Manlief en Russies

Ek dreig nou al lankal om hierdie een te skryf. Die lus om dit te skryf het wel in verskeie van my plasings deurgeskemer.

Soos die ene oor Problema in Qazaqstan. En die ene oor bankrekening. Dus gaan ek nou net inspring en skryf. Gelukkig lees hy nie my goed nie, anders sou hy die vieste in kon raak.

Die eerste een waaroor ek wil skryf, sit ‘n giggel in my gedagtes elke keer as ek daaraan dink. Dit was vyfuur in die oggend op Ust se lughawe. Ons moes deur die skandeerders gaan om na die wagvertrek te stap. En die skandeerders skree sedert manlief in Januarie vanjaar ‘n knievervanging gehad het: Skelm, boef, pasop of so iets.

Want hy het mos nou ‘n goeie gedeelte yster in die knie.

Dit help nie om sy kaart van die dokter wat verduidelik dat dit ‘n mediese toestand is aan te bied nie. Hulle kan dit nie lees nie, gebruik mos ‘n ander alfabet!

Die ou wil niks weet nie, hy word net na ‘n kamertjie aangepor. Waar hy darem in privaatheid ondersoek sal word. Nie soos in Dubai en Frankfurt en so aan waar dit ten aanskoue van almal in die openbaar gedoen word nie.

Maar wat my tog ook dadelik onrustig maak. Ons is in Rusland. En hulle masjiene waarsku hulle teen ons. En ek kan nie sien waarheen manlief gevat word nie.

Dus staan ek gereed vir aksie by die tafeltjie waar die mandjies met besittings deurkom. Gereed om manlief te gaan red as dit moet. Hoe weet ek nie, maar ek het reeds my foon uitgehaal en Google Translate gebruik om vir die ander wag te sê dat my man ‘n knievervanging gehad het. Dit is waarom die masjien skree.

Hy is toe op pad na die ander een in die kamertjie om vir hom te verduidelik, maar manlief het reeds die gereg daar in eie hande geneem om die proses te verkort.

Sy broek afgepluk want die belt is mos nog in die mandjie en gewys: Kyk, sien jy, ek het ‘n knievervanging gehad. In Engels. Wat die ou nie verstaan het nie, maar wat die een wat met my boodskap op my foon kon bevestig.

Volgens manlief was die ou se oë so groot soos pierings toe hy die broek afpluk. En het hy beduie dat dit nie nodig is nie. Hy gaan mos per hand voel.

Van per hand voel gepraat, dit is juis dit wat my van Blou Bul wees gespeen het. Almal wat my ken sal seker verstom staan. Facebook ook. Herinner my gereeld aan goed wat ek oor my gewese span geskryf het.

Ons het seisoenkaartjies gehad, was elke Saterdag op ons plek. Maar die vrouens by die sekuriteitshekke het my rooi laat sien.

Die een het vir my gesê ek is sexy toe haar hande aan my bolyf raak en ek was verby kwaad. Die volgende keer het een haar hande van voor soos koppies oor my bolyf gesit. Voor ek kon besef wat sy gaan doen. Ek het haar hande weggeklap en gesê That is sexual harrassment en my man het uit sy ry gekom om my by te staan. Ek was halftyd nog te verneder en kwaad om die wedstryd te volg.

Het die probleem met bestuur opgeneem en raai wat was die terugvoer? Ek moet asseblief verskoon, sy word nog opgelei! Ek het daarna ons seisoenkaartjies se sitplekke laat leeg staan en dit nie weer hernu nie.

En ‘n nuwe span gekies. Die Crusaders en die All Blacks. Ten minste kan die twee spanne rugby speel sonder politieke inmenging. Lojaliteit word verdien, dit is nie ‘n gegewe nie. En manlief is ‘n goeie sportman, bly lojaal aan die Bulle en die Bokke, maar word nie kwaad as my spanne sy spanne wen nie.

Ek het afgeswaal. So gebeur dit gereeld dat manlief goed gehelp word, sonder dat hy ‘n woord Russies kan praat. Dit is nou behalwe Garasho (goed) en Zdrastvietje (hallo) en Spasieba (dankie). Soos gister by die bank.

Ons het ‘n bankrekening vir my oopgemaak, in sy naam omdat ek nie ‘n IIN-nommer het nie. En gister kry ons net voor ses die boodskap dat die kaart by die bank is. Ek wil dadelik gaan haal, manlief sê: Nee, daar is te min tyd. Ons kan môre.

Ek kan nie wag nie en sê sewe minute is genoeg, die bank is amper reg onder ons gebou.

Dus is ons skoene aan en daar gaan ons. Ons maak oop en stap in, dit is nog nie sesuur nie. Staan by die masjien om die knoppie te kies om die kaartjie te kry oor wat ons wil doen.

En die twee wagte wat daar staan praat met ons. Ons verstaan niks. Hulle roep ‘n derde een wat bietjie Engels kan praat. Die een sê: nee, die bank is toe, julle moet gaan.

Ek draai om om te gaan, maar manlief staan met die foon in sy hand, wys met ‘n kry my jammer gesig die boodskap wat in Russies gestuur is. Ons moet die kaart kom haal.

Die een wat so bietjie Engels kan praat wys dat ons na die ontvangstoonbank moet gaan om die kaart te kry. En daar gaan ons om gehelp te word.

Die ou is redelik vies omdat hy werk kry, dit is tsaila tyd. Sit en tel pakkies kaarte, merk groepies van tien af en vat dan die volgende pak. Ons sit.

Heelwat later besluit hy om tog te help en kyk om sy skerm na my wat agter die skerm sit. En begin Russies praat.

Ek het al vertel dat ek gevaarlik baie soos die inwoners van hierdie dorp lyk. Hulle dink ek is een van hulle en moet Russies kan verstaan. Hy vra goed en word ongeduldig. Ek weet nie wat nie en sê Excuse me?

Ek ken Ja nê panêmaja poRoeski (ek verstaan nie Russies nie) maar dan dink hulle ek jok. Omdat ek die sin perfek kan sê.

Hy roep die een wat bietjie Engels kan praat en die ou vergeet ek verstaan nie Russies nie. Ignoreer manlief en kyk vir my terwyl hy die goed herhaal. Asof ek dom is. Ek ken net nie sy taal nie.

Iewers tussenin hoor ek IIN en beduie vir manlief dat die ou sy IIN-sertifikaat soek. Daai een wat almal wat werk moet hê.

Hy gee die vorm en daar kry ons die kaart. Wat ‘n genade. Ons begin regkom sonder om Google Translate so gereeld te gebruik. Daarna moet ons na die kassiere gaan om die PIN te kry en ook sy help ons. So na ure en al!

Wat my weer by ‘n punt bring. Mens hoef nie die taal te kan praat om verstaan te word nie. Maar ek moet nou ernstige pogings aanwend. Ek hou nie daarvan om nie te verstaan nie.

12 comments

  1. Dis nou n lekker storie die! Hou van die “yster” knie! Ek het so n ondrvinding in Italië gehad. My st ses en sewe Latyn het gemaak dat ek amper n Italiaanse woord geken het. Ouens was heel opgewonde omdat ek glo verstaan. In die tussentyd het ek nie n idee gehad waarvan hul praat nie. Dit was ook by die doeane en om deur te gaan na die ontvangslokaal.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.