Hier is my artikel vir die tweede dag van die Wêreld Raad vir Gesondheid se 21 dae van dankbaarheid uitdaging. Ek het reeds meer oor die WRG in ‘n vorige artikel vertel.
Die tweede dag se uitdaging was om te besin oor een vryheid wat ek dikwels as vanselsprekend aanvaar.

Vandag wil ek spesifiek skryf oor die vryheid om kerk toe te gaan.
Ek het reeds in Kazakhstan besef hoe ek dit net as vanselfsprekend aanvaar. Om op ‘n Sondag mooi aan te trek en kerk toe te gaan.
Dit is een ding wat ek sedert my kinderjare doen. Ek trek my mooi klere aan vir kerk toe gaan. Ons gesin van vyf dogters was van die laastes wat deur ‘n pa toegelaat is om Sondag hoedloos in die kerk te sit. Voor dit moes ons elke Sondag ons hoede reg kry vir kerk. Ons het hoede vir die winter en somer gehad. En dit moes my pa ‘n fortuin gekos het. Ses vrouens se hoedens.
In Öskemen was daar kerke, maar die spreektaal was Russies of Kazakh. Ons het dit nooit gewaag om te gaan nie, want hoe gaan ons weet wat daar gepraat word? Dus het ons kerk in die week daarna vir ons opnames van die preke gestuur om na te luister. Ek het al daarvan vertel.
Maar, ek wou dit een keer beleef. En toe word die kerke gesluit voor ek dit kon doen.
So terloops, toe was ek dankbaar oor die inperkings. Die massa-media het ons die skrik op die lyf gejaag met foto’s en video’s van oorsese sterfgevalle tydens die pandemie. Foto’s geplaas van mense wat op straat dood neerval. En ons het 150 km van die grens met Sjina geleef.
Ek was seker een van die bangste mense in Kazakhstan – het in streng afsondering geleef tydens die eerste maande van die pandemie.
Het selfs my vriendin Mia vermy omdat sy die onverantwoordelike gedoen het – sommer elke dag uit haar woonstel gegaan en nie net elke tweede dag nie. Hoe kon sy so onverantwoordelik wees? Sy het twee klein kinders om aan te dink. En toe word ek wakker. Mia kom niks oor nie, ek is ingeperk in ‘n land waar ek reeds vir sewe maande tot my woonstel beperk was weens die ysige koue van ons stad. Minus 38 grade Celsius is nie mens se speelmaatjie nie.
Ek het absoluut gevrees dat ons twee in Kazakhstan gaan sterf, 10 000 km van ons gesinne af. Dat ons lyke sommer daar veras gaan word, iets wat ek nie wil hê nie. Ek wil graag begrawe word. Want daar is ook gewys hoe die potte met mense se as by die krematoria in Wuhan in lang rye staan en wag dat naastes hulle as gaan haal.
Ek het in vrees gelewe want geboue se onderste deure is sommer vasgesweis dat bewoners nie uit kon gaan nie, al was daar ‘n enkele geval. Ons gebou se mense het hulle gedra. Waar hulle voorheen in die hysbak ingeprop het, het hulle jou skielik aangekyk asof jy melaats is en gewag dat jy gaan. Siek kon ek nie durf word nie, want dan word met dalk iewers buite die stad in ‘n tenthospitaal behandel waar ek geen mens sou verstaan nie. Ek het gevrees om siek te word, want ek wou huis toe kom. Daar sou ek van angs en eensaamheid sterf eerder as ‘n siekte
Ek het dit selfs gevrees om wel huis toe te kom, want ons moes op vier lughawens wees om dit reg te kry. Tog was Mia se waagmoed die een ding wat my laat besluit het om my vrees te oorwin en te lewe. Sy het geen ander keuse nie, hoe bly mens die hele dag met twee kleuters in ‘n woonstel?
Ek het ook geweet. Al is ek in Kazakhstan, en kan ek nie kerk toe gaan nie omdat ek nie verstaan nie, is die Here steeds by ons. Hy sal ons wel veilig huis toe bring.
En daardie een enkele sinnetjie het ons tydens die pandemie in ‘n vreemde land staande gehou.
Die Here ken ons harte, Hy ken ons verlange, Hy sal ons veilig huis toe bring.
En Hy het.
Manlief is eers na die maatskappy se hoofkantoor in Almaty getrek, ‘n hele 1 000 km nader aan my kinders, my kerk, my land. Ons was van die eerstes wat uit Öskemen kon vlieg om ‘n woonstel in Almaty te gaan soek.
In Almaty was daar Engelse kerke. Maar daar was steeds inperkings. En die kerke se deure was gesluit. Ons was egter nader aan die huis. In geloof het ons elke twee weke kaartjies na Suid-Afrika bespreek. Maar dit is elke keer namens ons gekanselleer, die grense is steeds gesluit.
En drie maande later is ons kaartjies nie gekanselleer nie, ons het gesien hoe Kazakhstan, die Emirate en Suid-Afrika hulle grense oopmaak dat ons sonder kwarantyn na ons eie huis kon gaan. Net die Here kon weet dat dit die regte tyd was om weer te bespreek. En het ons die skuif gemaak en sommer permanent huis toe gekom.
Ek sien die Here se hand ook in daardie besluit. Dit was nie heeltemal die presiese tyd wat ons beplan het om terug te kom nie, maar Hy is die hele tyd in die beheer van ons lewens. Hy het ons lewens fyn beplan. Gebruik dikwels pionne op die skaakbord om Sy plan sigbaar te maak. En ons dank Hom daarvoor.
Terug in my land het ek die skok van my lewe gekry.
Ons kerke is toe.
Maar niemand kla daaroor nie.
Sondae staan die kerkgeboue leeg, soos ‘n aanklag, maar Sondagaande sit almal voor die TV om te luister na die toespraak van die hoof van ‘n korrupte regering, wat oor alles lieg – behalwe die pandemie. Ek het die man nou maar Saint Cyril gedoop. As hy oor die statistieke praat, kan botter nie in sy mond smelt nie. Daaroor sal hy mos nie lieg nie? Nou wonder mens net, as daar niks is om weg te steek nie, waarom mag navorsers nie meer toegang tot die data oor die spuitnaalde se newe-effekte verkry nie?
Maar ek wil oor kerke praat. Dit is juis deur sy toedoen wat die kerke leeg staan.
Ek het, toe ons in Kaz was, preke van my kerk se dominee gekry. Dit was hemels. Terug by die huis, wou ek egter nie na video-opnames luister nie. Ek wou in die kerk sit. Hoe opgewonde die predikant ook al oor die opnames is, ek is nie. Ek wil in die kerk sit.
Toe die kerke uiteindelik oopmaak, kry ek ‘n verdere skok. Slegs ‘n beperkte hoeveelheid mense mag kerk toe gaan, die res moet by die huis bly. En steeds kla niemand nie, al is hulle elke dag in die winkels, tussen werksmense, in rye om drank te koop, toegang tot die kerke – waar hulle ver van mekaar vir een uur per week gemaskerd sit – mag maar beperk word.
Intussen het ons na Centurion getrek. En hier ‘n gemeente gevind vir die holte van my voet. Ek gaan nie vertel watter een nie, net dat ek vir die eerste keer sedert ons terug is, soos ‘n normale mens voel as ek in die kerk sit om God te aanbid. En nie soos ‘n vuil mens wat soos die pes vermy moet word nie.
Vir die predikante wat Sondae op hulle preekstoele staan en vra waarom hulle kerke so leeg is, wil ek een vraag vra:
Waar was jy toe die regering die kerkdeure toegemaak het?
En dan die volgende vraag: Hoe voel jou gemeentelede in die kerk as die regering hulle wel toelaat om kerk toe te gaan?
Daarmee wil ek dan afsluit. Ek het my hele lewe deur aanvaar dat ek wanneer ek lus is, kerk toe kan gaan. Sommige Sondae wel, ander Sondae nie. Soos ek lus is.
Tans het ek die dringende behoefte om Sondae wel in die kerk te wees. Daar waar ek die Here aanvoel. Tussen ander kerkgangers. Daar waar die Here is – waar twee of meer in my naam vergader. Daar waar my toegang nog nooit beperk was nie …
Miskien omdat ek nou eers besef dat dit ‘n voorreg is wat ek sedert my kinderjare as vanselfsprekend aanvaar het. Noudat “Christelike lande” se regerings kerke erger sluit as wat kommunistiese lande dit doen.
En ek hoor steeds geen haan daarna kraai nie.
Is dit nie juis noodsaaklik dat kerke nou oop is nie? Tydens alle vorige rampe het mense na die kerk gestroom. Was die kerk die een plek waar mense bymekaar sou kom om die Here se hulp te vra. Waar word dit nou gedoen?
En ek kan nie help om te wonder nie:
Waarom sou die Here hom oor ons land ontferm?
Dan weet ek ek ken die antwoord ook.
Die Here het nie menigtes nodig om Sy ding te doen nie. Hy is nie noodwendig waar die massas is nie. Dink ek aan:
Die verhaal van die verlore seun.
Die enkele mense wat uit Sodom en Gomorra kon ontsnap.
Die 300 man van die Gideonsbende wat die oormag kon verslaan …
Daar is tans Gideonsbendes aan die werk.
Daar is hoop.
Die Here is altyd in beheer. Daar is n rede voor hoekom kerkdeure gesluit word. Gelowiges kan steeds met toe kerke die Here dien as hul net wil.
LikeLiked by 2 people
Ek stem saam met jou Ineke! Die Here is altyd in beheer!
LikeLiked by 1 person
Presies wat ek geskryf het, Aletta, die Here is altyd in beheer.
LikeLike
😊🙏
LikeLiked by 1 person
Presies, baie mense wil dit nie “glo” of erken nie. Hul is net armer en rusteloser.
LikeLiked by 1 person
Is waar!
LikeLiked by 1 person
Ek stem weer glad nie saam nie, het aan die begin wel gedimk dit is vir beskerming.
LikeLike
Maar die kerke is leeg, selfs tydens vlak 1 inperkings.
LikeLike
Hang af hoe jy daarna kyk.
LikeLike
Daar is genoeg rede om te glo dat daar nie ‘n rede was nie, Ineke, maar dit kom te stadig uit.
LikeLiked by 1 person