Toortsie, my een blogvriendin, vertel onlangs op haar blog van haar lewe en genot as klavierspeelster. En toe trek heimwee my na my eie kinderdae met ‘n musikale ma.
My ma was ‘n aangenome kind en het nie die voorreg gehad om musieklesse te neem nie. Sy het skool in standerd 6 verlaat, moet net weer by haar gaan seker maak, in Johannesburg by Woolworths gaan werk en op 19 met my pa, ‘n jong boer, getrou.
Ek weet nie hoe sy in musiek beland het nie, gaan dit ook moet uitvind, maar ek weet dat my pa vir haar ‘n windorrel gekoop het.
‘n Mooie instrument, wat met die voet gepomp moes word om note te speel. Ek het my verwonder aan die houtinsette aan die voorkant van die windorrel.
En my ma wat voor daardie instrument kon gaan sit om enige musiekstuk op gehoor te speel, self was sy nie daarvoor opgelei nie.
My pa het op ‘n stadium ‘n trekklavier huis toe gebring en ‘n konsertina. En ‘n mondfluitjie. En my ma het haarself geleer om die instrumente te bespeel. Ook om note te lees.
Ek het altyd gekyk hoe sy beide die instrumente uitrek om langer note te vorm, dink ek. Of is dit nou hoër note? Nee, ek dink tog dit is langer note.
Ek onthou hoe ons saans op die plaas huisgodsdiens gehou het. My pa het uit die Bybel gelees. En my pa het na die tyd vrae gevra om te kyk of ons geluister het.
Dan het ek skoon vergeet om verder te luister, want ek het ‘n sinnetjie in my kop geresiteer. Omdat ek die oudste was, is ek laaste gevra. En dan was daar konsternasie in my hart as een van my vier jonger sussies my sinnetjie resiteer. En ek met leë hande staan.
Gelukkig luister die brein tog onbewustlik na ander klanke ook. En kon ek myself die meeste van die tyd uit die penarie kry.
Ons het na huisgodsdiens en ook kersfees om die orrel gestaan. En gesing. Met ‘n musikale ma en ‘n pa met ‘n goeie stem, het ons sewe beslis ‘n mooi koor gemaak. Al was die ou plaashuis ons enigste gehoor.
My ma en ek en my een sus is op ‘n stadium vir die kerkkoor gekies. Daar het ek geleer om na die note te luister, dit eers te hoor voor ek dit sing, so half net na die noot en nie direk op die noot nie. Dit probeer ek toepas wanneer ons in die kerk sing.
En dan is daar konsternasie in my hart as die orrelis ‘n vals noot druk. Of per ongeluk met die verkeerde stuk begin. Want sien, ek lees die noot en verwag om op die regte hoogte in te val. En dan slaat die verkeerde noot jou voete onder jou uit. Hoor en sien het nie pasmaats geword nie.
Die blaasorrel is mettertyd verkoop, die trekklavier en die konsertina ook.
Tog onthou ek hoe my ma se vingers oor die knoppies en klawers gehardloop het. En hoe beïndruk ek met haar talente was. Beide hierdie instrumente was wondermooi. Met gedeeltes wat in en uitvou terwyl my ma speel.
Daarom het ek ook ‘n diepgewortelde liefde vir boeremusiek.
My ma kon verskriklik mooi sing. Haar stem herinner aan iets tussen dié van Carika Keuzenkamp en Rina Hugo. Sy was versot op Gé Korsten se musiek, moet bietjie uitvind of sy steeds is.
Ek het altyd gedroom dat ek die twee eendag aan mekaar kon voorstel. Sodat my ma net een liedjie saam met hom kon sing. Nou is hy oorlede. Hy het egter saam met Rina Hugo gesing, ‘n vrou na wie my ma getrek het.
Daarom was ek die ander dag absoluut verbaas toe ek saam met my pa en ma kerk toe gaan. En Rina Hugo se kleinkind in die kerk gedoop word. My ouers hulle groet. Vir Rina en Johan.
Hoe klein is die wêreld nie? Dat my pa en ma van Ermelo na Pretoria getrek het. Om saam met Rina in een kerk vir God te aanbid.
My ma se groot liefde was om gesange en psalms te speel. Maar sy kon, as ek reg onthou, enige musiek op gehoor speel. Sy het so bietjie getokkel, die regte note gevind en dan het sy verder gespeel. En ons het meestal saamgesing.
As ons vyf susters lus vir baklei was in die kar, en onthou, vyf groterwordende dogtertjies pas nie altyd so lekker agterin ‘n kar nie, het my ma die noot ingesit. En ons moes sing. D
aardeur ken ek die bykans die hele FAK bundel uit my kop. Die woorde moes aangeleer word om saam te sing. Ons kon ook beurte maak om die volgende liedjie te kies. En selfs die noot in te sit.
Ek het nie sin gehad in die leer speel van instrumente nie. My susters het ook nie in haar voetspore gevolg nie.
My kinders het egter hulle ouma se gene geërf en vir ‘n ruk musieklesse geneem. En eksamens gespeel. Later besluit om op te hou. Om op ander buitemuurse aktiwiteite te konsentreer.
Alhoewel ek nooit sinnigheid in klawers en note gehad het nie, teek stringe my. Kitaarstringe.
En ek droom om eendag genoeg moed te skraap. En my eie kitaar te koop. Om myself te leer kitaar speel.
Omdat ek hoop dat ek tog van my ma se gene geërf het.
Ek is effens musikaal. Het in standerd ses in die standerd ses koor van Ermelo Hoërskool gesing. Regtig! Ons het daardie jaar ook ‘n plaat gemaak. Wat ek nou die dag verpak het tydens die groot trek.
Ek is egter die helfte van standerd 6 uit die koshuis en daarna was daar nie tyd vir buitemuurse aktiwiteite nie. Of dalk was dit ‘n goeie verskoning om uit te tree. Ek kan nie onthou dat ek hartseer daaroor was nie.
Ek hou egter van dans. Sommer baie.
Sou graag in standerd 6 wou ballet, maar ‘n skaam meisie soos ek sou nooit in tutu’s voor ander rondwals nie. Dus het ek dit net geniet om te sien hoe my maats hulle tydens skoolkonserte op die verhoog uitleef. En saans, wanneer ek alleen was, die passies by die huis nagemaak.
Is dit dalk waarom ek steeds op my tone loop?
Nee wat, ek dink nie so nie. Ek dink die tonelopery het eerder met die lewe as plaasdogter te make.
Op plase trap mens maklik op ‘n bos duwweltjies as jy van die uitgetrapte paadjies afwyk. En dan is dit geweldig seer as die dorinkies in die sagte vleis onder die voet insteek.
Of, jy trap maklik in ‘n bol beesmis, wat lyk of dit al hard is. En dan om jou voete peul as jy daarop trap. Op die tone is die onderkante van voete veilig weg van die gemors. Dan hoef ek net vinnig ‘n kraan te kry om my tone af te spoel.
My dogter het ballet geneem, tot op die hoogste vlak gevorder. Bykans altyd die medaljes gekry vir eerste plekke.
Haar na Eistedfodds aangery en gekyk hoe hulle oefen. En ek het deur haar hierdie kunsvorm leer ken. Geleer hoe lywe en gesigte gebruik word om ‘n storie te vertel.
Ek verbeel my die handjies wat voor die lyfie gerol word om te vra kom dans met my, is my gunsteling lyftaal.
Ai, kyk waar gaan dwaal mens se gedagtes as jy aanvanklik beplan bet om oor jou musikale ma te skryf. Ek dink dit kan nie anders nie, want my ma is in my grootwordjare ingeweef.
Met vyf dogters en ‘n man moes hierdie mooie plaasvrou maar mooi bontstaan. Om aandag oral uit te deel.
Sommiges mag kla oor te min aandag, ander oor te veel. Vir my was die aandag soos in die storie oor die pa en ma en kind beer. Nie te veel nie, nie te min. Net mooi reg dat ek my kinderjare kon geniet.
Ek onthou my ma as ‘n vrou wie se hande vir enige iets regstaan. Wat haarself geleer het om enige iets te doen.
Self om orrel, trekklavier en konsertina te speel. Iewers in my agterkop wil ‘n mondfluitjie ook opkom. Ek is seker daar was een in die huis.
Maar dit is moontlik dat iemand anders dit bespeel het. ‘n Kuiergas? Soos haar broer oom Koos? Of was dit ook my ma?
Foto: geleen van advertensie op bid or buy se webwerf.
Heerlik gelees, Christa. Jy het pragtige herinneringe om saam met jou rond te dra.
LikeLike
Dankie Una, dit is waar. Mens vergeet soms. En dan skryf iemand oor musiek. En alles kom terug.
LikeLike
Ai Christa, jy vat my nou ver terug….my ma kon ook nie note lees nie, maar sy het presies so rooi Hohner trekklavier gehad soos die een op jou foto. Het doerie jare ‘n klavier vir R100 gekoop (Een van daai met die kersblakers aan die kant wat nou verkoop moet word omdat Sus ver weg trek) en daar het ek en Sus ook op gehoor begin speel. Ek is net so lief vir speel, my klawerbord lê onder my bed, maar ek speel nie meer nie). Maar was op Baaskind se musiekskool se konsert en daar speel ‘n 63 jarige swart vrou effens bewerig, haar viool. Sy het nou pas begin…dit het nog nie na simfoniekonsert geklink nie maar sy het haar droom begin. Leer daai kitaar speel…jy het nog tyd!
LikeLike
Dankie Woordnoot, daai wqs Toortsie se skuld. Ek het gelees en toe onthou mens jou eie kinderdae vol musiek.
LikeLike
Mooi mooi
LikeLike
Dankie Woordnoot
LikeLike
Ek geniet altyd jou vertellinge oor jou kinderdae, Christa. Om op jou tone te loop om beesmis te vermy – priceless! Ons het ook altyd kaalvoet geloop. Geen beesmis in daardie sandwêreld nie, maar ek onthou die steek van die duwweltjies maar te goed.
LikeLike
Ai Hester en dit was vrekseer ook. Veral as daar so bossie gesit het
LikeLiked by 1 person
Ai, lekker ou terug dink hierdie. Ek het juis gister oor my orrelspelery geskryf. Ek was nooit so talentvol soos jou ma of soos jy om te kan sing en dans nie maar ek het myself baie geleentheid gegee toe ek eenmaal uit die huis was om my talente te kon ontwikkel en te gebruik. Ek het orellesse geneem toe ek so 27-28 was omdat dit my getrek het. Orrel gekoop en myself heerlik vermaak met al die liedjies wat ek leer speel het. Dame wat klasse gegee het het haar eie verwerkings gemaak van spesifiek afrikaanse gewilde liedjies.
LikeLike
Sjoe Scrapy, dit klink wonderlik! Ek kan net bietjie sing. Geen musiek instrument speel nie. Dalk moet ek tog kitaar oorweeg. As my vingers hierdie winter hou.
LikeLike
Ek dink daai plaashuis het julle singery vreeslik geniet, dit klink soos pret
LikeLike
Dit was, mens besef eers later hoe kosbaar dit was
LikeLiked by 1 person
Hierdie skryfstuk het my so baie aan my ouma voor die traporrel laat dink – en aan my dae voor die klavier. Ons het albei op gehoor musiekies oogetower. Musiek het die ruimtes in my lewe gevul. Dankie vir die deel.
LikeLike
Dit is wonderlik hoe ons mense ken wat op gevoel kan speel, bly jy het dit geniet
LikeLike
Ek het altyd ook kaavoet en op my tone geloop!
LikeLike
Verstommend hoe baie van ons dit doen, Anne, ons konnekteer op baie vlakke
LikeLike