Gepubliseer in Reisjoernaal

As die Kaiser dink sy weet beter as ek

Lag ek nou lekker toe ek daaraan dink dat baie mense my nou met die titel sal wil reghelp.

Die spelling van Kaiser, die sy in plaas van hy. Dit was egter doelbewus. Die Kaiser waarvan ek praat is my liewe Russiese stoof.

Ek moet liewer nie die woord liewe gebruik nie, want sy maak my sommer baie vies. Daar is eintlik maar baie min liefde tussen ons tweetjies. Inteendeel, sy irriteer my sommige dae meer as ander.

Laat ek dus gou vertel, ek dreig al so lankal. En my brein staan op die oomblik so bietjie stil wat die hoofstuk vir ‘n handboek betref. So hier gaan ons.

Ek wou nie die Qazaq land lady vra hoe die stoof met die vreemde kleur plate werk nie. Dit is tog seker maklik om te verstaan hoe ‘n stoof werk? Ek het al met baie gewerk. Toe nie.

Ek kon nie uitwerk hoe om haar aan die gang te kry nie en ja, ek weet baie sal nou sê dat ek die handleiding moet lees.

Wel, ek kan nie. Hier is nie een nie, die stoof is al redelik oud. En as hier een was, sou ek in elk geval nie verstaan nie. Ten spyte van die Engelse naam, is alle handleidings slegs in Russies beskikbaar. Dus moes ek sukkel.

So lyk haar kieslys.

Vir elke plaat is daar ‘n sirkel wat wys waar die plaat op die stoof is, met ‘n plus en ‘n minus waaraan gevat moet word om die plaat te stel. Plus om die temperatuur hoër te stel, minus vir laer. Maklik ne?

Toe nie, ek kon druk tot ek blou word, sy het geweier om gehoor te gee.

In die middel is twee ander knoppies wat gedruk kan word, een met ‘n slot en een daarsonder. Die slot sluit al die ander knoppies dat dit nie werk nie. Dus kan kinders nie per ongeluk mens se stoof aansit nie.

Verbasend dat die mense wat die stoof gemaak het, daaraan gedink het. Want hier is nie ‘n veiligheidskakelaar vir stowe nie.

Dus het my vriendin se kind nou die dag amper haar huis afgebrand. Toe sy met die stoof se knoppies, wat aan die voorkant van die stoof is, gespeel het. Daar was goed op die stoof wat aan die brand kon slaan as haar ma nie betyds daar ingestap het nie. Dink net as mens uitgaan en nie weet die kinders het die stoof aangesit nie.

Hier kan dit nie gebeur nie, mens het ‘n graad nodig om my stoof te verstaan.

As dit oopgesluit is, beteken dit nog nie dat die plate se knoppies gedruk kan word nie. Ek moet eers die knoppie regs van die een met die slot op druk.

En dan kan ek die plus en minus druk om die plate te stel. Ek sien sommer hoe jy nou sê dat mens nie ‘n graad nodig het om dit te kan doen nie.

En ek het sommer oor daardie een gespot. Maar ek is nog nie klaar nie.

My liewe Kaiser het ‘n ingeboude brein. Nou moet jy weet dat ek dit eers baie later agtergekom het.

Eers toe sy haar Russiese tantrums begin gooi het. En dit het ek eers agtergekom toe sy die enigste toestel in die huis was wat kon piep-piep op ‘n spesifieke oomblik.

Want wasdag piep-piep die wasmasjien om te sê ek moet gaan ophang. Die skottelgoedwasmasjien piep-piep om te sê ek moet uitpak om ‘n nuwe vrag in te pak.

Ek het nog nie vertel dat skottelgoedwasmasjiene hier die helfte so groot soos Suid-Afrikaanses is nie. Dus was ek daagliks skottelgoed, soms twee of drie keer per dag. Die yskas kan piep-piep omdat ek haar nie mooi toegemaak het nie. Dan is daar nog my foon wat piep-piep as boodskappe inkom en my rekenaar. Dus kan mens verstaan dat ek al so bietjie ophou om te hoor as daar ‘n gepiepery is.

En ek het nie geweet dat die stoof ook piep-piep om aandag te kry nie, dus het ek net opgekyk as ek ‘n piep hoor en as die ander masjiene almal nog besig is, nie besef dat die Kaiser ook aandag soek nie.

En sy is ‘n dier van ‘n ander kleur, as jy nie luister nie, moet jy voel. Sodat jy nie later voel as die huis afbrand nie …

Dus het ek soms by die stoof gekom en rou of halfpadgaar kos gekry. Met haar plate se knoppies wat op H flikker. H vir warm moenie daaraan vat nie. Want sy het haarself afgeskakel. Omdat ek iets op ‘n ander plaat neergesit het!

‘n Plaat wat nie aan is nie! ‘n Plaat wat ek nie gaan gebruik nie! Maar sy voel daar is iets op daardie plaat wat nie aangesit is nie en dan piep-piep-pieeeeeep sy vir my.

En as ek nie luister nie, skakel sy al die plate af. En staan ek naby etenstyd met kos wat rou of halfgaar is.

Dit is ook die einde niet! En dit is eintlik hoe ek verstaan het dat die Kaiser praat. En dat ek moet luister as sy piep.

Want sy piep-piep-piiieeeeeeep as ek iets op haar neersit as ek geen plate gebruik nie. As sy heeltemal af is. As sy gesluit is. Om vir my te sê daar is iets op ‘n plaat wat nie daar hoort nie.

Aangesien sy nie in gebruik is nie, kan sy haarself nie afskakel nie. Dan piep-piep-piieeeeeep sy elke paar sekondes totdat ek die ding afhaal wat haar irriteer.

Laat my aan die prinses dink wat ‘n ertjie in haar bed kon voel. Sy voel alles wat op haar is. Mens moet seker dankbaar wees?

Nou moet sy net leer om te voel as die water in die pot op is sodat sy haarself kan afskakel. Voor my kos brand.

Dit gebeur amper nooit, die brand van kos. Nie omdat ek nou meer aandag aan die stoof gee nie, maar eerder omdat Thermie die meeste van die kookwerk namens my doen. En sy roep my wanneer die kos gereed is, dan kyk ek sommer ook vir die vleis op die stoof. Die meeste van die dae braai manlief vir ons.

Ek is net dankbaar ek weet nou waarom die Kaiser se plate skielik op H flikker as ek daar kom. Met rou kos in my potte! My straf as ek haar ignoreer …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “As die Kaiser dink sy weet beter as ek

  1. Christa, jy het hierdie SO oulik geskryf! Ek sou jou stoof glad nie kon ‘uitfigure’ nie; glad nie! Is dit nie ongelooflik hoe interessant sommige lande se allerdaagse dinge is nie?

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.