Seun was nog baie klein toe ons een keer op die N1 vanaf Welkom na Johannesburg ry. Om by familie in Pretoria te gaan kuier.
Dit was ‘n wolklose dag. Toe ons naby Sasolburg kom, het die skoorstene van die kragstasie vog uitgepomp, wat in die lug opgesweef het om ‘n wolk van vogtigheid te vorm.

Soortgelyk aan die! Vir ons was dit ‘n algemene gesig.
Vir boeta was dit die wolkmaker.
En vandaar af, is daardie skoorstene ook vir my wolkmakers. Soveel beter om aan te dink as aan besoedeling. En die reuke wat daarmee gepaard gaan.
Vanoggend is ek na sy beskrywing teruggeneem. Toe ek ‘n vreemde verskynsel sien.
In die donker deel van die nag het dit gelyk soos wanneer ‘n veldbrand op ‘n plaas woed. Die wolke wat opgestyg het, was egter spierwit. Soos stoom.
Later die oggend het ek gedink dat dit tog ‘n vuur was. Maar ons sit hoog in die lug. En ek sou dan vlamme of die rooi van vlamme kon sien.

Toe volg ek weer die spoor, al waar die groot Irtyshrivier vloei. En dit is beslis die rivier wat stoom en die stoom styg op om wolke te vorm.

Of dan seker iets soos wolke. Want daar word mos beweer dat die wolke wat mens snags sien, nie wolke is nie. Daar is lig nodig om wolke te kan sien. Beweer hulle.
Hierdie moet wolke wees. Die ysige rivier se water vloei nog, dus is toegesneeude landskap om die rivier baie kouer as die kolom wat vanaf die rivier opstyg.
En die doupunttemperatuur is -22 grade C, selfde as wat temperatuur op die grond is. Daar vorm dus wel druppeltjies.
So redeneer ekke. Wat die verskynsel met my eie oë gadegeslaan het.
In die nag was die stoom en die wolkie-agtigheid spierwit. Ek het ongelukkig nie foto geneem nie. Later, soos die son opgekom het, het dit swart gelyk, soos op die foto’s.
Onse Irtysh is dus ook ‘n wolkmaker, een wat nie met besoedeling verbind word nie, dit is regte, ysige, silwerskoon rivierwater wat verdamp!
Na gister se sneeu is vandag ysig koud.

En ek het op my FB geskryf dat ek nie uitgaan nie. Maar manlief is oortuigend. En ons is winkel toe toe dit -16’grade C was. Op pad winkels toe, sien ek toe hierdie wolkmaker van ons.

En ek moet sê dat mens nogal in ‘n land soos Amerika jou poegaai sal skrik as jy dit sien. Want dit lyk kompleet soos ‘n tornado.
Maar ook soos ‘n draairoomys. Maak mens glad nie lus vir een in hierdie koue nie.
Ons weet egter: Was dit nie vir daardie pype wat vrot gasse die lug instuur nie, sou ons van die koue verkluim het. In ysige woonstelle. As daar nie warmwaterverwarmers was nie.
Fotokrediet: eerste foto: Vaalweekblad.com
Ander foto’s; my eie werk
Netso… mense praat maklik oor steenkool, maar dis tans die betroubaarste en goedkoopste vorm van elektrisiteit. Die besoedeling is erg, maar met verbeterde tegnologie kan dit ook verminder word.
LikeLike
Ek verstaan dit kan baie verbeter word. En goedkoop ook. In ons land is nie verl ander keuses nie.
LikeLiked by 1 person
-22, eina pyn, Christa. Ek stem ook saam, dankie tog vir steenkool.
LikeLike
Daar sal ons dooi in ons huise sonder die wolkmakers. Dankie Una
LikeLike