Voel so onwerklik om te onthou dat ons skaars ‘n maand gelede nog met toe gordyne moes slaap.
Want die son was soggens lank voor 6 al hoog in die lug. So hoog dat dit in ons oë geskyn het as die gordyne oop was. En saans moes ons ook toemaak as ons wou slaap, want halftien was die son nog nie lus om weg te wees nie.
Toe het die musikale fonteine op die plein tussen 20:00 en 21:00 gerus. En eers weer 21:00 begin, met liggies om die nag aan te kondig. Wondermooi.
So onder ons neuse het die son op die horison gaan rondskuif. Iets wat mens eers agterkom as jy so hoog in die lug bly.
Eers kon ek die son nie sien opkom nie, dit het iewers agter ‘n hoë gebou opgekom. Sodat ek dit eers kon sien as dit reeds hoog in die lug is. En reg in ons kamer inskyn. Toe skuif die son van Noord na Suid. Om nou oor die berg op te kom. Wondermooi. Maar, die son het lui geraak, kom nou eers na ses op.
My plaasdogterhart smag daarna om die son so te sien regmaak vir die dag. Laat my sommer weer onthou hoe sleg dit vir my eers in Madelief was. Op die twaalfde vloer van die koshuis. Suid. Met ‘n venster wat die son nie sien op of ondergaan het nie. Nou sien ek die son opkom en totdat dit eers teen middagete oor die gebou skuif om nie meer sigbaar te wees nie.
Dit is nou te sê as hy toegelaat word. Want die wolke begin dig pak oor die hemelruim. Om die strale te verhoed om die aarde sigbaar te bereik.
Nou gaan die son ook vroeër onder. Kom manlief teen skemer tuis. Stap ons gisteraand net na ses in sterk skemer Muken toe om tee te gaan koop. En in die nag terug toe ons besluit om eers ‘n pizza te eet.
So van pizza gepraat, ons het sowaar na vyf maande hier eers die oulike pizzaplekkie by ons probeer. En was ons aangenaam verras!
Sy gee die menu en ons verstaan niks. Haal foon uit om af te neem en te vertaal en toe is sy weg. Kom terug met Engelse menu om ons te help. En toe kan ons mooi sien wat ons bestel.
Heerlike pizza. Dun kors, breë gepofte rand. Ons gaan dit beslis wees doen. Sommer lekker as ek lui huisvrou op ‘n Saterdagaand kan speel. Lekker om so saam met die son lui te word …
Natuurlik gaan die lui son met lae temperature gepaard. Dit raak nou -6 net voor die son opkom. Al styg die temperatuur in die dag, is die wimd koud genoeg dat mens nie sonder jou gaansveerbaadjie uitgaan nie.
Gaan mens amper dood van die hitte as jy ‘n jean in ‘n klein aanpaskamerhokkie aanpas.
Sien jy die veranderinge in die restaurante raak.
Sommiges het weer kapstokke wat oral rondstaan, om jou baadjie of jas op te hang. Ander se kamertjies by die voordeur maak weer oop. Vereis weer van jou om jou warm goedjies in te gee voor jy verder stap met ‘n nommer in jou sak, om jou warm goed weer terug te kry as jy uitstap.
Onthou jy weer hoe verras jy was toe jy ‘n paar maande gelede by ‘n restaurant instap met jou gaansveerbaadjie aan en teruggeroep word om te ontklee. Hoe groter die verrassing was toe jy later met baadjie instap, gewillig uittrek en niemand in die hokkie aantref nie. En weet jy dat jy nou weer gaan moet ontklee as jy wil eet. Want die kamertjies gaan weer oop wees. Om ligter gaste in die eetvertrekke te verwelkom.
Vreemde lewe waaraan mens gewoond moet raak.
Vreemd hoe maklik mens aanpas. Hoe mede-Suid-Afrikaners hulle skoene by jou deur uittrek. Om kaalvoet oor jou vloere te loop. Wat sou mens in Suid-Afrika dink as jou gaste skoene uitskop en kuier? Hier is dit tradisie, almal doen dit. Manlief ook as hy vir middagete huis toe kom …
Dit hou die huis skoon, ek dink dit gaan tuis ‘n reël word. Maar o my genade, dit is een ding waaraan ek sukkel om gewoond te raak. Vreemdes se skoene by my voordeur.
Dit is interessant om te lees hoe julle by die winter moet aanpas.
LikeLike
Jy moet ons sykouse sien …
LikeLike
Baie interessant…die son se luiraak het verseker ook n invloed op my energievlakke…nie dat ek kan waag om self lui te raak nie…dis of als nèt n bietjie stadiger gebeur…
Dis lekker om so te lees…die skoene uittrek is maar vreemd maar dien ook seker ñ doel. Dis nou seker nie ñ kwessie van as die skoen jou pas moet jy hom aantrek nie…maak eers seker dis joune…🙈
Geniet julle ervarings in die vreemde…ook die veranderings…
Groete
LikeLike
Ja-nee kyk, mens kan dalk net besluit vriendin se skoene is mooier as joune, maar dan moet jy joune saamvat dat hulle nie die stouterd kan uitvang nie … Bly maar vreemd, ek is so dankbaar ek hoef dit nie by winkels ook te doen nie.
LikeLike
Lekker om te lees. Hier werk ook so. Aan die skoene by my voordeur kan ek maklik sien of daar vriende by die kinders is.
LikeLike
Wat ‘n goeie idee! Nog nie daaraan gedink nie. Dankie baie.
LikeLike