As ‘n eland (ram of bul?) my uitverkies

Anne vertel vandag in haar prettige inskrywing van die bul (bees) wat op haar stoep kom kuier het terwyl sy op vakansie in die Transkei was. En toe word ek teruggevoer na ‘n soortgelyke ervaring by Dikihlolo, so twee jaar gelede. Ek wil nou nie jou idee steel nie, maar ek moet die ene vertel.

Ons het ‘n gesinsnaweek bespreek en almal is Dikihlolo toe vir die naweek. Ons tweetjies, seun en sy vroutjie, dogter en haar man en twee van die drie kleinkinders, jongste was nog nie op pad nie. Middelste was nog klein.

Ek het met middelste, wat toe jongste was, gaan stap. Ons rondawel was een die een kant van ‘n oop stuk grond en dogter-hulle het saam met ons gebly. Seun en sy vrou, haar suster en seun se vriend het aan die oorkant gebly.

Ek was aan die stap met jongste kleinseun op die heup toe ek ‘n groot manlike eland gewaar. Is dit nou ‘n ram of ‘n bul? Ek vermoed, geskat aan die grootte is die seker ‘n bul? Wat stip vir my kyk. En toe aangestap kom, reguit na my toe. Met baba op die heup.

Ek het die afstand na die kinders se deur met die oog gemeet en besef dit is te ver, die bok gaan by my wees voordat ek by die deur is. Hardloop kon ek nie, daardie een het ek met ‘n bees geleer toe ons oorkant die vendusiekrale gebly het.

Die simpel opgeskote kalf het vir my gekyk toe ek aangestap kom en gemik-mik. Plaasmeisie wat ek is, het ek nie gewyk nie. En toe storm die ding. Ek het omgevlieg en gehardloop, reguit na die krip vol water toe. En gespring. Met die hoewe wat verbygedonder het. Woedend omdat ek sopwaternat was. Bly dat dit aan die agterkant van die plek was waar al die mans saamgedrom het om te koop. En teruggesluip huis toe toe die simpel ding se baas hom weer op hok gehad het.

Hier was nie ‘n baas wat kon kom red nie. Dus het ek die afstand na die naaste boom geskat, een met ‘n tak wat my en baba se gewig sou kon dra. Soontoe geskuifelstap en toe geklim, baba en al. Die bok wou nie wyk nie, het onder die boom kom staan en vir my gekyk. Ek het in die boom gebly, met sy horings naby my voete. Klim kon hy nie. Af sou ek nie.

En toe kom my skoondogter van alle mense om my te kom red. Raas met die bok en vat die baba by my. Jaag die bok weg dat ek kan afklim! Ek het so simpel gevoel toe ek uit die boom klim, maar ek is steeds van mening dat dit die beste besluit was. Dankbaar dat ek in my 50’s steeds ‘n boom kan klim. Sou dit nooit net vir sommer gedoen het nie.

Die bok het my daarna die hele liewe naweek kom soek. En ek het elke keer die hasepad gevat, agter die deur van die rondawel geskuil. Veilig in die huis waar ek die baas is. Vir die oomblik. Dan het hy by die trappies kom staan (sien foto) en vir my gekyk. En manlief het my probeer oortuig om uit te kom.

Op die foto lyk dit sowaar asof manlief vir hom preek om hom te laat verstaan dat daardie ene syne is …

My gesin het my siel uitgetrek, die hele naweek. Dogter het die foto sommer op Facebook geplaas, met die volgende sinnetjie: Die koekoes eland wat ‘n oog op my ma gehad het! so het ek nie daaraan gedink nie.

En toe ek in Februarie vanjaar vra dat seun vir ons ‘n klompie foto’s vir die digitale raam maak wat gekoop is om ons hier aan hulle en die goeie tye te herinner, het die bok ‘n ereplek tussen die foto’s gekry. ‘n Enkele foto van ‘n bok wat net soos baie ander lyk, maar vir my is hy onvergeetbaar!

10 comments

  1. Dalkies het die baba die ding gedoen…hy was dalk ‘n wesie wat gesien het hier is iemand wat nurture….hy het dalk sy mama gemis..

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.