Ek sou vandag weer met Russiese klasse begin het. Dit het toe nooit gebeur nie. Omdat twee toeps nie wou saamspeel nie.
Die meisie wat my sou leer, het lank gelede die ligging gestuur, sodat ek kon sien waar ek haar moet kry. Toe het ek nie met die klasse begin nie, omdat ek met skryfwerk besig geraak het.
En sperdatums laat hulle nie voorsê nie. Ek weet net dat die plek iewers langs die rivier was, Kolos se kant toe.
Sou ‘n goeie stappie kos om daar te kom. Ons sou iewers tussenin ontmoet, maar soos ek sê, dit het toe nie gebeur nie.
Verlede week besluit ek dat Augustus die maand vir Russiese klasse is. En maak ‘n afspraak, vandag gaan ek begin.
Sy stuur weer ‘n ligging en ek is so half verbaas dat dit in ‘n ander koers is. Naby die brug en Tsum en Imperator.
Ek neem aan dat dit by ‘n ander plek is en maak reg om te gaan. Ek ry na middagete saam met manlief en sy drywer, Marat.
Stap van sy kantoor af na Imperator, draai regs brug se kant toe. Stap oor die besige straat en sien my oogkundige se plek.
Draai links, stap in, vra dat my bril se sagte neuskussinkies vervang word en stap weer uit. Draai links, gaan om die draai, verby die speelgoedwinkel en dan draai ek weer links. Die ligging is by die tweede gebou van die brug se kant af.
Ek het mos nog baie tyd, vra haar ook per WhatsApp waar ek haar gaan kry. Want sy het net ‘n straatadres gestuur.
Laat ek nou eers daai een verduidelik. Hier het geboue nie name nie, seker maar omdat baie dieselfde lyk. Of amper dieselfde. Jy het ‘n straatadres. Byvoorbeeld Kazakhstan straat 94.
Mense vergeet dan om vir jou te sê hulle is op die 5de vloer, woonstel 15. Jy moet maar vra as jy daar kom. Al word jy genooi.
Sy laat weet dit is kantoor 112, eerste kantoor regs as jy by die deur instap.
Nou moet ek dit ook eers verduidelik. My Suid-Afrikaanse brein wil dan trappe op en op die eerste vloer gaan soek. Hulle is verstom dat ons eerste vloer in die lug is. Die eerste vloer is op die grond. As ons verduidelik dit is ons grondvloer, is hulle eers verbaas. Grondvloer is onder die grond. Dus moet ek kophou soos weeluis as iemand sê dit is op die eerste vloer. Ek moet nie trappe of hysbak soek nie.
Toe Google Maps my by die gebou bring, het ek reeds die gevoel dat daar fout is. Dit voel soos woonstelle met klein winkeltjies op die eerste (grond) vloer.
Die relatiewe klein plek het twee deure, een aan die ander kant van die gebou se voorkant en een aan die kant van die gebou. Ek besluit die een aan die kant lyk nie reg nie en stap verby na die ander deur.
Net om in ‘n piepklein supermarkie in te stap. Salem. So klein dat mens dadelik links moet draai as jy nie reg in die toonbank wil vasloop nie.
Ek loer in, daar kan geen kantoor wees nie en gaan uit. Na die deur aan die kant van die gebou toe.
Die ligging op Google Maps se kaart wat sy vir my gestuur het, is ook tevrede. Daardie deur was te ver verby die plekpunt waarheen ek moes gaan. Die deur aan die kant van die gebou is waar die punt is.
Ek stap die staaltrappies op om in ‘n haarkapster vas te loop wat besig is om hare te sny. Wil nie net instap en deurstap nie, ek neem sommer net aan ek is verkeerd. Dit is die verkeerde plek.
Intussen skiet my humeur die rooi in. Ek is by die ligging wat vir my gestuur is en dit is verkeerd.
Ek kry baie, baie warm van die lang stap en hier is nie enige aanduiding van ‘n plek wat kantore kan wees nie.
Dus stuur ek foto van die deur met die pienk geskryf aan die meisie en vra of sy my kan sê hoe om by haar uit te kom. Ek stuur ook ‘n skermskoot van die kaart wat sê dat ek presies op die regte plek is.
Sy stuur vir my ‘n foto van die plek waar ek haar moet kry se voordeur. En sê ek moet na gebou 83 toe gaan, ek is by verkeerde gebou.
Ek vra brug se kant toe of na die ander kant toe en sy antwoord nie. Seker besig by die werk. Hoe verder ek weg van die brug stap, hoe meer sê Google Maps dat ek moet omdraai en terugstap na nommer 67. En ek sien geen gebounommers nie.
Ek gaan staan teen die heining en besluit om 2GIS te probeer. Volgens almal is 2GIS, die Qazaq toep die beste in Ust.
2GIS sê die plek is 1,7 km van waar ek moet wees, Google Maps is dus verkeerd. Ek druk en druk op die skerm maar sy weier om die pas aan te gee. Staan net daar soos ‘n dooie papier sonder geen interaktiewe punte. Niks beweeg nie. En ek kan die kaart ook nie groter maak om te probeer rigting vind nie. Of om seker te maak waar nommer 83 sou wees.
Ek weet nie of ek in die regte straat is nie, want, toe ek weer na Google Maps gaan en vra om die staproete aan te dui, wil my ewe skielik agterom die gebou vat. Na woonstelblokke wat tussen die twee hoofstrate ingedruk is. Hulle lyk verwaarloos en ek word ongeduldig.
Dit kan nie wees nie en ek stap weer in die teenoorgestelde rigting, weg van die gebou waarheen Google my gevat het. Weg van die brug af. Maar Google sê draai om, maak ‘n u-draai, jy is verkeerd, jy gaan in die verkeerde rigting.
Hoe verder ek stap, hoe minder het ek ‘n idee waar ek is. Ek is wel langs die rivier en as ek vir so 7 km aanhou, sal ek weer by die sirkel kom wat naby ons huis is.
Of ek kan beheer vat en omdraai, terugloop soos ek gekom het en reguit terugstap huis toe. Dit is die beste besluit in my gemoedstoestand.
Ek stop, staan teen die heining en haal my foon uit. ‘n Man loop reg op hierdie liewe kers af.
Het mos al gesê ek is soos ‘n kers en die mot, die mense loop op my af. Ek kan nie oor die heining spring nie en staan my staan en gluur hom aan en hy swenk weg en stap verder. So wraggies geen idee dat hy my sou platloop nie. Ek gaan dit nooit ooit verstaan nie!
Ek tik en stuur die boodskap. Jammer, ek gaan maar omdraai en huis toe gaan. Stuur skermskoot van die plek waar ek is en die kaart wat sê dat ek by die regte plek is en dat dit volgens haar nie die regte plek is nie.
Ek is glad nie meer in die bui vir ‘n klas nie. Inteendeel, ek is lus om iets te skop.
Toe ek amper tuis is, bewe my foon verskeie kere. Waar is ek? Stuur foto, sy sal my kom soek. Maar ek gaan nie vandag in ‘n klas oplet nie.
Ek moet my toeps se koppe lees. In die huis maak ek weer al die toeps oop.
Google Maps is steeds by sy standpunt, daardie verkeerde gebou is die regte gebou. 2GIS moet dan maar help.
Ek tik die straatnaam die soveelste keer in, die keer sonder die woord street daarby. En daar gaan 2GIS en vat my na die vervlakste regte plek. En toe is ek eers vies.
Ek sou daar verby gemarsjeer het sonder om dit te vind, as ek nou sou besluit het om 10 000 myl te stap. Want die ingang na die gebou is, jy het verkeerd geraai, aan die agterkant van die gebou!
Daai foto van die ingang wat sy vir my gestuur het, sou nie help nie.
Die plek is ‘n groot gebou waarvan Google Maps salig onbewus is.
Ek is dankbaar dat ek besluit het om terug te stap huis toe. My gemoed sou besonder swartgallig gewees het as ek al die pad rivierlangs gestap het sonder om die plek te kry.
Ek het darem nou geleer dat 2GIS nie die woord street herken nie. En dan nie weet waarheen om my te vat nie.
Vir die Russe is dit nie ‘n probleem nie. Hulle gebruik nie die woord street nie. Dus sou die meisie my nie kon help om haar te vind nie.
Dus staan sy soos ‘n vervlakste steekse donkie stil. Iemand sal haar moet leer om te sê dat sy nie verstaan nie dat die gebruikers nie so sukkel as sy nie help nie.
Ek stuur vir manlief die boodskap. Ek is terug by die huis, kon die plek nooit kry nie. Want Google Maps en 2GIS het geen idee waar dit is nie. En hy stuur sulke emotikons wat lag en oë toedruk.
Gits, hy moet ook nog leer wanneer om nie te lag nie …
Toe hy tuis kom, lag ons oor my uitstappie wat nooit gebeur het nie. Toe eers kon ek saamlag.
Wat ‘n frustrasie!
LikeLike
Ek is seker nie veronderstel om my so te wip nie …
LikeLiked by 1 person
As mens warm kry is dit heeltemal verstaanbaar.☺️
LikeLike
Ai Perdebytjie, ek kan nie glo dit is so warm hier nie
LikeLiked by 1 person
Nee wat dit klink heeltemaal te ingewikkeld om te moet soek en ook te weet waar iemand is. Ook vreemd dat dit so uiters warm kan word.
LikeLike
Dankie, ek voel vandag goor oor die gewiptgeid van my …
LikeLike