Hierdie is een van die snaaksste oomblikke wat ons sover in Qazaqstan beleef het.
Ons het in ‘n spoggerige woonstelblok buite die stad gebly.
Die een Sondag vra manlief of ek sy trouring gevat het. Ek antwoord nee en hy soek. Maar kry niks. Ek help nie soek nie, ek haat soek. My pa se kar, bakkie, trok se sleutels was altyd soek. En dan het mens se boud sommer ‘n raps gekry as jy nie gou genoeg help soek nie. Nou soek ek net nie saam nie. Maar ek moet byvoeg dat manlief nooit sy goed soek nie.
Hy is eintlik so bietjie van ‘n pyn oor waar elke ding moet wees. En dan lig ek hom in dat hy oral baas kan speel, behalwe in my kombuis. En oral waar ek skoon maak …
Hy kry dit nie en ons is later uit. Op pad om die taxi te kry, gooi hy die vuilgoedsak in een van daai baie groot houers op wieletjies weg. Sien die foto.
Later die middag kom manlief in die kombuis, ons moet daai sak gaan kry, hy dink sy ring is saam met toffiepapiere weggegooi.
Nou kyk, ek dink nie dit is snaaks om in vuilgoedsakke te gaan soek nie. Myne het alles in, van aartappel- en perskeskille tot die stof van die stofsuier en oorskietkos. Manlief eet nie oorskietkos nie. Die sak sou morsig wees.
Maar manlief is oortuig ons moet gaan kyk. Sy ring is in daai sak.
Ons tweetjies is toe na die stel houers toe. Dit was nog lekker koud en ons staan daar met ons jasse en serpe en handskoene om ons teen die koue te beskerm.
Ek help nie grou nie, dit is nie my ring wat soek is nie. Dus moet manlief soek.
Ag, ek nou moet ek eers ‘n ou staaltjie oor manlief vertel. Dat jy kan verstaan dat dit nie vir manlief ‘n maklike taak sou wees om in die vullissak te soek nie.
Ons was karavaners, het een vakansie saam met baie spesiale vriende in Stanger gaan oorstaan vir die vakansie. Dit was Desember. En dit was baie warm.
Ons het hulle genooi vir ete en is dorp toe om ‘n skaapboud te gaan koop. Manlief sal dit vir ons op die Weber gaarmaak.
Ek het speserye op die boud gegooi en dit bo-op die yskas gesit omdat die yskassies mos te klein vir so ‘n groot stuk vleis is.
Toe ek die bak die aand oopmaak om die boud vir die braaier aan te gee, was die boud blou en het dit gestink.
Dit was warm in die karavaan, ek het nie geweet so warm nie. Ek het die deksel teruggesit en vir manlief gesê ons het ‘n probleem, die boud is vrot.
Hy sê ek moet gaan haal, as daar nog nie wurms is nie, is dit goed. Ek was sommer kwaad vir sy kastige grappie, hy kan nie eers aan vleis vat nie, wat nog te sê vrottes.
Is daar weg om vleis by die vriende gaan leen om die volgende dag terug te gee, die slaghuis op die dorp het al eenuur toegemaak.
Die volgende oggend moes manlief skottelgoed was, dit was sy werk as ons kamp. Ek het afgedroog en weggepak.
Hy het die bak met vleis gevat om die vleis te gaan weggooi en die bak te was. Die kinders het nog in die tent reggemaak vir die dag.
Toe manlief daar verby is en die bak oopmaak, toe miss call hy vir George (ons gesegde vir opgooi, weet nie waar dit vandaan kom nie).
Manlief kan nie opgooi nie, hy sukkel. Die kinders raas oor die missed calls en smeek: Asseblief net nie hier nie! Maar George wou nie kom nie.
Nodeloos om te sê, dit is nou nog ‘n grap in ons gesin. Manlief wat sê dat die vleis nog reg is as daar nie wurms is nie!
Dit was nie die eerste keer dat die kinders gesmeek het dat pa nie moet naar word nie. Die vorige keer het ons hondjie by my pa-hulle gekry. En die ou dingetjie het karsiek geword toe ons die grondpad tussen Morgenzon en die plaas vat.
Toe manlief stop, is ek en die kinders uit die kar, die hondjie het nie missed calls gegee nie. En pa moes skoonmaak, ek was te naar.
Daai dag het hy ook sakke gevat, toe neus en oë gegryp op die sitplek en missed calls gegee terwyl hy weg van die kar gestap het om die braaksel weg te gooi. Siestog, manlief kry nooit vir George aanlyn nie.
En nou wou hy in die sak waarin so drie dae se eierskille, aartappelskille, stof en wat ookal daarin kan wees deursoek.
Vir sy trouring. Ek het klaar begin dink hoe ek sal moet maak om ‘n nuwe een te kan bekostig. Maar sentimentele manlief soek daai ring.
Toe ons daar kom, het daar baie sakke op ons sakkie gelê, maar manlief was elke keer seker dit was nie die sakkie wat hy in die drom gaan gooi het nie. Dan het hy verder gesoek.
Toe hy die sakkie kry wat volgens hom ons s’n is, sit ons net daar in die koue op die randsteen. Dat manlief deur die sak kan soek vir ‘n platinum trouring!
Manlief het dik vingers, sy trouring pas los oor my duim. Dus soek hy vir ‘n groot ronde ding in die sakkie.
Hy sê dit is nie daar nie, ek sê ons gooi maar een vir een ding (gross soos my kleinkind sou sê) oor in ‘n kardoes wat ek op die hoop gaan uitgrou het tot ons deur alles is.
En daar kry ons die ring.
O ja, ‘n hele klomp mense is by ons verby en kon nie ophou kyk nie. Vir die twee expats wat so op die sypaadjie sit en deur ‘n sak grou.
En ek verstaan, ek het baie so vir mense by asblikke in die RSA gekyk.
Ons was pas hier, het nie die woorde gehad om te verduidelik wat ons doen nie. En beslis ook nie om te verduidelik wat ons soek nie.
Ek giggel nou daaroor, elke keer as ek daaraan dink. Toe wou ek in die aarde insak.
Ek het met my mooi rooi warm baadjie almal se aandag na ons twee aangetrek.
Ek haat ook soek….In ons huis soek mens min want die Oom is baie sistematies. ‘n Bakkie vir die sleutels, ‘n houertjie vir dit en ‘n mandjie vir dat. Toe soek hy nou die dag sy ID! Dis soos dood in die huis. Hoe meer hy soek en hoe minder hy kry, hoe erger raak sy gemoedstoestand want hy verlê NOOIT iets nie. Jare se soektogte saam met my eks skoonfamilie het my geleer, begin op ‘n punt, kalm en bedaard. So begin ek deur die bank se kussing op te lig….en??? Jip! Net daar!
LikeLiked by 1 person
Dit is ‘n genade, daai ding is noodsaaklik! Mens moet net help soek.
LikeLike
Gelukkig ook ‘n sistematiese man in hierdie huis.As iets wegraak help ek soek,want dit gebeur min en dan is dit werklik ‘n krisis.
Ek sien julle al grouende in die sak en almal wat kyk!
LikeLike
Dit is waar, ons soek min. Lekker om so ‘n man te hê
LikeLiked by 1 person
Jy laat my glimlag, daardie was sekerlik ñ prentjie om te aanskou!!
LikeLike
Ek skat dit was nogal vir hulle iets vreemds
LikeLike
Ons, is een jaar Suidkus toe en het destyds nog parafien yskaste gehad, wat ons leeggemaak het voor die vakansie. Om een of ander rede, het ons ‘n skaapbout vergeet in sy vrieshok. Jy kan dink na twee weke……… Grrrrrrrrrrrrrrrr
LikeLike
O my jitte, ek wil nie eens daaraan dink nie!
LikeLike