Gepubliseer in Joernaal

Akademiese skryfkonsultant

So rukkie gelede land ‘n e-pos in my e-posbus, stel ek nie belang om akademiese skryfkonsultant te wees nie? Ek antwoord met dat ek inderdaad sou belangstel, maar baie ver van die betrokke universiteit af woon, dus kan ek nie aansoek doen nie.

Heel gou kom die antwoord terug, hulle stel belang om beide aanlyn en aangesig-tot-aangesig konsultante aan te stel. Hulle studente is oor die land en eintlik aardbol versprei. Ek moet my CV stuur.

Dit het ek gedoen. En toe ek weer sien, wag ‘n e-pos vir my. Ek is aangestel, ek moet die nodige vorms invul en aanstuur. Met die getrekkery is my PhD-sertifikaat (hoogste kwalifikasie) in ‘n boks versteek. Alhoewel dit my beste kwalifikasie is, het ek dit sowaar nog nooit laat raam nie …

Ek moes vinniger uitpak en soek en uiteindelik kon ek ‘n afskrif van die sertifikaat maak en die vorms instuur. ‘n Dag of drie laat, maar ek het hulle darem op hoogte gehou.

En so sien ek uit na die nuwe werk wat my gaan besig hou. Nie te veel nie, ek dink ek mag maar iets soos 10 ure per week werk, dus 40 per maand. Die inkomste gaan dus maar saai wees, maar die ondervinding heerlik. Sowel as die geleentheid om amptelik te doen wat ek die afgelope paar jaar al gedoen het.

Om studente te help om hulle meesters- en doktorale skryfstukke te verbeter. En natuurlik het ek die groot sprong gewaag en is ek tans die mede-studieleier van ‘n PhD-student. Aangesien ek nie ‘n permanente lid van die personeel van ‘n universteit is nie, kan ek nie die hoofstudieleier wees nie. Maar dit is eintlik goed so, want ek geniet dit om saam met die hoofstudieleier te werk. En ek moet seker eers naam maak?

Ek vertel vir seun dat ek die stoute skoene aangetrek het. En hy vertel vir my dat dit mos presies in ma se kraal is. Dit is wat ma geniet.

En ja, dit is wat ek geniet.

En ek dink ek het genoeg ondervinding om die studente goed te kan begelei. Ek kan foute raaksien, daarom versoek die NRF en verskeie nasionale en internasionale akademiese vaktydskrifte my gereeld om portuurevaluering te doen. Die evaluering van die werke van ander akademici is blind, want ek moet dit doen sonder om te weet wie se werk ek lees. Om objektiwiteit te bevorder.

Wat die NRF betref, is die evaluering nie blind nie. Daar weet ek presies wie se werk ek evalueer. Dit is noodsaaklik, want ek moet die akademici se vorige werke ook bestudeer om ‘n besluit te kan maak. ‘n Moeilike taak, maar ongelooflik opwindend om te weet dat ek help om besluite oor navorsing te maak.

Ek sien uit na die nuwe geleentheid om by die akademie betrokke te wees. En ek hoop werklik dat ek die studente kan help om te verstaan wat van hulle verwag word wanneer hulle ‘n akademiese verslag saamstel.

Ek het nogal die gawe om ander se foute in verslae beter as my eie raak te sien. Toe ek dit nou die dag vir ‘n rekadteur vertel, kry ek die terugvoer dat ek ‘n gesoute navorser is. En dat die instuur van die artikels vir evaluering vir my weer die geleentheid gee om die insae van ander akademici te kry. Gee dus net in, moenie daarop sit nie. En tans sit ek juis op drie artikels …

Wel, daarmee kan ek nie stry nie. Hulle sien altyd iets raak, ‘n plek waar ek te min verduidelik het en my gehoor verloor het omdat ek gedink het hulle weet wat ek weet.

Die hele navorsingskrywery is ‘n proses. Een waarby ek baat terwyl ek skryf, terwyl ander my werk lees en kommentaar lewer. Terwyl ek weer meer leer terwyl ek hulle werk lees om hulle te kan help om hulle skryfwerk te verbeter.

Ek sien werklik baie uit na die nuwe uitdaging.

So skep my rooi jas nog ‘n werksgeleentheid vir my …

***

Rede vir dankbaarheid vandag: Hierdie werk wat in my skoot geval het. Ek sal dit met die nodige liefde en aandag vertroetel. Om manlief ook so bietjie ‘n breekkans te gee. Tans is hy soort van die enigste broodwinner. Ek kry wel goeie geld vir my artikels, maar eers bykans twee jaar nadat dit gepubliseer is …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

30 gedagtes oor “Akademiese skryfkonsultant

    1. Dit is net so, Seegogga, mens kan enige plek werk. Dit is een konsep wat kontakhoëronderwys verstaan. En afstandhoëronderwys glad nie. Ten spyte van die feit dat hulle konsep gebaseer is op die idee dat studente enige tyd en plek kan leer. Gaan my verstand te bowe.

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s