Volgens een van die Qazaq meisies wat ek hier ontmoet het, het Ust-Kamenogorsk regtig egtig vier seisoene.
En ek weet nie of ek regtig egtig met haar saamstem nie.
Van die data oor temperature die afgelope 20 jaar (foto) kan ek twee tydperke aflei: ses maande waarin dag en nag temperature onder vriespunt is en ses maande waartydens beide bo vriespunt is.
Dus weet ek nie wanneer lente en herfs begin en eindig nie, ek gaan my deur die temperature laat lei.
Ons het in die winter kom kyk hoe dit hier lyk. Anders as in die Suidelike Halfrond, is Desember, Januarie en Februarie hier wintermaande. Ons is met ‘n sneeulandskap begroet. Ysige koue, dit het einde Januarie tot minus 38 grade Celsius gedaal. Kliek hier om idee van winter te kry.
Ons het begin van die lente hier kom bly. 2 Maart 2019. En dit was steeds snerpend koud. Hulle het lentefees gevier met nagemaakte blomme op bome. Ons het gevries terwyl ons saam met vriende kom kyk het na die feestelikheid op die plein. Mens moes steeds baie mooi loop om nie op ys te gly nie. Die somer is veronderstel om Junie te begin. Middel Mei het dit nog sommer gou vir die lekker gesneeu! Kliek om foto’s te sien.
Somer is dan veronderstel om Junie, Julie en Augustus te wees. Wel, Junie en Julie het ons nog warm ding byderhamd gehou as mens uitgaan. Ons is na aan die hoë Altai berge, waarvan die toppe se sneeu nog nie gesmelt het nie. En die wind raak yskaskoud as dit daaroorheen in ons rigting trek. Kliek hier om foto’s te sien.
Herfs het dan nou begin, September tot November. Ek hoor die Qazaqs beskou September as die vyfde seisoen. Noem dit Women’s Summer. Omdat die weer so wispelturig is. Chauvinisties… Ek het al dik baadjies begin dra. Net om die volgende dag sandale te soek. Herfs is darem een seisoen wat mens kan uitken. Aan die pragtige geel blare van die bladwisselende bome. Kliek hier om idee van herfs te kry.
Ek weet nie of almal gaan blare afgooi nie, sal na vorige foto’s moet kyk. Ek weet net dat ‘n hele klomp bome glad nie lyk of hulle hulle groenigheid wil verloor nie. Ek neem aan die sneeu wat reeds in die herfs gaan begin val, naamlik Oktober en November, gaan die bome van besluit laat verander.
Arme bome! Daar is geen manier waarop ek, soos hulle, hierdie koue kaalbas sal instap nie.
Om die waarheid te sê het ek nog nie hier so warm gekry dat ek enigsins kaalbas sou wou loop nie! Tog is hier ‘n son wat my so in die stap elke dag bruin gebrand het. Ek neem aan ons almal gaan teen einde Februarie spierwit wees.
In die middel van die somer was die son teen sesuur die oggend lankal op. Het eers teen tienuur in die aand ondergegaan.
Dus verwag ek dat midwinter die teenoorgestelde sal wees. Dat die son teen tienuur soggens eers op gaan wees en teen vieruur in die middag al weer weg sal wees. Sal bietjie kyk hoe waar dit gaan word.
As dit waar word, verstaan ek waarom winkels hier eers tienuur soggens oopmaak. Die son is in die winter dan eers op. En waarom dit eers tienuur saans weer toemaak. Die son is in die somer dan eers onder.
Ek spot nou sommer met die lang winkelure in Ust. Dit is regtig baie lekker. As mens nie iets soos melk dringend in die oggend nodig het nie. Of as mens nie geskenkkoop vir die oggend van die troue of verjaarsdag los nie. Want dan moet rieme fyn gesny word. Om betyds te wees …
Wat humiditeit en presipitasie betref, is beide al twaalf maande van die jaar vir ‘n paar dae teenwoordig. Vog en reënval wat in die winter vog en ysreën en sneeu behels.
Ter opsomming sal die Qazaqs my seker vergewe as ek nie die twee tussenin seisoene voel nie. As ek so na die foto’s kyk, is daar regtig ‘n groot verskil tussen die seisoene!
Ek herken darem die herfs ook! En winter gaan beslis onvergeetlik wees. Alleen in ‘n wêreld wat met ‘n dik laag sneeu bedek is.
Ek deel spesiaal vir hierdie blog foto’s van elke seisoen. Soos ek dit self hier beleef het. Op Instagram @cvanstaden
Een gedagte oor “Seisoene in Qazaqstan”