Gepubliseer in Reisjoernaal

As die mense op straat op jou afloop

Ek het al vertel dat die mense van Ust regtig ongeskik op straat is. Maak nie saak watter kant van die paadjie ek loop nie, hulle kom op my afgeloop.

Met geen aanduiding dat hulle van plan is om om die iets wat soos ‘n mens lyk (daai is nou ekke) te loop nie.

Inteendeel, ek het al vertel dat ek dit nou die dag getoets het. En dat die vrou se mou teen my kaal arm geskuur het.

Dus loop en sig-sag as ek stap. Hou regs as hulle van links voor kom. En hou links as hulle van regs voor kom. Want ek twyfel vir geen oomblik dat ek omgeloop gaan word nie.

Vanmiddag voel ek sleg. Manlief vra of ek sy kos na die parkie sal vat en ek sê maar ja. Maar moet konsentreer om regop te bly. Daar is in hierdie hitte net nie genoeg suurstof vir my longe nie. En dit is warm.

Die Qazaqs lag vir ons wat hier warm kry. Ons is dan van Afrika. Maar ja, ons kry warm. Dit voel of die lug soos ‘n dik kombers op ons lê. Ons druk.

Ek staan by die robot en wag dat hy oorslaan. En merk dat die vrou met haar potloodrompie en wit bloesie en sonbril stip na my kyk. Oor die breedte van ‘n dubbele straat.

Ek kyk om my rond, maar daar is niemand. Dit is vir my wat sy kyk! Die lig slaan groen en ons begin stap. Sy reguit op my af! Ek gee na links pad, maar sy stap steeds op my af. En toe gee ek meer as ‘n meter pad, heeltemal uit die strepe van die voetoorgang met handgebare wat sê, daar is hy, vat die hele pad vir jou.

En klap my tong.

Ek merk hoe die motoriste vir my kyk. Daai houding het hulle wel verstaan. Maar ek gee nie om nie, genugtig, mens gaan die mense hier moet leer om ten minste ‘n kant van die pad te kies om te stap. Waar moet ander stap?

Ek is nog vies toe ek aan die ander kant van die pad by die sypaadjie wil opstap. En sien hoe ‘n vrou met haar stootwaentjie met ‘n skuinshoek reg op my afloop. Al is daar baie plek aan die ander kant. Ek loop nader aan die heining, maar sy draai haar waentjie en kom steeds op my afgestap.

Mens sal sweer ek het die aantrekkingskrag van ‘n kers vir ‘n mot.

En ek wip my. Stop en staan doodstil reg voor haar en wag. Kyk haar reguit in die gesig en wag. As sy my nou gaan platry, dan moet sy maar. Ek is nou moeg gesukkel.

Sy stop ook. En toe vra ek:

Do you want to walk over me?

Met hande teatraal in die lug!

Sy kyk sowaar verras vir my. Ek het geen idee of sy my verstaan het nie. Sy het net Oh gesê. Om my gestap. Asof dit sin maak. Soos wat die miere maak wanneer ek iets in hulle pad sit.

Tot dan het die feromene die pad aangedui. Outomate wat net stap en hulle werk doen. Tot iets in die pad is, dan eers word die dinkhoedjies opgesit.

Ek verkies deesdae om vroeg te gaan stap. Dan slaap hulle nog. Winkels maak eers 10 uur oop. En dan hoef ek nie namens elke Qazaqvoetganger te dink nie!

Foto: Is die nie pragtig nie? Al die beddings is so vol patroontjies.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

11 gedagtes oor “As die mense op straat op jou afloop

    1. Ek wil, maar hulle gaan my omloop. Hulle kyk regtig nie waar hulle loop nie, ek dink nie hulle doen dit aspris nie. Ek wil eintlik in die park gaan sit en kyk hoe hulle maak om mekaar nie om te loop nie. Vir nou sig-sag ek maar om ‘n botsing te vermy. Het klaar ‘n close encounter gehad.

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.