Ek pas mos my kleinkind twee keer per week op as sy mamma by die werk is. En ek het soveel pret met die kindjie.
So loop ek Woensdag verby Crazy Store in die klein winkelsentrumpie naby my. En sien ek die klein swartbord in die venster, op driebeenbene. Stap in om te koop, oorweeg dan eers weer om al die ander inkopies te doen voor ek die bord koop. Maar die bord spook by juffrou Christa, dit moet gekoop word.
So is ek met stelletjie baie dik bordkryt, en twee pakkies dunnes by die deur uit. Ons gaan teken as hy Donderdag hier aankom.
Hy hou toe van die speelding, nadat ek eers kryt gevat het en gewys het wat ek daarmee maak. Een streep was vir hom genoeg om te weet wat om met die bord en kryt te maak.
Ek het hom ook gewys dat die geskryf kan verdwyn as jy met die swartbordborsel daaroor vee. En toe was ek reeds verras oor waar die kryte oral gebruik is om te skryf.
Die houtrandte van die bord het ook lekker skryfplek gemaak.
Ek los toe die mannetjie om te teken terwyl ek koeldrank gaan haal.
Toe ek terugkom, sit hy op die bank. Voete opgetrek, hy kan nog steeds sy eie tone in sy mond sit! En lekker besig om onder die skoene te teken! Hoe slim is dit nie?

Later, toe ek opruim, sien ek dat hy ook op die rooi kussings geteken het. En dat dit sowaar gewerk het. Maklik kan ek dit afwas, dalk sommer afskud.
Dit is so lekker om te sien hoe kreatief die breintjie is. As dit hier kan teken, kan dit dalk hier en hier en hier ook teken? So toets hy die kryte, maar ook die oppervlaktes waarop hy kan teken.
Ek bid maar dat onderwysers nie hierdie kreatiwiteit sal doodmaak nie. Ek luister soms na onderwysers wat gesels oor opstelonderwerpe en dat die leerders dit “verkeerd” verstaan het en iets anders geskryf het. En ek staan verras daaroor.
Dit kan mos nie wees nie?
‘n Opstelonderwerp is bloot ‘n riglyn vir die kinders wat nie kreatief kan dink nie. Maar dit is ‘n prikkel vir die kreatiewe breine. Dit is hulle wat die onderwerp vat en opbreek en oopbreek en my elke keer meer laat lees het in die onderwerp.
As daar nie spesifiek staan dat dit ‘n beskrywende opstel moet wees nie, kan dit enige soort opstel wees. En dit is presies wat my Picasso daarmee gaan maak. Hy gaan dit interpreteer en oopbreek en sy onderwysers meer laat sien as wat hulle beplan het toe hulle die onderwerp neergepen het. Gaan hulle dit besef?
***
Rede vir dankbaarheid: vandag is dit natuurlik dat ek die voorreg het om twee keer per week na Picasso te kyk. Hy breek die lewe vir my soos ‘n granaat oop. En ek lag oopmond vir sy spesiale persoonlikheid. Hy dink regtig dat hy al 21 is, lank verby 18. My grootmensgeselsskap sowel as die ou babatjie wat ek oppas. Alles in een pakkie.
Het ek ooit soveel gelag vir my eie kinders se kreatiwiteit?
Jy skryf pragtig oor jou ervarings saam met hom, Christa.🌺
LikeLiked by 2 people
Dankie, Una, ek geniet die kindjie verskriklik baie. Ek moet nog vertel dat hy nie so baie van my hou soos ek van hom nie. Hy soek net sy oupa!
LikeLiked by 1 person
Jy kan ook die kryt nat maak om op papier mooi te teken. Jy is een gelukkige Ouma 🙂
LikeLiked by 2 people
Hmm, ek het nie geweet nie, dankie, Anne. Ek gaan dit vanmiddag doen en kyk wat hy daarmee maak.
LikeLiked by 2 people
Ten opsigte van ons kinders moes ons tydjies afknyp en moegheid te bowe kom – nou vergoed ons kindskinders vir daardie moeilike dae.
LikeLiked by 2 people
Ai, Frannie, dit is waar. Ek was doodmoeg na ‘n dag by die skool en moes raas en blaas om hulle betyds in die kar en by hulle skole te kry om by myne uit te kom. Hulle vergoed inderdaad, hoor.
LikeLiked by 2 people
‘n Pragtige herinnering, om te koester.
Ek hoop sy onderwysers het genoeg verstand om die slim kind te herken, eerder as om vasgenael te wees aan die kurrikulum wat ook die antwoorde bepaal.
toe ek in 1959 begin skoolgaan het, kon ek al lees, skryf en somme maak. Daar was ‘n hele paar helder vonke.
Hulle moes vir ons ‘n spesiale klas maak, ons was maar 5 in die 3de jaar.
Ek hoop jou klein Picasso word erken vir sy waarde.
LikeLiked by 2 people
Dankie, Andrew, dit is so mooi herinnering. My pa het oom standerds oorgeslaan, maar ons moes deur elke standerd wroeg.
LikeLiked by 2 people
Hy is so oulik Christa!
LikeLiked by 2 people
Dankie vriendin
LikeLike
Ag, dis mos nou lekker om te sien hoe so ‘n klein mensie ontwikkel … en hoe kreatief hulle kan wees! Ek’s mal daaroor om te sien hoe jy hom besig hou (maar terselfdertyd ook sommer leer so tussen die speel deur).
LikeLiked by 2 people
Dankie, dit is presies wat ek probeer doen. Die juffrou in my is altyd byderhand … ek kan nie help nie.
LikeLiked by 2 people