Gepubliseer in Reisjoernaal

As my brein oortyd begin werk …

Ons is gister uit die stad om skoon asem te gaan inasem.

Op pad terug het ons by een van die baie stopplekke langs die pad gestop. Hierdie een was meer soos ‘n inham, van die ander het oulike bankies waarop mens kan sit om iets te eet.

Ek het geloop en foto’s neem, toe hierdie vreemde prentjie op die grond my aandag getrek het. ‘n Kleinerige kind se warm oorpakkie (eerste foto). Beslis van duursame materiaal gemaak, dit het die aanslae van die natuur en motors redelik goed weerstaan.

Die prentjie het my gepla omdat die een moutjie netjies uitgestrek is, maar die ander een en die broekspype was nie sigbaar nie.

Ek het vreeslik gegril, maar my nuuskierigheid het die oorhand gekry. Ek moes weet waar die ander mou en die twee broekspype was. Toe stoot ek die een broekspypie met my skoen op en na onder.

En skielik wou my brein net daar wegkom. Daar was geen manier waarop ek verder sou krap om my nuuskierigheid te bevredig nie.

Mense het al vir ons vertel dat ons in daardie rigting bere kan aantref. Omdat dit baie bebos is. En na aan die grens met Rusland. Ek dink nie ‘n beer het iets met hierdie prentjie in die grond te doen nie.

My brein het weggehol. In my gedagtes het ek Arnold in die Mummy fliek gesien, daar waar goed uit die mummy uitvlieg. Ek het klaar begin om die klere te versteur. Toe dink ek weer aan Silence of the lambs, ‘n fliek wat veroorsaak het dat ek met my kar se dakliggie aan huis toe gery het. Was dit nou weer ‘n mot wat so grillerig was?

Ek het myself oortuig dat daar ‘n eenvoudige verduideliking was.

Die pakkie het waarskynlik agter gebly toe die mense gestop het waar ons gestop het. Dalk het baba dit so bemors dat hulle moes weggooi.

Dalk het hulle dit op kar vergeet en het dit afgewaai toe hulle ry, daarom dat dit langs die pad was.

Motors kon dit so mooi uitgestryk platgetrap het?

Ons het dit tog eers gesien toe ons na ons kar terugstap om ‘n glasie koeldrank te drink.

Dan wonder my brein weer waarom dit op die ingang na ‘n plaashuis gele het. altans ek dink dit is ‘n plaas se ingang?

Later die middag keer my brein die hele tyd na die prentjie terug. Ek mis die een kant se mou en broekspyp. Wat sou die storie wees?

Twee ure later kom ek na hierdie blog, wat reeds gepubliseer was. Snaaks hoe mens se brein bly werk al is jy met iets anders besig.

Toe ek weer na die foto’s kyk, weet ek wat my pla!

Die kledingstukkie le te netjies daar langs die pad.

Die nekkie is netjies, die een moutjie le netjies uitgestryk. Soos wat mens klere vir ‘n kind sou neerle om aangetrek te word.

En toe werk my brein heeltemal oortyd.

Wat is die naam van daardie Afrikaanse reeks wat laasjaar op KykNet was? Spoorloos. In daardie reeks het die skoolhoof seuntjies ontvoer en as hulle nie so slim was soos hy gedink het nie, het hy hulle vergiftig, begrawe en ‘n nuwe seuntjie gaan soek. En dan het hy die kleertjies so netjies gaan uitlê op die pad. Sodat dit gekry sal word. Met ‘n kosblik met ‘n stukkie van die koek met die gif in. Om te ontleed. sodat ouers kan weet wat van hulle kind geword het.

Hierdie prentjie voel te netjies vir iets wat toevallig agtergebly het. Te netjies vir iets waaroor motors en vragmotors en trekkers se band kon gery het. Ten netjies om van ‘n kar af te gewaai het. Te netjies om te glo dat dit per ongeluk daar vergeet is.

Dalk het iemand soos ek probeer om die kledingstukkie oop te vou? Dan twyfel ek weer. Die broekspypie wat ek oopgemaak het, is erg verkreukeld en wil nie so glad soos die moutjie le nie.

Later die aand kom ek weer na hierdie inskrywing toe terug.

Want ek het weereens iets vreemds raakgesien. Op die kledingstukkie le ‘n bronsgoue blaartjie, bykans onbeskadigd. Wat nie soos die res van die blare op die grond lyk nie. Ek onthou spesifiek dat die blare van die bome ‘n ligte geel was, soos mens ook op die grond kan sien.

Wat sou dit beteken?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

2 gedagtes oor “As my brein oortyd begin werk …

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.