Toe manlief die aanbod kry om in Ust-Kamenogorsk (Öskemen) te kom werk, wou ek nie kom nie. Qazaqstan was voorheen deel van Rusland. En Russies of Qazaq verstaan ek nie. Verder het die kwik einde Januarie toe hy gekontak is na -38 grade Celsius gedaal. En my brein wou nie glo dat mens nie dood sal vries in hierdie land nie.
Ek het ‘n skoolvriend, Nico Veldman, gekontak om te hoor hoe hulle in Amerika oorleef. Want hy het toevallig iewers in die week voor dit ‘n foto gedeel wat wys dat dit daar waar hulle is, net so koud kan word. En hy het gesê dat ek nie bekommerd moet wees nie, die land is daarvoor ingerig. Ek kan nie onthou of Nico my van sentrale verhitting vertel het nie. Of die vrou van die man wat my man genader het om hier te kom werk nie.
Maar ek weet net dat ek geGoogle en gesoek het en niks daaroor kon kry nie. Geen foto’s om vir my te wys hoe dit werk nie. Niks. Daarom dreig ek al so lankal om te vertel hoe huise en woonstelle ingerig word om hierdie land met sy koue temperature herbergsaam te maak.
Die geboue word anders gebou. Dit het verskriklike dik buitemure. Ek sal skat vier bakstene in die lengte? Maar dit is baie, baie dikker as die dubbele mure wat ons ken.

Die vensters word aan die buitenste kant van die mure ingesit, dus is die vensterbanke baie, baie breed. Hierdie dik vensterbanke dien vir baie mense as stoorplek. En dan trek hulle die kantgordyne toe om die stoorplek vir die oog te verberg.
Ek kan nie. Dit lyk vir my slordig. My vensterbanke is skoon, met ‘n ou driepootpotjie en blomme om die kamer te versier.
Ek sit dikwels in hierdie vensterbank en kyk wat af na wat daar ver onder aangaan. En trek die kantgordyne selde dig, ek is van Suid-Afrika. Die vars lug moet in die huis inkom. In ouer geboue is daar kaste onder die vensterbanke. En dié kaste dien in die winter as yskaste! Ek maak nie ‘n grap nie. Die nuwer geboue het dit nie, dateer waarskynlik uit die tyd voor yskaste.
Al die geboue het dubbele vensters, hulle noem dit double glazing.

Hierdie dubbele laag vensters help om die koue buite te hou. Die vensters kan op twee maniere oopmaak om vars lug in die huise te kry. As die handvatsel na bo gedraai word, tiep die venster effens om so oop te maak.

Hierdie manier van oopmaak is baie handig as dit reën of sneeu omdat dit keer dat dit in die huise inreën. As dit baie koud is en die huis voel te warm, is dit ook baie handig.
Jy het ‘n onmiddelike aircon in die huis. Vinniger koud as wat enige tegnologie kan doen. Ysige lug wat inkom. Ek het dit nou nog nie self beleef nie, maar een van die Suid-Afrikaanse vroue hier vertel vir my dat die goed in die huis, wat binne die straal van die inkomende lug val, vries as die vensters lank oop was. As dit so is, sal ek later daarvan vertel. As ek dit self beleef het.
Op die vorige foto kan die soorte stoepies gesien word. Bykans al die geboue het babastoepies. Ons s’n is so 1×3 meter. En dit is oop. Soos jy op die foto kan sien.
Ander mense maak hulle stoepies toe. Soos wat op die foto gesien kan word. Ons is die enigste mense wat ons oop stoepie gebruik om te braai!
Dit word hier ook +38 grade Celsius, daarom het al die huise ook lugverkoelers. Die goed mag nie aangesit word as dit buite te koud is nie. Dus word dit net in die somer gebruik.
Maar dit alleen kan die huise nie warm maak nie. Vra my, die huise is nogal koud as die son nie bedags skyn nie. Daarom maak die stad op sentrale verhitting staat. En dit maak die huise so snoesig dat ons met bandjies hempies en kort broeke in die huis loop.
Dit werk so.
Warm water word by die sentrale plek, wat op die eerste foto is, gestook. Daarvandaan word dit in dik pype bogronds en ondergronds na huise en woonstelle gestuur. Die warm water kom deur twee stelle pype die huise en geboue binne.
Een pyp bring warm water na die kombuise en badkamers se krane. Daarom het ons nie geisers nodig nie. In ons woonstel is dit sommer so gedraai teen die muur dat handdoeke opgehang kan word. Om dit lekker warm te hou.

Hierdie pype word nooit toegemaak nie, dit bring heel jaar warm water na die krane.
Die ander stel pype word teen die mure vasgemaak, met groot panele drie meter uitmekaar.

Hierdie toestelle kan aan- en afgeskakel word en hou die huise warm. Die nuwe soorte is van metaal gemaak. Ons het ons s’n nie afgeskakel nie. Die stadsraad skakel dit af wanneer dit warm genoeg begin raak. Ek kan nou nie onthou nie, maar ek verbeel my Ust s’n is eers einde April afgeskakel. Warmer stede soos Almaty doen dit gouer. Ons het egter toe nog koud gekry in die huis. Dit sal weer aangeskakel word wanneer die koue begin byt. Ek neem aan dit sal Oktober se kant wees. Want die sneeu begin November se kant val.
As jy ‘n huis het, het jy twee keuses: sentrale verhitting. Of jy stook self die warm water. Daar is steeds mense wat hulle eie huise verhit. Daarom kan jy jou indink hoe vol rook die lug hier is. Ust het blykbaar van die vuilste lug in Qazaqstan. Die dae wat die wind nie waai nie, hang die rookwolk swaar oor die stad. Dit gebeur egter baie min, hier is bykans altyd ‘n windjie wat waai. Ek het al vertel hoe vinnig die wolke hier by Ust verbygaan of saamdrom.
Maar jy sal my nie hoor kla nie. Dink net hoe laag is elektrisiteitsrekeninge, geen geisers wat die rekening opjaag nie. Geen geisers wat bars nie. En ek hoef nie warm water te stook nie.
Ek ken dit. Het op plaas grootgeword. My ma het die donkie met mieliestronke en hout gestook. En daardie hout en stronke moes droog bly. Waar kry die mense dit in die winter as die hele wereld om ons vol sneeu is? Hoe hou hulle dit droog? En wat gebeur as jy te siek is om jou donkie te stook? En niemand weet dit nie?
As jy op ‘n plaas grootgeword het waar daar eers nie warm water was nie, weet jy ook dat die lug in daardie huisies ook maar vol rook is. En dit is nie ‘n grap om dit aan die gang te hou nie. Wat gebeur as mens weg was? En die vuur het die gees gegee?
Ag nee tog, ek wil nie daaraan dink nie. Ek weet hoe koud dit hier word. Gaan maar min daarvan vertel. Net ingeval my seun en sy vroutjie lees. Want hulle kom Desember kuier …
Buitendien, as ek nou alles vertel, wat bly oor om in die koue, donker maande te vertel?
Dit is baie interessant om te lees.
LikeLike
Dankie Anne, vandag is ek spytterig dat ek gesê het dat die vuil lug nie pla nie. Ons verstik.
LikeLike
Ons het op die platteland by die mynhuise ook donkies gehad, maar hulle het buite die huis gestaan. Die warm water is deur pype in die huis ingevoer. My pa het altyd vroeg in die oggend die donkie gestook en teen die tyd wat ek opgestaan het vir skool, het ons warm water gehad. Ons het antrasiet gebruik – minder rook.
LikeLike
Ons het op plaas ook donkie gehad. Kan jy glo?
LikeLiked by 1 person