Gepubliseer in Joernaal

Kleinkindpret: Poef ‘n planeet …

So rukkie terug vertel skoondogter my van ‘n boek wat kleinseun persent gekry het. En wat hulle saans vir hom lees. Die titel was erg vreemd: Dino poef ‘n planeet!

Voor ek ons storie vertel, wil ek net eers die beskrywing van die boek gee. Die boek is deur twee mans geskryf, Tom Fletcher en Dougie Poynter.

As ek die boek op ‘n rak gesien het, sou ek dit nie gekoop het nie. Voel darem alte vulgêr vir ‘n kinderboek? Dit word as volg beskryf …

Dirkman en Dino besluit om die museum te besoek, maar hulle druk op al die verkeerde knoppies. Toe hulle weer sien is hulle op pad na die ruimte, maar hulle het hulle padkos by die huis vergeet. Dino begin alles in sig verslind, selfs hulle vuurpyl. Gelukkig kry Dino ’n poeftastiese plan om hulle weer op die aarde te kry … Hierdie skreeusnaakse prenteboek sal tonne vermaak aan beide grootmense en kinders verskaf!

Mamma het dit vreemd gevind. Ouma beslis. Nou nie juis iets wat ek as geskik vir peuters beskou nie, maar ek het die boek nog nie gelees nie. En pappa en mamma sê dit is snaaks. Dan glo ek hulle, hulle maak seker dat kleinkind baie mooi maniere het.

Kleinseun is nou 28 maande, dus maar skaars oor twee. En hy het laat begin praat, maar toe hy lostrek, besef ons die kind het een geweldige woordeskat. In Afrikaans en Engels!

My eie kinders is op een van die doeke af. Of net na een. Daai tyd het ons doeke gewas tot ons lam was. Ons motors het soos sterinappi gestink en ons het hulle afgehaal toe die Glodina doeke gaar gewas is. Want wit moes dit wees.

Alhoewel kleinseun by my bly, meng ek nie in nie. Wanneer hy moet af, is mamma en pappa se besluit. Hy moet gereed wees daarvoor.

En ek verstaan dit. Weggooidoeke is maklik en motors ruik nie soos sterinappy as mens weggaan vir naweke nie. Badkamers ook nie.

Die besluit is hulle s’n. Nie ouma s’n nie.

Ouma het wel Meimaand ‘n potjie vir die huis gekoop, want een of ander tyd sou kleinseun wys hy is gereed. En dit is die oulikste ding, staan nou ‘n rukkie lank gereed in sy badkamer en wag vir wanneer kleinkind vir die toilet gereed is.

Kyk net hoe oulik.

Kleinseun was hier toe dit afgelaai is. Het dadelik oopgemaak en doek afgetrek en sowaar ‘n piepie gemaak. En ouma het haar boeglam geskrik. Dit gaan lyk of sy ingemeng het. Daarna het hy nie weer daarop gaan sit nie. Maar dit vol speelgoed gepak. Of … in die stort getel om dit te was. Terwyl ons dankbaar is dat iets hom die aand wel oortuig het om te stort.

En toe maak ‘n boek hom gereed vir die toilet. Maar laat ek eers vertel!

En ons het reeds twee stories oor die tema …

Nou die aand staan die mannetjie blykbaar in die bad, buk vorentoe, sê: “Poef ‘n Planeet” en laat een los. Terwyl hy tussen sy beentjies deur staan en kyk. Die planeet mooi teen die rand van die bad vasgeskiet. Of sal mens nou eerder sê die planeet het – soos ‘n ster – verskiet?

Ek dog ek lag my slap toe ek die foto sien.

Vandag kuier seun en kleinseun by ons, mamma is uit vir werk. So is hulle teen baddtyd ook hier.

Ek en pappa gesels terwyl hy bad. En pappa is meer opmerksaam as ouma. Daar is drie klein planeetjies, sulke wurmpies, in die bad.

Pappa verwyder die planete, ouma moet opstaan waar sy op die troon sit en hy wys vir kleinseun dit moet in die toilet wees, nie in die bad nie.

“Wil jy poef?”

“Yes!”

Terloops.

Ek het nog nie vertel kleinseun “Yes” en “No” sy baie Afrikaanse ouma nie. Ek vertel hom so tussenin dat ek nie Engels verstaan nie, leer hom, “Ja, Ouma”. Maar ek moet bieg, die “Yes” is pragtig. Dit word so sag en mooi gesê.

Weg is pappa en gaan haal die groen toilet.

En hy “Yes”, hy wil uit die bad en:

“Yes”, hy wil poef op die toilet.

En daar sit die kaal mannetjie toe en werk aan sy planeet.

Soos in die geval van verskietende sterre is daar eers die waarskuwings dat die planeet wel gaan verskiet.

En dan is hy op en loer in die toilet.

Niks!

Leë beloftes.

Dan oortuig ons hom om weer te sit.

O, ja, en die drie Schnauzers sit baie naby om te kyk wat aangaan …

Hy is weer op en ons sien die planeet is op pad. Dus sit ouma by hom op die grond, hou die beentjies saggies vas en sê die woorde wat ek nie gedink het ek gaan sê nie:

“Poef ‘n planeet.”

En kleinseun verstaan.

Maar, as ek opdragte kan gee, kan hy ook.

“Ouma sit toilet. Piepie!”

Nou ja kyk, ek het al vele kere vertel ek is skaam, maar seun moedig aan, toe ma, sit op die toilet!

Ouma lig die klap, gaan sit met die rompie mooi op sy plek en maak maar of ek wel die opdrag gaan uitvoer.

En wat sê die kleinding?

“Tlek uit bloek, ouma!”

(vir Engelse lesers, hy kan nog nie R sê nie, dus is dit ‘n l. Hy bedoel dus: Trek uit broek, Ouma).

Klein klits!

En daar is ouma in een geweldige dilemma.

Eerstens is daar geen manier waarop ek die opdrag gaan uitvoer nie. As ons twee alleen is, is dit ‘n ander saak. Ek sal dan die opdrag uitvoer. Maar nie voor seun nie. Tweedens is dit pappa se groot oomblik, nie myne nie.

Dus word die opdrag verskuif.

“Pappa, kom sit hier, en dan doen julle twee die ding. Ouma sal die deur toemaak.”

En uit is ouma, maak die deur saggies agter haar toe, weg om die staaltjie aan oupa te gaan oordra.

Heelwat later gaan luister ek.

En ek weet, die twee sit en gesels, elkeen op sy eie troon. Anders was pappa besig om die bevele vir die aantrak van die slaapklere te gee.

Nog later hoor ek mamma se stem toe ek weer gaan luister of hulle al klaar is, baie opgewonde in ‘n video-oproep met pappa.

En nog later kom kleinseun die gang af getrippel.

“Het jy toe ‘n planeet gepoef?”

“Yes!”

En toe word ek aan die hand geneem en badkamer toe gelei. Ek moet gaan kyk.

Pappa het klaar in die groot toilet gegooi, maar die tekens van die verskietende planeet is darem steeds in die klein toiletjie.

Baie trots dat hy ‘n baie groot planeet gepoef het, volgens pappa.

En pappa se hart bars van trots.

Hy het die oomblik self beleef, gaan nog lank daarvan kan vertel.

En ek?

Ek is bly dat ek my huis vir die ou klein seuntjie gereed gemaak het.

My ander drie kleinseuns was maar bang vir die sit op die groot toilet. Ek het nie ‘n potjie gehad nie, hulle het kort by my gekuier. Hierdie ouma het nie toe aan die oplossing gedink nie …

Mamma was tuisbly mamma wat hulle grootgemaak het. Sy het al hierdie oomblikke beleef.

Bt my het hulle op die groot toilet gesit. En ouma moes dan vashou dat hulle nie inval nie. Hierdie geval is anders, kleinseun bly drie dae per week voldag by ouma. My huis is ingerig vir die versorging van die ou kleinkindjie.

Ek neem aan die ding is begin, dat hy gaan aandring om ‘n planeet in die toiletjie te gaan poef.

Tyd sal leer …

Intussen het ek my mening oor die boek, wat ek nog nie gesien of gelees het nie, verander.

Koop dit gerus aan wanneer ‘n ou kleintjie geleer word om die toilet te gebruik.

Ons s’n het presies verstaan toe ouma die rowwe woorde sê.

Die opdrag is uitgevoer.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

18 gedagtes oor “Kleinkindpret: Poef ‘n planeet …

    1. Ek dink ons het maar net meer tyd gehad om dit te kan doen. My kinders het op een al gepraat, en beide is in die somer/herfs gebore. Ek het opgehou skoolhou tot hulle drie was en hulle op drie eers in die kleuterskool gesit – of naby 3. Ek was dus op hulle behoeftes ingestel, het die potjie reggehad en seun buite geleer vir die piepie deel. Hy moes die miertjies nat piepie om die idee te kry oor hoe dit werk en voel.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s