‘n Oomblik van vrees in Qazaqstan

Ek sien sommer hoe frons jy klaar, dit kan nie wees nie. Ek vertel dan gereeld hoe veilig dit hier in Qazaqstan is. Wel, ek vertel dan seker te min dat ek dinge in Suid-Afrika dophou. En dat my Suid-Afrikaanse brein nie genoegsaam afskakel nie. Ek is waaksaam, al voel ek veilig.

Laat ek dus van hierdie oomblik vertel.

Ek het vanmiddag saam met ‘n nuwe Russiese vriendin wat ek by ‘n Suid-Afrikaanse vriendin ontmoet het, gaan tee drink. Sy is so oulik, het my genooi vir tee sodat sy my meer van die hoofstad, Nur-Sultan, tog ‘n maand of twee gelede bekend as Astana, kan vertel. Want ek moet navorsing doen, manlief het ingestem om my daarheen te vat vir my verjaarsdag. En dit gaan ons net een keer doen, want Nur-Sultan is kouer as Ust en die wind waai blykbaar daar erg. Ek sal nog meer van Nur-Sultan vertel, veral na my verjaarsdag. Ons het lekker gekuier en sy het halfpad huis toe saam met my gestap.

Die son het ongenadig op my afgebrand en ek het besluit om by die eerste deurgang onderdeur die geboue te kom om in die koelte agter die geboue te stap. Teen drie-uur smiddae is dit heerlik, die paadjie is in koelte gehul.

Net nadat ek onderdeur die brug is, het ek gesien dat ‘n effens verslonste man agter my aankom, selfoon in die hand. Ek het in die paadjie gedraai en vinniger gestap en hy het ook in die paadjie gedraai. Ek het besluit om af te draai en deur die speelpark te loop, vir myself gelag en teruggestap op die paadjie.

Ek is mos veilig?

Die man was steeds agter my, het nie verbygekom toe ek afdraai nie.

‘n Polisieman of so iets het uit die een gebou gekom en met mense gepraat. Ek het ontspan en rustiger verder gestap.

Toe ek by die deurgang onder ons gebou kom, besluit ek om daardeur na die voorkant van die gebou te gaan. Om die man agter my af te skud. Maar veral sodat hy nie weet watter gebou ons gebou is nie.

Ek het afgedraai en toe ek omdraai om skelm terug te kyk, draai ek in die lyf van ‘n man in.

Liewe hemel, ek het my besimpeld geskrik. Snaaks hoe mens se brein bestekopname maak.

Hy is baie langer as ek en ek voel hoe ek ontspan, ek dink nie dit is die verslonste man nie, al was hy die laaste mens agter my. Die man se arms is langs sy sye en nie gereed om my te vang nie. Die hemp is blou! Genugtig, blou! Ek het vervaard teruggetree. Die polisieman moes haastig gewees het, hy het my op ‘n manier ingehaal.

Vervlakste man! Hoe sou ek nou aan hom kon verduidelik waarom ek my water en ligte weggeskrik het toe ek ‘n polisieman sien?

Die verslonste man het verbygekom en verder gestap. Waarheen weet ek nie, ek was opgeskrik. Ek wou net wegkom en het onderdeur die koepel van die gebou gestap. Na die ander kant. Waar die son skyn. Daar het ek eers getalm, gemaak of ek nie haastig is nie en toe na ‘n ruk omgedraai en teruggestap na ons gebou se ingang toe.

Terug in ons plekkie was ek verstom dat ek so groot kon skrik. Hier in Ust. Maar dan moet ek seker maar ingedagte hou dat mens nie iemand so na aan jou verwag as jy stap nie. so naby dat jy in sy lyf vasdraai as jy omdraai. Ek het heelwat meer persoonlike spasie nodig.

Foto: pragtige verbeterings aan een van die systraatjies van Ust

11 comments

    1. Nie een van die twee het hulle aan my gesteur nie. Die polisieman het net om die probleem gesystap. En die ander man het nie eens gekyk waarheen ek draai nie. Elkeen op sy eie paadjie, ek was net ‘n oogwink in hulle s’n. Die mense hier kyk nie vir my nie, gee nie om wag ek doen nie, elkeen op sy eie paadjie. Dit is ek wat my brein moet afskakel, weet nie waarom ek vandag so geskrik het nie.

      Liked by 1 person

  1. Een maal ‘n Suid Afrikaner, altyd een! Dis net jou normale Suid Afrika gedrag wat ingeskop het! Haha! Sjoe..die sypaadjie ding is baie mooi!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.