Ek het reeds vertel dat ek weer die wilde perd opgesaal het. ‘n Apple horlosie gekry het. En nou moet ek hom weer verdien. Nou wil ek vertel van snaakse voorvalle terwyl ek so met haar aan die arm stap om punte te verdien.
Het ek al vertel dat ek nie van oefen hou nie. Ek weet my lyf smag op die oomblik daarna, maar oefen en ek was net toe ek baie, baie jonk was soos boude. Nou verpes ek dit.
Nou moet ek oefen. Stap ek elke dag 30 minute om 100 of 200 punte te kry. Dit is so plat by ons dat ek nie my pols eintlik opgejaag kry nie.
Ons huisie in die vorige kompleks was so klein dat ek vier tot ses keer in al die straatjies heen en weer moes stap op by 30 minute uit te kom.
So kom die een ou man die ander dag by sy garage uit en vra vir my:
Wat soek jy?
Glad nie vriendelik nie.
Ek was nogal verras. Het baie antwoorde in my kop gehad, maar geeneen wou by my mond uitkom nie.
Iets soos: Nie vir jou nie.
Maar ek het net geantwoord: Ek stap vir die lekker …
Mens se lewe moet baie eentonig wees as dit die beste manier is om ‘n gesprek te probeer aanknoop.
Oor die kersnaweek is ons na die lisensiekantoor op Bothaville om die gholfkarretjie se sleepwaentjie se lisensie op ons naam oor te plaas. Ek het nog nie vertel dat manlief solank sy gholfkarretjie gekoop het nie, sal later daarvan vertel. Intussen speel ek en kleinseun lekker kar-kar in die motorhuis op die gholfkarretjie.
Iedergeval, ek wag elke keer baie, baie lank in die kar. So twee weke tevore het ek lank gewag en toe besluit om uit die kar te klim en te stap. Al om die lisensiekantoor, op die plekke waar mense vir hulle rybewyse getoets word. Die plek is verlate, behalwe vir die mense wat hulle beurte afwag in ‘n baie dooilike kantoor. In die een hoek van die terrein. Niks gebeur daar vinnig nie. Lyk my niemand gaan vir bestuurderslisensies nie?
So tussen die gestappery deur het ek gesien ‘n groot swart vrou hou my dop, maar my nie aan haar gesteur nie. En net gestap tot die minute amper verby was. Toe kom manlief by die bakkie en hy wil net ry. Hy moes maar geduldig wag dat ek die laaste twee minute klaar stap, my wange pienkrooi van die stap oor middagete.
Vrydagoggend het weer hy te vertelle dat dit gou gaan wees. Toe klim ek uit en begin weer om die gebou stap. Toe ek die tweede keer om is, sit ‘n verkeersman sy motor in trurat en ek draai toe regs om aan die bestuurder se kant verby die motor te stap. Om hulle gebou.
En toe voel ek daardie gevoel dat ek dopgehou word.
Het jy al daardie gevoel gekry dat jy dopgehou word? En gemaak of ‘n klippie in jou skoen is dat jy na agter kan kyk sonder om te lyk soos iemand wat wil vlug? Wel, toe ek omkyk, volg die verkeersman my in sy motor. Op ‘n veilige afstand. Soos in flieks waar die prooi agtervolg word.
En dit was nie aangenaam nie. ek was aan die verlate kant van die terrein, met manlief binne wat nie eens sal weet wat van my geword het nie.
Ek het vinniger gestap, onthou ek oefen. En skerp regs gedraai dat hy my nie meer kan sien nie. Toe ek so ongemerk moontlik regs kyk, kom sy motor se neus om die gebou. Baie stadig. Mag ek maar skryf dat ek groot geskrik het? Voor hy my kon sien, is ek tussen die kantoor se motors in, sonder om te hardloop en reguit na die deur waar manlief binne sit. Hier het ek versterkings nodig.
Ek het vir manlief geglimlag, uitgestap en weer regs gedraai dat ek agter my agtervolger kan kom. Net om te sien hoe hulle by die hek uitry. Wou seker maar net weet wat ek doen?
Toe ek vir die soveelste keer om die gebou stap, kom die vrou van die vorige keer na my toe. Ek stap en groet en sy vra wat maak ek? Dit was na my mening baie duidelik wat ek doen … ek stap? Maar sy vertel toe vir my dat ek nie binne mag stap nie, ek moet dan buite gaan stap.
Ek sê dit is gevaarlik om buite te stap, oorkant is ‘n verlate rugbyveld met sy vervalle pawiljoen en kleedkamers. Lekker hartseer, want ek het in ons jong dae baie daar gesit en kyk hoe manlief rugby speel.
Sy sê toe jy gaan ook nie binne stap nie. En ek het nog vyf minute om te stap, anders moet ek by die huis weer oor begin. Stap gaan ek stap, ek is mos pligsgetrou.
Sommige mense het by die hek gestop en ingestap, ons het binne parkeer. Dit is so 50 meter van die motor tot by die hek. Ek stap toe maar uit, net om na die motors langs my te kyk. Die meeste se ruite is so donker dat ek nie kan sien of daar iemand in is nie, dit gee my koue rillings, dus het ek besluit om weer by die hek in te stap, na die bakkie toe.
Die vroumens staan my en dophou toe ek weer inkom.
Maar ek is ‘n boer.
En ‘n boer maak ‘n plan.
So sluit ek die bakkie oop, haal my foon uit, kyk met groot gebare daarna, sit hom in my sak en stap weer hek toe. Stap uit tot by die eerste motor en stap weer in terug bakkie toe.
Sluit oop, bêre my foon met groot gebare en stap weer terug hek toe en uit tot by die eerste kar.
Terug na die bakkie en haal my koeldrank uit.
Stap met die koeldrank by die hek uit tot by die eerste kar en weer terug.
Bêre die koeldrank en stap weer hek toe. En so aan.
Toe ek weer iets in die bakkie gaan haal, staan sy by ‘n groot verkeerspolisieman. En die twee hou my dop.
Aan sy gesig kon ek op ‘n afstand sien dat hy nie slegte bedoelinge het nie. Toe stap ek na hom toe en verduidelik in Engels dat daar niks is wat hulle het wat ek wil steel nie, ek oefen. En dat ek dit vir die vrou vertel het, maar dat sy lyk my nie verstaan nie …
En my Apple horlosie besluit sy moet my red, net toe ek my arm oplig om die stophorlosie vir hom te wys, met ‘n “Sien?” voeg sy by dat ek die tweede kilometer in 11 minute gestap het.
Die man en vrou het verstom na my arm gekyk, verstaan dat ek oefen.
Hy het gelag en ek het gesê ek is amper klaar. Toe ek by die hek uitstap, draai ek die keer links. Aan die kant van die lisensiekantoor is die begrafplaas.
Kan ek maar vertel dat ek ‘n heilige vrees vir begrafplase het?
Nie dat ek aan spoke glo nie, eerder dat ek tog glo dat die dooies wel steeds daar is. Tot die wederkoms. En ek wil nie daar stap nie.
En toe begroet die grondpad tussen die begrafplaas en die lisensiekantoor my met hierdie prentjie. Ek moes net afneem voor ek terug is om in die bakkie vir manlief te wag … wat steeds nie klaar was nie … My 30 minute klaar gestap.

Dit vang verskillende items vas wat vir my spesiaal is.
‘n Boom met geen blare nie, waarom dit so mooi is, weet ek nie. Want winter in Suid-Afrika is nie noodwendig vir my mooi nie. Dit is somer, en ek hoop werklik nie hierdie pragtige boom is dood nie.
Water op ‘n grondpad. Alhoewel ek nie daardeur wil ry sonder om te weet wat daaronder is nie, is dit vir my baie, baie mooi. Herinner my aan my kinderjare, toe ons gebid het vir reën. My pa was aanvanklik ‘n graanboer, maar het later na beeste oorgeskakel. En as dit klaar gereën het, is ons kaalvoet deur die water. Het selfs modderkoekies gebak.
Weerkaatsings in water, hetsy die silwerskoon water van smeltende sneeu. Of die rooi water as gevolg van die Vrystaatse rooi grond.
En natuurlik mooi grafstene, al wil ek nie tussen hulle gaan deurstap nie. Ek moet nog van Kazakhstan se begrafplase vertel …
***
Rede vir dankbaarheid: Vandag is ek sommer net dankbaar dat ek ‘n horlosie het wat my weer aan die stap kry. Tans doen ek so 10 000 treë per dag baie maklik, want ons bly in die nuwe meenthuis op ‘n landgoed waar ek kan gaan stap sonder om ondervra te word. Hier stap almal …
lekker lag ek vir jou wat so agtervolg word. Hulle het seker vermoed jy is ‘n skelm. of n terroris….
LikeLiked by 1 person
Ek hou van jou ontleding van jou foto 🙂
LikeLiked by 2 people
Dankie, Anne, geweet jy gaan van die foto en ontleding hou, maar is lekker om te hoor.
LikeLike
Ek het nou heerlik gelag vir jou storie … en skaam gekry vir myself wat nie by stap uitkom nie (nie omdat ek nie tyd het nie, maar omdat ek te lui is). Gelukkig kan ek darem langs die meer gaan stap en niemand sal my “skuins” aankyk nie (tog, kyk ek ook maar soms ongemerk om of iemand my volg …)
LikeLiked by 1 person
Ai vriendin, in ons land is dit ongelukkig ‘n moet. Om altyd op jou hoede te wees. In Kazakhstran was dit soveel anders, daar gee niemand om wat jy het nie. En niemand vat jou goed of maak jou seer nie. Maar, teruggaan sal ek nie weer nie, my land het sy staal gewys tydens die pandemie.
LikeLiked by 1 person
Dit is waar … SA het sy tekortkominge, dit weet ons almal. Maar ek sou op geen ander plek op aarde wou wees die afgelope twee jaar nie!
LikeLiked by 1 person
Ek is dankbaar ek is terug
LikeLiked by 1 person
Lekker gelag vir jou stappie heen en weer heke toe. Dit moes seker baie snaaks vir hulle gelyl het! 😀
LikeLiked by 2 people
Ek skat dit het. Ook dat hulle my wou aanspreek, maar geen idee gehad het wat om te praat nie …
LikeLike
😁😊
LikeLike
Volgende keer praat ek Russies …
LikeLike
Ha ha ha🤣😂🤣
LikeLiked by 1 person
Genade! Plaas dat sy ook begin stap het! Die een in die motor wou seker ook sien wat jy doen. Het seker nog nooit in hulle lewe so iets gesien nie. Maar regtig? Mag jy ook nie tussen die hek en die kar loop nie? Hulle is heeltemal simpel. Maar nou ja, …
LikeLiked by 2 people
Heeltemal simpel, veral as mens sien ek stap net, kyk niks, bepaal my aandag by my eie goed. Maar dit was baie, baie snaaks om met haar kop te smokkel.
LikeLiked by 1 person