Gepubliseer in Joernaal,Woefkinders

Hoe kan daar van my verwag word om oor lewe en dood te besluit?

Shilo het kanker, te ver gevorderd om uit te sny, te bestraal of chemo te kry. Laasgenoemde is nogal iets wat ek sal vermy as ek die Groot K diagnose kry. Hy kan nie kies nie …

En dit is waar my penarie begin en eindig.

Daar word van my verwag om vir hom te kies, nie een van die drie nie, maar om hom na ‘n veearts te neem en te vra dat sy lewe kortgeknip word. Op my versoek.

So bel die een veearts my nadat sy die uitslae van die spesialis ontvang het. Twee dae nadat die ander een my gebel het en sterkte met Shilo toegewens het. Eersgenoemde het te vertelle dat ek hom moet bring om aan die slaap te maak. Sonder om Shilo te sien.

Laasgenoemde het raad gegee, die spesialis het gesê dat Shilo nog baie ver van daardie besluit is omdat hy alles kan doen wat hy moet, en die pynmedikasie werk.

Eersgenoemde noem ook dat ek Shilo vir kastrasie kan inbring, dit sal die drukking op die kankerplek verlig en sy pyn verminder. Dit sal ek doen, maar nadat ek laasgenoemde se raad gevra het.

En dit bring my by my vraag:

Waarom moet dit in my hande wees om die besluit te neem? As dit nie ook in my hande is om eendag na ‘n veearts toe te gaan om my uit lyding te verlos nie. Waarom moet diere sommer net stil gemaak word? Waarom mag dit nie ook vir mense geld nie?

So gesels ek met seun oor die ding wat in my brand.

En hy sê dit is omdat diere deur die wet as eiendom beskou word. En ek kan besluit wat ek met my eiendom gaan doen.

Wel, so lank as wat Shilo agter my aanloop, sy kossies eet, poefie en piepie en gemaklik in sy nuwe rolstoel saam kan stap, sal ek nie daardie besluit neem nie.

En manlief staan bankvas agter my. Hy gaan ook nie besluit dat ‘n woefkind wat nog vol lewe is, stil gemaak word omdat hy nie ly nie. Hy het seer, maar dit word deur die beste medisyne beheer.

Soos wat ‘n mens se lyding deur die beste medisyne beheer word.

Daarom vind ek berusting in die raad van ‘n veearts wat aanlyn oor kanker in diere gesels.

As hulle steeds die goed doen waarvan hulle hou, steeds by jou wil wees, steeds in die sonnetjie lê en slaap en steeds rustig slapies as hulle naby jou is, dan is dit gehalte tyd, geleende tyd met jou woefkind.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “Hoe kan daar van my verwag word om oor lewe en dood te besluit?

  1. Ek stem volkome met jou saam. Solank daar lewe is, is daar hoop. Mens kom vinnig agter as die lewe te veel raak vir so ‘n hondkind. Bly jy het met tweede veearts gepraat. Sterkte en ‘n ekstra sagte drukkie vir Shilo van ‘n verlangende honde tannie.

    Liked by 1 person

  2. Ek het eendag lank gelede gelees wanneer ‘n hond hom/haarself gaan afsonder (maw in die verste hoekie in jou tuin gaan le of sommer net onder ‘n bed erens in die huis) en dis nie hulle normale gedrag nie, dan is dit ‘n teken dat hulle regtig siek is. En altwee ons spanjoele het dit gedoen – al was hulle baie lief daarvoor om teen ons te le of te sit. Dis dan wanneer ‘n mens daardie aaklige besluit moet neem … ons het toe reeds geweet hulle is siek en dit het geblyk die medikasie het nie meer voldoende pynverligting gebring nie. Ons het hulle toe laat uitsit (hard en baie gehuil), maar uiteindelik besef hulle lewe hier op aarde was nie meer vir hulle ‘n plesier nie.
    Jy sal weet wanneer die tyd daar is – maar solank klein Shilo nog lewe in hom het, alles doen wat hy normaalweg doen (al is dit bietjie stadiger), is daar geen rede hoekom jy nou al daardie besluit moet neem nie.
    Dis maar net my opinie – ek veronderstel dit verskil van persoon tot persoon. ‘n Drukkie vir beide jou en Shilo 🌸.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op wetanddustyroads Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.