Gepubliseer in Reisjoernaal

Maps.me is ‘n riller in Mosambiek

Verlede jaar vra manlief waarheen ek vir die vakansie wil gaan. En ek kies Mosambiek. Die pragtige land met die warm oseaan wat so na aan ons is, het ons nog nooit besoek nie.

Dit was ‘n hele gedoente om al die papierwerk reg te kry. Ons het besluit om te ry eerder as om te vlieg. Ons wou sommer ook die Amarok op ‘n uitstappie vat. Om dit te kan doen, moes sy beplak word. Met allerhande goed wat in haar moet wees, soos veiligheidshempies.

Die manne wat weet was opgewonde omdat ons die stap wou neem en het ons van ringroetes probeer verduidelik. Wat ek steeds nie kop nie, dit is nie regtig ‘n sirkelroete nie. Eerder ‘n manier om Maputo mis te loop. En dit wou ek nie graag doen nie, was nog nooit in die land waarvan my ma se broer so baie gehou het nie.

Google maps en Apple maps was dit eens met die wat weet. Die ringroete was die enigste pad na die noorde. Deur Komatiegrenspos en dan af tot by Maputo, skaars negentig kilometer verder. En dan met die grootpad op na die noorde, tot by Paris de Guille, ons vakansieplek.

Manlief het egter Maps.me ontdek. ‘n Toep wat nie selfoonopvangs nodig het nie. En Maps.me was slim. Nee, man, mens kan sommer skaars deur die grenspos links swenk en dan reguit na ons vakansieplek gaan. Daai soort slim van mense wat mens nie mag vertrou nie. Daai soort mense wat jou wil sien swaarkry. Ons het al hoeveel keer in ons lewe gevind dat ‘n kortpad ‘n lang pad kan wees. Die soort lang pad wat Maps.me vir ons beplan het, kon ek nie in my wildste drome voorstel nie.

Toe Maps.me ons van die groot pad op ‘n grondpad lok, sê ek vir manlief dat ek dink ons moet liewer die hoofpad vat. Soos almal aanbeveel. Hulle ken die plek. Ons was pas verby die bordjie wat gewys het dat Maputo slegs 48 km verder was. Dit kon nie ‘n te groot ompad wees nie. Maar manlief is lekker steeks as hy sy kop eers op iets gesit het. Hy en Maps.me is soos boude. Sy weet waar ons is en sy gee die pas aan.

Dit het so pas lank en hard in Mosambiek gereën en die grondpad was sleg. Ons is deur diep modderpoele, met walle wat soos mure gelyk het. By die eerste gehuggie, met stukkende karre wat in erwe staan, lei Maps.me ons op ‘n nog slegter pad. Deur die plekkie. En ek begin reeds bid. Hier gaan ons nie sonder gebed lewendig uitkom nie. Die grondpaadjies tussen die huisies is rof, maar Maps.me sê goed so, ons is op die regte pad, hou so aan, ons is amper daar. En sy gee die pas.

Ons is deur die gehuggie dieper die binneland in. Die paaie lyk of hulle gestap en nie gery moet word nie. Daardie soort slegte pad wat die malles wat paadjies vir bergfietsry kies opgewonde sou maak.

Maar Maps.me is gelukkig, al weet sy ons het ‘n pad vir ‘n kar en nie die voete nie gekies. Op stadiums het ek die slote wat vorige motors se wiele gelaat het so bekyk. En gevrees ons gaan daar vassit. In die lug asof iemand die onderstel wil ondersoek. Soos uile op ‘n kluit.

Maar die Amarok is in haar element. Hy het ons genadiglik elke keer daardeur gevat. Sonder om sy boude te swaai of van die pad af te gly.

Ons het nog so op die slegte grondpad gery, toe Maps.me vir ons sê ons moet draai. Na my kant toe. Daar was geen pad nie, net ‘n deel lang gras tussen ‘n laning struike aan weerskante. Ons hou verby, sy moet verkeerd wees en maar reroute. Sy is steeks, ons moet u-draai maak, daai is die pad. Ek raas toe manlief omdraai. Ons is op ‘n relatiewe goeie pad, ons moet net aanhou, sy moet maar ‘n nuwe paadjie vind. Beter nog, ons moet terug na die hoofpad, Maputo is net 48 km ver.

Maar ons het geen opvangs nie. En Maps.me weet waar ons is. Ons is in die boendoes en ons gaan op haar moet staatmaak. Volgens haar is sy mooi op pad na ons bestemming toe. Toe ons op die stuk gras draai, krap die takke van die laning struike aan die kant diep strepe oor die Amarok en haar bakkie.

Ons is deur verskeie klein gehugggies. Huisies langs die pad. Sink of modderhuisies. Geen motors is by ons verby nie, wel enkele donkiekarretjies. En mense op fietse.

Almal wat ons langs die pad sien, is verder te voet. Kyk ons verstom aan met die groot motor op die paadjies. Op stadiums vat Maps.me ons op effens beter tweebeenspore.

En my hart pomp in my keel elke keer as ons om ‘n draai kom en ‘n vrou of man staan langs die pad met ‘n panga in die hand.

Wat hulle daarmee doen en waarom hulle daar staan, weet ek nie. Wat ek wel weet is dat ek nie daar ‘n probleem met die kar wil kry nie. Ek bid dat ons veilig moet gaan. Deur hierdie wildernis wat eens op ‘n tyd boere se plase was.

Ons ry soms dig by die murasies van lank gelede se mooi plaashuise verby. Vervalle. Die natuur het oorgevat en bome groei sommer so deur die dakke van sommige van die plekke. En dit is duidelik dat min karre voor ons op die Maps.me paadjies was. Maar, jy het reg geraai, Maps.me is in haar noppies. Sy vat ons kortpad na ons paradys vakansieplekkie toe.

Ewe skielik is die bome se takke in mekaar verweef. In ‘n dip in die pad. Ek skree stop, daai bome maak geen plek vir ‘n kar nie. Ons kan nie sien wat aan die ander kant staan en wag nie. Maar manlief is op ‘n missie. En ons is met die geluid van takke wat krap deur die hindernis. En die “pad” daarna lyk of dit nog nooit gery is nie.

Ek het reeds ‘n liefdesverhouding met die kante van die Amarok se sitplek gebou. En laat amper nooit los nie. Ons skommel en skud en stamp en stoot oor die graspolle wat, as daar ooit paaie was, lankal oorgeneem het.

En ek is nou spyt dat ek nooit laat los het nie. Want ek het amper niks foto’s geneem van die wildernis waarin ons gery het nie. Maar Maps.me was gelukkig, sy weet waar ons is en ons word steeds na ons paradys toe gelei.

Op ‘n stadium moet ons skerp links om ‘n boom draai. En hoor ons die siek geluid van iets wat getref is, dalk die band?

Ek bid harder, asseblief nie ‘n band nie. Ons is in die wildernis, kan nie sien wat om ons aangaan nie, aan die genade van Maps.me uitgelewer. Hoe gaan ons dit hier omruil? Hier loop mense met pangas rond. Van karre weet hulle niks.

Manlief klim uit, loop om, sien niks. Alle bande is heel, maar ek glo hom nie. Daai slag was erg en ek probeer uitklim.

My deur weier om bes te gee. Vra manlief om te kyk. En die pyn op sy gesig vertel my ek het nou genoeg geraas en geblaas omdat hy nie wil omdraai nie. Die kar het seer gekry. En erg.

Ons het ‘n afgekapte boom in die pad getref. Nie kort genoeg afgekap nie.

My deur het ‘n geweldige duik gekry. Reg op die skarniere. Ek kan nie daar uit nie en die modderskerm krap teen die wiel.

Hy kry die regte gereedskap in sy kissie en buig die modderskerm weg van die wiel. Sodat ons kan ry. In stilte.

‘n Rukkie daarna word die gehuggies groter, kry ons al hoe meer tekens van beskawing langs die pad. En ry ons die grootpad na die noorde raak. Digby Maputo. Ons het ure in die wildernis aan ‘n uitgerekte 50 km gery, ons was by Maputo toe Maps.me beter geweet het!

Ons sou voor middagete by ons bestemming gewees het. Ons met skemer van die grootpad afgedraai.

Moeg, dankbaar. Maar ons vakansieplekkie is aan die einde van ‘n baie slegte pad deur nog ‘n wildernis!

Toe ons stop, weet ons dat dit die ontberinge werd was. Ek sal nog van hierdie stukkie hemel vertel.

Vir nou dink ek die foto maak jou lus genoeg om Maps.me uit te toets. Om daar te kan kom. Die plek doen sy naam gestand.

Ek raai egter Google Maps en Apple Maps aan. Vat die groot pad tot daar!

Die aand in die bed van ons paradysplekkie waag ek om die dag te bespreek. En te sê dat ek baie bang was ons gaan in ‘n heks se pot ingelei word. Soos Hansie en Grietjie.

Manlief sê hy was ook bang. Maar om ‘n baie ander rede. Hy was bang ons gaan opgeblaas word. Deur ‘n vergete landmyn. Na jarelange burgeroorlog. En ek weet, die Here beantwoord gebede. Ons is veilig deur daardie wildernis.

Ek is dankbaar dat die malles wat Maps.me se kaarte uitkies wel seker maak dat die kaarte mens na ‘n bestemming lei. Al gebruik hulle kaarte wat dateer uit ‘n era toe daar wel paaie en plaaspaaie was.

Toe ons hier in Rusland van Almaty na Ust wou ry, stel die tolk wat saam met ons is, Maps.me voor. Ek en manlief het vir mekaar gekyk, maar dit was nie nodig om te verduidelik nie. Dusty is Russies, sy het ‘n ingeboude GPS en ons gaan op haar staatmaak om ons in Ust te kry. Ons gaan beslis nie meer as die 1000 km ry wat ons moes ry om by Ust uit te kom nie. Sy kan tot Engels praat!

Noudat ek daaraan dink, ons het nie ‘n tolk of GPS in ons Amarok gehad nie. Wonder wat ons sou doen as ons ‘n probleem kry, te groot om aan te gaan. Want die inwoners van Mosambiek is ook onverstaanbaar. Hulle praat Portegees!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “Maps.me is ‘n riller in Mosambiek

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.