Gepubliseer in Joernaal

Ek sien uit na rus op Rebusfontein

Hierdie inskrywing is anders as my normale inskrywings. Dit vorm deel van die towerinne se verbeeldingstogte na ‘n denkbeeldige dorp in die Karoo, Rebusfontein. Lees dus met ‘n knippie sout.

***

Gisteroggend land Una se boodskap in my posbus. Sy is op ‘n gekleurde bus met ‘n meernindeur. Op pad Rebusfontein toe. En sy wil weet wie kom saam.

‘n Hele paar towerinne voel soos ek, lyk dit my? Want sy het sommer vinnig begin om die bus vol te maak.

Ek het amper nie plek gekry nie, want o wee, ek moes eers van lae klere ontslae raak voor ek kon hardloop.

Eers moes dik handskoene af, kappie van die jas af, gevoerde mussie af en toe die serp.

Daarna moes die dik jas en die onderbaadjie af.

Toe moes die skoene met warm, dik binnekante uit.

Daarna die langbroek en die paar 250 den sykouse uit, daai sykouse sal kraai nie sal laat gaap nie, hulle sal sommer omkap van die hitte!

Toe die kort mohair sokkies wat onder die sykouse was en dan die dun voetsykousies wat onderaan aangetrek is. Alles om my voete warm te hou.

Want sien, dit was gister -18C hier by ons na ‘n dag se sneeu.

Daarna moes die dik t-hempagtige bloes uit. En die onderhemp wat gemaak is om temperatuur te reguleer.

Na alles uit en af is, was ek nogal moeg! Maar byna kaalbas.

Toe moes ek sandale onder in die kas gaan soek, ‘n kort rompie en ‘n koel bloes. ‘n Sonbril om die skerp sonlig af te weer en ‘n hoed. My ma sal trots wees om te hoor dat ek nou hoede dra, die somerson hier bak my vinnig geel.

En toe eers het ek vir die hardloop na die bus kans gesien.

Ai tog, die Suid-Afrikaners weet nie hoeveel ons moet doen voor ons uit kan gaan nie!

***

Terug in die hede.

Mens moet beplan. Deeglik beplan wat jy gaan aantrek en wat nie. Dit moet in lagies op jou lyf gedra word. Dat jy kan afskil soos jy aangaan en warmer kry.

En glo my, jy kan jou maar preuts hou en jou jas probeer aanhou. Dit werk nie.

Sodra jy uit die ysige koue in oorverhitte winkelsentrums instap, begin jy onwillekeurig verklee.

Eerste waai die mussie. Ek het nooit mussies gedra nie, dus het ek ook nie geweet hoe warm dit mens maak nie. Dit moet eerste af.

Dan die handskoene en die serp. Wat veroorsaak dat jy met ‘n handvol goed staan.

Sommige jasse se sakke is diep. Dan kan die handskoene en die mussie daarin gedruk word. Om soos twee balle teen jou bene te druk.

Dan word die jas oopgezip. Dit help, maar nie genoeg nie. En dan waai die jas. En soms die onderbaadjie of ligte truitjie ook.

So stap ons Saterdagaand in Traktier in. Klein restaurantjie, baie lekker atmosfeer. So bietjie Engels op die menu.

Groet die vriende saam met wie ons sou uiteet so van die deur. Maar word in ander rigting beduie, hulle ken mos net Russies en Qazaq in hierdie land.

Wys na vriende en toe besef ons eers. Die jasse en mussies en hoed en handskoene moet ingegee word. Dit is mos weer daardie tyd van die jaar.

Wanneer die restaurante spesiale kamers het waar jy jou jas ingee. En ‘n nommer kry om dit terug te kry wanneer jy wil uit.

***

Gelukkig was ek tuis toe Una se bus die toeter druk. En kon ek vinniger uit en aantrek as in die openbaar.

Vir daai ene sien ek wel kans. As ek oorverhit raak. So het ek in Abu Dhabi in die stap van die swart rok en serp ontslae geraak. As ek nie het nie, sweer ek, sou ek van hitte-uitputting omgekom het.

So Una, ek is op die bus. Ek neem aan hy gaan ‘n paar Kaapse draaie gooi voor ons by ons huisies aankom. Maar dit is ook goed.

Ek het dit nodig.

***

Hier stap ek waar ek wil wees. Blokke ver. Maak my hoslosie maklik haar 10 000 treë per dag.

Nou stap ek net versigtig. Klein tree vir klein tree.

Oë op die grond. Soekend na blink stukkies op die pad, wat as swartys bekend staan. En selfs met die versigtigheid het ek gisteraand so amper op my alie gesit.

Mia het gister geval. En kan nie val nie. Wil nie nou iets skeur of breek nie. Want dit sal my aan die huis kluister.

***

Dus, liewe Una, is ek op die bus. Waarheen ry ons?

Foto: halfses gisteraand op pad na apteek om meds vir my en manlief te koop. Ysig. In hoofletters.