Nou die dag stap ons in Arzan, ‘n supermark wat met Suid-Afrika se Metro vergelyk, om kos te koop. In Öskemen.
Ek stop, soos ek gereeld in die winter gemaak het, by die rak vol wintersokkies en manlief sien sommer dadelik rooi. Kom, roep hy ongeduldig, jy het genoeg kouse. En ek staan verontwaardig.
Regtig, ek koop nie so baie kouse nie? Wat is sy probleem as ek na sokkies kyk?
Eers toe ek my kouse, wat in Öskemen in verskeie laai gepak was, hier in ons huis in Almaty in een laai wil sit, kom ek agter presies hoeveel winterskouse ek het. Broekiekouse uitgesluit. Somerkousies ook.
Dit wou nie in een laai pas nie. Al skei ek my fyn somersokkies in ‘n ander laai. Ons loop mos op kouse in ons huise rond. Ons gaste ook …
Gelukkig het manlief ons laaikas vir sokkies uitmekaar gehaal om makliker hierheen te trek. En vir my opgeslaan. Die onderste laai van die laaikassie is twee keer so diep soos die laaie van die laaikas van die woonstel. En my kouse maak die laai vol.
Vanoggend besluit ek om tel en kom ek agter dat ek inderdaad baie sokkies het. ‘n Hele 33 paar, ek kan nie nog koop nie, dit is inderdaad belaglik. Of is dit?
Nou moet ek eers verduidelik waarom ek hier in Qazaqstan altyd by sokkies stil gaan staan. En soek. Die “warm” kouse wat ek in Suid-Afrika gekoop het (eerste foto onder) help niks.

Ek het my doodgesoek na kouse wat my voete warm hou. Wanneer die temperatuur na -38 daal. Die tweede paar is by Sportmaster gekoop wat mos skoene vir wintersport in die sneeu verkoop. Ek meen, dit moet seker warm wees? Toe nie. En hulle het ‘n wollerige effek binne. Die grys en groen paar ook daar gekoop. Lekker duur, glad nie warm nie.
Die derde paar bo is by by stalletjies buite Fresh Market gekoop, kom van Mongolië, hulle moet warm wees? Toe nie.
Die pienk en rooi kouse is warm, vertel later in die artikel daarvan.
Sodra ek die eerste paar treë buite gee, begin my tone kla. En dan het ek hulle beweeg om te keer dat die bloed nie vasvries nie. Dit het nie gehelp nie, selfs nie eens in skoene waarop staan dat dit vir -30C temperature gemaak is nie.
Dan is ons twee maar weer terug winkels toe. Het ek vir die vrouens verduidelik my voete verkluim, ek het warm kouse nodig. Een het twee paar lang kouse aan my verkoop, trek tot hoog bo die knie op. Help niks. En die deel van die been sonder kous vries. Vinnig.
Terug by die huis het ek getoets, net om te voel dat geen sokkies help nie. My tone vries, soms vat dit net bietjie langer, maar as ek weer voel, pyn my groot tone. Hulle is bevrore. En is steeds sommige dae ongemaklik seer. Al is dit baie warmer.
Toe vra ek ‘n Russiese meisie wat van een van my plasings op Instagram gehou het. Hoe maak julle om julle voete warm te hou. Sy sê toe ek moet egte wol kouse gaan koop. Op die mark. En nou kry ek dit nie. Het seker iewers bo in’n kas gepak, lyk soos kersfeeskouse vir persente.
So is ek mark toe en koop ek hierdie paar, wat in geen skoen van my wil pas nie. Toets dit sommer so op die oop stoep en ek weet, dit gaan nie werk nie. Die tannie het dalk nie regte wol gebruik nie? Die wind waai deur die gaatjies en vries my voete.
Intussen het ek twee pare kouse gelyk probeer en ‘n flop gevind. My voete het gesweet en die sweet het teen my tone vasgevries. Ek moes dadelik van een paar ontslae raak en my voete probeer droog kry.
Toe ontdek ek kouse in Arzan. Dun, maar dit sê 85% tot 100% wol. Sommiges self Merino-wol, kan jy glo? Dit is nou die rooies en die pienkes in die vorige foto. Ek het verskeie kleure van die twee soorte gekoop.
Die wat Cashmere of sybokhaar in gehad het, is nie warm nie. Maar die wat ‘n hoë persentasie wol ingehad het, is wel warm. Die kouse moet klein persentasie rek inhē om voete warm te hou.
Daarna kon ek in vrede buite loop. My tone het die meeste van die tyd warm gebly. Die rooi en pienk pare. En toe maar, dit is onder stewels versteek – verspotte kleure en prentjies en ek is mal daaroor.
Dan het ek ook verskeie pare dik sykouse. Dit is nou wel nie van sy gemaak nie, maar ek gaan nie die algemene naam daarvoor gebruik nie, dit klink so onopgevoed in geselskap. Dit is soos sykouse, net van ander materiaal gemaak en sommiges kan baie warm wees.
Die dikte van almal verskil. Mens kan nou nie mooi op die onderstaande foto sien nie, maar party rek meer as ander en party het wollerigheid aan die binnekant. Ek het nie die met kameelhaar gekoop om te probeer nie, het eerder na dik langbroeke oorgeslaan wat aan die binnekant wol het. Sonder sykouse, want dit is ‘n onding saam met ‘n paar sokkies in ‘n skoen. Dit sweet! En ek het klaar van die gevare van sweet vertel.

Glo my, nie een is dik genoeg as dit -38 grade Celsius is nie, maar die meisies stap selfs met sykouse rond as ek verkluim. Dus moet ek eerder skryf vir my dik genoeg nie.
As dit baie koud is, sit ons ‘n sool van kokosneut hare in ons skoene. Dit help, want sole word so koud dat mens dit voel as jy aan jou skoene vat.

Die blink soort wat in sportwinkels verkoop word, help nie veel nie. Op die laaste foto is plakkers wat mens aan die onderkant van jou sole plak, dan word dit warm en hou jou voete warm. My vriendin het vir my dié stel gekoop. En jou voete word voelbaar warm as jy dit plak. Amper soos daardie goed wat mens in SA kan koop om gifstowwe onder by jou voete uit te trek. Ek wonder nog altyd of dit regtig werk?
Dit was ook noodsaaklik om met stewels te eksperimenteer. Die stewels is mos binne met pels of wol gevoer. Leer help net tot op ‘n punt, dan werk dit nie meer nie. Word self aan die buitekant baie koud.
Die vierde paar stewels het gewerk. Lyk soos materiaal of seil of iets. Lekker warm saam met wolsokkies. Dan het ek nog reënstewels ook – ook met wol gevoer om warm te wees. Vir die tyd wat dei sneeu so smelt dat mens in water loop.
Wens ek het die alles geweet toe ek hierheen gekom het. Nou sit ek met 32 paar sokkies in my laai. Gelukkig sal baie warm genoeg wees vir Suid-Afrika.
En dan moet ek erken dat ek tien paar handskoene het.
Hulle sê koop wol, die koue klim deur elke gaatjie om my vingers te vries. Sedert ek ligte vriesbrand opgedoen het.

Wie sou dink ek sou koop met klossies op die hand? Die blou paar het ek saam met my medisyne gekry. Help niks …
Hulle sê koop die aaneen soort, dan hou vingers mekaar warm. Ek het wol gekoop, gestop en van materiaal. My vingers ken nog nie daardie kulkunsie nie. Ek het gevra, gekoop en net een paar werk op die ou einde as dit baie, baie laag subzero is.

Hulle sê koop leer (groot foto), maar my vingers kry deur die leer koud, die leer vries ook. Die enigste paar wat darem help, is die middelste paar in die regterkantste kolom. aas ek dun fietsry handskoene onderaan trek, wat ek in Suid-Afrika gaan koop het.
Dus sit ek met laai vol handskoene. Maar, soos ek verstaan, gaan hulle hier in Almaty goed werk. Dit word nie so koud soos in Ust nie.
Hmmm, die prentjies help ook nie … voel net mooi.
Nou is ek baie lus om ook sokkies te loop soek, Christa. Jy vertel so interessant.
LikeLike
Dankie Una, ons het gesukkel hoor, dus is ek dankbaar die vertelling klink interessant. Genoeg wol en dan is die kouse warm.
LikeLike
Daar is niks si goed as egte wolsokkies nie. Joy voete kry ook nie si maklik n geurtjie nie. En in die huis: egte skaapwolpantoffels, gedra sonder sokkies sodat die wol knus teen jou vel raak- en hulle sal na n jaar of meer se elke dag dra, steeds nie na ou voete ruik nie. En heerlik warm
LikeLike
Dankie Seegogga, ek stem saam, wol is fantasties. Om wolsokkies te kry, is egter ‘n ander saak. Ek sal bietjie onthou van sonder sokkies dra.
LikeLike
Ner met egte skaapwolsokkies
LikeLike
En dit is ‘n gesoek hoor.
LikeLike
Ek bedoel eintlik skaapwol pantoffels. As julle nie het nie, moet julle kry as julle in SA is
LikeLike
Sal bietjie so maak. Hier is, maar die wol is krapperig
LikeLike
Waar in Suid-Afrika kan mens koop? My suster sukkel om te kry. Ek weet nou waarvoor om te soek, ‘n warm sokkie is nie ‘n warm sokkie as dit nie wol inhet nie. En baie n. Het jy dalk voorbeelde asseblief Seegogga?
LikeLike
JCB leathers. Ongelukk8g is hulle nou baie agter met bestellings agv lockdown. Hullr het verskillende soorte. Heel leer, die wat uit stukkies gelas is, sonder rubber sole, met rubber sole, boots, en somer insteek pantoffels. Ek verkoop hulle heel leer met rubber sole want dit kan jy buite ook dra.( net nie as dit nat is nie!) Lw hulle rek baie. Koop dieselfde nr as wat jy normaalweg dra. As jy bv halfpad tussen n 5 en 6 is, koop 5. Hy sal rek om te pas as hy dalk te styf voel.
LikeLike
Dankie vir die goeie raad, Seegogga.
LikeLike
JCB LEATHERS IN PRETORIA. Ek sal later nig inligting gee
LikeLike
Ek sal kyk of my kinders daar kan regkom. Die in Dischem is nie warm nie.
LikeLike
Koop die nr wat jy gewoonlik dra, ee4der effensxte knap as te groot. Hulle rwk volgens joy voet.
LikeLike
Dankie, ek gaan so maak.
LikeLike
Dit klink na ‘n bloedige koue affêre. Die mense wat daar woon, is heelwaarskynlik lankal gewoond aan die koue temperature en sal nie soveel sukkel soos die “uitlanders” nie. Dis soos wanneer ek vreeslik verbaas verneem dat sommige mense dink die Suidkus is te warm in die somer 😀
LikeLike
Lol, daai is waar. Maar gits, die seesand kan voete se sagte sole en binnekante byt in die somer.
LikeLiked by 1 person
Een woord – plakkies!
LikeLike
Inderdaad. Of seer gevoelige voete.
LikeLiked by 1 person