaan kom, grens aan Welkom.
Ons bure aan die een kant het selde na hulle plek gekom, maar sy broer en familie het gereeld daarheen gegaan. Om vis te vang. En dan het Steve die wat buite was, gaan jaag. Asof hulle plek sy plek is. En hulle nie daar hoort nie.
En as hulle nie gou genoeg gereageer het nie, het hy hulle met ‘n stamp op die boud aangehelp. Tot een ou tannie geval het.
Ons bure aan die ander kant het ‘n boot wat by die jettie gelos word. En ‘n rondawel wat effens te laag gebou is en gereeld oorstroom. Hulle kuier gereeld by die rondaweltjie en laat die deure dan oop as hulle opgaan na die huis of op die rivier gaan ski.
Om terug te kom en te vind dat Steve en sy ooie daarbinne was. Die getuienis was daar, honderde bokdrolletjies (skuus vir die spelling, maar geen ander woord gaan dit hier so goed beskryf nie).
As die boot daar was, het hy en sy vrouens daarop geklim. En getuienis ook daar gelaat.
Ek was doodbang vir Steve. En hy het dit geweet. Ek het net nou die dag vertel dat ek vir ‘n eland ook bang was. Ek het op ‘n plaas grootgeword. En geweet dat ramme se horings seer kan maak.
Dit was sy lekkerste speletjie om vir my op die stoep te staan en wag. En te mik-mik as ek hom probeer wegjaag. Dan moes manlief met die besem kom om hom weg te jaag. Nie dat Steve so maklik oorgegee het nie.
Hy het met sy horings gemik-mik en as manlief nie skrik nie, het hy op sy agterpote gaan staan om groter en gevaarliker te lyk. Of sommer op die tafel op die stoep geklim en vandaar sy mê gemê. Sagte ou klankie vir so ‘n groot belhammel.
Ek het mos gesien dat hy wel stamp en dat hy mense omstamp, dus het ek dit nie probeer nie. Liewer in die huis gebly tot ek kon sien dat Steve en die ooitjies ver weg is. En manlief geprys omdat hy so dapper is. Om op te maak dat ek hom uit die bed gejaag het!
Een van die ooitjies het een keer amper in die slag gebly. Ons het Nevan, ons Siberiese Husky (foto), net een keer saamgevat rivier toe. Daardie keer het hy die bokke so om die huis sien stap en toe ons weer sien, het die jagter in hom uitgekom.
Ek het in die kombuis by die venster gestaan en kyk waarom die bokke hardloop en so huilmê. Manlief was gelukkig buite. Nevan het asof van nêrens gekom, langs die ry bokke ingeval en toe die bokke begin hardloop, het hy die een ooitjie met een slag of hou of vangs of wat mens dit ookal sal noem, van die kant om die nek gevang en omgekeer.
Soos wat ek leeus al soveel keer met bokke sien maak het. Ek het gevrees Nevan gaan in die slag bly, want manlief was nie lief vir my Husky nie.
Daai storie moet ek ook nog een dag vertel. Maar manlief het gered, Nevan huis toe gejaag en verwonderd by my kom staan. Hoe het Nevan geweet hoe om te jag? Hy was ‘n stadshondjie, is in Roodepoort in ‘n klein erfie gebore en was daarna my hondekind in die stad.
Nevan was veilig, maar ‘n bosluis het hom gebyt. En ek het dit gelukkig betyds uitgevind. Toe Nevan nie biltong wou eet nie het ek geweet daar is fout. Hy is betyds deurgehaal en was tot in November 2018 ons hondekind.
Steve het egter soveel drama veroorsaak dat ons besluit het om hom en sy ooitjies en hulle nageslag op die bakkie te laai. En terug te vat na oom Jan se plaas.
Hy het goeie rente op sy belegging gekry, die troppie het mooi aangeteel. Maar ons wou hulle nie meer hê nie, ons het vrede gesoek as ons plaas toe gaan. En dit het Steve ons nie gegun nie.
Steve is egter deel van ons herinneringe, ‘n pragtige bok. Waarvan ek sowaar nie een enkele foto kan opspoor nie.
Een wat ons met ontsag gelaat het en wat ons nie sou slag nie, nie vir hom of sy vroutjies of nageslag nie.
Wat van hom geword het, weet ek nie. Wil ook nie weet of hy toe wel kos op ‘n tafel geword het nie. Dit sou ons harte nie kon verduur nie…
As jy die vyf woorde in italics opgemerk het en wonder waaroor dit gaan, dit is ingevoeg om aan die blog-uitdaging van ‘n mede-skrywer te voldoen, die uitdaging vir Maandag is Wasdag nr. 8.
Ek het Positief se storie geniet en nou sommer joune ook. Die bokke klink vir my na sulke parmantige diere!
LikeLike
Hulle is. Stoute goed
LikeLiked by 1 person