Ek, wat nie daarvan gehou het om Afrikaans te leer nie, het, vir my straf, bykans my hele onderwysloopbaan Afrikaans as vak aangebied. Eerste Taal, Tweede Taal, na 1994 bekend as Huistaal en Eerste Addisionele Taal. En Immigrant-Afrikaans.
In my tyd het immigrante drie jaar grasie gekry, dan moes hulle die vak deurkom. Groot druk op taalonderwysers. Besef nou eers hoe groot noudat ek Russies probeer leer praat.
Daarom dink ek dat ek raad kan gee.
Ek wonder soms of ouers en die gemeenskap besef watter geweldige verantwoordelikheid op die skouers van ‘n taalonderwyser rus?
Alhoewel almal vinnig en maklik erken dat hulle nie vir ‘n taal aangelê is nie, kan slegs Wiskunde-onderwysers dié verskoning gebruik om druipelinge en hul ouers te oortuig dat die kind wiskunde moet los. Om hulle slaagsyfers te verbeter. Ons kan nie.
Druip wiskundeleerders, druip hulle slegs ‘n vak. Druip ons leerders, word hulle teruggehou om die graad te herhaal. Asof taal met ouderdom verbeter.
Ek sal nie sê dat ek ‘n goeie vakonderwyser was nie, maar ek kan my wel daarop roem dat geen kind sy graad gedop het omdat hy of sy Afrikaans gedop het nie. As hy of sy my vak gedruip het, het hy of sy ander vakke ook in so ‘n mate gedruip dat daar geen manier was om die kind deur te kry nie.
Om dit reg te kry, moet mens hare op jou tande hê. En Job se geduld. En raad gee om leerders te laat verstaan dat hulle hulself kan help. As hulle net ‘n paar basiese reëls volg.
Die eerste reël is om aandag aan skryfwerk te gee. Daardie derde vraestel wat afgerammel word, kan die keerpunt wees. Die verskil tussen deur en dop.
Leerders hoef nie ‘n Langenhoven of ‘n Steve Hofmeyr te wees wat met woorde kan toor nie. Kyk maar na my eie joernaalinskrywings. Dit is veel belangriker om woorde te gebruik wat almal verstaan. En om reg te spel.
Ek is nie seker watter persentasie van die totale punt tans aan skryfwerk toegewys word nie. Toe ek skoolgehou het, was dit 100 van 300 punte. Dus kon skryfwerk leerders deurtrek as hulle aandag daaraan gee.
Dit is ook ‘n vaardigheid wat in die beroepswêreld noodsaaklik is, dus een wat die moeite werd is om te ontwikkel.
Die tweede reël is om leerders, wat die gevaar staan om te druip te lei om nie tyd met die aanleer van idiome te mors nie. Natuurlik verbeter idiome skryfwerk, daarom het ek hulle eerder gevra om een of twee te leer wat hulle wel in ‘n opstel kon gebruik. Maar eers as hulle hulle voorgeskrewe werke en taalreëls geken het.
Die derde reël was om hulle taalreëls te ken. Ek kan nie verstaan waarom die fokus tans so op kommunikatiewe taal is nie. As die kind nie die basiese spelreëls ken nie, help dit veel om die regte woord in die oop spasies in te vul. Verkeerd gespel bly verkeerd. Al ken jy die regte woord.
Waarom lyste woorde aanleer as jy enige woord kan spel as jy die basiese reëls en die uitsonderings kan ken.
Byvoorbeeld ver en skêr. Leerders wil ‘n kappie op ver sit omdat skêr ‘n kappie het. Ek leer hulle ons Afrikaanssprekendes mors nie tyd met onnodighede nie. Ver kan nie verkeerd uitgespreek word nie omdar die r jou dwing om die e as ‘n ê uit te spreek. Dus geen kappie nie.
Alhoewel dit waar is vir skêr, kan die meervoud van skêr as skere uitgespreek word. Daarom is skêr ‘n uitsondering op die reël.
Wat briewe betref, moet die adres reg geskryf word. En daar het ek vir hulle geleer dat ons nie soos die Engelse mense se tyd mors nie. Soek eers die straat en dan die nommer. Dus Kerkstraat 10. Die Engelse, het ek vir hulle gesê, mors tyd. Soek die nommer en kom dan agter hulle is in die verkeerde straat as hulle die huis kry.
Het sommiges vies gemaak oor die gespottery oor Afrikaans en Engels, maar hulle adresse was reg.
Ek het ook met Ek en jy en my en You and I gespot. Vir hulle gesê ons Afrikaanses maak nie of ons ander se belange bo ons eie stel as ons praat nie, begin by ek en dan volg die res. Sommige het vies geword, ander het gesê Sies juffrou maar in die briewe en opstelle is ek en jy reg gebruik. I rest my case as iemand wat hier lees ook wil vies word.
‘n Juffou moet doen wat sy moet doen om belangrike konsepte in ‘n potensiële druipeling se kop te laat vassteek.
Daar is natuurlik woorde waarvan die spelling onseker is. Soos seil. Is dit nou ‘n y of ‘n ei?
Daar het ek my druipelinge geleer om ‘n sinoniem te soek. Of te beskryf sonder om die woord te spel. Of ‘n ander woord te soek.
Ek weet mos nie wat hulle wou skryf nie en ek gee nie om of dit die waarheid of ‘n denkbeeldige storie is nie. Spel net reg om punte te verdien. Hou by die onderwerp. En gebruik kort sinne.
Die oomblik wat leerders saamgestelde sinne gebruik, skep hulle vir hulself probleme met woordorde. En om die boodskap oor te dra.
Probleme wat ek vind wanneer ek akademiese artikels geskryf deur akademici lees om vir publikasie te keur.
Skrywers is so geneig om paragraaflange sinne te gebruik. En dan verloor hulle die leser se aandag. Sodat die leser moet teruggaan om weer te lees. En dikwels weer.
In kort sinne kan elke belangrike konsep beklemtoon word. Om maksimale lesergenot te bied.
As ek eers moet teruggaan om weer te lees, verloor ek die goue draad. En moet ek soms ver teruggaan om dit weer op te tel.
Ek weet ek skryf ook soms lang sinne. Dit is maar deel van die mens. Want ons praat in sulke lang sinne. Dalk is dit die rede vir misverstande?
Op die foto is twee van my Miniatuur Schnauzerkinders wat vir my wag om terug te kom. Intussen kuier hulle by Seth, wat Sobek (agter) se boet en Shilo (voor) se halfboet is. Hierdie drie S’e se mamma, BB, wou nie vir die foto poseer nie.
Baie interessant. Ek stem saam. Veral oor aanleer van skryfvaardigheid. Dit is ook die verskil tussen onderskeiding of nie. Sooo bly jy praat oor die lang sinne!!!
LikeLike
Bly jy stem saam.
LikeLike
Oooo ek lief jou Schnausies! Trompie stuur groete. Ek kan saam met jou praat as dit by taalgebruik kom. Ek het op n stadium van my skoolhou tyd Engels as tweede taal std 6-8 aangebied. Dit nog vir die swakker kinders ook. Ons het baie geleer deur te speel en te herhaal. Dis waar wat jy se van die slaag. Dis nie net n vak wat geslaag word nie dis n hele jaar want as die Afrikaans gedruip word druip die persoon geheel en al.
LikeLike
Groot stres vir taalonderwysers.
LikeLike
Beslis en dan het jy die klasse nog elke dag en selfs dubbele periodes. Selfs die nasien is meer as ander vakke. Elke geval is dit n vak wat baie bevrediging gee om te onderrig.
LikeLike
Ek stem saam, ons leer die kinders baie goed ken!
LikeLike
Die kinders leer jou ook ken en weet later wat jy van hul verwag en hul doen dan hul bes.
LikeLike
Ek stem saam, Scrapy, ek sou niks anders as onnie wou wees nie.
LikeLike
Ongelukkig wou ek nooit n onderwyser wees nie maar na 40 jaar se skoolhou het ek geleer om die werk lief te kry omdat dit beslis baie uitdagings bied en ook baie bevredigend is om sukses te behaal met veral die minder slim kinders.
LikeLike
Ek wou weer, toe maak ongeskikte ouers en kinders my so moeg dat ek net loop. Om nie weer terug te gaan nie.
LikeLike
Ai, dis nie lekker nie. Ek ken van daardie ouers en kinders. Ek het op n stadium n hoof gehad wat my net verkeineer het en ek was bly toe ek weg getrek het. Dis vandag amper tienkeer egter. Baie bly dat ek nie meer skoolhou nie, tog is ek steeds lief vir die kinders en hul doen en late.
LikeLike
Selfde hier. Ons hoof was van sarkasme aanmekaar gesit.
LikeLike
Die ou was waarnemende hoof en het nooit hoof geword nie net omdat hy nie hoof eienskappe gehad het nie. Die lekkerste was dat my volgende hoof nie baie ouer as ek was nie en ons meer geesgenote was. Ek het lekker saam met hom gewerk.
LikeLike
Ek is bly om dit te hoor
LikeLiked by 1 person
Dankie, hulle sal van Trompie hou. Lief die Schnauzers van my. Ook dankbaar dat hulle sonder my aanpas en hulle nie doodtreur nie. Ek doen. Treur oor hulle. Kyk jaloers vir mense met hulle woewe by hulle, maar dit sal vreeslik wees om hulle in die weer te laat kom woon. En dan weer terug te gaan
LikeLike
Goed om te hoor dat hul gelukkig is by ander mense. Ek doen “house sitting” en baie diere verlang maar na hul mense. Gelukkig het ek Trompie hier gekoop en hy is gewoond aan die klimaat. My laaste Schnauzer in SA was al 16 jaar en sou dit nie oorleef het om hierheen te kom nie en dan is dit nog baie duur gewees om dit te doen. Het haar toe moes uitsit omdat sy al half doof en blind was. My hart is steeds seer maar dit was die beste uitweg.
LikeLike
Gits, ek wil nie daaraan dink dat BB so oud sieklik sal wees nie, gelukkig sal ek dan by haar kan wees.
LikeLiked by 1 person
dankie
LikeLiked by 1 person