Ek en manlief is vreeslike gehoorsame passassiers. As daar staan dat ons drie ure voor die tyd op die lughawe moet wees, dan is ons daar. As ons twee ure voor die tyd daar moet wees, dan is ons twee ure voor die tyd daar. Dus sit ons dikwels en wag dat die hokkies oopmaak sodat ons kan inboek. En ons gee nie om nie, dit maak ons rustig om ons vlug te geniet.
Omdat ons weet dat ons hier in Ust maar vir ‘n vliegtuig kan wag, al is hy vier ure laat.Maar vir ons sal die vliegtuig nie wag nie.
Ek het vertel dat ons vriende ons gister lughawe toe gevat het. Maar ek het nie vertel dat ons mooi bekommerd was nie. Ons vlug was vir 4:45 bespreek en ons was eers teen 3:45 op pad lughawe toe. Hulle het eers met ons deur ‘n woonbuurt gery. Om vir ons ‘n ander deel van Almaty te wys. Toe ons uiteindelik so 5 km van die lughawe op die hoofweg klim, met my al redelik benoud omdat ons in my en manlief se terme laat is, besluit ‘n verkeersman om ons vriend van die pad te trek.
Hulle is met hom na hulle kar toe en daar het die manne gestaan en praat en praat en praat. Anders as by ons in Ust, is Engels nie in Almaty ‘n vreemde taal nie, daar is baie meer expats as in Ust. Daar is van tolke gebruik gemaak om die saak te beredder terwyl ons in die kar met benoude boude,soos Toortsie dit vandag oor haar lughawe ervarings beskryf, daar sit.
Ek wil uitklim en vra of ons maar ‘n taxi moet bestel, ons het ‘n vlug om te haal, maar manlief bied toe aan. Hy word egter terug na die kar beduie, dit sal nie veel langer as 5 minute wees nie. Dus sit ons en wag en ek deel sommer my vliegtuigsuiglekkers met manlief dat ons spanning kan bedaar.
Vernoem die lekkers sommer net daar en dan na ons ontspanpilletjies. Want sowaar, ek moes sukkel om nie my horlosie dop te hou nie.
Toe ons uiteindelik by die lughawe aankom, wag ons 15 minute in ‘n ry dat die paar mense voor ons gehelp word. Regtig? Daar is vier stasies wat help, maar die ry beweeg een vir langsame een vir langersame een.
Intussen het ek al na die ander lugredery geloop om seker te maak ons staan darem in die regte ry. Want daar staan net Astana (die redery se naam en nie die bestemming soos gewoonlik nie). Sy beduie ek is reg, ek moet daar by manlief gaan staan en wag.
Na ‘n ruk beduie manlief ek moet onder deur die tou klim om seker te maak ons is op pad Ust toe. Die vrou knik ja, maar speel op haar foon en roep nie die volgende mense na haar toe nie. En ons raak ansgtig, dit raak baie, baie, baie laat.
Toe ons uiteindelik gehelp word, staan daar op die kaartjie dat ons oor vyf minute op die vliegtuig moet klim. En ons moet nog deur die liewe skandeerders voor ons ver moet stap om by die regte hek uit te kom. En ek moet vir ‘n laaste keer die toilet besoek, net vir ingeval die vlug skommel en ons nie mag opstaan nie.
Op pad na die skandeerders druk ‘n ongeskikte man voor my in, tussen my en manlief. En ek wip vir my en druk weer voor hom in. Ek is ook laat, meneer Ongeskik! Die veiligheidswag kyk vir my asof ek die ongeskikte een is en wys vir Ongeskik om na die ander skandeerder te gaan. Wat my natuurlik rooi laat sien. Vir hom was Ongeskik nie verkeerd nie!
Die liewe skandeerders haal weer vir manlief uit die ry met ‘n gepiep. Gevaar, Iron Man is hier! Ek wil nog kyk wat met hom gebeur, toe piep die ding vir my ook. Maar eers toe ek al deur is.
En ek wip vir my uit my kassie uit. My belt is af, my skoene het niks wat dit kan laat skree nie. My ring is af. Om die eerlike waarheid te skryf, skaam soos ek is, gaan ek eerder kaalbas deur as wat ‘n ander vrou my bevat.
Ek vra of ek weer deur kan gaan, wys dat ek my oorbelle gaan afhaal. Hy beduie nee, hy roep iemand. Ek is al klaar kwaad vir hom wat vriendelik met meneer Ongeskik was en beduie vir hom, ek haal oorbelle af, ek gaan weer deur!
Hy gee bes, die oorbelle is in die tassie, my sonbril ook en ek stap deur. Geen gepiep. En ek wys ewe vermakering vir hom met die hande sien, ek is nie ‘n damn gevaar nie. My man ook nie. En ons goed staan daar en wag vir ons. Manlief se broek sit te styf onder, dus trek hy sommer broek af en wys die sny oor sy knie. Sien, ons is nie damn boewe nie! As dit elke liewe keer met jou gebeur, sal jy verstaan.
Uiteindelik is ons twee klaar, ek het weer oorbelle en goete aan en hy is weer by my. Toe moet ons nog stap en trappe af, ons bus wag om ons na die vliegtuig te vat.
Toe ons onder kom, wag die bus reeds vir ons, maar hulle het nog nie met die proses begin nie. Sy beduie ons kan sit en ek hol gou terug boontoe om die nodige te doen. Terug by manlief is die bus al amper vol gelaai.
Is dit regtig nodig dat die bus so betyds gelaai word as ons twee laat is?
Wat ‘n mooi vliegtuig, sy het ‘n kat oor haar neus geverf! Sy was nogal rats soos ‘n kat. Voor ons mooi besef het wat gebeur, was ons in Ust. Sonder om iewers te sit en wag.
Dit is egter nie vir ons nie, ons wag veel eerder as om met so ‘n gejaag op die vliegtuig te kom.
Verrassing van die dag was dat ons weer met ‘n ander soort vliegtuig gevlieg het. ‘n Baie lang, maer ene. Vat 88 passassiers, maar daar sit net twee mense aan elke kant van die vliegtuig. En die ene was baie baie nuut. Air Astana is die nasionale lugredery.
Dus Toortsie, ek verstaan jou storie van vandag ten volle.
Foto: 1 September 2019. Ons vlug vanaf Almaty na Ust. Kyk hoe lyk die wolke bokant ons …
Agge nee wat ek voel nou opgestress en dit net van lees.
LikeLike
Dankie Kameel, ons was hoor!
LikeLiked by 1 person
Ek is nou net so opgestress!
LikeLike
Dankie perdebytjie
LikeLiked by 1 person